Thursday, January 24, 2013

Liefde is om met God se oë te wil kyk.


Een van die beroemdste lofliedere op die liefde is geskryf deur Thomas a Kempis (in sy Navolging van Christus, boek 4.5). 

Hein Blommestijn skryf ‘n artikel oor die gedeelte en probeer die ryke, oorweldigende inhoud daarvan uitpak.

Die liefdeslied vertel van die geestelike reis wat ‘n pad van transformasie is: in hierdie proses van omvorming groei ‘n mens gedurigdeur weg van jouself, van die beheptheid met jou eie sorge, angste, verlangens en, veral, jou oorlewingsdrif.

Die ou mens, met ander woorde, word al hoe meer afgesterf.

Vele mense kry die gevoel dat woorde soos “afsterf” ‘n negatiewe, vaal en bleeksiel-lewe beteken. Swartkouse, blourokke, swart skoene en allerhande swaar simbole van ‘n moralistiese lewe doem voor hulle op.

Niks is verder van Thomas se ervaring nie. Sy liefdeslied vertel van ‘n stroom van gloed-nuwe liefde wat in mense ‘n vlam van ‘n nuwe lewe vol vreugde aansteek.

Dit is ‘n reinigende blydskap wat ‘n mens in hierdie proses van omvorming ontvang. Dit word ‘n krag wat jy met verwondering sien werk in jou en wat jou lewe oorneem.

‘n Mens ontdek die vreugde dat juis in die afsterwe van die ou mens ‘n mens vry word. Jy laat ‘n tronk-sel agter – die tronksel van gedurige oor-jou-skouer kyk, van angste oor jou lewe, van ‘n gedurige worsteling met jouself, ‘n soeke na self-gelding en van selfbeheptheid.

Die omvorming in Christus, die ervaring dat Christus in ‘n mens se lewe inkom, laat ‘n mens bly ontdek dat Hy mens – dikwels in ‘n verrassingstog – saamneem in die goddelike liefde wat so onvoorwaardelik na mens kom en in jou woon. Die geestelike reis is 'n liefdesweg.

‘n Mens is vry om in die goddelike Liefde volledig vervulling en jou volle mens-wees te ontdek.

Maar: steeds weer moet ‘n mens weer met die skadu-kant hiervan rekening hou: daar is tye van swakheid, van kragteloosheid, van onwil en van weerstand. Daarom beteken dit ‘n gedurige bewussyn van die leë hande, die afhanklikheid van die goddelike ingryping.

Wie op die manier op God wag, aanvaar wat oor sy of haar pad kom as ‘n gawe van God. Ons is, skryf Blommestijn, “versoen met alles wat bestaan en wat ons ervaar al is dit pynlik of vreesaanjaend of afskuwelik.” Ons meet nie meer dinge in terme van hulle nuttigheid vir onsself nie.

Deur die liefde, voeg hy by, kyk ons met God se oë na die werklikheid en verbly ons daaroor – selfs oor die swaarkry wat ons lewe in die wêreld met hom meebring. Christus neem mens dus op in ‘n liefdesbeweging sodat die mens liefde word en liefde teenoor ander betoon in watter omstandighede jy jou ook al bevind.

Ligvoetig, skryf Blommestijn, word ‘n mens wanneer jy vry is van die gebondenheid aan die fokus op jouself, jou gekraam onder jou daaglikse sorge en jou grepe van selfbehoud. Jy word nie meer vasgehou deur die las van jou ou menslike toestand nie.

Maar nie net ligvoetig nie, maar ook sterk word ons. Hoewel swak, menslik gesproke, dra die goddelike liefde mens en laat ‘n mens ongekende wonders ervaar en ongekende hoogtes bereik. Jy oortref jouself, want die goddelike liefde skep alles en kan alles doen. So sterk is die liefde dat ‘n mens nie meer oor jou eie onmag bekommerd is nie. Dit word selfs genoeg om in God se teenwoordigheid te leef. So oorweldigend is dit dat ‘n mens nie eers meer oor die goeie gawe’s van God hoef om te gee nie.

Die gevolg hiervan is dat ‘n mens jouself in die liefde verloor. Dit is asof ‘n passiwiteit jou oorval en ‘n mens wegsmelt en swem in die liefde. Jy is ingedompel in die groot, sterk stroom van die liefde wat jou meevoer.

Jy kan nie anders nie:  jou lewe word ‘n liefdeslied – so skryf Thomas op ‘n mistieke manier oor die liefde. ‘n Mens besef dat jy nie buite hierdie liefde om kan bestaan nie. Hoewel ‘n mens se natuur weerstand bied teen die prysgawe van jouself en die verlies aan beheer oor jou eie lewe, word ‘n mens tog telkens deur God oorwin tot die liefde.

God se liefde in ons word versterk deur ons gebed. Gebed help ons om ons in te stel op God en op die inwerking van God in die liefde. Dit is hierdie liefde wat die las van ons ou lewe, ons ou situasie wegneem en ons vry maak.

Oor en oor, nou met hierdie woorde en dan met daardie woorde wil Thomas van die liefde praat. Oor en oor vertel hy hoe die liefde na ons kom, van buite onsself, ten spyte van wie ons is. Weer en weer vertel hy hoedat die liefde ons sorgeloos maak. Mens is nie meer verslaaaf aan uiterlike dinge nie. Maar nog meer: dit is God, die gewer van die liefde wat uiteindelik die meeste saak maak. Nie eers die goeie dinge wat die liefde in ons lewe bring is naderhand vir ons meer belangrik nie.

God, die gewer, word alles. God kom woon in die liefde by en in ons. Onmeetbaar. Bo begrip. Naby. Intiem. Ewig. Onverganklik. Sterk. 'n Innerlike gloed van die inwonende Liefde bly in mens en maak die mens tot liefde. Wie sal dan met minder tevrede wees as hierdie goeie Gewer van alle dinge? 

Mistiek. Net in die geloof te ervaar. Net in geloof te begryp. 


Blog Archive