Friday, December 31, 2010

2011. Oor God wat alles nuut maak.

Openbaring 21 gaan oor die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hulle is God se nuwe skepping – hierdie keer sonder die see. Die see was in die antieke die plek van onheil. In God se skepping is daar nie plek vir onheil nie.

Dit is die plek van die Nuwe Jerusalem. In hierdie nuwe stad is God uiteindelik met die mens verenig. Dit is die mistieke kern: God sal self by mense wees – soos vanouds. Soos in die paradys. Alles wat ‘n mens ‘n lewe lank begeer het, word by God, in God se plek ‘n werklikheid, ‘n realiteit. God sal alles in almal wees. 

Die eerste dinge, sê vers 4, het verbygegaan. Nou sê God: “Kyk, ek maak alles nuut.”

“God” doen dit. En “alles” word nuutgemaak. En alles word “nuut” gedoen.

Net soos God aan die begin hemel en aarde gemaak het en alles wat daarin was.  Alles behoort dus aan God.

Met hierdie wete stap ek 2011 in.

Dit is ‘n jaar waaroor lang skaduwees sal skyn. Soos elke jaar sal dit sy rantsoen aan trane oplewer. Soos baie vorige jare sal daar treurigheid, swoeg en sweet wees (vers 4). Soms harder en seerder as ander kere. Dit is onvermydelik.

Die donker oomblikke in die pad sal ‘n mens laat vashou aan die teenwoordige tyd van Openbaring 21:5. God maak nou alles nuut. Dit is so ‘n besonder eenvoudige sin. Niks ingewikkeld nie, geen toekomsvisie nie, niks beloftes nie. Bloot net ‘n stelling in die teenwoordige tyd: God maak alles nuut.

Elke keer weer as ‘n mens dus in die donker oomblikke reis, breek die lig van hierdie versekering deur:  al die ou, donker dinge, die hartseer van die verlede, die kwellinge van ouds, die sweet - dit is oor.

Soos die nuwe jaar kom, so breek God se nuwe oomblikke by herhaling in ons bestaan deur. In die donker oomblikke is daar lig, lig en lig – die lig van God se woorde in die teenwoordige tyd: nou, in jou donker tye, is Ek skeppend aan die werk. Ek maak jou nuut, ten spyte van jou pyn. Miskien juis “deur” jou pyn.

As dít my dan nader bring aan God, wil ek dit omhels, selfs hierdie pyn, selfs hierdie donker, angswekkende tye.

Aldus stap ek 2011 in. Vol dankbaarheid, met 'n gevoel van geborgenheid dat God die reis met my loop. Lig en lig en lig in die bestaan van God.

Thursday, December 30, 2010

Goddelike vreugde nog voor ‘n mens die goddelike aanskou….



 
Matteus 2:9 vertel hoe die magiërs na Bethelehem vertrek het om uiteindelik by Jesus uit te kom. Die ster wat hulle gesien het, het by die plek waar Jesus was stil gaan staan.

En dan volg, merkwaardig,  vers 10: “En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.” Dan gaan hulle in die huis in waar hulle die Kindjie vind en aanbid.

Nog voordat hulle die Kindjie sien, is hulle, soos die Grieks lui: verskriklik bly met ‘n groot blydskap. Matteus se taal is intens. Hy wil duidelik maak dat  hulle blydskap uitbundig groot is.

Daar is vir my iets van ‘n mistieke antifrase in hierdie vers. Hulle verwag die hele reis al daardie oomblik dat hulle die goddelike van aangesig tot aangesig sal ervaar. Maar reeds voor dit gebeur, ervaar hulle intense vreugde. Die Kindjie is nog afwesig, maar is terselfdertyd reeds aanwesig.

Dit is egte geloof. Om reeds met blydskap die einde van die reis te vier voordat die reis afgeloop is….

Wednesday, December 29, 2010

Wanneer die geestelike reis vasval.


