Saturday, September 19, 2009

Vrees in die geestelike lewe. Die wyse maagde of die slim meisies....

In Leuven besoek ons die Groot Begynehof wat nou 'n wêreld-erfenisterrien is. Dit is 'n reusagtige kompleks van ou kloosters wat heeltemal herbou is.

Die kerk, net langs die kompleks, was voorheen die aanbiddingsplek van die Begyne en behoort nou aan die Universiteit van Leuven wat besig is om dit te restoreer.

Dit is 'n kerk sonder veel versierings. Teen een van die mure naby die ingangsdeur vang 'n ou muurskildery my oog. Die vrou wat met ons aankoms soos 'n polisie-tannie en met 'n hout-opsienersoog vir ons vra waar ons vandaan kom (sy hou 'n inventaris van getalle en besoekers) is duidelik gretig om die inligting met ons te deel. Dis altyd so mooi, sulke mense wat in charge is van 'n plek - dis hulle plek en hulle weet daarvan. Dit is, vertel sy, 'n uitbeelding van die gelykenis van die tien slim en dwase meisies, of maagde, soos ons in die ou tyd gesê het.

Ek staan en bekyk dit. Dit is in pragtige kleure geskilder. 'n Mens kan jou net indink hoe die oorspronklike skildery die kerkgangers moes beindruk het. Sulke skilderye was, vir mense wat nie kon lees nie, die inligtingsbron vir hul geestelike lewe. Daarmee het hulle die week ingegaan en steeds bly onthou wat hulle in die kerk gesien het.

Ek neem 'n foto: die vyf meisies staan pragtig in 'n dalende ry bo aan die regterkant. Dit is 'n ryk skakering van groen wat as agtergrond dien.

Hier is die hele skildery:



Ek staan nog bietjie nader, want onder die vyf meisies staan daar 'n verskriklike oopbek-monster wat raas en blaas en net langs hom sit 'n vrou en slaap. Die monster trek jou oog. Dis 'n tawwe tienie wat daar geteken is.

Die tannie verduidelik geduldig: die vroue-figuur wat langs die monster salig sit en slaap, simboliseer 'n begyn, want dit was hulle orde wat die kerk gebruik het, wat nie waaksaam was nie en toe aan die slaap geraak het. Die groot oopbek-monster wat reg staan om hierdie dwase maagd in te sluk, is dus 'n waarskuwing aan die kerkganger om waaksaam te wees.

Hier is 'n nader foto waarop 'n mens (hopelik) die detail kan sien:



So 'n skildery kan nogal vir jou skoon uit jou geloof uit laat skrik.

Ek dink dikwels oor die plek van vrees in godsdiens. Jesus het oor godsdiens op so 'n manier gepraat dat dit heel gemaak het, mense opgetel het, skoon gemaak het, bekragtig het, laat deel het aan die liefde wat vrees uitdryf.

Tog het Jesus ook die donker kant voorgehou: mense wat nie in God se liefde leef nie, sal daarvoor verantwoordelikheid moet neem.

Dit is uiteindelik die skadukant wat ons maar moet bly bedink: wie nie vir die liefde kies nie, maak kragte los wat self-vernietigend is. En dit is iets om voor bang te wees.

En, voorts, dit is nie sommer net om te kies vir die liefde nie. Iewers moet 'n mens in die liefde bly leef, lettende daarop dat 'n mens nie daaraan ontrou raak nie. Waaksaamheid beteken dat 'n mens gedurig jou lewe toets aan die liefdevolle gelaat van God. Wie maar net vir 'n oomblik aan die slaap raak hieroor, kan 'n groot prys betaal.

Dink maar net aan die slapende dissipels in Getsemane. Die oomblikke dat hul moegheid 'n oorhand oor hulle gekry het, het hulle verraad in hul lewes toegelaat. Hulle wat week na week in die liefde van hul Meester ingewy is, wat alles vir hom sou opoffer, het in daardie donker nag vir hom liefdeloos in die steek gelaat. En daarmee moes hulle saamleef vir die res van hul lewe.

Miskien is die groot boodskap: let op die liefde. Dit is so 'n sagte saak, so breekbaar, so maklik om te verwaarloos. Vrees die oomblik dat jy aan die liefde ontrou kan wees. Vrees dit. Dit kan vernietigende gevolge inhou.

