Sunday, January 06, 2013

Oor die waarde van geestelike oefeninge.

Geestelike oefeninge word al hoe meer gewild. In onlangse tye het dit ook in Protestantse kring ‘n opbloei begin beleef.

In die geskiedenis van spiritualiteit was dit dikwels die geval. Mense het gesoek om hulle in te oefen in ‘n lewe van deugde. Dit het hulle gedoen deur die afrigting van hulle gees en liggaam. ‘n Belangrike manier van oefening is veral meditasie, terwyl baie aandag ook gegee word aan gebede.

Askese is ook so ‘n belangrike geestelike oefening.

Die belangstelling in geestelike oefening was ook in die tyd van Thomas a Kempis groot.

Die gevolg van hierdie belangstelling in geestelike oefeninge in die afgelope tye en in Thomas se tyd, word sy Navolging van Christus dikwels gelees as ‘n boek wat op askese fokus.

En tog het dit vir Thomas om veel meer as net sekere geestelike praktyke gegaan.Hieroor skryf Waaijman 'n belangrike artikel.

Wanneer ‘n mens sy boek lees, help Thomas ‘n mens om die plek van spirituele oefeninge in die regte lig te sien. Hy weier om te voorskriftelik daaroor te wees. Hy sal byvoorbeeld ruimte laat vir baie soorte oefening en hy beklemtoon dat ‘n mens se geestelike oefening baie kan wissel. Verskillende mense doen verskillende geestelike oefeninge (1.19.22) en sal op verskillende geleenthede en tye sekere oefeninge bo ander nodig hê of verkies. Wanneer dit swaar gaan of wanneer ‘n mens ontspanne is, sal ‘n mens verskillend ingestel wees. In tye van rou en met feesvieringe sal oefeninge ook heel anders lyk.

Maar belangriker is dat Thomas die geestelike karaktere van geestelike oefening beklemtoon. Dit gaan vir Thomas nie om die oefeninge self of die inspanning waarmee mense daarby betrokke is nie. Hy plaas hulle in ‘n geestelike raamwerk en gee aan hulle waarde omdat hulle ‘n geestelike doel en nut het.

Vir Thomas is ‘n geestelike oefening nodig omdat dit ‘n mens volwasse, geïntegreerd en sterk maak. Jou uiterlik en innerlike lewe word in ‘n noue eenheid verbind. Jy oorkom die spanning tussen wat na buite en na binne gebeur. Wat ‘n mens deur geestelike oefeninge doen werk deur op jou innerlike lewe. Jou binneste word deur die buitenste gevorm. Geestelike oefening bevorder die suiwerheid van die hart. Sulke oefening vertel iets van jou binneste. Jy word bewus daarvan dat jy tot in jou binneste deur God gesien word.

Thomas se houding teenoor geestelike oefeninge word deur drie dinge geïllustreer:

Neem byvoorbeeld die lees van die Skrif as die belangrikste geestelike oefening. ‘n Mens kan die Bybel van buite goed ken en deeglik lees sonder dat jy deurdring verby die letter van die teks tot by die geestelike inhoud daarvan. Die uiterlike boodskap van die teks laat geen spoor op jou innerlike lewe nie. Die doel van die geestelike oefening is egter om ‘n mens te laat leef in die lewe van Jesus. Skriflesing beteken om jou in die lewe van Jesus in te leef. Daardeur moet ‘n mens ook tot die uitbeelding van Jesus in die daaglikse omgang kom. Deur die innige, verlangende en geestelike lees van die Bybel word die mens ingevoer in die liefde van God en kom woon ‘n mens in daardie liefde.

Ook die viering van die nagmaal as belangrike geestelike oefening is iets waarna ‘n gelowige intens verlang. Die nagmaalsganger verlang om Christus self as geskenk te ontvang. Thomas skryf: Ag, laat my U teenwoordigheid ervaar. Verteer my en vorm my in U om” (3.16.10). Die nagmaal wil die nagmaalsganger aan Christus gelykvormig maak. Christus verenig hom met die mens en maak hom/haar deel van sy brandende liefde – skryf Waaijman oor Thomas se siening. ‘n Mens neem baie versigtig deel aan hierdie geestelike oefening en soek om met ‘n suiwer hart die nagmaal as ‘n geskenk God Christus te vier. Maar die gelykvormigheid met Christus is net ‘n teken van die vereniging met God: die nagmaal herinner ‘n mens aan die ewige aanskouing van God. Uiteindelik gaan dit dus om die verwagting van God se teenwoordigheid en die toekomstige ervaring van God se heerlikheid. Om die nagmaal te vier is dus besonders. Maar dit is ook maar relatief – groter as die nagmaal is om by God in heerlikheid te kan wees. Nie die geestelike oefening nie, maar die teenwoordigheid van God maak werklik saak.

Thomas praat ook oor die geestelike leergesprek (collatio) as ‘n derde, belangrike geestelike oefening. Waaijman kontrasteeer die leergesprek met die eindelose gepraat waaraan mense dikwels deelneem, wat ‘n mens so besig hou en wat ‘n mens leeg laat voel en jou nie bewus maak van jou eintlike egte menslike bestaan nie. ‘n Leergesprek is ‘n baie ou geestelike oefening wat mense in groepe bymekaar bring sodat hulle oor belangrike sake kan gesels om beter te kan verstaan en leef. Vir Thomas is dit ‘n kans om “innig” saam met ander mense te wees. Dit laat mense eensgesind in hart en gees voel en bring mense tot die punt dat hulle egte gemeenskap met God ervaar. Ook hier is die groter eenwording met God die doel van die geestelike oefening.

Thomas is dus nie iemand wat oordrewe asketies is nie. Hy soek nie geestelike oefeninge ter wille van die oefeninge nie. Hy soek nie ‘n lewe in stilte en in afsondering nie net om asketies te wees nie. Sy visier is eerder ingestel op ‘n lewe wat in diens staan van God en wat gerig is op die teenwoordigheid van God. Die innerlike lewe wat die teenwoordigheid van God ken, sal na buite ryk en geseënd wees. Waar daar wel stil, asketiese praktyke is, is dit steeds gerig daarop gerig om ‘n mens te omvorm en bewus te maak van die teenwoordigheid van God. 

Ook deur hierdie insigte is Thomas waardevol wanneer in ons tyd so baie oor geestelike oefeninge nagedink word.

Blog Archive