Die Magiërs in Matteus 2 kom volgens Matteus in Jerusalem aan. Hulle volg al die pad die ster. En tog weet hulle nie regtig waarheen om te gaan nie. Die koers is min of meer reg, maar die aankomsplek is nog nie bereik nie.

Hulle is so naby, in die tempelstad. En tog soek hulle nog na die koning van die Jode wat gebore is.

Hulle weet van die koning, maar hulle weet ook nie presies die detail nie. In Jerusalem moet hulle dus eers navrae doen.

Hier word die soektog intenser. En ‘n hele ketting-reaksie word aan die gang gesit. Herodes hoor van hulle versoek. Hy versamel die volksleiers om uit te vind waar die Koning gebore sou word. En hulle almal kom bymekaar om die saak te bedink. Meditatio, sou ‘n mens dit kon doen. Die nadere soektog. Hier word dinge uitgepluis. Die geestelike reis vind nie sonder versigtige ondersoek plaas nie.

Hoe kom die uiteindelike lig?

Deur die Skrif.  Deur lectio.

En dan volg die meditatio. Dit vind plaas rondom die profete-woord in vers 6 . Hier word die Skrif aangehaal: “En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”

Dit dring tot hulle deur. Die Koning sou dus in Bethelehem gebore word en Herodes stuur hulle terstond daarheen.

Weer eens kom die geestelike reis nie verder sonder die wysheid van andere en die wysheid van die Skrif nie. Daarsonder, sonder die geloofstradisie en die communio sanctorum bly ‘n mens ronddwaal. Die Magiërs is in Jerusalem, in die hart van die Joodse geloof. Maar hulle is nog nie by die Koning nie. Hulle kom eers by Hom uit nadat hulle met ander nagedink het en uit die Skrif lig ontvang het.

Maar selfs dit moet nou nader bedink word. Want die Skrif is ons voorgangers se geloofsbelydenis oor die weg wat hulle gereis het na God toe. Die Magiërs put dus uit die geloofsgetuienis van die geloofshelde van weleer. En selfs dit is nie genoeg nie. Want hulle hoor ook van die geloofsgenote in Jerusalem waar om die antwoorde te soek.

In die geestelike reis gaan dit om die uiteindelik eenwording met God. Maar lank voordat dit gebeur, moet ‘n lang reis afgelê word en moet saam met geloofsgenote uit die verlede en in die hede diep nagedink word.

Die nadenke, die inspanning van alles in ons om te wil weet, kan soms ons geestelike reis beslissend bepaal.  Dit moenie onderskat word nie.

Tuesday, December 28, 2010

Kerstyd as ‘n tyd van verwondering. Oor aanbidding.



Matteus 2:2 maak ‘n merkwaardige opmerking oor die magiërs uit die Ooste wat in Jerusalem aankom en sê dat hulle die koning van die Jode soek en gekom het om hom “hulde te bring.”So lui die Afrikaanse vertalings.

Die vertaling kan misverstaan word – so asof die magiërs maar net spesiale eer wou bewys.

 Eintlik staan daar dat hulle self sê dat hulle gekom het om hom te “aanbid.” Dit is ‘n baie sterk woord. Sterker as om net hulde te bring.

Dat Matteus duidelik wil sê dat hulle gekom het om hom te aanbid, blyk uit vers 11 waar hy dit nog sterker stel:  toe die magiërs by Jesus kom, het hulle op hul knieë geval en hom aanbid. 

Om op ‘n mens se knieë te val, is in Bybelse tye reeds ‘n simboliese aanduiding van aanbidding. Die engel in Openbaring sê vir Johannes, wat by sy voete kniel, om hom nie te aanbid nie. Hy is maar ook ‘n dienskneg van God (Open.22:8).

Vir Matteus het die verhaal van die magiërs te doen met nie-Jode, mense uit ‘n ver land, mense wat verborge dinge begryp, mense wat die goddelike kan herken. Hulle weet selfs wat mense in Jerusalem nie weet nie – van die geboorte van die Koning. En hulle kom van die begin af met net een doel voor oë: om God te aanbid vir wat hier gebeur. 

