Wednesday, January 09, 2013

Sonder gebed is daar net waansin en afgryse


Vasili Razonov, die kontroversiële negentiende eeuse Russiese skrywer het ‘n uitspraak oor gebed gemaak wat dikwels aangehaal word.

Hy skryf: “Daar is geen lewe sonder gebed nie. Sonder gebed is daar net waansin en afgryse.”

Dit is altyd boeiend wanneer ‘n mens lees hoe hoog mense gebed inskat.

‘n Mens lees byvoorbeeld dikwels hoe gebed as die asemhaling van die siel beskryf word. Ontbreek dit, sterf die siel.

Dit is eintlik wat Razonov ook sê.

Maar boeiend is sy alternatief:  “Sonder gebed is daar net waansin en afgryse.”

Dit kan vir vele oordrewe lyk.

Waarom sou Razonov so skryf?

Ek bedink hierdie uitspraak. In my nalees kom ek af op ‘n opmerking wat iemand oor gebed skryf: “gebed is so belangrik omdat ‘n mens God onthou.”

In die onthou van God kom God ons lewe binne. Gebed is veel meer as om met God te praat. Gebed is, veel eenvoudiger, om by God te wees.

Ons bedink dit nie altyd bewustelik nie, maar ons lewe in onsself, ingetrek in ons eie klein bestaan, is veel meer afgryslik en waansinnig as wat ons besef.

Om sonder gebed te wees, is om sonder God te wees. Die lewe word louter hel. Dit word gevul met waansin en afgryse. Die geestelike is nie daar nie. Die Gees van krag en liefde ontbreek.

Paulus het die lewe buite die Gees immers as volg beskryf: “jaloesie, twis, woede, selfsug, tweespalt, groepvoming, afguns” (Gal.5:29-30 IB). Pure waansin, iets afgrysliks.







Blog Archive