Monday, October 12, 2009

Liefde soek nie eie belang nie: oor die verantwoordelikheid om die ander een te bemin

Die liefde van ‘n ouer is dikwels ‘n ondankbare saak: “Hoe sê jy?” vra pa of ma vir ‘n kleintjie as hulle iets kry en net eenvoudig aanloop sonder ‘n teken van dankbaarheid.

En dit is goed dat ouers vir hul kinders van vroeg reeds dankbaarheid aanleer. Maar hoe belangrik dit ook al is om dankbaar te wees vir die kleinste blykie van liefde, het liefde eintlik niks met dankbaarheid te doen nie. ‘n Mens bewys nie liefde aan iemand anders omdat jy gaan baat daaruit nie. ‘n Mens het iemand anders lief omdat daardie persoon so spesiaal is.

Dit geld vir die liefde tussen ouers en kinders, tussen twee huweliksmaats, maar dit kan ook van liefdesverhoudinge op baie vlakke waar wees: ‘n mens bewys liefde nie omdat dit voordeel vir jou inhou nie.

Liefde eis dus nie op nie. Liefde mag nooit tot ‘n vlak daal waar dit uit eise en aansprake bestaan nie. Dan word die ander persoon iemand wat daar is ter wille van my, my behoeftes en my gevoelens. Dan het die ander persoon geen vryheid of eie wil nie. Hy of sy word gedegradeer tot ‘n slaaf. En uiteindelik gaan die om my eie belang.

Die diepste kenmerk van die liefde is dat dit op die ander een gerig is.

Juis daarom is die kruis waar Christus totaal alleen is, die hoogste simbool van egte liefde. En Paulus het nie verniet geskryf nie: “die liefde soek nie sy eie belang nie” (1 Kor.13:5).

Sunday, October 11, 2009

Die kosmiese Christus. Oor spiritualiteit en geestelike krag.

Daar is allerhande "groot" debatte oor die historiese Jesus wat soms groot nuus is en baie opspraak verwek. Sommige Bybelwetenskaplikes ontleed die evangelies versigtig om allerhande vaste “feite” oor Jesus uit te sif.

Hulle ontwerp dan allerhande meer "betroubare" beelde van Jesus: Jesus was ‘n Jood wat in opstand teen die Romeinse oorheersers gekom het, of hy was veral ‘n wonderdoener, of hy was ‘n sosiale hervormer of ‘n rondreisende prediker.

Hierdie beelde maak van Jesus 'n meer "aanneemlike" godsdienstige figuur en gee vir baie mense 'n meer "redelike" of "realistiese" verklaring van hul tradisionele godsdiens.

Maar as ‘n mens die Nuwe Testament lees, ontdek ‘n mens daarin maar min belangstelling in allerhande "realistiese" verklarings van Jesus se lewe en boodskap. Die skrywers van die Nuwe Testament teken konsekwent ‘n boodskap oor ‘n Jesus wat mens en wêreld radikaal verander. Hulle sien Hom in die eerste plek as iemand wat radikale verandering bring. Hy is die goddelike, onpeilbare Een, wat deur sy mistieke teenwoordigheid kragte loslaat wat nie gestuit kan word nie. Jesus is juis nie maar net nog 'n redelike figuur uit die geskiedenis nie. Vir hulle gebeur daar deur Hom iets oorrompelends in hul lewe. Hulle spiritualiteit is 'n spirtualiteit van krag.

En hierdie krag stuit voor niks en niemand nie. Jesus is nie net die Een wat mense red nie, maar ook die wêreld. Jesus is die eersgeborene van die skepping in wie alles geskape is (Kol.1:15). Hy is die een voor wie elke knie in die wêreld sal buig (Fil.2).nD

Die Nuwe Testament brand onder die vuur van hierdie transformerende werking van God in Jesus. Jesus het kragte losgelaat wat oor alle grense heen losgelaat word.


Ek lees byvoorbeeld weer vandag met geboeidheid die eerste woorde van die skrywer van die Hebreerbrief: God het al baie in die verlede gepraat, maar nou praat God deur Jesus deur wie die aarde geskep is en wat erfgenaam van alles is. "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord tot stand" (Heb.1:1-3).


Om te dink: deur Jesus is die aarde geskep! Hoe kragtig werk die geloof in Christus nie.

Dit is hoe die eerste geloofsgetuies oor Jesus gevoel het. Hulle het nie in die slote van die geskiedenis gaan grawe na vondse wat dalk iets oor Jesus sou kon openbaar nie. Hulle het Hom ervaar op 'n oorweldigende manier as die groot Bron van energie in ons lewe.

Daar is vir hulle voorts ‘n spesiale band tussen Jesus en die skepping. Hulle het hom nie tot hulle "harte" ingeperk nie. Die man van Nasaret is ook die heerser oor die skepping. Die Jood in Palestina is ook Heer van die heelal. Om in Jesus te glo, beteken dat ‘n mens in Hom die skepping as sy plek en sy tuiste herken. Ons ontdek ‘n “heerlike” Christus, in wie God se heerlikheid woon (Heb.1:3). Deur Hom word ons aan alle volkere en aan die heelal verbind. Ons is saam met die heelal die voorwerpe van God se liefde in Christus.

Egte geloof word gedryf deur die begeerte dat God se heerlikheid en Christus se heerskappy oor die heelal sigbaar sal word. Dit soek daarna om die wêreld die plek te maak waar God in ontferming en liefde woon. Wie in Christus is, is onlosmaaklik verbind met hierdie wêreld en almal wat daarop woon.

Dit maak ons nou natuurlik verantwoordelik vir wat op die aarde gebeur. Ons kan nie onverskillig staan oor wat mense aan ons siek planeet doen nie. Ons kan ons nie terugtrek in ons veilige geloofshuisie asof die res van die wêreld niks met ons te doen het nie. In Christus soek ons ook die heling van die planeet en vrede onder alle nasies. Ons geloof kan nie selfsugtig net op onsself gerig wees nie. Ons geloof in Christus as die kosmiese Here dryf ons uit om ook hierdie aarde vir God op te eis.

Terwyl sommiges wil delf na allerhande “historiese” feite of kennis oor Jesus, is egte geloof op iets anders gerig. Dit leef vanuit die krag wat Jesus losgelaat het en dit wil in daardie krag van hierdie aarde God se woonplek maak. Jesus het nie 'n bankrot boedel agtergelaat nie.

Saturday, October 10, 2009

Spiritualiteit as transformasie: hoe om opnuut weer energie te kry.

Soms ontmoet ‘n mense wat bruis van lewensenergie. Hulle het ‘n skynbaar ingebore vermoë om met groot energie en toewyding en lewenslus dinge te doen. Die lewe is vir hulle ‘n uitdaging en ‘n opwindende reis – al is dit nie altyd maklik vir hulle nie. Selfs die swaar tye pak hulle aan met moed en met vasberadenheid. Hulle is nie noodwendig mense wat gedurig besig bly nie, maar hulle bly energiek en hulle leer voluit, met krag. Hulle reageer steeds positief, steeds met goeie moed en weier dat dinge hulle onderkry.

Ons kyk na hulle met bewondering, selfs met bietjie afguns. Want ons sien in hulle wat ons in ons eie lewens mis of meer begeer.

En tog, as ons daaroor gaan nadink, is daar in ons eie lewe ook die hoogtepunte van groot energie gewees. Die tye dat ons dinge graag gedoen het, entoesiasties was, voluit geleef het.

Wanneer ons sulke mense ontmoet, word ons geraak en verander deur hulle toewyding en energieke lewensstyl. Hulle moed, vasberadenheid en goeie gesindheid spoel bietjie op ons oor. Ons vra onvermydelik dan: wat gebeur dan in ons eie lewe dat ons dit mis en nie meer ervaar nie.

Miskien moet ons meer terugsit en hieroor nadink: wat is dit wat daardie mense van energie aan die gang hou. Ons sal nie noodwendig dieselfde dinge as hulle doen wanneer ons dan, daarna, terugdink aan wat die dinge is wat vir ons altyd ook nuwe moed en lewenskrag gee. Ons doen tien teen een ander dinge, ervaar ander bronne van inspirasie. Maar die uitdaging is om daaroor na te dink en om dan bewustelik die plekke van inspirasie en motivering gaan opsoek wat vir ons werk of in die verlede gewerk het.

Dit is hierdie dieper nadenke oor wat mense inspireer en energie gee, wat ons kan help om die rykheid van ons eie lewe opnuut weer of ook intenser te ontsluit. Dit word vir ons padtekens na plekke waar ons opnuut weer nuwe krag kan vind en nuwe lewensenergie kan gaan tap.

Die dissipels van Jesus het na Jesus se dood ook hul tye van onsekerheid en lusteloosheid beleef – soos ons weet uit die verhaal van die verslae Emmausgangers. Dit was die opstanding, daardie bruisende krag van die lewende Jesus wat hulle omgedraai en getransformeer het. En in hulle verkondiging van die opgestane Jesus het hulle gedurigdeur onthou watter dinge Hy gedoen en geleer het wat altyd vir hulle geïnspireer het. Dit het hulle harte brandende gemaak... Hulle vriend en leermeester se energieke lewe het hulle lewens in ‘n splinternuwe koers gelei.


Dit was daardie herinneringe wat hulle lewens verander het en van hulle entoesiastiese getuies gemaak het.

Friday, October 09, 2009

Liefde is waar geduld woon: Oor 1 Korintiërs 13:4.




Hierdie foto van 'n visser wat in stormweer sy vissie geduldig en vreugdevol staan en vang het my diep laat dink.



Paulus begin sy beroemde lied oor die liefde met ‘n negatiewe deel: As ‘n mens nie liefde het nie, is ‘n mens niks, leeg, sonder enige nut. Elkeen van hierdie negatiewe dinge begin hy met die opmerking, “Al praat ek...", “al het ek....” “al deel ek...” (1 Kor.13:1-3).

Daarna lys hy ‘n hele klomp kenmerke van die liefde. Hy begin hierdie lys met wat sekerlik vir hom belangrik is: Die liefde is geduldig.

Ons oog gly so maklik oor hierdie opmerking, want geduld is nie altyd in ons tyd ‘n gewilde deug nie. Dit is deesdae amper ‘n sonde om geduldig te wees. Mense wat ongeduldig die groot dinge jaag, die aktiviste, die wat nie kan wag nie, wat dinge druk en gedoen kry, hulle is hoog in ons estimasie. Ons reken hulle. Hulle is nie slap nie, lê en staan nie rond nie. Hulle sit nie hulpeloos en wag passief dinge af nie. Hulle kry dinge reg en hulle maak ‘n verskil. Hulle is die presteerders.

Natuurlik maak dit sin om dinge gedoen te kry en aan te gaan met ons lewens. Ons moet ons haas om betyds by die vliegtuig of trein te wees. Ons moet voor ‘n afsnydatum ons werk afgehandel kry. Ons moet ‘n afspraak nakom.

Maar soms het ons net nie ‘n keuse nie. Ons moet ons beurt afwag sodat iemand ons kan bedien, besluite kan neem, toestemming kan verleen of ons kan ondersoek. Dan het ons wel ‘n keuse – ons kan ongeduldig word, beledigend raak, ons opruk.

Geduld bly deksels moeilik. Want ons is afhanklik van wat ander doen en besluit en ons is so geneig om hulle aan te vat as dinge nie volgens ons sin loop nie. Dit is nog moeiliker omdat ons naderhand teenoor onsself ongeduldig raak. Selfs waar ons net by ander mense is, in ‘n ontspanne atmosfeer, kan ons in ongeduld ons opwerk, argumenteer, ons wil afdwing, baie praat, gou oordeel, maklik kritiseer. In ons ongeduld raas ons, praat baie, luister min, verstaan rede nog minder. Ons lewe raserig en vinnig.