Des te meer rede, dan, om na aan God te leef. Nader, steeds nader aan die bron van liefde.

'n Morele dilemma: om te sit of nie te sit nie...




Ons familie voel sterk oor diere-regte. Daaroor is daar min twyfel.

Maar hierdie foto wat ek verlede week van 'n gesellige uitstappie in Leuven geneem het, konfronteer ons met 'n morele dilemma. Ons bewonder hierdie groepie vir hul oorweldigende sensitiwiteit en ordentlikheid.

Ons liefde vir diere word egter beproef.

Hier word dit nou 'n kwessie van honde-regte teen mense-regte. Wat weeg die meeste?

Ons het besluit dat die enigste oplossing uit die netelige situasie sou wees om vir die hond 'n broek aan te trek.

Geld vir een, geld vir almal.

Friday, September 18, 2009

Jy reis nooit alleen nie: oor die skepping en kultuur
















Ons het vasgebyt en vir ons Eurail-kaartjies gekoop om die konferensie in Leuven by te woon, ook omdat ons later die maand by 'n tweede konferensie in Innsbruck moet uitkom. Tussen-in is dit ook nog vasbyt aan al die voorbereiding aan my referate.

Maar tussen-in is daar die goeie tye om bietjie af te neem en mooi dinge te sien. Dus besluit ons om die "scenic route," die pragroete, al langs die Ryn na Leuven te neem. Uiteindelik baat die Eurail-kaartjie ons en boonop ry jy dan nog op enige trein in eersteklas. Nie te versmaai nie. Veral nie as jy origens maar met die minimum moet leef, al die boeke en aardse gemaklikhede is mos tuis gelaat.

Dus pak ons die 8 uur lange rit aan, want jy moet bietjie afwyk van die vinnige roete. Dit word 'n dag om net bloot te geniet, hierdie dag langs die Ryn af. Ek neem foto's met my nuwe kamera, self 'n tegnologiese wonder in eie reg. Die geheue moet iets kry om op terug te val, om die visualiteit te kan herbesoek.

Die Ryn is glo 1320 kilometer lank. Breed, stil, sag-vloeiend, kronkel dit swaai-swaai deur sy eie valleie, met kastele so nou en dan spoggerig op 'n bergtop en lappe wingerde, wat nou in die laat-somer nog groen uitbot.

God se skepping, dink ek, terwyl ek terugsit. Hoe bring dit 'n mens nie maar telkens weer tot verwondering nie.

En ook hier is die teenwoordigheid van die mens oorweldigend intrusief. Wie is ons om te kla, hier waar ons ook maar in ons sneltrein met groot gemak die skoonheid indrink? Daar is groot kampplekke getjok en blok met luukse karavane regs langs die breë rivier. Oral draf, fiets en wandel mense, terwyl, met ons terugrit oor die naweek, enorme toeristebusse nog kykers en genieters aanry.

En op die rivier self, lang, smal bote, soms sommer so getweeling (sien foto), kortetjies, uitstalleriges, kano's. Die mens wil maar altyd wys hy's baas.

En tog, ten spyte van die intrusie, merk jy die groter Hand wat skoonheid skryf.

Ek is tevrede. Ek voel bevoorreg.

En toe, op 'n stadium, sonder om dit te verwag, vlieg ons trein warts verby 'n groot bord: Lorelei. Ek gryp my kamera om 'n foto te neem, want dadelik kom groot gedagtes by my terug. Dis nie net Jan F. Celliers se woorde nie (oor daardie ou nooientjie "van wêreldse modetjies vry"! waarvan daar, helaas, of dalk gelukkig [?] ook nog vandag maar min is), maar dis al die ander F.A.K. liedjies wat skielik ook by my opkom. En die koffiehuis-aande (wie onthou dit nog?), die skool se "sangklasse," die eisteddfodds, 'n hele kultuur.

Die reis langs die Ryn vat my ver terug, Afrika toe, na die moedertaal, die digters "van weleer", die ou tye. Jy reis nooit alleen nie. Waar God uithaal en wys word mense oor lande en kulture geboei en gebring om te sing.


DAAR GAAN UIT VERGANGE SE DAE

Woorde: JAN F.E. CELLIERS
Musiek: "Die Loreley", FRIEDRICH SILCHER, 1883; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

Daar gaan uit vergange se dae 'n beeld voor my oë verby;
my hart is met weemoed geslae, maar voel tog ook rustig en bly.
Die windjie roer sag deur die bome, die weste se glanse verdwyn;
die berge, verlore in drome, staan ver in die aandsonneskyn.