Ons trek dikwels die verhaal skeef deurdat al die aandag val op die presente wat hulle bring (goud, wierook en mirre). Die presente is bysaak. Wat vir die magiërs tel, is die aanbidding. Lank voordat hulle hul skate oopmaak, om ook iets te gee, aanbid hulle die kind wat as Koningsgeskenk aan God se nuwe volk gegee is.

So pas dit: geskenke van mense is hoogstens ‘n reaksie. Dit volg op wat God uitdeel.

Die verhaal van die magiërs is ‘n verhaal van aanbidding. Ver reis mense vir die voorreg om God aan te roep en met verwondering in God se teenwoordigheid te staan te kom.

Vir Matteus het hierdie magiërs vroeg-vroeg reeds gedoen wat geen Jood nog gedoen het nie. En daarmee het Matteus gewys hoedat die aanbidding van God oor alle grense sny. Maar ook wys hy hoedat die evangelie uiteindelik mense op hul knieë bring.

Die kersverhaal is ‘n verhaal van verwondering, ontsag, verering, aanbidding. Waar God mense aanraak, selfs deur ‘n ster, daar buig hulle die knie.  

Die geestelike reis begin by God, wat mense aanraak, selfs deur 'n ster. Maar dit eindig en vind ook sy hoogste vervulling in God. 

Monday, December 27, 2010

Om God se stem tot ‘n mens te hoor kom. Oor lectio

In die geestelike lees van die Bybel begin ‘n mens heel eenvoudig by die “lees” van die teks. Hierdie eerste stap wat 'n mens neem wanneer 'n mens met die Bybel besig is, word “lectio” genoem (naas meditatio, oratio en kontemplatio).

Om te lees is nie heeltemal so eenvoudig soos wat ‘n mens dink nie. Dit besef ‘n mens deur bloot te dink aan hoeveel tyd dit mense neem om te leer lees. Neem ook byvoorbeeld hoe twee mense dieselfde gedeelte heel verskillend sal lees. En dink daaraan hoe ‘n persoon met ‘n afgerigte stem oor die radio ‘n gedeelte so kan voorlees dat ‘n mens daardeur meegevoer word. Maar ‘n mens lees ‘n Bybel in die ou vertaling of in ‘n nuwe weergawe. Jy sit of staan of lê as jy lees. Jy kies ‘n gedeelte deur die Bybel te laat oopval. Of jy lees sistematies van voor tot agter. En elkeen van hierdie aspekte gaan op een of ander manier jou verstaan van die teks bepaal of stuur.

Om te lees is dus nogal meer kompleks as wat ‘n mens dink.

Maar daar is vir my iets anders aan die motief van lectio wat my besig hou toe ek Matteus 2 se verhaal oor die wyse manne vir die kerspreek bedink het.

In hierdie gedeelte “lees” die wyse manne nie ‘n spesifieke gedeelte nie soos, byvoorbeeld Jesus gedoen het toe hy volgens Lukas 4 op die sabbat in die sinagoge uit Jesaja 61 gelees het.

‘n Mens sou kon redeneer dat hulle gedurig die “ster” lees. Dit is dan hulle "teks." Hierdie mense, nie-Christene uit ‘n ver land, het die ster as hulle “teks.” En die teks “lei” hulle al nader na Jesus soos hulle dit bly “lees”. Hulle praat ook van die ster as “sy” ster, bedoelende die ster van die Koning van die Jode wat hulle gevolg het. 

Hulle het dus die ster gelees as ‘n teks met ‘n verborge betekenis. Dit lei hulle na Jesus. 

As ‘n mens daaroor begin nadink, kan ‘n mens dit op verskillende manier verder interpreteeer. Op die manier sou ‘n mens daarop kon wys dat ook die skepping heenwys na Jesus en vreugdevol deel het aan die koms van die verlosser.