Hoe kom ‘n mens prakties daaruit? Ons moet begin deur eers te verstaan wat fout loop met ons. Ons lewe in ‘n spanning om altyd daar te wees waar ons nie nou is nie. Ons sien meestal die huidige oomblik as ‘n struikelblok, as ‘n voorlopige fase vir waar ons eintlik moet wees.

Ons sien uit na waar ons later of eendag moet wees, asof môre meer saak maak as nou, ons aftrede belangriker is as ons werk, ons Vrydag groter as ons weeksdag wat tog net verby moet kom. Ons jaag na ‘n toekoms waar ons eintlk nooit by uitkom nie.

Ons moet hierdie lewenshouding verander. Die hede gaan nie om wag nie, om jaag nie, om uitstrek na wat nog moet kom nie, maar om lewe hier en nou. Daarom kan ons wanneer die ongeduld ons oorval, terugsit en begin soek na die lewe in die plek waar ons is. Dit is waar ons die verskil kan begin inoefen. Hier kan ons prakties aan onsself begin regruk deur ons hele houding te verander oor die omstandighede waaroor ons andersins so opgewerk kan raak.

Ons kan soek om dinge raak te sien wat ons nog altyd misgekyk het. Sommige mense kan ure op ‘n sypaadjie van ‘n restaurant sit en na mense kyk – geboeid oor die ryke verskeidenheid van vreemde gesigte wat daar op ons aardbol rondloop, terwyl ander dit in hul haas en blindheid vir hul hede as tydmors sal beskou. Maar ons kan in ons huidige moment, wanneer ons dinge afwag, ook die lewe op ander maniere ervaar: ons kan bewus word daarvan dat ons gesond is, goed voel, asem haal. Of ons kan die son op ons vel voel, of ‘n wolk deur die lug sien gly, of dink aan ons kinderdae of aan mense naby aan ons. Of ons kan net stiller wees, meer luister, minder praat, ander begin raaksien, ons oomblikke by hulle as kosbaar beskou en beleef.

Dan kan die grysste tyd, die vaalste oomblik, sin kry en vreugde bring, selfs liefde vir waar ons is en wie ons is bewerk.

Maar, dit klink darem maklik - om so elke oomblik anders te probeer beleef. Miskien sal ons, as ons dit regkry, ook die groter dinge kan aanpak: ons sal dalk moet begin karring om die dinge wat ons altyd so haastig as uiters belangrik beskou, ook te begin bedink omdat dit ons wegneem van alles wat ins ons harte vrede kan gee. Dan sal ons dalk agterkom dat wat ons so verbygejaag, soms meer sin maak as alles wat ons so passievol agterna gesit het.

Ons leef in ‘n tyd, ‘n gejaagde tyd, waar ons sulke geduld met ywer kan soek . Ons vernietig onsself en ons wêreld en ons verhouding met God deur alles te jaag, deur altyd te wil wees waar ons nie nou is nie, deur blind te wees vir die skoonheid wat daar elke oomblik rondom ons verborge is, of die lewensdrif wat in self die vaal tye na vore kan kom.

Hoe treurig is dit dat ons in ons gejaag die toekoms in, nooit werklik tot rus kom in die hede nie. En nooit werklik in die liefde anker nie.

Dit is, tussen hakies, merkwaardig dat die evangelie 'n sterk toekomsverwagting het. Ons praat van 'n eskatologiese boodskap - die verwagting van die toekoms by God. Maar die Christendom het geleer dat hierdie toekoms in Christus se opstanding met vreugde deurgebreek het - sodat ons nou reeds God se goeie gawes kan geniet.

Wat nogal 'n goeie tema vir 'n nagmaalspreek kan wees: om die toekoms te vier - wat nou al begin aanbreek het. Terwyl ons bedink dat ons uiteindelik God se liefdevolle teenwoordigheid ten volle sal kan beleef, hoor ons Jesus se woorde: eet die brood, proe die wyn, laat dit julle God se teenwoordigheid by julle hier en nou beleef. Dalk open dit net, as julle dit soek, julle blik vir wie Ek nou by en in julle lewe kan wees.

Geen wonder Paulus het die liefde so prominent met geduld verbind nie. Die teenwoordigheid van die liefde in ons lewe kan gemeet word – aan ons geduld. Dit is nogal skrikwekkend as ons hierdie toets begin toepas op ons lewens.

Om te kan visvang, geduldig en met genot, in die wreedste omstandighede!

Thursday, October 08, 2009

Om sorgeloos te leef. Oor die rykdom in eenvoud.

Die vroegste Christelike mistici het die geestelike reis gesien as ‘n pad waarop ‘n mens moet kan afgee, laat gaan, afstaan eerder as wat ‘n mens opeis, toeëien, vergader. Hulle reis was letterlik in die woestyn in, weg van die beskawing met al sy sagte beddens, boordevol borde kos en gemaklike lewensstyl.

Vir hulle was liefde, vergifnis en ontferming sentrale deugde, maar hulle het ook besef dat ‘n mens verhinder kan word om lief te hê, om te gee en jou te ontferm. Deur jou verkleefdheid aan sekere dinge, kan ‘n mens neig om eerder in te samel as uit te deel, vas te hou as te laat gaan.

Ons het ‘n innerlike neiging om ons hande vas te klem in eie belang eerder as om dit uit te hou in mededeelsaamheid en meelewing. Om te laat gaan, bring vryheid van hierdie drang, hierdie verkrampte vashou aan ‘n gemaklike, oordadige en bevoorregte lewe.

Dit is wonderlike ideale en pragtige woorde om te sê dat ‘n mens moet kan laat gaan. Die praktyk wys dit is nie so maklik nie. Dit vra op ‘n seker manier inspanning. Om te laat gaan, vra dat ‘n mens met groot geduld en toewyding hard moet werk aan sekere innerlike struikelblokke.

Dit is nie net ‘n kwessie van vriendelikheid en omgee en liefdadigheid nie – al word dit alles sekerlik bedoel. Meer is op die spel: ‘n Mens moet die moeilike pad stap om jou woorde te tel en om sag te wees waar ‘n mens van nature kwaai en selfbeskermend is. Dit beteken ook dat ‘n mens lankgekoesterd vooroordele teenoor ander moet kan opgee. En dan, seker ook een van die heel moeilikste dinge: ‘n Mens moet mag kan opgee. ‘n Mens moet op ‘n punt kom dat jy moet begryp ander mense kan nie optree, leef en reageer soos jy dink hulle moet nie.

Die geestelike reis vra van ons om te aanvaar dat mense saam met ons gaan terwyl hulle anders as ons is, dink en optree. Ons moet daarom gedurig op die hoede wees hoe ons oor ander dink en wat ons van hulle vra. Ons moet ook maar versigtig kyk na hoe ons oor onsself en ons posisie onder mense dink. Ons is dalk nie so in beheer soos wat ons vermoed het nie. Ons kan ook nie regtig ander mense laat doen wat ons dink hulle behoort te doen nie. En ons is eintlik ook nie so belangrik soos wat ons graag wil dink en wees nie.

Maar een van die heel belangrikste geestelike gawes is dat ons ons sorge moet kan loslaat. Dit is veral vandag meer as ooit waardevol om te hoor hoe Jesus met ons praat oor die kommer en sorge van die lewe. Waarom kwel julle jul oor die dag van môre, is sy tydlose vraag. Kyk net na die diertjies van die veld wat sorgeloos van dag tot dag lewe. Hulle word versorg deur die Hemelse Vader.

En as ons hierdie sorge kan agterlaat, kan vergeet, kan aflê, verdwyn die spanning en gejaagdheid en gedrewenheid uit ons lewe. Dan ondermyn ons in die naam van die Here almal en alles wat ons dryf en jaag om te doen wat hulle wil dat ons moet doen. Dan luister ons na die wil van die Here en doen ons nie die uitbuitende wil van die baie base in ons lewe nie. Ons moet eenvoudig ons sorge kan laat gaan, verby al die druk op ons kan leef.

Natuurlik kan dit alles nog praktieser raak: ons moet ons kan instel daarop dat ons eenvoudiger kan lewe, sonder al die baie besittings wat ons so onnodiglike en oorvloediglik en gretiglik, selfs gieriglik, insamel en “besit.” Of ons kan in eenvoud besluit om minder te eet, minder luuks, minder oordadig, met meer oorwoëndheid te leef.

Dit alles vra bewuste keuse en daadwerklike optrede. Maar dit bring wonderlike vryheid. In die eenvoud van ‘n nuwe lewe, sal ons dan ook leer om alles wat ons het, te waardeer en eg te geniet. Ons lewe in eenvoud bring ons dan tot groter genot, groter waardering en dankbaarheid vir alles wat ons het wat ons lewe tog mooi en volledig maak. Deur te laat gaan, te los, ons krampagtige hande te ontspan, ontdek ons dalk groter skoonheid as wat ons gedink het of tot dusver beleef het. Miskien is die heel grootste blydskap as ons dan ontdek, ironies, dat ons alles kry waarna ons so gesmag het met ons krampagtige greep op die lewe. As ons laat gaan, kom alles waarna ons verlang het, en nog meer, ongevraagd in ons lewe. Wie sy lewe verloor....

Tuesday, October 06, 2009

Die blink oomblikke: bewuswording in spiritualiteit









In ons vaal bestaan, is daar vir ons meestel min “verrassings.” Die delwer op die myn versinnebeeld ons daaglikse ervaring: een emmer vol gruis na die ander word gedelf, gewas en uitgegooi op die sorteerband. Daar is dikwels dae en dae wat omgaan voordat die delwer die blink klippie raaksien en opgewonde, dankbaar beloon word vir die wag, die konsentrasie, die volharding.

Vaalheid, teleurstellings, roetine, harde werk, maar meer nog, selfs probleme is ons deel en lot. Veral van ons geestelike reis.

‘n Mens kan hierdie saaiheid verduur en probeer oorleef. Maar jy kan ook daardeur sif, op soek na die blink klippie te midde van al die gruis. Dan is 'n mens ingestel op hoe jy gevorm word, hoe jy groei deur jou ervaringe, selfs al is hul op die oog af sinloos en vaal.

Dus: die uitdaging is om te soek na dit wat waardevol is, maar begrawe is onder die sleur van elke dag.

Dit gebeur nie baie nie. Ons kyk vas in al die waardelose klippe en mis die goeie, blink oomblik wat alles tog uiteindelik die moeite werd maak. Dit is 'n proses van instelling, van bewuswording, van fokus op wat saak maak.

Wie soek, sal vind... selfs in die slegste oomblikke van ons bestaan, kan ons, as ons geestelik ingestel is, die waardevolle oomblikke ontdek.

Monday, October 05, 2009

Oor sokker en seuntjies: buig die boompie as hy nog jonk is...

Seuntjie se span:





Die teenstanders se spannetjie het lang mannetjies in hulle geledere:





Ons kyk seuntjie-sokker. Die spelertjies is almal tjokkertjies uit Graad 1, so ses jaar oud, wat hierdie jaar begin het om sokker te speel. Dis ‘n hele gedoente, hierdie Saterdag-oggend wedstryd wat terselfdertyd ook ‘n familie-uitstappie word. Uitgevat in hulle helder-blou en son-geel uniforms, in die kleinste maat aangekoop en nog steeds heeltemal te groot vir die klein lyfies, voorsien deur ‘n ma-borg met genoeg geld, en elkeen met hul eie bal waarmee hul voor die tyd kan oefen, daag hulle op vir die Saterdag-wedstryd op die pragtige, groen, goed versorgde velde in hierdie land van melk en heuning waar ons kuier.