Die mooiste jong nooi'ntjie is myne, vanaand is my hart weer by haar.
Haar oë, die sagste, die reine, is, net soos haar wese, so waar,
eenvoudig en waar soos die velde, van wêreldse modetjies vry.
Nie één is te kry nie, of selde, soos sy, daardie nooi'ntjie van my.

O, kan ek die smart nie meer dra nie van skeiding se lang, lange dag,
dan hoor ek 'n stem: "Moenie kla nie", en sien 'n lief mondjie se lag,
dan lees ek betowerd die tale, in oë so diep en so trou:
"Hier ver oor die berge en dale, is ene wat wag, net vir jou".

Thursday, September 17, 2009

Wanneer 'n mens 'n stasie verpas. Oor die sokkerspeler, die paartjie, die gesprek, die doodskiste






Op ons terugreis van ons besondere verrykende ervaring van die konferensie in Leuven, sit ons in die trein toe ‘n jong Afro-Amerikaner in ons wa by ‘n ewe jong paartjie kom sit en aan die praat raak – ten aanhore van almal rondom hulle.

Hy kom sokker speel vir ‘n plaaslike klub in België en hulle twee is op pad na ‘n troue vind ons binne minute almal uit.
Hulle het eenvoudig net langs mekaar gaan sit, begin gesels en ‘n treinreis op ‘n gesellige manier met mekaar begin deel. Sommer net so. Spontaan. Hulle praat land en sand, sand en land, aanmekaar, soos vreemdelinge wat dood-nuuskierig is oor nuwe gesigte wat ‘n mens op die reis ontmoet.

Hy het die oggend geland na sy trans-atlantiese vlug van New York na Brussel. Hulle gesprek is ensiklopedies omvattend – hulle praat oor hoe duur vlugte na Amerika is, hoe goedkoop ‘n mens in Europa kan vlieg (“you need to write down the name: ‘Ryanair’”), waar ‘n mens oral met die euro kan betaal (nie in Nederland nie, lig die jong paartjie hom verkeerd in), oor rassisme in Amerika en Europa (“You know – I’m not interested in politics. I just want to play soccer. I don’t care about race. I do not see white or black or pink, I only see human beings”), oor watter lande in Europa die mooiste vroue het en dan, analiseer die drie saam voetbal, sokker, “that strange sport” cricket “which they play with a long stick” en “the real guy-sport” rugby. Hulle noem die name op waar rugby en cricket gespeel word (Asië en Australië, maar nie Suid-Afrika nie).

Dit is ‘n gesellige gesprek wat wissel tussen die sublieme en die vreemde. Nie net hulle het veel plesier aan mekaar en hul gesprek nie, maar ons word aan ons kant van die sitplek ook vermaak. Ek sit my boek eenkant en gee my oor aan wat hom so menslik hier naby ons aan die afspeel is, terwyl ek sommer my sit en verlustig aan die geilgroen landskap van België waardeur ons trein hondsdol jaag.

Dan daag die Vlaamse kondukteur op. Hy ondersoek die kaartjies van die drie gespreksgenote. Hulle is in die verkeerde wa, sê hy vir hulle. “Waarom,” vra hy, “moet hy altyd vir Engelssprekende mense sê hulle sit in die verkeerde wa?” (Ek wonder oor sy woorde...)


Maar hy jaag hulle nie uit nie. Hy het aan die regte kant van die bed uit die vere geklim, daarfdie oggend. Vriendelik, maar met ‘n patroniserende stem wys hy vir hulle die groot nommer op die wa waar ‘n mens kan lees vir watter klas dit bedoel is. Die drie maak asof hulle stokblind is en nog nooit in hulle lewe van sulke nommers gehoor het nie. Vriendelik, verdraagsaam, nie-rassisties, nie-burokraties, met aanvaarding en heel grootmoedig gee die kondukteur hulle toestemming om te bly sit net waar hulle is. Die dag word vir hulle net nog mooier. Vir ons ook.

Onversteurd en amper hartliker gaan die drie met hul gesprek voort. Die trein jaag verby stasie na stasie, die tyd gaan net so gesellig vinnig verby. Voor elke stasie kondig die stem oor die luidspreker die naam aan. Ons is rustig, want ons is voorbereid en ons word getrakteer.