Maar tog is daar meer: wanneer die wyse manne in Jerusalem aankom, vra hulle na die Joodse koning wat gebore is. Hulle het dus iewers hulle “leeswerk” gedoen waardeur hulle kennis gemaak het met hierdie koning.

Daarmee het hulle iets ontdek wat hulle nooit geweet het nie. ‘n Totaal nuwe wêreld het vir hulle oopgegaan wat hulle lewe radikaal sou verander. In die gedeelte word dus leeswerk van die wyse manne veronderstel.

Lectio, as ‘n mens dit só verstaan, beteken dat as ‘n mens die geestelike reis aflê, jy dit altyd in geselskap van vorige geslagte doen. Die geestelike reis is nie iets waarop jy besluit en dit begin doen nie. Jesus gebruik Jesaja om te vertel hoedat alles wat in Jesaja voorspel is, in sy bediening ‘n werklikheid word.

Die Gees lei die leesproses.

En hierdie verbondenheid aan die diepere, verborge boodskap van vorige geslagte, vertel vir my meer:  ‘n mens se geestelike reis is steeds weer ‘n reis wat baie meer as net jou eie insigte en groei beteken. Die wysheid van die Ander, die verborge betekenis buite ‘n mens self, is die beginpunt van geestelike groei. In die geval van Jesus is die profeet Jesaja se visioene oor die toekoms vir Jesus die beginpunt. Daar begin hy lees.

Op die manier het ek bedink wat die karakters in die teks gelees het. Wat is daar binne hierdie verhaal aan die gang wat ‘n mens help om te sien hoe iets buite hulleself hulle op hul geestelike reis laat begin reis het?

Maar ‘n mens kan die verhaal van die magiërs op ‘n heel ander vlak ook “lees”: Hoe lees “ek” vandag Matteus se verhaal vir my eie situasie?

Duidelik, vir my, is Matteus besig om te vertel hoedat alle volke by die evangelie ingetrek word. Maar wat doen dit aan my eie geestelike reis?

Weer eens sal baie afhang van wie die leser van die evangelie is. Elke leser gaan weer ‘n ander fokus ontdek: Dit kan byvoorbeeld wees op die wyse manne se reis, op Herodes se moorddadige planne, of op die ster. Die interaksie tussen my en die teks sal elke keer weer nuwe betekenis ontsluit, omdat die leesproses so veelvlakkig en ryk is. Maar oorkoepelend sou ‘n mens kon sê dat hoe ek op die teks reageer nooit sonder die teks kan gebeur nie.  Die geestelike lees van die Bybel is nooit willekeurig nie. Ek kan nie maar in die teks lees wat ek wil nie. Daar sal altyd iets buite my wees wat invloed sal uitoefen op my verstaan van die teks. Op sekulêre vlak het spesialiste in intertekstualiteit tog helder uitgewys dat ‘n mens nie ‘n teks lees en die “betekenis” daarvan “ontdek” nie. Wanner die teks met ‘n latere teks in verbinding kom, ontstaan nuwe betekenis.

Die duisende, duisende preke wat al oor die gedeelte gehou is illustreer hoe ryk die betekenis daarvan is. Baie menses sal die gedeelte op ‘n unieke manier verstaan en verkondig. Maar al is daar baie perspektiewe, kan ‘n mens nie die teks maar op enige manier verstaan en vekondig nie. Elke keer weer is die groot toets of ‘n mens se lees van die teks werklik ruimte laat vir God om gehoor te word, of dit my verander om God nuut te dien en of dit my gedurigdeur in ‘n proses van heiligmaking intrek.

Sunday, December 26, 2010

Ingestel op die Verborgene. Oor lewenshouding.


Matteus 2:1-12 gaan oor die wyse manne wat ‘n ster tot in Bethlehem volg. Ek het die afgelope week aan die teks gewerk omdat dit die tema van my kerspreek was.