En dit wemel van die tjokkertjies. Orals speel spannetjies. Dis ‘n klomp mensies wat hier aan die gang is en baie families wat hul vroeg-oggend hier deurbring. Die atmosfeer is totaal ontspanne, die omgewing rustig en die gemoedere vol.

Om hierdie spannetjie is baie meer as net hul families. Coach Dave is self ‘n speler, maar vanoggend is hy die afrigter wat elke spelertjie vrindelik groet met hul aankoms en hul voorberei vir die wedstryd. Hy is gedurig by, later, tydens die wedstryd. Hy haal spelers van die veld af, roep komplimente uit, prys hulle omdat hulle vir mekaar die bal aangee (duidelik om hul van ‘n spangees bewus te maak).

Dis nie net vir bal skop en tande tel nie. Die outjies speel nogal ‘n lange wedstryd, verdeel met ‘n pouse waartydens elkeen ‘n koeldrank en ‘n pakkie vars appels kry. Na die tyd is daar ‘n koepon waarmee elke kind vir hom ‘n snoepie by die winkel kan gaan uitsoek. Beloning vir die sweet en natuurlik ook nog lokmiddel.

Dis alles net vir “fun.” Elkeen, is die filosofie van hierdie doen van dinge, moet die wedstryd veral geniet. Niks afpersery, rasery, druk op die outjies nie. Maar tog is daar ‘n dieper sin aan alles: hier ontdek hulle op ‘n ontspanne manier die basiese dinge oor die wedstryd, die grondreëls van die grootste sportspel op die aardbol. Daar is daarom ‘n skeidsregter, ‘n hoërskool-seun, opgetooi in skeidsregter-drag wat so af en toe fluit blaas. Hulle moet leer om volgens die reëls te speel en om die man met die fluitjie te respekteer as hy ‘n beslissing maak. Hier word hulle geleer om vaardig te wees, om na pale te mik, om vir mekaar die bal aan te gee, om ‘n doel voor oë te kry, maar veral om sportmansgees te openbaar. Hulle speel ook nie in posisies nie. Almal hol in ‘n heerlike malhuis van skop oor die hele veld. Mooi.

En mens kan sien waarom hulle maar op die stadium eers net op ‘n baie basiese vlak moet skop. Dit is nie altyd so ‘n maklike storie om daardie groot bal met die klein voetjies te tref nie. Dikwels is die mannetjies reg voor die doelhok, maar dan trek daardie skop skoon skeef mis verby. Die beentjies kan nog nie so lekker mik nie.

Maar almal klap entoesiasties hande selfs as daardie skop mis is. Probeer weer, boet. Volgende keer is dit in. Boeta word luid aangemoedig, gekomplimenteer en hoog geprys asof hy so pas vir Ronaldino of Ronaldo of David Beckham gewys het hoe moet ‘n mens sokker speel.

Hier is die sokker taai-vas gereël. Ouers kry streng voorskrifte oor gedrag langs die veld. Daar word onmiddellik toegeslaan op enige onbeheersde of ongure gedrag. Hierdie is seuntjie-sokker wat bedoel is om nie kompeterend te wees nie. Die reëls is streng en alles is daarop ingestel om die kinders goed te laat voel oor hulle sport en om niks druk op hulle te plaas nie. As ‘n spannetjie te swaar kry, word die wen-span se getalle afgebring om te sorg dat geen span te ver wen nie en niemand ontmoedig word nie.

Maar moenie dink dis net paradys nie, né. Ook hier loer die Groot Gedagtes van die Groot Dinge en die Groot Toekoms in ons Donker Harte. Jy kan sien daar is ‘n pa of twee by wie die spanning hoog loop. Hoog. As sy seun die bal kry, is hy soos blits op en hol langs die veld, en, soms, daardie instruksie wat hy uitroep - seun bly maar altyd bewus pa is langs die veld. En jy sien ook dit is maar knyp-knyp om nie oorboord te gaan nie. Ons droom tog mos almal van seun wat in Beckham se spore sal loop (met die vet geldbeursie). Maar dit word, gelukkig, weggesteek.

Ek onthou, ‘n paar jaar terug, toe ‘n skoolhoof in die Wes-Kaap oor die slegte gedrag van familie en spelers op die sportvelde voorgestel het dat die skole-sport nie kompeterend moet wees nie. Baie van die kinders se depressies, frustrasies, geweld, minderwaardigheidsgevoelens, nydigheid en hatigheid, het hy gemeen, sou uitgeskakel kon word as hulle net in vrede sonder enige druk hul sport kon geniet. En hier, by seuntjie se skool, verstaan hulle dit nog op hierdie vroeë stadium. Vir hierdie eerste jaar is dit bloot net “fun.” Later, soos hul ouer word, kom die kompeterende gees. Nou word eers net atmosfeer geskep.

Seuntjie het twee doele geskop. Maar dit is nou nie regtig wat vir hom saak maak nie. Later kan hy ook nie juis onthou wat hul telling is nie. Hy is baie meer opgewonde oor die snoepie wat hy na die tyd kan gaan uitsoek. Goed so. Maar moenie dink die ouers weet nie dat hulle spannetjie het hierdie seisoen al al hulle wedstryde gewen nie. En dat die ander spannetjies maar soms droewig vertoon nie. In hierdie prestasie-maatskappy loer die begeertes van roem op meer plekke uit as wat reëls kan toestop.

Wat sê ‘n mens oor hierdie dinge? Ek ontmoet ‘n paar jaar gelede ‘n mediese student by ‘n swembad terwyl hy al vier uur se oefentyd agter die rug het. Elke naweek sit hy ten minste agt uur per dag se oefen in vir die Olimpiese Spele van die volgende jaar, vertel hy my. Maar dit is tussen sy studie-tye in, want hy was toe vyfde jaar medies en moes graad kry. En ‘n mens lees van atlete wat elke dag van hul aktiewe sport-loopbaan alleen, volhardend, toegewyd sulke ongelooflike ure insit. Hier is min tyd vir die lewe “geniet” of vir net lekker “kuier.” En ek herken iets daarin van die uitdagings wat soms ook oor die akademikus se pad kom: die lang ure van lees, nadink, ontwerp, bedink en dan uitskryf en oor uitskryf.

En sulke harde, afgemete toewyding bring ongelooflike voordele: daar is die erkenning van ander vir wat die sportlui presteer, ook die feit dat hulle kan uitstyg en hulself bewys, dat hulle suksesvol doelwitte stel en kan behaal. Hulle reis na baie lande, ontmoet begaafde atlete, word finansieel sterk en is ‘n mens wat weet om te volhard en nie tou op te gooi nie, wat teleurstellings kan verwerk en wat ander kan aanspoor en bystaan.

Maar hier op die vlak van die jongstes en die weerloses het ‘n mens die ontspannende benadering: die kleintjies wat nie natuurlike talente het nie, of wat nie die vasberadenheid van ‘n Gary Player het om uit te styg nie, ervaar die genot van sport, die buite-lewe, die meelewing van ouers, die waardering vir hul saamspeel. Hulle word ryk in karakter, mooi in mens-wees en ontspanne in hul aktiewe lewe. Hulle het dalk iewers anders die groot bydrae te lewer, maar hier kan hulle ook iets anders geniet. En dan is daar kans om die natuurlike talent uit te ken van die tjokkertjie wat ‘n David Beckham kan word. Hulle moet nou verder geneem word.

Maar hier werk 'n ander besef. Een van daardie sokkerspelertjies kan eerder ‘n toekomstige beroemde Nobelpryswenner in medisyne. Of iemand wat eendag ‘n vlieënier sal word vir Dokters sonder grense en ‘n kwaai opleiding daarvoor sal moet ondergaan. Of net ‘n wonderlike ma wat lief is vir haar kinders. Of ‘n onderwyser wat weet om die beste uit kinders te haal. Of ‘n sendingwerker wat op ‘n afgeleë oorde hoop in die lewens van minder bevoorregtes indra. Of 'n kunstenaar wat skeppend werk.


Soms sal hierdie inspanning baie, baie ure uit hul lewe neem. Maar altyd weer is die maat vir ons inspanning of dit ons innerlike vervulling bring en of dit ons in ons volle mens-wees ontplooi. Dit is pragtig as ‘n mens reeds as ‘n seuntjie op ‘n sokkerveld iets van hierdie waardes kan ontdek. Die groot uitdaging is dat ons hierdie kleintjies moet inlei in waardes wat die beste in hulle uitbring.

Sunday, October 04, 2009

Die vrou en die kind

Laat aand besoek ons die Jakobus-kerk in Innsbruck, waar daar 'n reuse-praalgraf vir 'n plaaslike hooggeplaatste leier is wat net soveel praal uitstraal soos die middelstuk waar die altaar staan. Dit is net goud en glorie waar jy kyk. Maar in die middel, ironies, van hierdie hoog-katolieke kerk, is die tekening van Lukas Cranach, die bekende skilder en graveerder uit die sestiende eeu, wie se pragtige skildery van Maarten Luther ek nou al jare iewers as 'n kleinerige afdruk het. Hy was saam met Duerer seker die twee bekendste kunstenaars uit die Reformasie tydperk. Ek sien al jare uit daarna om hierdie stuk van nader te bekyk. Maar dis 'n teleurstelling. 'n Mens kan dit net van veraf bekyk, want die elektroniese bewaking hou 'n stewige oog op jou om jou afstand te bewaar. 'n Egte jammerte. Want watter kunstenaar is hierdie man nie. Sy skilderye van Luther se ouers en Melanchton is onvergeetlik. Maar hier is dan die Vrou en die Kind. Pragtig. Genoeg om net na te kyk, te geniet en jou in te vergeet.

Hier is die geheel aansig - laataand (19h30) geneem.





Die stuk van nader:

Friday, October 02, 2009

Oor 'n spesiale dag: die skepping van God en mens

Na die kongres, vier dae van hordes referate oor die resepsie van Openbaring van die tweede eeu tot die middeleeue met hoogs tegniese referate deur spesialiste wat hul storie ken en meestal al jare op hul gebied gewerk het, vat ons die pad huis toe. Ons het 'n Eurail-kaartjie en ry dus met 'n ompad deur Switzerland. Dit is 'n toweragtige ervaring, hierdie rit van Innsbruck deur Lichtenstein na Zurich. In Zurich kon ek, in die twee uur wat daar tyd was vir 'n koffie en 'n kuier, darem weer die Chagall vensters gaan kyk. Dit was 'n spesiale dag: die wonderlike tonele van die skepping, goed bewaar in hierdie omgewingsbewuste lande en dan die menslike skoonheid. Chagall was 'n meester en om die vensters te sien het 'n mens weer laat besef hoe die mistiek die lewe oopsluit en verdiep.


Uit die treinvenster die tonele van dorpies, waters, oordadige groen, valleie, woude, knus huise, en alles so skoon, so skoon, so silwerskoon. Die Oostenrykers kyk mooi na hul land.




Die rivier se water was die meeste van die tyd groenblou...





In elke dorpie is daar 'n kerk iewers in 'n fokuspunt...





Nog water...




Groen landerye




Ewige gebergtes.....





Ons ry verby die meer op die middaguur toe die son te helder was vir 'n mooi foto. Byna by die eerste oorstappunt van ons terugreis (Zurich).

Wednesday, September 30, 2009

Tevrede met die lewe en met jouself... Oor spirituele volwassenheid.




Ons is honde-mense. Maar hierdie kat maak 'n mooi indruk op my. Sy laat my dink hoe ek nou voel na weke se harde werk en nog 'n referaat wat afgehandel is.