Totdat die Amerikaner, ‘n ware verstrooide tiep – hy is mos net twintig jaar oud en dink net aan sokker (en mooi meisies) – by die venster uitkyk waar die trein stilgehou het en toe al ‘n minuut of wat staan. “O,” sê hy, “ek dink dit is die stasie waar my nuwe sokker-vriende my sal afhaal.” En terwyl hy besluit of sy gedagtes reg is en hy nou gaan afklim of nie, fluit die kondukteur buite sy fluitjie dat die trein gaan vertrek. Hy besluit hy sal wel afklim en haal sy twee doodskiste van koffers van die rak af.

Voor die tweede tas grond vat, sis die trein wreed hard toe die deure toeklap. En ons almal weet dat ‘n Europese trein se toegeklapte deur is stywer as ‘n oester toe. My hart sak in my skoene.

Daar is geen manier waarop hierdie gesellige, vriendelike, verstrooide jongmens nou van die trein kan af nie. Ons sit almal verbysterd die petalje en aanskou. Hy het, immers, Afro-Amerikaan, oor die wye oseaan met twee doodskiste gevlieg om dan nou net hier, op die eerste dag van sy aankoms, ‘n rampsalige koers te moet inslaan na wie-weet-waar.

Die kondukteur lig hom kalm in dat hy nou maar by die volgende stasie moet afklim – en dit is nie sommer net die volgende een nie, want ons ry ‘n Intercity trein wat nie sommer by elke plekkie stilhou nie. Dan moet hy ‘n nuwe kaartjie koop en die pad terugvat waar sy vriende hopelik nog vir hom sit en wag. Eintlik moet hy ook betaal vir die ekstra rit wat hy nou by sy treinreis maak.

Nouja, sweet tap namens hom by my rug af. Wie gaan hierdie arme kind nou help? Ek sit en wonder wat sy nuutgevonde vriende gaan doen. Maar hulle hou almal dapper koers, net so ongesteurd soos hulle spontane gesprek, dra-sleep steunend sy koffers gang af na die deur waar hulle die hele ruimte vol staan (wat, tog, pak ‘n twintigjarige sokkerspeler in sulke twee enorme koffers?).

Ons klim almal af by die volgende stasie vir ons aansluitings na elders, terwyl ek sit en wonder of ek moet inspring en uithelp. Maar dit is nie nodig nie. Die paartjie het sy tasse, die doodskiste, vir hom afgetel, hom rustig eenkant toe geneem en staan toe die treintye en bekyk. Ver van die huis, ver van alle sekuriteite, in ‘n nuwe land met ander dinge, ander gebruike, vreemde mense het hierdie verstrooide sokker-speler mense wat hulle bedagsaam oor hom ontferm. Hulle sien nie ‘n Afro-Amerikaner nie, nie ‘n vreemdeling nie. Hulle sien hom as iemand wat nou hulp nodig het. Wat as ‘n gewone, gedeelde treinreis begin het, word ‘n gedeelde lewensreis gevul met ontferming vir die een in nood.

Soms is die ramp van 'n verpaste stasie die kans vir 'n lewensles... Ek neem ‘n foto van ‘n afstand wat nogal pragtig uitkom (sien ingesluit). Dit is ‘n studie op sy eie. Hierdie drie mense, doodgewone mense wat omgee vir mekaar, uit verskillende kontinente, en iewers, op 'n afstand, die waarnemer uit Afrika. Sal dit lank saam met my dra. Daardie drie wat so intens oor die inligting konsentreer. (Net jammer ek kon daardie doodskiste nie inkry nie.)

Kan ‘n mens pessimisties oor Europa wees, wonder ek, as ek hieroor nadink in die lig van gister se blog?