Ek lees die gedeelte vanuit die perspektief van 'n geestelike hermeneutiek, met aandag aan die verskillende aspekte daarvan.

Terwyl ek dit doen, dink ek aan die ellelange gesprekke wat in so baie publikasies plaasvind oor die “groot” historiese vraag: watter ster was dit dan tog wat die wyse manne gesien het? Dit was in baie gevalle die manier waarop mense die betekenis van die teks wou ontsluit.

Menigte preke het op hierdie historiese vraag gefokus om te bewys dat Jesus se geboorte “regtig” plaasgevind het en deur merkwaardige dinge begelei is.

Die historiese kritiek wou mos vir ons insig gee in die historiese realiteite agter die kersverhaal.  En het hulle tog nie oor al die moontlike historiese realiteite agter hierdie ster gepraat nie. Sommige sê dis ‘n komeet en dan gaan hulle alle moontlike komete wat in daardie tyd sigbaar was, versigtig na. Ander dink dit is ‘n supernova, ‘n spesiale, voorheen onbekende ster. Nog ander dink dit is twee planete wat in daardie tyd naby aan mekaar was (Jupiter en Saturnus). So word die een na die ander moontlikheid eindeloos uitgeryg en bespreek. En elkeen hou aan sy of haar eie teorie vas asof die teks se lewe daarvan afhang.

En, as 'n mens nou al hierdie historiese antwoorde beluister het, voel jy om te vra: wat daarvan?

Een sleutel tot ‘n meer gepaste interpretasie van die gedeelte is vir my te vinde in Matteus se benaming vir die manne uit die ooste. Hulle is in die oorspronklike Grieks nie wyse manne genoem nie, maar “magiërs” (magoi). 

Sommige vertalings vertaal dit as mans wat die sterre bestudeer het.

Maar hulle was nie astronome nie. Hulle was darem ook nie astroloë nie. 

Die naam is gebruik vir mense wat nagedink het oor die verborge betekenis van natuurlike verskynsels.

Ek het die insig nuttig gevind, omdat dit so deurslaggewend is vir enige vorm van geestelike ervaring. Ons geloof verbind ons met die verborge dinge, met die eintlike betekenis van dit wat ons gewoonlik sien en ervaar.

Ons geloof gaan tog nie oor ‘n ster nie, maar oor wat die betekenis van daardie ster is. En selfs al het ‘n mens nou bewys jy het ‘n “feit” hier beet, hier in die ster uit die Ooste, moet ‘n mens dan nog gaan vra maar wat beteken dit dan?

Iemand wat dit doen, soek na die verborgene, wat agter al die “realiteite” in ons bestaan staan. Om só te soek, dieper na te dink, is ‘n belangrike lewenshouding.

Ek sit terug en bedink dit, want dit is 'n insig wat op 'n wye vlak groot konsekwensies het. 

Elke dag herken, beleef, ervaar ons ‘n klomp dinge. Ons kan daarin vaskyk en dit eenvoudig beleef, herken en ervaar. Of ons kan gaan vra: wat doen ons met ons kennis, ons ervaring? Waarop wys dit ons? Of self snog dieper: alles wat ons beleef, stel ons voor die vraag hoe vind ons sin daarin? Of, in tradisionele taal: hoe wil ek God ontdek in dit wat ek beleef? Waarheen neem my ervaring my? Hoe transformeer dit my?

As ons nou uitgevind het, soos in die historiese kritiek dat daar “regtig” ‘n komeet was (of ‘n supernova of ‘n konstellasie), is ‘n mens nog net op die vlak van die natuurlike waarneming. ‘n Mens het nog niks van die transformerende krag van die ster gesê nie. En Matteus het oor die ster gepraat om te wys wat die ster alles aan die gang gesit het en verander het. Dit is vir hom nie ‘n netjies sterrekundige feit wat ook darem gedokumenteer moet word nie.