Origens voel ek ook die Parisi tekening van die kat wat baie tevrede met haar eie lyf is, leer my humorvol oor geestelike volwassenheid. Die afgelope tyd het ek Madame Bovary van Gustav Flaubert gelees. Dit is 'n boek wat op 'n stadium verbied is in Frankryk (in 1857) oor tonele daarin wat deesdae waarskynlik min wenkbroue sal beweeg. Maar dit is goed geskryf, Flaubert is 'n meester in die vertelkuns en 'n woordkunstenaar. Maar die Madame is net die teenoorgestelde van hierdie kat. Hoe meer sy opwinding in haar lewe ervaar, hoe meer onvervuld is sy. Sy is vir my die sprekende voorbeeld van wat 'n mens nie met jou lewe wil doen nie. En die lelike is hoe sy na elke ramp wat oor haar lewe kom, verval in 'n gedwepery met godsdiens en vroomheid. 'n Mens wil net weer 'n paar Cussons gedigte lees om die gevoel te kry dat daar wel skrywers is wat godsdiens begryp, maar ook 'n goeie gesig gee. En tog, wat my eintlik opgeval het in die boek, is die raaiselagtige liefde van haar man, Charles. Terwyl sy hom bedrieg en verag, bly hy die sorgsame een, totaal onbewus van haar ontrouheid. Hy is te goed om haar te verdink, selfs van die moontlikheid van owerspel. Totdat hy na haar dood haar liefdesbriewe ontdek en van haar ontrouheid bewus raak. Onvoorstelbaar is die uiteindelike konfrontasie tussen hom en een van haar minnaars...

Ek is bly ek is klaar met die boek, maar om een of ander rede bly ek daaroor nadink. Veral oor die uiteenlopende karakters - die een so vlak, so onvervuld. Die ander een deurtrek met liefde.

Môre is my afdag en ek het Nabokov saamgebring. Op die trein terug, 'n agt uur reis deur Switzerland, gaan ek skoene uitskop en boek-lees.

Lekker. Soos die kat hierbo.

Tuesday, September 29, 2009

Minder liefde... Oor spesiale ervaringe in 'n spesiale stad

Innsbruck is 'n pragtige stad. Dit is die toneel uit ons kamer:






Ons het vanmiddag as groep die Stiftskirche in Innsbruck besoek. Die kerk verteenwoordig 'n tyd waarin die kerk buitengewone mag en rykdom besit het. Ek weet nie...




In die kelder van die Universiteitskatedraal is die eenvoudige graf van Karl Rahner. iemand het ter ere van hom 'n kersie gebrand. Daar is 'n hele paar ander grafte hier. Toe ek 'n kollega by die kongres vertel van die kersie, reageer hy met die opmerking dat daar gedurig 'n kersie brand of 'n blom neergesit word van mense wat by die graf aandoen. Rahner het lank in Innsbruck gedoseer. Sy graf is die middelste een van die drie.

Dit is 'n spesiale ervaring om hier te kon wees.





Hier is die eenvoudige plaak by die graf. Eenvoudiger kan dit nie. Geen rykdom, prag en praal nie.




Van al ons ervaringe vandag, het hierdie een my ook bygebly. Op pad om te gaan eet, het hierdie vrou al die pad voor ons uitgeloop. Op haar baadjie staan:
"Wir lieben unsere Kinder weniger." Dit vertaal met: "Ons het ons kinders al hoe minder lief... In 'n tyd dat ons gedurig hoor van kinders wat hul ouers in 'n ouetehuis gaan dump of hulle mishandel, is dit nie 'n lekker boodskap nie. Daar is dus 'n ander kant van die storie.... Word dit wedersydse gevoelens?

Is daar regtig so min liefde oor?

Om vir die aarde om te gee op 'n klein manier. Oor ekologiese spiritualiteit

Sonder my... Die kaart wat dinge beheer



Selfs in die gang gebeur niks sommer net nie ....




Innsbruck is ‘n pragtige, ou stad tussen die berge met net 130 000 inwoners. Ons bly oorkant die teologiese fakulteit in die Grauer Bär Hotel, maar dit is net die plek waarop hierdie beer staan wat oud is. Niks uitspattig nie, maar duidelik gemaklik en eerste wêrelds is hierdie woonplek van ons vir die volgende paar dae.

Die konferensie self loop goed en dit is aanbiedinge uit die hoogste rak. Innoverend en slim is een referaat wat die Kodeks Sinaïticus en Kodeks Alexandrinus se Griekse manuskripte met mekaar vergelyk het om te kyk waar die oorskrywers van die manuskrip oral spasies ingesit het. Griekse manuskripte is mos nie in hoofstukke of sinne opgedeel nie, maar het eenvoudig aaneenlopend alle woorde aanmekaar geryg. Die leser van die manuskrip moes dus die woorde herken het en uitmekaar gehou het, laat staan nog die sinne en die hoofstukke. Deur die oorskrywers se indeling na te gaan, kan ‘n mens agterkom wat is vir die skrywers belangrike dele in die teks is en hoe hulle dit gelees het. Dus, besluit die referent, kan hy agterkom die oorskrywer van die Alexandrinus het die spiritualiteitsaspekte van die teks uitgelig.


Maar my aandag word ook gevang deur ‘n ander klein aspek: toe ons in ons hotelkamer intrek, kom ons geskok agter die elektrisiteit werk nie. Dus, dadelik af in die gang om te vra wat aangaan. Die vrou wat skoonmaak roep kort en kragtig uit: Karte einstecken! En by die deur is daar sowaar ‘n apparaat (sien aangeheg) waar jy jou deur-sleutel moet insit voor jou ligte aangaan. Dus as jy vir die dag uitgaan, kan jy nie ewe nalatig maar jou ligte laat brand nie. Jy moet jou kaart mos saamneem en daarmee spaar jy waarskynlik vir die hotel, die stad en die planeet ‘n hele boel krag. Briljant.

Laat-aand, toe ons terugkom, loop ons in die lang gang van ons verdieping af en sowaar, toe ons om die draai kom, gaan die eerste stel ligte aan. Die gang is in vyf seksies verdeel en as jy in die eerste kamers is, word net die eerste deel se ligte aangesit. As jy verder afstap, gaan die volgende deel se ligte aan.


Dalk ou nuus vir baie, maar vir my ‘n eerste ervaring. Ek kry nog meer hoop. Slim mense wat in professionele hoedanigheid sit en dink oor hoe ons ons planeet kan red. Kleinste detail. Iewers op ‘n aand in Innsbruck laat moet ons nie 40 liggies onnodig laat brand nie, nie eers vir 60 sekondes nie. Briljant. Dit is ‘n gesindheid van omgee, van besorgdheid.


Gaste wat hier deurkom, gaan dit nie almal miskyk nie. En hulle wat dit beleef, moet mos nadink. En mense wat nadink word handelende mense. Ons kan ook mos ons deeltjie doen. En op die manier dank ons God vir die mooi skepping deur ons omgee en daadwerklike optrede. Ekologiese spiritualiteit. Daardie Aleksandrynse oorskrywer het in ‘n tradisie geleef wat mense help om dieper na te dink oor die verantwoordelikhede en voorregte van ons daaglikse lewe.


Ekologiese spiritualiteit!

Sunday, September 27, 2009

Abraham en Isak. Om die mes te laat val... 'n Spiritualiteitsperspektief op Genesis 22.



Rembrandt se skildery van die offer van Isak (Gen.22).

Die dramatiese vertelling in Genesis 22 oor Abraham se offer van Isak word dikwels verstaan as ‘n illustrasie van Abraham se geloof. Dit is ‘n vreemde storie, gelaai met geweld. Hier is twee sake ter sprake: God beloof aan Abraham ‘n toekoms – ontelbare nageslagte (sien vers 22), maar die een deur wie dit moet gebeur, Isak, word prakties uitgeskakel. ‘n Mens kan jou indink wat in Abraham se gemoed omgegaan het. Hoe kan God ‘n belofte nakom as die persoon deur wie die belofte waar moet word, sterf?

Dit is ‘n eenvoudige storie, maar al die gewone detail maak dit byna ondraaglik intens. Abraham moet die hout gaan bymekaar maak, hy moet ‘n lang reis aflê, teen die berg op, met sy twee helpers. Hy moes vir Sara ‘n storie vertel het en hy skiet spek teenoor die helpers (ons gaan aanbid!) en teenoor Isak (God sal die offer voorsien). Dink net hoe het elke woord sy innerlike lewe uitmekaar geruk. Oor en oor beleef hy sy laaste oomblikke met sy geliefde seun op wie al sy toekomshoop en geluk gebou is. Liefdevol praat hulle met mekaar: “My seun...”, “my Vader...” En stel jou net voor, lewer Kierkegaard kommentaar oor hierdie meesterlike, maar ontstellende vertelling, sy intense emosies wanneer hy uiteindelik die mes uithaal, daarna kyk en besluit om dit in sy hand te neem. Dit is wat geloof dan vra? En selfs nog meer, die oomblik toe hy daardie mes neem en dit optel vir die slag-hou.

Vers 10 moet een van die mees dramatiese verse in die Bybel wees.

Dit is wat geloof is.

En tog, dit lyk te maklik. Is Abraham hier niks anders as ‘n masjien wat bevele uit die hemel uitvoer? Slag jou seun, moenie jou seun slag nie? Niks anders as ‘n marionet, wie se toutjies van bo-af getrek word? As die tweede bevel kom, sit hy maar gedwee die mes weg en is die verhaal oor wanneer die rammetjie geoffer word?

Is dit so maklik?

Vers 13 vertel dat Abraham “opgekyk” het toe die Engel van die Here vir hom sê om nie sy seun te slag nie.

Sy oë was op sy seun. Hy het “afgekyk” waar sy kind op die brandstapel vasgebind was. Voor hom was die slagoffer. Hy, die Vader, staan van aangesig tot aangesig voor sy Seun. En in daardie oomblik wat hy in sy seun se oë gekyk het, het hy geweet hy sou hom nie kon offer nie. Dit sou verkeerd wees. Niemand kan ‘n weerlose mens só ombring nie.

Waarom nie?

Die teks vertel dat ‘n engel van die Here met Abraham gepraat het en gesê het hy moenie Isak offer nie (vers 12). Abraham, die sterk man van die geloof, het geweet dit is die Engel wat met hom praat. Hy het nie vir ‘n oomblik getwyfel nie. Hy was gereed vir daardie woord. Was hy ‘n robot, sou niks hom van stryk gebring het nie. Want hoe kan God nou iets van hom vra en die volgende oomblik die teenoorgestelde eis? As hy, die man van geloof was, sou niks hom stuit van God se opdrag om sy seun te slag nie - niks of niemand nie.

Maar Abraham weet onmiddellik dis die Here wat met hom praat. Hy was ingestel om die stem te hoor. Toe hy in die oë van Isak gekyk het, het hy geweet God praat met hom en sê vir hom iets anders. Van gelaat tot gelaat.

Ons moet nie onderskat hoe verbasend dit is dat Abraham onmiddellik die stem herken het nie en reg was vir wat die stem gesê het nie. As ‘n mens doen wat reg is, as ‘n mens uitreik na die Ander, kwaad afwys en ontferming betoon, weet jy onmiddellik dit is wat God wil hê. Dit is die werklike dramatiese oomblik in hierdie verhaal. Die mistieke krag wat uitgaan van die slagoffer, die een wat pyn aangedoen word, maak in jou alles los wat jou voor God te staan bring. Dit laat jou die goddelike herken, soms selfs teen al die ou, tradisionele, geloofswaarhede. Om eties op te tree, om in liefde die gelaat van die weerlose te herken, is om die goddelike in jou lewe te herken.

