Thursday, January 10, 2013

God in die oop veld.






Op pad terug van ‘n dorps-takie, in my motor, luister ek ‘n storie van ‘n koerierbestuurder oor die radio.

Dit is ‘n voorspelbare verhaal. Hy vertel hoe ongeduldig motoriste op die pad kan raak. Flikkerende ligte, op-die-stert van die motor voor hulle wat hul pad versper, ongeduldige en gewaagde verby-steek is die kultuur van die mens wat niemand voor hom of haar in die pad duld nie en altyd, altyd die ekstra sekonde wil wen.

Ek voel skuldig.

Maar, bietjie onverwags en selfs losserig, val die verteller weg met ‘n herinnering aan die dag toe hy, moeg na twee dae op die pad, ‘n motor agter hom sien en, gedienstig, plek maak sodat dit verby kan kom.

Die sprong in die verhaallyn laat my dink hy wil eintlik hart skoon-maak – ‘n lank opgekropte ervaring uitkry uit sy binneste en met ander deel.

Die vrou wat verby hom ry is ‘n “swart dame,” vertel hy, wat vriendelik vir hom wuif om dankie te sê.

Dit klink asof hy hiermee iets moois van haar wil sê. Sy is erkentlik, al is sy haastig. Sy is nie die gewone jaagduiwels nie.

‘n Ent later sien hy haar motor langs die pad lê. Dit het gerol en sy lê in die bloedige son en hitte van die dag langs haar motor in die oop veld.

Twee mans op die toneel stop hom en vertel hom wat gebeur het.

Hy gaan kniel by haar. Die vrou, by haar bewussyn, se eerste woorde aan hom is dat sy weet sy gaan sterf.

Hy gaan haal haar handsak in die kar en kry ‘n Bybel daar. Hy sit alles netjies langs haar neer, terwyl die twee mans ‘n sambreel oor haar hou.

Die polisie is naderhand daar en ‘n ambulans op pad. Haar man is in kennis gestel van die ongeluk. Alles is georganiseerd.

Ek sit terug, dit klink goed. Alles is onder beheer.

Hy vertel sy verhaal verder – amper saaklik. Die vrou sê weer vir hom dat sy weet sy gaan sterwe.

Hierdie keer beweeg sy verhaal na sy ontknoping. Sy begin, “in haar taal” bid. En, voeg hy by in die stuk wat die omroepster voorlees, hy bid saam met haar, ook in sy taal.

Enkele sekonde’s voor die ambulans opdaag en terwyl die vrou bid, sterf sy , al biddende, waar hy langs haar kniel.

Hy en die twee ander mans het daar in die oop veld onder die skroeiende son, skaamteloos gehuil.

Vir ‘n oomblik, verbeel ek my, hoor ek die omroepster half-sluk as sy die deel lees.

Ek bedink, luisterende na die stil-vertelde storie, hoe belangrik ons verstaan van gebed word wanneer jy so iets hoor.

Want, al het die verteller niks verstaan wat die vrou gebid het nie, is daar oor een ding nie te twyfel nie:

Want, sal Spiritualiteit sê, in gebed, in die verlangende spreke en roep na God, is God self, mistiek, eintlik ondenkbaar, selfs onvoorstelbaar, teenwoordig. Verby alle grense van taal, ruimte en ons klein, beperkte insig is dit, in gebedstyd, Immanuelstyd.

In die skroeiende son, langs ‘n oop pad, in die barre veld, by die sterwende, saam met die wakende, sorgsame reisgenote, wil God wees.

Of ook, in die tuin, in die donkerste , stilste deel van die nag, verlate, terwyl hulle wat waak, aan die slaap raak en mens aan alles twyfel.

Altyd wanneer die mens uitreik verby hom- of haarself na die Verborgene, is God hier. Verborge, ja, maar veel nader as wat ons hart ooit vir ons kan onthul.

Blog Archive