Dit klink teoreties, maar ek sien in hierdie week op ‘n kru praktiese manier hoe belangrik die soeke na betekenis is, hoe deurslaggewend dit is om gedurig te vra hoe God ‘n mens in jou daaglikse situasie ontmoet. Ons het maar ‘n slegte week met slegte weer hier in ons strandplekkie gehad. Sommige mense pak hulle goed en gaan gebelgd huis toe. Ander weer vra: hoe kan ek in hierdie slegte situasie tog sin ontdek? Watter geleenthede bied God aan my om nie hier vas te val nie?

Dit is dan dat ‘n mens in die slegte weer nuwe maniere van vakansie hou ontdek. Miskien leer ‘n mens dat dit glad nie so sleg is om maar ook in die reën bietjie te gaan swem nie, jy word mos in elk geval nat in die water. Of om daardie lank uitgestelde besoek aan bure oorkant die straat af te lê. Of om ‘n slag net lekker met die familie ‘n goeie gesprek te voer. Of om ‘n boek te lees wat nou al lank wag om gelees te word. Die soeke na verborge moontlikhede werk transformatief op hul lewe in – die slegte weer weerhou mens nie van moontlikhede om vreugde op nuwe manier te ervaar of om ander vorme van rus te ontdek nie.

Hoe kan ‘n mens die tyd uitkoop?, sou ‘n mens Paulinies kon vra.

Die manne wat die sterre dopgehou het, het gaan vra wat beteken die ster wat hulle gesien het. Hulle wou die verborge sin daarvan begryp. En toe het hulle ontdek die ster wys vir hulle op die koms van ‘n koning. Matteus se verhaal sê daarom dat hulle in Jerusalem aankom en vra na die Koning van die Jode. Hulle het “sy” ster (Mt.2:2) gesien. Die ster was nie vir hulle die kwessie nie. Hulle was duidelik geboei deur die Een na wie die ster verwys. Hulle was op soek na die Verborgene agter die ster. Hulle het dieper gedink as net om na sterre te kyk. Hulle was ingestel op die sin daarvan.

Dit is ‘n lewenshouding – om gedurig na die verborgene te vra. Wie uit die Verborgene leef, ontdek skatte wat die lewe ryk maak en die kersvrede laat deurbreek.

Spiritualiteit beklemtoon dit as ‘n eerste punt: wie die geestelike weg loop, moet geestelik ingestel wees. Dit is nogal belangriker as wat die op die eerste oogopslag lyk.

Terwyl ek hieroor nadink, besef ek weer hoe ‘n mens die basiese aspekte van spiritualiteit gedurig met inhoude moet vul. Dit is goed om ‘n mens se aandag te vestig daarop dat ‘n mens se benadering tot ‘n saak ‘n mens se ervaring daarvan wesenlik bepaal. Maar dit is wanneer ‘n mens dit nader gaan bekyk dat jy ontdek hoe hierdie instelling, die voorveronderstelling, die houding ingevul moet word. Om dan nogal verrassings raak te loop. Ek het verryk gevoel deur die feit dat Matteus sy lesers wil lei om soos die magiërs te soek na die Verborgene. Wie só soek, sal vind.

Saturday, December 25, 2010

Wat vir God wonderlik moet wees… Oor 'n kersgeskenk.


Die kersdiens vanoggend was pas verby. Ek staan op die preekstoel, terwyl sommige van die kerkgangers sommer by die preekstoel verby deur die agterdeur by die konsistorie die kerk uitstroom. Die verkeer by die voordeur is te druk.

Ek staan en wag maar dat almal eers vertrek sodat ons kan afsluit.

Dit is buitendien kerstyd. Ons is by die see. Almal is rustig. Niemand hardloop iewers heen nie. Dit is vrede-tyd in die vol sin van die woord.

Hier en daar groet iemand my in die verbygaan, gesels so bietjie, deel kerswense of kom sommer net hallo sê. Dit is ‘n kers-atmosfeer, vol versadiging na die diens.