Wednesday, September 16, 2009

Oor die deurwerking van ons geloof

Die pessimisme waaroor ek gister geskryf het, loop baie diep in ons land. Dit word vererger deur uiters negatiewe houdings van die verskillende groepe en wat dit soveel moeiliker maak is dat dit gekoppel word aan ras - iets wat in ons eeu een van die mees sensitiewe en sentrale sosiale kwessies is. 'n Mens lees met groot kommer die opmerkings van Dr. Nico Smith oor die woede wat swartmense in Suid-Afrika koester en wat so tot uitbarsting kan kom dat dit tot 'n rassistiese groepsmoord kan lei. Wensdenkery is sulke uitsprake nie. Die xenofobiese aanvalle dwarsoor ons land was 'n traumatiese bewys daarvan. Maar of die gevolgtrekkings wat Dr. Smith daaruit maak, wel reg is, is 'n ander saak. Die reaksie op Oud-Regter Kriegler se appel teen die Hlope-saak wys verder hoe witwarm hierdie debat geword het. Deur al die dekades was Kriegler vir my persoonlik 'n voorbeeld van iemand wat met regverdigheid enige vorm van diskriminasie en onmenslikheid konsekwent bestry het. Dit is nie lekker om te sien hoe hy nou op 'n onverantwoordelike manier afgekraak word nie.

Daar is baie verstandige leiers in ons land. Hulle weet om heethoofde tot bedaring te bring. Ek het groot respek vir baie van ons politieke leiers, ook in A.N.C. geledere. Daar is bekwame mense wat die welsyn van ons land in gedagte het. Ook aan opposisie-kant het ons begaafde leiers soos Helen Zille. Daar is onder ons landbouers indrukwekkende stemme wat van tyd tot tyd sinvolle, opbouende uitsprake maak en pogings aanwend om 'n uiters moeilike bedryf te bestuur. Maar dan is daar ook sulke organisasies soos Afriforum en Solidariteit wat leiers het wat uitstaan in hul gerigtheid, regverdigheid, bekwaamheid, oopheid, ingeligtheied. Een van die sterkes onder die sterkeres is Flip Buys, wie sy bydraes ek altyd met belangstelling lees. Ek vind sy artikel in die media van vanoggend weer eens 'n positiewe bydrae (daarom heg ek dit graag hier onder aan).

Miskien net een nota: hy skryf tereg dat kritiek die suurstof van 'n demokrasie is. Die beste voorbeeld daarvan is die media in ons land: Wat hulle oopgeskop het aan 'n miernes van korrupsie, het ons land al baie gebaat. Daar is nie 'n manier waarop hulle maar liewers moes stilgebly het nie.

Maar dit gaan vir my meer as net dat ons korrupsie vreesloos aan die kaak moet stel nie. Dit gaan ook op die ou end daaroor hoe ons dit doen. Met watter gesindheid, en, selfs nog belangriker, met watter taal en met watter voorveronderstellinge lewer ons kritiek?

Ek dink hier aan een voorbeeld wat weer te doen het met ons (dikwels onbewuste) neiging tot rassistiese denke. Soms maak ons die sprong van "korrupsie" na "swart mense wat korrup is". Wat natuurlik snert is. 'n Mens moet net na 'n Madoff kyk om te sien watter verstommende en gewetenlose korrupsie gepleeg word - en dit in Amerika, een van die voorste demokrasiee in ons tyd (om nie eers te praat van al die ander sakeleiers wat nou dekades in die tronk moet sit vir hul skelmstukke nie). En wat van wat in die Britse parlement aangegaan het waar hordes parlementslede op skelm maniere hulleself skandalig verryk het nie. Hier in Duitsland sien ek weer tydens my navorsingsverblyf gereeld berigte van korrupte mense wat nie huiwer om omkoopgeld te betaal en te ontvang nie. In sommige gevalle en lande word dit selfs juridies verduur.

Hoe ons dus oor korrupsie praat, is belangrik. Daar sit in Afrikaanse geledere, selfs in die kerke, korrupte mense. Korrupsie kies nie 'n ras uit nie. Dit is 'n menslike swakheid. In ons land moet ons ekstra versigtig wees - soos die Bybelse slange, maar dan ook opreg soos die duiwe. Ons moet diep in ons binneste kyk, oplet waar ons vooroordele aan die werk is, versigtig wees om nie te kwets nie en altyd weer op te let dat 'n mens 'n ander ras eerder as 'n ander mens voor jou sien.

Laastens: Afrikaners het nog altyd 'n beskutte lewe gehad. Ons het die behendighede en die middele om probleme op te los goed ontwikkel. Maar ons het dikwels nie 'n genoeg insig in die enorme, enorme probleme buite ons gemeenskap nie. Ek voel dikwels diep vir die regering wat hierdie probleme moet probeer oplos. In Grahamstad is op 'n stadium vir my vertel dat die werkloosheidsyfer 70 persent is en dat werkloosheid al oor drie geslagte strek: oupa, pa en ek het nie werk nie: werk is nie 'n "normale" deel van ons lewe nie. Intussen moet ons oorleef.