Dit is inderdaad merkwaardig dat Abraham gelowig wou doen wat God ook al van hom wou vra. En dat hy die pyn van geloof, end-uit, berg-op gedra het – die donkerste nag van sy siel. Maar uiteindelik is hierdie verhaal nie oor Abraham nie. Dit is ‘n verhaal oor Isak, soos Levinas tereg opmerk. Dit is nie die verhaal van die Barmhartige Samaritaan nie, maar van die naaste wat 'n appel op die Samaritaan gemaak het. Die weerlose kyk net na ons en ons weet, hier is die Ander, God, wat van ons ontferming vra. Hoe kan ons ooit die weerlose verbrysel? Die geknakte riet verbrysel? Ons kan maar net die mes laat val en weet, diep in ons hart, dit is wat God vir ons vra: laat val die mes.

Geloof beteken uiteindelik om God te herken en te bemin waar jy voor die weerlose staan. Dit is om lewe te skenk waar dood en slagting die vanselfsprekende geword het.

Waar dit nie gebeur nie, waar ons nie die Weerlose in die oë kyk nie, kruisig ons die Lam van God.

Saturday, September 26, 2009

Sonder woorde, maar naby aan God. Oor die teenwoordigheid en afwesigheid van God in ons lewens (Markus 1).

Wanneer ‘n mens Markus Evangelie lees, staan ‘n mens voor die Verborge Teenwoordigheid van Christus: Hy is onder ons teenwoordig, die een wat gedoop word, versoek word en dissipels roep. Hy praat soos ons, eet, drink saam met ons en woon onder ons.

Maar hy is ook verborge, die Een wat sommer van die begin van die Evangelie af as “Seun van God” bekend word (Mk.1:1).

Die Seun, die Een wat soos ons is, 'n mens, maar terselfdertyd, anders, die Ander Een, “van God.” En daarin is Hy al die verborgene. In Hom, nietemin, en deur Hom , merk ons ‘n Oneindigheid, ‘n Andersheid wat ons nooit kan peil nie. Hy is so anders, so verskillend.

Reeds gou-gou ontmoet ons Jesus in die sinagoge. In Markus 1:21-22 lees ons hoe Jesus in hierdie ruimte van die gelowiges, die sinagoge, ook, soos ander voor hom bymekaar kom om oor die dieper dinge na te dink, om hul verantwoordelikheid teenoor God te weeg en uit te klaar. “En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan”.

Maar, hierdie keer, is dit ook weer anders: Sy toehoorders is “verslae” oor wat hy vir hulle leer, “want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mk.1:26-27). Die verslaentheid wat hierna dikwels in die Evangelie met Jesus verbind sal word, is dus van die begin af daar. “Almal soek” Jesus (Mk.1:37), want hier, by hom, word hul menslike ervaring op ‘n spesiale manier verdiep. Waar Jesus kom, besef mense dat hulle met die Grotere, die Heilige gekonfronteer word. En hulle word oorweldig daardeur.

En dit sit hulle aan die dink. Watter besondere Een, hierdie Jesus! Daar is in hom baie meer as wat ons in ander mense raaksien of van ander mense hoor. Watter oorweldigende teenwoordigheid. Dit is of die goedheid in hom oorvloedig is, of daar net eindelose moontlikhede is. Dit raak ons lewe, maak 'n appel op ons en stuur ons in 'n koers. Ons kan nie maar net soos altyd aangaan nie.

Hier begin hulle lewens dus verander. As 'n mens van aangesig tot aangesig voor die Ander een staan, ontsnap jy nie die gevolge van daardie situasie nie.

Kyk na hierdie prentjie van die ontmoeting tussen die mense in die sinagoge. Hulle is in die teenwoordigheid van die Heilige. Hulle voel eintlik hoe hul lewens onder hulle uit verander word. Dit is amper te veel. Wie hier voor Hom staan en nie reg ingestel is nie, se kop ruk uit. Iemand in die sinagoge wat onrein is, skreeu daarom uit: “Hou op, Jesus Nasarener! Ek ken U, wie U is, die Heilige van God!” (Mk.1:24).

In Jesus is daar soveel oorweldigende goedheid, soveel skakering van reinheid, dat ‘n mens begryp jy is in die teenwoordigheid van die Heilige. Jesus praat nie self oor sy eie heiligheid nie. Maar mense herken Hom, benoem Hom en ervaar Hom só. En hulle het nie ‘n keuse nie. Voor hulle nog wou, het hulle dit ervaar. Waar 'n mens blootgestel staan voor die opregtheid van die ander Een, gebeur iets met jou wat jy nie kan beheer nie.

En sommige wil dit nie hê nie – hulle wys Hom af: “Gaan weg! Wat het ons met U te doen?” skreeu die onreine. Hy verset hom teen hierdie ervaring van God. Hy voel God in sy lewe, ervaar die heiligheid, dit oorweldig hom. Hy staan magteloos voor hierdie besef dat hy in die teenwoordigheid van die Grotere, die Andere is. God is so naby –te naby vir onreinheid en daarom die rou kreet: “Gaan weg...”

Hy verwerp die Ander een. Hy kies teen enige verhouding met die goeie. Hy loop sy eie pad, alleen.

Dit is sy soort wat Jesus sou kruisig, wat geweld in hul lewens verkies, wat die Ander een nie in die oë kan kyk nie. Dit is sulke mense wat nie van Gelaat tot Gelaat leef nie.

Maar, terwyl die onrein man Jesus herken as die Heilige, is die ander “verbaas” en vra “wat se leer is dit?” (Mk.1:27). Hier is nie kru afwysing nie. Hulle is geboeid deur Jesus, eintlik in verwondering, verslae.

En tog, al wil hulle graag reageer, is dit nie maklik nie. (Die proses...) Een oomblik herken ons God so duidelik – die mense, selfs die onreines, roep dit dan in die openbaar uit! Ons behoort dit te weet, al die netjiese antwoorde te kan gee. Maar dan weer, vra ons, verbaas, verwonderd, selfs raadop na wie God is. Dan weet ons nie meer so mooi nie. Dan laat ons woorde ons in die steek. God is te groot vir ons verstand. Ons sal moet oop bly dat God weer telkens nuut met ons sal praat, nuwe dinge van ons sal vra, anders as die Skrifgeleerdes met ons sal praat, met gesag op ons lewe 'n greep uitoefen en van ons verantwoordeliheid eis.

Let veral op: die onrein man wat besef dat hy in God se teenwoordigheid is, praat direk met Jesus. Hy het die Goddelike raakgesien en praat daaroor. Maar hy weier om hierdie verhouding in sy lewe te laat werk. Hy wys dit af.

En kyk na die ander wat daar was, maar wat nou verslae is. Hulle praat oor Jesus: “Wie is hy? Wat se nuwe leer is dit?” God het ‘n “spoor” in hulle lewe gelaat (Levinas). God was daar. Hulle weet dit. Maar dan is God ook nie meer daar nie. Hulle wonder. God het in hulle lewens ingegryp – die wonder. Maar hulle staan ook weer voor die ellende dat hulle nie verstaan nie. Dat hulle nie kan begryp nie, dat iets groter aan die gebeur is. Hulle het niks om te wys nie. Weer eens wys dit daarop: ons kan God nie in netjiese pakkies verpak en etikette omhang nie.

Niks is netjies in plek hier nie. Mense wat weier om op die heilige teenwoordigheid van God te reageer, wat weier om hierdie heiligheid te erken en te laat werk in hulle lewe, dra die gevolge en word aan lyding oorgegee. Maar selfs hulle wat aangetrokke voel en hulle harte oopmaak vir die Heilige, kan nie te gerus wees nie. Want selfs hulle wat Jesus naby wil hou, wat in God se teenwoordigheid wil bly, ontdek steeds weer – hulle woorde is swak, hulle verstaan is klein, hulle krag is min. Dit is nie maklik om die heilige God te aanbid nie. Die woorde ontbreek. Ons bly maar soekers. Ons sien net spore van God in ons lewe raak.

Juis daarom is dit nodig om na aan Jesus te bly... Om maar steeds weer by die Mens, die Goddelike mens, die Seun van God te gaan staan, Hom te hoor praat, Hom te sien doen.

Hy laat ons nuut dink, anders dink. Nie sonder trauma nie. Maar by Hom begin die nuwe lewe – as ons maar sy Gelaat bly aanskou.

Dankbaar lees ons, in hierdie boek oor die Seun, hoe God sy Gelaat telkens aan ons wys: Die spoor word darem 'n ry spore...

Markus 1:45:

Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in ’n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.

Friday, September 25, 2009

Die dinge van God: Oor die onnaspeurbaarheid van God en ‘n spiritualiteit van nuwe dinge.



(Bellini se beroemde skildery van die Verheerliking, met die teenstelling tussen die drie figure in die sentrum en die reaksies van die dissipels)


Markus Evangelie is bekend vir sy merkwaardige slot. Die Evangelie eindig met die opmerking in Markus 16:8. “Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.” Maar dit is nie die eerste keer dat hierdie verwondering, vrees en verstomming hulle oorweldig het nie. Na die stilmaak van die storm in Markus 6:51 staan daar: “En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.” En na die verheerliking op die berg, volg hierdie verse in Markus 9:6, “Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elía een. Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik.”

Die Evangelie teken Jesus as die Verborgene – die Een wat sy dissipels gedink het hulle verstaan, maar wat eintlik vir hom nie regtig verstaan het nie. Nadat hulle al ‘n tyd met hom saam was, sy beste vriend was, hom so bietjie leer ken het, roep Petrus dapper in antwoord op Jesus se vraag oor wie hulle dink Hy is, uit: U is die Christus (Mk.8:27).

‘n Wonderlike belydenis. Vandag sal almal wat gelowig is, dit vir Petrus wou nasê. Niks fout daarmee nie. En Jesus aanvaar dit so.

As Jesus dan kort daarna vir Petrus verder vertel wat dit alles beteken dat Hy die Christus is, was Petrus maar lekker opgewerk en sit vir Jesus op sy plek. Nee, ons weet so goed wie U is, dat ons ook weet wie U nie kan wees nie, sê hy eintlik onsteld dan aan Jesus.

Dis dan dat Jesus hom wegjaag: “Gaan weg van my Satan! Jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van mense” (Mk. 9:6). Petrus se selfverskerde beeld van die goddelike lewe is eintlik duiwels verkeerd. Met een sin trek Jesus ‘n dik, swart streep deur sy goeie vriend se godsdienstigheid.

Wees maar versigtig, Petrus, wat jy alles oor God dink en sê.

Plaas dat Petrus onthou het hoe hy verwonderd, verbaas en verstom was toe Jesus die storm stil gemaak het. En hoe hy sommer voortvarend wou hutte bou vir wat nooit in hutte kan woon nie. Plaas dat hy onthou het dat Jesus elke keer weer vir sy dissipels op nuwe paaie gelei het, baie nuut, ongewoond, onvoorspelbaar, dikwels selfs sy mag oor die dood gewys het, egte krag, oorwinning en heerlikheid.

Net wanneer sy beste vriende gedink het hulle verstaan, hulle kan nou met mening sê wie God is, het hulle uitgevind dit is nie so maklik nie. Hy is groter, anders, sterker, vreemder as wat hulle ooit sou kon peil.

Karl Rahner het op ‘n keer gesê: “Ek moet in alle eerlikheid toegee dat God vir my nog altyd ‘n totale verborgenheid is. Ek verstaan nie wat God is nie. Niemand kan nie. Ons het aanvoelings, aanduidings. Ons maak weifelende, onvolmaakte pogings om die verborgene in woorde uit te druk. Maar daar is nie woorde vir God nie, nie sinne waarmee God beskryf kan word nie.”