Skielik verskyn daar ‘n dogtertjie van so vier jaar voor my. Sy was een van die vele kinders wat saam met hulle ouers die diens bygewoon het. So ‘n kersdiens met hele families en baie kinders is altyd spesiaal, want die kinders is met vakansie, ontspanne en neem lewendig deel  aan die vragies en besprekings tydens die preek.

Die kleuter stap op na my waar ek op die preekstoel staan en kom staan by my met haar vingertjie in die lig. Ek kom agter sy wil vir my iets baie belangriks sê.

Ek kniel by haar om naby haar te wees en te kan luister wat sy wil vertel.

Sy steek summier haar vingertjie en sit dit op my hand toe ek dit oophou.

“Ek het my vinger baie seergemaak”, sê sy saggies, ingetoë en hou die vingertjie dat ek die kol daarop kan sien. 

Ek kyk mooi en sien dadelik dat die blou kol op haar vinger ‘n klomp bloed onder die vel is. Sy het duidelik een of ander hou weg.

“Eina,” sê ek, so simpatiek as wat moontlik is. Ek kan sien haar trauma is vir haar nog baie groot, al lyk dit uit die wond of die ongelukkie al ‘n dag of twee gelede gebeur het. En al is die kol maar kleinerig, besef ek vir haar is dit asof haar hele hand blou en opgeswel is.

Sy bly vasgenael kyk na haar vingertjie terwyl sy dit op my handpalm laat rus. Haar hartjie is vol van die vingersmart. Sy wil selfs met haar ogies vir my beduie dat ek haar pyn moet raaksien.

“Wat het dan gebeur?” volg ek op met die volgende logiese vraag. Ek sien sy is nog lank nie uitgepraat nie.

“Ek het my vinger in die karavaandeur vasgeslaan,” sê sy. Ek sien: Die blou merk sit net so op die eerste lit van haar vinger. Ek besef dadelik dat daardie vingertjie waarskynlik in die deur vasgesit het en dubbel seergekry het toe die karavaandeur oopgemaak is.

“Eina,” sê ek weer. “Dit moes darem verskriklik seer gewees het. Het jy baie gehuil?”

Sy is baie in haar skik met die vraag. “Ek het verskriklik gehuil,” antwoord sy. Die hele tyd lê haar vingertjie op my handpalm en die hele tyd kyk sy intens daarna. Om ons stroom mense nog steeds die kerkgebou uit. Die preekstoel staan op die verhoog, die mens is sommer ‘n handbreedte van ons af. Haar ouers of familie is nêrens in sig nie. Maar op hierdie oomblik is sy totaal onbewus van enige iets anders en kan sy nie omgee wie waar is nie.

Sy wil net haar seer vingertjie vir my wys en haar hewige smarte met my deel.

“Toemaar,” troos ek. “Die dokter het seker darem mooi na jou gekyk.”

Sy kyk vir ‘n oomblik na my en dan staar sy weer passievol na haar vinger:

“Die dokter was te ver…” fluister sy.

Ek weet dadelik: Ons ou vakansie-plekkie is 35 kilometer van die naaste dokter. Dis nie sommer net vir gou dokter-toe gaan nie. En pa en ma het geweet die dokter sal nie juis veel aan die gedane sake kan doen nie.

En so staan ons twee toe daar op die preekstoel op die kersoggend en praat. Sy met haar vingertjie op my handpalm terwyl sy intens haar ellende bekyk. En ek knielend by haar, bewus van haar wêreldjie wat nou nog pyn het onder die herleefde pyn, ellende en seerkry….

Toe draai sy met haar kleuterlyfie om en stap saam met  die mense weg.  Tevrede.  Sy het haar wonde kom wys en haar troos kom kry.

Wat ‘n unieke kersgeskenk as ‘n kleuter so uit die bloute en vol vertroue en afhanklikheid haar pyn met jou kom deel, sommer net daar, op die preekstoel, waar jy oomblikke gelede nog met die kinders, met haar en met baie mense vol pyn God se woorde gepraat het.  