Nee, ons land sit met geweldige uitdagings. Dit beteken ons moet geduldig wees. Dit gaan langer neem as wat selfs ek gedink het om uit die moeras te kom. En, tweedens, ons moet hand aan die ploeg slaan en hard werk. En derdens, ons moet hard werk vir ander gemeenskappe wat uit 'n armoede-kultuur kom. Ons kan en moet kritiseer, maar dan altyd met hierdie groot oorkoepelend doel: om vir almal in ons land 'n beter lewe te beding. Ons moet dit, trou aan die Christelike evangelie, selfs ten koste van onsself doen. Ons moet maar ook bietjie soberder lewe, bietjie rojaler wees in wat ons vir ander groepe doen en veral in wat ons vir hulle gee, minder negatief, meer menslik. Dikwels sal ons dinge maar moet opoffer, soms selfs ons eie veiligheid op die spel moet plaas.

Maar vanuit ons verhouding met God, die liefde wat ons daaglik ontvang en wat ons innerlike soveel vrede kan gee, het ons hierdie passie om te sorg dat mense om ons menswaardig leef, na die beeld van God kan bestaan en nie ly nie. Laat ons kritiseer, selfs kwaai as dit nodig is, maar altyd met 'n innerlike ontferming vir die wat nie het nie en vir die wat wel probeer, werklik eg probeer, om vir hulle 'n beter bestaan te gee. Daar is baie korrupte mense en slegte leiers. Maar ons het in ons land besondere mense-materiaal, mense en leiers wat nie korrup is nie, wat bekwaam is en wat omgee. Laat ons hulle hand sterk.

Doen aan ander.... Dit is saliger om te gee... Julle het my besoek, gevoed.... Soveel wyse, maar uitdagende uitsprake van die Man wat van God gekom het, kom by my op.


SA het wittes se kundigheid nodig
2009-09-16 05:17

Flip Buys

Dr. Nico Smith waarsku verlede week in Beeld dat wit mense moet ophou kritiek lewer omdat hulle daarmee die wrewel van swart mense kan uitlok en selfs ’n massaslagting op hulself kan ontketen.

Smith martel die feite van die Franse koloniste in Algerië om sy punt te staaf en stel in die praktyk voor dat wit mense aan die openbare lewe onttrek, ’n “Groot Trek” na binne.

Natuurlik pla dit my ook as sommige wit mense net kerm en kla sonder om self iets te probeer doen. Dít is ’n destruktiewe reaksie op die verval wat mense om hulle sien, vererger deur die vervreemding en uitsluiting wat talle wit mense ervaar. Maar kritiek bly die suurstof van die demokrasie, wat terloops nie ’n stelsel is wat ontwerp is vir mense om oor alles saam te stem nie, maar juis om ruimte te gee vir verskille.

Dit is wensdenkery dat 1994 ’n historiese ongeluk was wat die geskiedenis weer gaan regstel. Maar om te verwag dat wit mense moet stilbly as hulle sien hoe die Mbeki-ANC in 15 jaar ’n werkende staat mét probleme teen miljarde rande van ons belastinggeld getransformeer en selfs gedemoderniseer het in ’n sukkelende staat met nog gróter probleme, is te veel gevra.

Inteendeel, die siening dat wit mense moet stilbly en “semigreer” is ’n eienaardige ondemokratiese standpunt wat nie tuishoort in ’n grondwetlike demokrasie nie. Van geen groep in die wêreld word verwag dat hulle net moet belasting betaal sonder om ’n “opbrengs” daarop te verwag of inspraak te hê in besluite oor die besteding daarvan nie.

Selfmoord

Dit kom daarop neer dat wit mense selfmoord moet pleeg om te keer dat hulle vermoor word! Almal het mos geweet dat ’n ANC-regering wat die land se probleme met mag en mening wou pak tot groot omwentelings sou lei. Maar die oorweldigende meerderheid wit mense wil gráág hê dat die regering moet slaag om Suid-Afrika suksesvol te maak, want hulle besef dat daar vir hul kinders ook nie ’n toekoms in ’n mislukte staat is nie. Maar om te verwag dat mense gaan stilbly oor die geweldmisdaad, sukkelende stadsrade, wanfunksionele skole, vervallende staatshospitale, emigrasie van geliefdes, en die grootskaalse vermorsing en plundering van ons belastinggeld is om demokrasie se suurstofkraan te probeer toedraai.