‘n Mens wat só leef onder die indruk van God se totaal ander karakter, God se grootheid wat al ons netjiese woorde en kategorieë oortref, is iemand wat goed sal luister, nederig ingestel sal bly op al die nuwe dinge wat God in ons wêreld deur ons wil doen. So iemand sal op ‘n dag, by ‘n graf van doodsheid agterkom, maar alles het nie tot ‘n einde gekom nie. God begin opnuut. Daar is onstuitbare kragte los in hierdie wêreld. Ons wag angstig af om God se wonderdade te ervaar.

As ons maar net in hierdie ootmoed voor die verborgenheid van God lewe. Dan het ons werklik naby aan God gekom. Dan sal ons verstom wees oor hoe dinge wat vir ons doodgeloop het, skielik nuwe lewe meebring. By ‘n graf sal ons geskok agterkom dat God nou nuwe dinge met ons gaan doen. Die ou dinge is verby. Alles word nuut. God gee nooit op nie, die geestelike reis is ‘n gevaarlike reis, want dit is ‘n avontuur, ‘n Gees-vervullende reis. God laat ons op ‘n dag in tale spreek wat ons nog nooit van tevore gehoor het nie en laat ons dade doen waarvan ons nog net gedroom het.

Wie kan ooit God se weg peil?

Thursday, September 24, 2009

Hoe kan ons in vrede by God wees as die kinders ly? Oor ons kinders, ons skole en 'n spiritualteit van uitreik

My dag begin op ‘n rustige laat-somerdag hier in Regensburg met sy goed toegeruste universiteit en sy goeie skole met ‘n berig in die New York Times van 19 September 2009 wat die Amerikaanse buurvrou van Elizabeth in Dallas, van alle plekke, vir haar gegee het om te lees en toe na my aangepos is.

My gedagtes gaan ver terug as ek die berig oor Suid-Afrikaanse skole lees. Terwyl ons kinders oor jare heen tuis en in die skool deur bloed, sweet, trane en dan nog weer bloed, sweet en trane grootgemaak is, het die skool seker naas hulle huis die grootste en edelste rol in hulle lewens gespeel – afgesien van die skool se eie, flink bydrae tot die bloed, sweet en trane. Daar was die goeie onderwysers, die moeilikes, die minder begaafdes en die toegewydes, die vriendelikes, die wyses, die luies en die mishandelaars. Maar ons het hulle dopgehou, bedank, geloof, gehelp, gekritiseer in ‘n groot poging om ons kinders die beste te gee. Ons het vir die skool gewerk, kermisse gehou, skoolgeld geduldig betaal, op skoolkomitee’s gedien, huiswerk gedoen of met valk-oë laat doen, prysuitdelings bygewoon, sportdae meegemaak en menige dag met ‘n lam gemoed en met ‘n vurige verlange uitgesien na die dag as die matriekuitslag kom en die vrede oor ons sou neerdaal.

Die skool was saam met ons familielewe die plek waar ons kinders lewenswysheid opgetel het, gelukkig was, swaargekry het, afgeknou is, subtiel of openlik te na gekom is, lewenslange vriende gemaak het, waardes geleer het, geleer het om te kommunikeer, respek aangeleer het, veilig was, vir die lewe opgelei is, ‘n toekoms gebou het.

En ons het maar aanvaar ons kinders sal verder leer, universiteit toe gaan, vir ‘n goeie beroep opgelei word. En, Goddank, ten spyte van al die bloed, sweet en trane, het dit gebeur en ons is dankbaar dat hulle nou versorgd is en in staat is om verstandige of ingeligte lewensbesluite te kan neem.

Bloed, sweet en trane, maar uiteindelik sit ons dankbaar terug oor die hand van Bo wat oor die jare heen dit alles tot beswil van ons kinders bestuur het.

En dan lees ‘n mens op ‘n dag so ‘n berig dat dit alles vir ‘n groot deel van ons kinders nie beskore is nie. Jy weet van die probleme in die onderwys en jy weet dit is werklik erg. Maar jy voel dit nie altyd so naby aan jou lyf nie, totdat jy weer hierdie berig lees met sy kil-ontnugterende syfers en sy aangrypende klein lewensverhale (lees net daardie wonderlike slot-storie). En jy verplaas jou in die plek van ‘n kind wat dertig kilometer elke dag moet skool toe (gister se koerant! – en hulle kry darem nou ‘n fiets daarvoor!), wat dalk daar kom en die onderwyser is nie daar nie, of daar is nie boeke nie, of die klasse is buite onder die boom. En.... En.... En...

Dis nie ‘n lekker oggend nie.

Ek onthou, na die demokratisering van die land, hoe die skool van my kinders teen ‘n skool uit die township rugby gespeel het. Alles het goed afgeloop. Maar, dit was daardie een oomblik ná die eerste wedstryd wat my sal bybly toe van die spelers wat van die veld afgekom het hulle skoene uitgetrek het om vir die spelers van die volgende span te gee. Hulle het nie eers skoene gehad nie. En of dit nou pas of nie...

En, jare daarna, lees ek in die koerant van ‘n vorige Vise-Rektor van die Universiteit, ‘n bekende professor en gemeenskapsleier, van wie ek nie veel na na sy aftrede gehoor het nie. Hy is nou al jare besig om sonder vergoeding wiskunde te gee in ‘n agtergeblewe hoërskool in Stellenbosch. En hy beywer hom vir ‘n infrastruktuur wat vir die kinders in die skool beter geleenthede sal gee.

Toe ek verlede jaar in Bloemfontein die Pinksterreeks in ‘n gemeente gedoen het, het twee van die gemeentelede, hoogs bejaard, vir my, sonder enige uitstel, vertel van hulle projek om kinders wat Vigs-wesies is, met kos en klere te ondersteun – in samewerking met die hoof van die skool.

Goue mense. Die Damiaan’s wie se lof nie besing word nie, maar wat die edelste van dinge doen – om uit te reik na die weerloosste onder ons, kinders wat ontbering ly, wat nie eers skoene het om aan te trek nie. Terwyl ons so ‘n groot premie plaas op ons kinders se opvoeding in skole, terwyl ons sien met watter massiewe uitdagings die regering worstel, moet ons nuwe maniere bedink om hier in te spring. Ter wille van ons self, ja en ons kinders. Maar baie meer nog, ter wille van kinders wat uitsigloos uitval om ‘n toekoms sonder hoop tegemoet te gaan. En meer nog, ter wille van Christus, wat van ons vra om om te gee.

Daarom moet ons hierdie stories oorvertel, oorvertel. Sommige sal miskien op onbarmhartige manier sinies reageer, lekker kry, politieke munt daaruit slaan. Hulle is wreed. Maar baie sal verstaan, beter verstaan, en dalk gedryf voel om meer te doen. Prakties te doen – soms op ‘n baie klein skaal, maar alles om die stroom in die regte rigting te lei. Geletterdheidsklasse vir werkers in ‘n gemeente. Aand- of naweekklasse in samewerking met skole. Boeke vir skoolbiblioteke. Ons moet ons bure in arm skole vra wat gedoen kan word, ons goeie skole moet uitreik na hulle wat voel hulle sukkel. Dis krisistye wat vir krisishulp vra. En dalk is dit nou die tyd dat die kerk, juis die kerk, hierin leiding moet gee. Dit sal ongewoon wees. Maar uit ons eie geskiedenis was van ons grootste kerkleiers soos Vader Kestell en P.K. Albertyn die mense wat omgegee het vir die weerloses. Toe, in die ellende, was die kerk daar. Daarna, toe alles normaal was, kon dinge weer op hul eie aangaan. Dis nou weer sulke tyd.

Een van die kernmomente van spiritualiteit is dat dit in gehoorsaamheid aan God soek na menslikheid, om te heel, om te stry dat alle mense in die volle seëninge van mens-wees kan deel. Daarom is uitreik na ander nie ‘n keuse nie. Dit is ‘n innerlike drang wat voortvloei uit God se liefde vir ons.



KHAYELITSHA, Seniors here at Kwamfundo high school sang freedom songs and protested outside the staff room last year because their accounting teacher chronically failed to show up for class. With looming national examinations that would determine whether they were bound for a university or joblessness, they demanded a replacement.

Joao Silva for The New York Times
A student waited for transportation at Kwamfundo High School in Khayelitsha. The school was the site of student riots last year because of teacher absenteeism. “We kept waiting, and there was no action,” said Masixole Mabetshe, who failed the exams and who now, out of work, passes the days watching TV.

The principal of the school, Mongezeleli Bonani, said in an interview that there was little he could do beyond giving the teacher a warning. Finally the students’ frustration turned riotous. They threw bricks, punched two teachers and stabbed one in the head with scissors, witnesses said.

The traumatized school’s passing rate on the national exams known as the matric — already in virtual free fall — tumbled to just 44 percent.
Thousands of schools across South Africa are bursting with students who dream of being the accountants, engineers and doctors this country desperately needs, but the education system is often failing the very children depending on it most to escape poverty.

Post-apartheid South Africa is at grave risk of producing what one veteran commentator has called another lost generation, entrenching the racial and class divide rather than bridging it. Half the students never make it to 12th grade. Many who finish at rural and township schools are so ill educated that they qualify for little but menial labor or the ranks of the jobless, fueling the nation’s daunting rates of unemployment and crime.

“If you are in a township school, you don’t have much chance,” said Graeme Bloch, an education researcher at the Development Bank of Southern Africa. “That’s the hidden curriculum — that inequality continues, that white kids do reasonably and black kids don’t really stand a chance unless they can get into a formerly white school or the small number of black schools that work.”

South Africa’s new president, Jacob Zuma bluntly stated that the “wonderful policies” of the government led by his party, the African National Congress, since the end of apartheid 15 years ago, “have not essentially led to the delivery of quality education for the poorest of the poor.”
Scoring at Bottom

Despite sharp increases in education spending since apartheid ended, South African children consistently score at or near rock bottom on international achievement tests, even measured against far poorer African countries. This bodes ill for South Africa’s ability to compete in a globalized economy, or to fill its yawning demand for skilled workers.

And the wrenching achievement gap between black and white students persists. Here in the Western Cape, only 2 out of 1,000 sixth graders in predominantly black schools passed a mathematics test at grade level in 2005, compared with almost 2 out of 3 children in schools once reserved for whites that are now integrated, but generally in more affluent neighborhoods.

“If you say 3 times 3, they will say 6,” said Patrine Makhele, a math teacher at Kwamfundo here in this overwhelmingly black township, echoing the complaint of colleagues who say children get to high school not knowing their multiplication tables.

South Africa’s schools are still struggling with the legacy of the apartheid era, when the government established a separate “Bantu” education system that deliberately sought to make blacks subservient laborers. Hendrik Verwoerd, the prime minister who was the architect of apartheid, said “Bantu” must not be subjected to an education that shows him “the green pastures of European society in which he was not allowed to graze.”

The struggle against apartheid dismantled the discredited structures of authority in education that Mr. Zuma’s government is now seeking to replace with a new approach to accountability. In those years, the African National Congress sought to make the nation — and its schools — ungovernable. Supervisors — part of an “inspectorate” that enforced a repressive order — were chased out of the schools, as were many principals.

Mary Metcalfe, who was the A.N.C.’s first post-apartheid education minister in the province that includes Johannesburg, recalled principals in Soweto being forcibly marched out of the township. After apartheid ended, Ms. Metcalfe, recently appointed director general in the country’s Higher Education Ministry, said there was a grab for “power and jobs and money.”

