Saturday, January 05, 2013

Wanneer daar geen afstand meer tussen God en jou is nie.

Hammarskjold skryf die volgende;

Dit is nie genoeg om jou daagliks vir God beskikbaar te stel nie. ‘n Mens moet net vir God beskikbaar wees. Die geringste afwyking van ‘n mens se lojaliteit aan God skep ‘n opening vir dagdromery, kleinlike praatjies, kleinlike grootpratery, kleinlike gemeenheid – alles die aanhangsels van die doodsinstink.

“Maar hoe het ek God lief?”

“Jy moet God lief hê asof God nie-God is, ‘n nie-Gees, ‘n nie-Persoon, ‘n nie-Substansie: bemin God as die Een, die suiwer en absolute Eenheid waarin daar geen dualiteit is nie. En in hierdie Een moet ons onsself van syn tot nie-syn laat val. God help ons om dit te doen.”

Om hierdie uitspraak te begryp, moet ‘n mens weet dat Hammarskjold vir Meister Eckhart - een van die beroemdste mistici van alle tye - volg. 

Eckhart is bekend daarvoor dat hy die noue eenheid van die mens met God benadruk het. Elke mens, sou 'n mens toegspits kon sê, het God in hom of haar.

God alleen, en net God – dit is waarom dit vir Hammarskjøld gaan wanneer hy oor die mens praat.

‘n Mens moet God lief hê asof daar geen afstand tussen jou en God is nie.

Hammarskjøld neem ook Eckhart se via negativa oor. ‘n Mens moet aan jouself sterf (tot nie-syn word) sodat God alleen in ‘n mens leef. “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” – skryf Paulus. Ek word van syn tot nie-syn. Daar moet in ‘n mens se bestaan totale ruimte wees vir God om te bewoon. En hierdie ruimte word alleen geskep wanneer ‘n mens alle beelde, vorme, voorliefdes en konsepte laat vaar. Immers, God is bo en anders as alles wat ons in menslike denke en taal kan uitdruk.

‘n Mens moet hierdie noue band met en inwoning van God toeëien. Liefde bestaan uit totale toewyding, absolute lojaliteit aan God. ‘n Mens se hele bestaan is op God en die teenwoordigheid van God in jou lewe gerig. Waar dit gebeur, kom God in mense bly. In elke mens is God te vind, want God woon in mense.

Boeiend is die uitkoms van die vereniging met God: waar ‘n mens God lief het, bly die dinge wat ‘n mens tot niet maak uit. Dan is daar nie ‘n gespoggery, gemeenhede,  slegte praatjies nie.

Net die liefde.


Blog Archive