Terwyl ek op hierdie kersdag haar ewigheidsgeskenk aan my bly koester, besef ek naderhand meer waarom die skynbaar doodgewone oomblikke in die kerk, knielend by ‘n kind, my so geraak het.

Ek begryp uit my eie reaksie dat haar preekstoel-besoekie my iets leer oor God. Vir God moet daar niks wonderlikers wees as wanneer ‘n stukkende mens by God kom troos soek nie. As ‘n mens bly is dat God na jou pyn wil luister, des te meer is daar vreugde in die Vaderhart as mense hulle pyn met die Vader kom deel.

Friday, December 24, 2010

Kersnaggebed

Ek loop gister heel onverwags hierdie boeiende gedig, gelaai met lewenswysheid van Leipoldt raak. 


Ek verlustig my aan sy retoriese hantering van die ouderdomsverdriet ("die kers wat uitbrand tot die blaker-blik"). As die jare aanstap en die tamheid wil toeslaan, word 'n mens "verkwik" wanneer 'n mens dink aan wat die moontlikhede is wat die lewe tog nog in die laaste tydjie oor 'n mens se pad kan bring. 


En ek kyk fyn na sy gebed om besieling - om met sy daaglikse arbeid "voort te werk" totdat U Dood (hoofletter D) my "sus." Die dood sus ons in God se goedertierendheid in. 

Maar dit is die mistieke aard en slot wat my bybly. Die klem in die gedig is gedurig op "U". Dit is 'n intense soeke na God, na eenwording.


En dan: Die digter se laaste strofe is 'n smeekgebed om kinderlike verwondering. In die voorafgaande dele is dit nugter lewenskuns. 'n Mens moet bly doen wat jou hand vind om te doen. Maar in die laaste strofe volg die verrassende nuwe moment. As 'n mens oud is, moeg wil raak, is dit die meeste waarna 'n mens kan verlang: om in wat 'n mens op aarde vind, God se skoonheid te kan aanskou. 


Die verlange na kontemplasie.... Niks meer swoeg, nugtere werk nie, maar pure verwondering. 

Julle ou mense sal drome droom... 

Nog 'n voorbeeld van mistieke digkuns in Afrikaans. Maar meer nog - om te dink Leipoldt noem dit 'n Kersnaggebed! Geen wonder - verwonderende lig deurtrek die gedig. 

Iemand skryf in my bundel naas die gedig die kommentaar: "Een van die treffendste godsdienstige werke wat ons het."

Ek het 'n kosbare kersgeskenk ontvang toe ek onverwags, gisteraand, op hierdie gedig afgekom het. 


Kersnaggebed

Bedaar, O Heer, die harstog wat tot haat
Teen broer en buur wil opbruis as ek vind
‘n Vriend nie meer tot vriendewerk gesind,
‘n Maat van ouds nie meer my troue maat;

Skenk my die krag om, wat ook wissel en kwyn,
Die jare deur as mens getrou te bly,
En sonder trots en sonder huigelary
My plig te doen voordat my dag verdwyn;

Leen my die kennis wat my spoor tot klim
Uit bo die kranse van onwetendheid;
Sodat U skepsel, tot U diens gewyd,
Die lig kan raaksien waar die waarheid glim;

Nie om verwaand te spog met wat ek win,
Nog om verwend my kennis voor te stel
As iets alwetend, maar op U bevel
En om wat U gegee het te ontgin;

Die las van jare, ouderdomsverdriet,
Die kers wat uitbrand tot die blaker-blik -
Skenk my geduld om dit te dra, verkwik
Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.

Vir daelikse arbeid gun my hoop en lus
Die oes is geil en alte kort die tyd -
Besiel my in U goedertierenheid
Om voort te werk totdat U Dood my sus.

Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou
Die wonderskat my toebedeel as kind:
Dat ek, in wat ek op U wêreld vind,
Weerkaatsing van U godlik skoon aanskou.

Blog Archive