Most teachers in South Africa’s schools today got inferior educations under the Bantu system, and this has seriously impaired their ability to teach the next generation, analysts say. Teachers are not tested on subject knowledge, but one study of third-grade teachers’ literacy, for example, found that the majority of them scored less than 50 percent on a test for sixth graders.
¬¬ “If you say 3 times 3, they will say 6,” said Patrine Makhele, a math teacher, complaining about early education.

But South Africa’s schools also have problems for which history cannot be blamed, including teacher absenteeism, researchers say. And then when teachers are in school, they spend too little time on instruction. A survey found that they taught for a little over three hours a day, rather than the five expected, with paperwork consuming too many hours. Mr. Zuma noted that this deficiency was worse in poor and working-class communities.

“We must ask ourselves to what extent teachers in many historically disadvantaged schools unwittingly perpetuate the wishes of Hendrik Verwoerd,” he recently told a gathering of principals, implicitly challenging the powerful South African Democratic Teachers’ Union, which is part of the governing alliance.
As South Africa has invested heavily in making the system fairer, the governing party made some serious mistakes, experts say. The new curriculum was overly sophisticated and complex. Teacher colleges were closed down, without adequate alternatives. The teachers’ union too often protected its members at the expense of pupils, critics say.

“We have the highest level of teacher unionization in the world, but their focus is on rights, not responsibilities,” Mamphela Ramphele, former vice chancellor of the University of Cape Town, said in a recent speech.

South Africa’s new education minister, Angie Motshekga, said in an interview that a lack of accountability had weakened the whole system.

“There’s a complete breakdown,” said Ms. Motshekga, a former high school history teacher.

Teacher vacancies commonly go unfilled for months, she said. Principals cannot select the teachers in their schools or discipline them for absenteeism.
Ms. Motshekga said she had Mr. Zuma’s strong backing to give principals greater authority, and would also seek to change the law so the education department could pick principals directly — and hold them accountable.

“The president said to me, ‘Minister, immediately look at the powers of principals,’ ” she said.

Here in the Western Cape, where the opposition Democratic Alliance recently came to power, the province is considering monitoring teachers’ attendance by having them send text messages or e-mail messages — in response to an electronic query — to confirm they are present.

“We’ve got to get discipline back in schools,” said Donald Grant, the provincial education minister.

Discipline for Teachers
Kwamfundo Secondary School illustrates just how critical an effective principal and disciplined teachers are to student achievement — and how quickly a school’s success can crumble if they are lacking.

For much of this decade, Kwamfundo was led by Luvuyo Ngubelanga, a commanding man admired by students and teachers alike for his strict insistence on punctuality, his work ethic and his faith in them. He prowled the corridors of the yellow brick school, poking his head in classrooms and collaring misbehaving students, making them pick up litter, sweep the halls or clean the bathrooms.

Mr. Ngubelanga, who now runs a vocational college, said most teachers are dedicated, but some could “be naughty like kids.” He recalled finding a classroom packed with students and tracking down its AWOL teacher loafing at the back of another class.
In his years as principal, 75 to 82 percent of students passed the matric, a set of examinations given to seniors that shape their life chances. But the school has struggled since he was succeeded by his deputy, Mr. Bonani. The matric passing rate plunged to 65 percent in 2007 and 44 percent last year.

Teachers and students describe Mr. Bonani as a far less forceful presence, though he says he is engaged and active. Teacher absenteeism has been a major problem.
“There’s a lot of teachers who take sick leave,” said one teacher, who asked not to be named, as it would jeopardize his ability to work with colleagues. “They are not punctual in the morning. How do we expect learners to behave if we do not behave?”

Arthur Mgqweto conducting choir practice. He teaches more than 200 students each day for a salary of $15,000 a year.

Despite last year’s violent episode, students seem to feel genuine affection for their school and speak of their hunger for knowledge and their faith in education to bring a better life.

The classroom itself, No. 12A, seemed shaken awake one recent first period as 52 seniors lifted their voices in harmony. Tall, lanky young men at the back of the room pounded out a driving beat on their backpacks in a morning ritual of song and rhythm.

Even when they realized the science teacher was absent, the student body president and his sidekick, a radiantly optimistic AIDS orphan, rose to lead a review session on evolution. And when the second-period English teacher was late, they just kept on talking about Darwin’s finches and genetic mutations.

“Quiet!” exclaimed Olwethu Thwalintini, 18, the student leader. “Can I have your attention, please. Exercise 2.1.”

Murmuring voices and shuffling papers fell silent.

“List two environmental factors which make it possible for the vertebrates to move onto land,” said Blondie Mangco, 17, the sidekick, whose mother died during final exams last year.

Blondie has barely passing grades in physical science, but she believes she will somehow raise them to A’s or B’s, win entrance to the university of her dreams and become an environmentalist, a doctor or a biomedical scientist. Now that her parents and big sister are dead of AIDS, she feels a duty to be a role model to her little brother.

“He’s looking up to me now,” she said.

Later that day, Arthur Mgqweto, a math teacher, strode into the classroom, jauntily wearing a township take on the fedora called a square. He teaches more than 200 students each day for a salary of $15,000 a year. His students describe him as a friend, a mother, a father, a guide.

“He comes early every, every, every day,” Blondie said. “He comes here early at 7 o’clock and he’s the last one to leave. He’s given himself to us.”

Mr. Mgqweto grew up in the countryside during the apartheid years, ashamed to go to school because he had no shoes. He finished high school in his 30s, sitting in class with children half his age. His only son was stabbed to death at age 21 in a nearby township.

“I always explain to them, life is very hard,” he said. “They must get educated so they can take care of their families when they grow old.”

His students bake chocolate cakes with him on their birthdays. Dozens come an hour early on weekdays and for Saturday morning sessions with him. He is paid nothing for those extra hours, except in their gratitude.

“I love that teacher,” said Olwethu, the student leader. “I love him.”

Wednesday, September 23, 2009

Die derde lewe... Oor die einddoel en diepste moment van ons geestelike lewe.





Ek luister vanmiddag na Barack Obama se toespraak voor die Verenigde Volke en sy oproep dat lande nie net sal kerm oor alles wat verkeerd gaan nie, maar daadwerklik ‘n verskil sal maak. Terselfdertyd lees ek iewers wat Paus Benediktus gesê het hoe belangrik onderwys is, maar dat onderwys in ‘n wêreld wat sinies teenoor die lewe staan, vir kinders geen hoop sal bring nie. Hy praat ook oor hoe onderwys ruimte moet laat om vir kinders ook oor lyding te leer.

Alles praktiese dinge. Die groot oproep van mense met morele integriteit dat mense ‘n verskil moet maak.

En daar is niks wat meer waar is as dat mense ‘n verskil kan maak nie. Tereg maak die teologie dan ook baie daarvan. In ons tyd het kontekstuele teologieë op ‘n belangrike manier vir mense geleer dat geloof nie intolerante, diskriminerende strukture kan verdra nie, asof die kerk maar net vir mense van vroomheid moet vertel nie.

Ek het al voorheen (April) ‘n eerste blog geskryf oor Ruusbroec, die Vlaamse mistikus wat een van die bekendste mistici in die Christendom is. Hy het op 60 jaar hom op die kontemplatiewe lewe toegelê en is dus by uitstek ‘n mistikus wat die innerlike lewe in die oog het. Hy was onder andere ‘n geestelike vader van De Groote, vader van die Nuwe Toewyding en dus ook van Thomas a Kempis.

Die Nuwe Toewyding wat so ‘n praktiese, konkrete spiritualiteit gehad het, het ook ‘n innerlike kant gehad, wat in Thomas se Navolging na vore kom en vir sommige van sy lesers te individualisties is. Miskien kan die wortels hiervan teruggevoer word na Ruusbroec met sy kontemplatiewe spiritualiteit. ‘n Mens moet nie die baie sterk instelling op die innerlike lewe in Thomas se Navolging miskyk nie. Trouens, dit sal nogal ‘n uitdaging wees om te kyk hoe hy gedurig hierop terugkom.

En tog is Thomas se Navolging, in lyn met die Nuwe Devosie, eerder ‘n boek wat op die lewenskuns in die sin van die praktyk ingestel is.

Hoe moet ons interioriteit en eksterioriteit bedink? Ons dink altyd aan die deurwerking van die mistiek – hoe die mistieke eenwording met God vrug dra in die lewe van die mistikus en ‘n lewegewende praksis tot gevolg het.

In ons woelige tyd waar alles so ingerig is op die Christendom se vormende invloed op die samelewing, op ‘n aktivistiese geloofsbelewing, op bevrydingsteologie, is dit die moeite werd om die generator van sulke goeie bewegings weer te bedink. Interioriteit is dalk ‘n groter faktor as wat ons gewoonlik dink en nie so maklik af te kam as wat dikwels gebeur nie.

Wat my weer laat dink het aan Ruusbroec. Hy is veral bekend vir sy Geestelike Bruilof wat nadink oor die gelykenis in Matteus 25 en as vertrekpunt vers 6 neem: Kyk (1), die bruidegom kom! (2). Gaan uit (3) en ontmoet hom (4). Elkeen van hierdie aspekte werk hy op drie vlakke uit. Hierdie drie vlakke is:

Eerstens, verrassend: Ruusbroec, die groot mistikus van die kontemplasie, het ‘n fyn oog vir die lewenspraktyk. Hy begin sommer daarmee. Die aktiewe aspek beteken die mens groei in gelykenis aan God (die werkende lewe – of die via). Dit is hier waar ‘n mens, aangevuur deur die aanraking van God, ‘n lewe van toewyding najaag. Dit sluit ‘n worsteling teen sonde in. Dit is die fase waarin ‘n mens uitgaan om die bruidegom te ontmoet. Dit is ook die fase waarin ‘n mens jou geloofskennis voed, deur onder andere die twaalf artikels te bemeester. Hiernaas leer ‘n mens uit Jesus se lewe, uit die natuur en uit die skepping – alles wat ‘n mens se geloof kan baat.

Maar hierdie aspek is die begin van ‘n spiraal wat nuwe dimensies oopsluit, wat, tweedens, veral met die innerlike lewe te doen het. ‘n Mens groei in gelykenis aan God deur die innige, verlangende lewe (die via illuminativa) wat die vriendskap met God versorg. Hier is ‘n mens nie toegespits op allerhande geestelike oefeninge en aktiwiteit nie. Hoe goed en wonderlik die prediking, die sakramente en die lewe van toewyding is, dit is nie die diepste dinge nie. ‘n Mens moet daarby verby. Jy moet nou ingestel wees op nadenke oor die ewige liefde van God. Hier sien ‘n mens God met die siel.

Maar dan volg die besonder, dieper dimensie. Uiteindelik is daar die lewe van kontemplasie (via unitiva; of die derde lewe). ‘n Mens groei in gelykenis aan God wannneer ‘n mens deel word van God in ‘n lewe van liefde (die godskouende lewe, die kontemplatiewe lewe). Dit is veral die derde aspek wat in gedagte gehou moet word. Hier lê ‘n mens alle kennis af om totale suiwerheid en helderheid te ervaar. Jy sal egter met die beste werke en met die grootste geestelike toewyding nie daarby uitkom nie. Om dit te kan ervaar moet drie dinge gebeur: ‘n Mens moet deugsaam lewe. ‘n Mens moet God liefhê soos ‘n vuur wat nooit geblus word nie. En dan moet ‘n mens jouself verloor in die ruimte waar jy niks kan beheer en bepaal nie, waar alles wat vir jou normaalweg lig was, nie meer skyn nie. Dit is hier waar ‘n mens die Seun van God, die lig wat alle verstand te bowe gaan, ontmoet. Ons sien die ewige lewe hier, in hierdie onverkenbare ruimte raak. Hier sien ‘n mens God met die gees.

Dit is hier waar ‘n mens met God verenig word. En waar die eenheid plaasvind, oorweldig totale vreugde en vervulling jou. Dit is, ondenkbaar, bo alle verstand, om dan in die oseaan van God se wese te swem.

‘n Mens kan hieroor nogal baie praat. Vir sommige sal dit te veel wees. En Ruusbroec self het geskryf dat nie alle gelowiges hier tuis sal voel nie. Die Nuwe Toewyding, byvoorbeeld, wou doelbewus nie baie aandag aan die kontemplatiewe kant van Ruusbroec se mistiek gegee nie. Miskien oor die nood van hul tyd wat hard na hulle geroep het? Is die innerlike nood van ons tyd ‘n oproep om dalk weer aandag aan hierdie derde lewe te gee?

Maar hoe anders? Is spiritualiteit dan nie uiteindelik veral oor die verhouding tussen God en mens nie? ‘n Verhouding wat God inisieer en wat op die lewe by God uitloop nie? En is die liefdevolle verhouding tussen God en mens dan nie so transformatief dat die mens in God se beeld omvorm word, dat ‘n mens aan Christus, die Opgestane Verheerlikte konform word nie, met die Heilige Gees begiftig word nie? Is die toekomsverwagting van die Christendom, die hoogtepunt van Openbaring, dan nie juis dat God alles in almal sal wees nie, onder ons sal woon nie? En is Paulus se eskatologie dan nie gefokus op hierdie een finale punt dat ons “dan” vir altyd “saam met God” en Christus sal wees nie? Hoe sou ons dan ooit die derde lewe kon afmaak?

Ruusbroec is bekend vir sy woord dat wanneer ‘n mens in diepe kontemplasie is en ‘n arm mens vra vir water, moet ‘n mens alles los en liefdevol aan so ‘n persoon water gee. Daar is dus grense aan die spesiale, diepe vereniging met God wat ons in die kontemplatiewe lewe soek.

Maar steeds weer was vir hom die hoogste goed om na te dink oor die heerlikheid van die ewige lewe. En waarom sou ons die ewige lewe nie bedink nie? Dit is net die dwaas wat dink paradys kan op aarde bewerk word. Elkeen van ons moet ons hoof neerlê. En terwyl ons ons voorberei op die dag dat dit gebeur, kan ons nou al beleef wat ons dan sal beleef: die teenwoordigheid van goddelike liefde wat alle verstand, alle menslike grepe, alle gevoelens te bowe gaan. Die deel hê aan die lig wat alle begrip, menslike woorde en gedagtes transendeer.

Ruusbroec het iewers geskryf dat ‘n mens wat God lief het en in kontemplasie God se liefdevolle teenwoordigheid beleef, ‘n diepe honger na nog meer, na hierdie liefde ontwikkel. Hoe sal ons wêreld, hierdie stukkende plek, lyk as mense honger na die Liefde? En terwyl ek dit bedink, begin ek besef watter diepte daar in Totius se gedig is wat ek gister bespreek het. Toe reeds het dit my getref hoedat die gedeelte eindig met ‘n nuwe graad van intensiteit waarmee die mediterende gelowige na God se liefde verlang – die oomblik wanneer dit aan ‘n mens geskenk word. Terwyl Obama en die Pous die aktiewe lewe sinvol onder die aandag bring, moet ons van ons kant af dieper delf na dit wat die einddoel van alles is – om van aangesig tot aangesig voor die Liefde te staan.

Tuesday, September 22, 2009

Stil-alleen op die son staan wag... Oor Totius se gereformeerde mistiek!




Stil-alleen op die son staan wag...

In my soektog na spiritualiteitstekste en mistieke tekste in die Afrikaanse digkuns, ontdek ek hierdie juweel in Totius (J.D. du Toit) se Trekkersweë.


Totius het vir hierdie bundel, gepubliseer in 1905, pas na die oorlog, die eerste Hertzogprys in 1915 gekry. Hy was toe maar nog 28 jaar oud, maar in lydensjare veel ouer.


‘n Mens kan maklik patroniserend en neerbuigend oor die bundel wees – die maklike rym, die soetighede. Of jy kan dit ook afmaak vir sy oomblikke van rassistiese stereotipering.

Duidelik, egter, moet ‘n mens Totius versigtig lees, nadenkend, in sy tyd en teen die pyn wat hom, as pa, maar ook as gelowige en as Afrikaner, soos ‘n dol hond agtervolg het.


Die bundel is die produk van die veelbewoë geskiedenis van die trekkers wat groot raakpunte met ons tyd wys: Die ellende van verstedeliking (gaan kyk maar wat gaan nou aan in ons plakkersbuurte), die hartseer van vervalle familie-strukture (trekarbeid), die verlies van onskuld, die impak van gierigheid (die wortel van alle kwaad!, onthou ek toe ek dit bedink).


Hier is die twee verse wat vertel hoe oom Gert uiteindelik sy plasie verkoop:


So het hy lank gepeins, gewag,
tot hy oplaas dink: "Laat maar gaan."
Hul bied hom tweemaal duisend aan,
en daarmee is die koop volbrag.

Oom Gert maak nog sy saak gewis:
hy vra net goudgeld en kontant,
en dat sy eie predikant
sal tel of hulle almal is.


(Wat die predikante ook nie alles moet doen nie!)


Uiteindelik weet ‘n mens nie wat is erger in hierdie bundel, maar ook in ons geestelike reis nie: die een ellendige lotsverhaal na die ander (die moord op Piet Retief, die Boere-oorlog) of die stiller, gevaarliker en dodeliker vernietiging van ‘n mens se innerlike vrede, verkrygde geluk, deur geld en voorspoed.


Maar die bundel het byvoorbeeld die aangrypende hervertelling van die Gelykenis van die Verlore Seun, met ‘n vrou in die plek van ‘n man as die verlorene. Moenie mis nie...


Die Bybelse materiaal vind egter sy hoogtepunt, vir my, in hierdie stuk,hier onder aangehaal, geskryf nadat oom Gert sy huis teen ‘n groot som geld verkoop. Hy is ryk, maar in die proses verloor hy sy siel, sy nabyheid aan God. In die plek van die waak met God, kom die onrustige sorge. (Om oor na te dink.)


Selfs dit is nog nie vir my die diepere nie. Dit is heeltemal merkwaardig om te sien hoe die Gereformeerde Du Toit, die bekende Totius, Professor aan die Dopper Teologiese Skool in Potchefstroom, die Psalm (waaroor ek elders in hierdie blog skryf), gebruik om meditasie of mymering uit te beeld en, nog meer, om uiting aan sy mistieke belewing te gee. Vir my is hierdie gedeelte op geen beter manier te verstaan nie. Totius se gedig is eintlik 'n moderne weergawe van die Psalm.


Die gedeelte begin roerend met “O Heilige nagte van voorheen....” En inderdaad, dit is spiritualiteit, die transformatiewe heiliging wat in die nag plaasvind. In die donker nag van die siel is God in die groot stilte van verlange al aan die werk. Lank voor die son van aanskouing beleef word, die eenwording met God plaasvind, is die nagte al "heilig". (As ons maar ons geloofsreis se donker kante so kan beleef...)


Die gedig loop oor van mistieke elemente: die nagwaak, die wag op God, die verlange na God, wat nog groter verlange oproep! Die beelde vat aan jou hart: die siel wat as ‘n toevouende blom en as ‘n duif wat snags kop in die dons gaan dek, geteken word: diep ingekeer in die waak op God. Dit vertel van die mens wat sy diepste innerlike oopstel voor God, bewustelik, smekend, afwagtend.


Kyk dan daarna daardie prosesmatige: Dis doen en doen en nog eens doen, totdat...


die eenwording plaavind, die wederkerigheid daargestel word:

Totdat 'n ligstraal na benee
val in die oog omhooggehou



Uiteindelik dan is daar die aanraking deur God, die eenwording met God in die fokuspunt van die gedig: die “aanskouing” van God wat soos ‘n ligstraal van bo kom! (met die boeiende wisselwerking van die ligstraal op die oog – die aanskouing, die “wyding ryk”). Pure mistiek.


Dit is des te meer boeiend oor die Protestantse formaat waarin die mistiek aangebied word. Dit bly mymering in die lig van die Skrif oor die Skrif. Elke strofe eindig, in lyn met hierdie teosentriese tradisie, met die woorde "oor God." Behalwe die laaste een, wat donker, onheilspellende, die ander god benoem: "Goud". Vandaar die treurige inleiding: O Heilige nagte van voorheen. Wie nie waak nie... Wie nuwe gode najaag... Wie sy siel verkoop... Wat baat dit jou...


Beautiful.


Hier is die bundel se eerste blad wat die hele storie opsom:

'n Woord van Inleiding
Die versies verplaas ons bo-op die Rand, ongeveer waar Johannesburg
nou lê. Daar het oom Gert, 'n trekker, met vrou en enigste dogter,
gaan woon. Later kom oom Koos, 'n kolonis, wat in die nabyheid grond
gekoop het. Sy seun Willem raak verlief op Dina, oom Gert se dogter.
Nadat die twee families saam Perdekraal-fees gevier het, gaan Willem
en Dina trou.

Die tweede versereeks beskrywe die ontdekking van die goudvelde en die
opkoms van Johannesburg, maar ook die verleiding waaraan Willem en
Dina, wat by oom Gert inwoon, blootgestel is en waarvoor hulle beswyk.
Die tweede stuk eindig dan met die groot Boer-Britse oorlog.

Die derde versereeks verplaas ons in die tyd toe die Unie tot stand
gekom het, en beskryf die treurige einde van oom Gert en Dina.

Dis die simpele storie waarop die hele gedig gebou is. Ons kan hier
nog byvoeg dat die S.A. Akademie, deur die vrygewigheid van genl.
Hertzog, in staat gestel is om jaarliks 'n milde geldprys vir
letterkundige werke uit te loof. Die prys vir 1915 is aan hierdie
gedig toegeken.


Ek laai hierdie stuk af, van alle plekke by die gratis boeke op die gutenberg e-werf:
http://www.gutenberg.org/catalog/world/readfile?fk_files=195368&pageno=22

Hier is nou die gedeelte:


o Heilige nagte van voorheen
as die maanlig skaars in die huisie dring,
waar oom Gert lê waak, soos die psalmis sing,
om te peins oor God,

die nagte nog lank, na skeppings-maak,
deur geen kunsglans nog verkort;
as die mens nog tyd het om wakker te word
en te peins oor God.

Die vetkers het maar kort gebrand
om te lig oor die oue Skriftuur
wat die stof bied in die vroeë uur
om te peins oor God.

Die siel doen soos die blomkelk dan
wat die blaartjies sluit by nag,
en stil-alleen op die son staan wag--
so peins die siel oor God.

Dit doen net soos die voël by nag,
wat die vlerk nie vliegend meer wil strek,
maar die koppie in die dons gaan dek--
so peins die siel oor God.

Dis doen en doen en nog eens doen,
totdat uit hoër, heil'ger oord
verruis die saalge stemmingswoord--
as die siel stil peins oor God.

Totdat 'n ligstraal na benee
val in die oog omhooggehou,
en die siel dan weer sy God aanskou--
terwyl dit peins oor God.

Dan voel dit weer aan wyding ryk
en beef stil opwaarts-heen
met groot verlange om nog
oor God te peins.

Maar ag, nóú is oom Gert vol sorg,
en sy bed is vuur onder hom:
'n ander god het daar gekom,
en die naam van die god is: Goud.

Blog Archive