Ongelukkig het die ANC met die politiek verwagtings geskep wat nie deur die ekonomie vervul kan word nie en terselfdertyd die staatsdiens se vermoë om aan hierdie hoë verwagtings te voldoen met halsoorkop transformasie ondergrawe.

Die stadsrade se gebrek aan dienslewering is nie omdat hulle nie wíl nie, maar omdat hulle nie (meer) kán nie!

Sentrale idee

’n Skynheilige stilbly daaroor is nie landsbelang nie. Natuurlik is die wyse, styl en inhoud van die kritiek belangrik. ’n Blote gesanik om die braaivleisvure gaan niks oplos nie. Ons land verdien beslis beter en dinge kán weer regkom, al sal dit moeilik wees.

Die eerste stap is dat die ANC sal moet besef dat hulle nie alles self kan doen nie en dat die vervreemding van opgeleide groepe soos die Afrikaner nie in landsbelang is nie. Daarmee word nie bedoel dat daar ’n sentrale plan is om wit mense uit te skuif of te benadeel nie. So belangrik is ons lank­al nie meer nie. Maar daar was en is ’n sentrale idee dat veral Afrikaners vir die belangrikste probleme in die land verantwoordelik is en nou uitgeskuif en geteiken moet word. Daardie sentrale idee het op talle maniere neerslag gevind, van die doelbewuste aantasting van ons taal en Afrikaanse onderwys tot die onbedoelde gevolge van regeringsbeleid op baie terreine. Dan praat ek nie eens van die uitsluiting wat die deure vir sóveel Afrikaners wat sou wou help, toegeklap het en steeds toehou nie.

Tydsberekening

Die tydsberekening van Smith se artikel pla ook. Hierdie soort standpunt sou beter gepas het in die 1960’s toe baie mense nog naïef optimisties oor die nuwe Afrika-state was. Of in 1995 toe oudpres. Nelson Mandela met ’n groen rugby­trui almal laat dink het alles gaan regkom. Maar dieselfde boek van Meredith wat Smith so selektief aanhaal, se gevolgtrekking is dat Afrika se toekoms 50 jaar ná onafhanklikheid slegter as ooit lyk.

Die hoofrede wat hy daarvoor noem, is gewoon omdat die leiers sleg regeer. Teen die eeuwisseling het die Weste steeds meer as 50% van die meeste Afrika-state se begrotings geskenk. Dit kan nie so aangaan nie, veral nie in ’n swak wêreldekonomie nie. Afrika sal eerlike selfondersoek moet doen. Wit mense se post-koloniale “semigrasie” (en emigrasie) is een van die belangrikste redes waarom talle Afrika-state ná onafhanklikheid misluk het omdat hulle nie kon herstel van die uitvloei van groot getalle opgeleide en ervare kundiges nie. Dít is ’n baie groter gevaar vir Suid-Afrika se toekoms as Smith se doemprofesieë.

Sosiale kontrak

So ’n onverkwiklike toestand is in niemand se belang nie. Die feit is dat Afrikaners die regering nodig het om die land suksesvol te regeer en dat die regering die Afrikaners in die proses nodig het om te help om hul beloftes aan die massas na te kom. Die meeste Afrikaners is verbind tot die land en is ironies ’n natuurlike vennoot vir die regering. Afrikaners was nooit koloniste soos die Franse, wat steeds die moederland se paspoort gehad het, nie. Hulle het hul volk, hul taal en hul kerninstellings na die vasteland genoem. Die Afrikaner-haters en -selfhaters wat so ’n behae daarin skep om Afrikaners af te breek, doen die land nie ’n guns nie. Hulle breek eerder derduisende goed opgeleides se emo-sionele band met die land en met die vasteland, laat hulle onwelkom voel en moedig hulle aan om eerder hul kundigheid in die ryk lande te gaan aanwend as om SA te help.

Die Kanadese filosoof Charles Taylor sê dat dit noodsaaklik is dat die vertroue tussen die meerderheid en minderhede in lande soos Suid-Afrika gereeld hernu word. Daardie vertroue is op ’n laagtepunt. Daarom behoort die regering ernstige oorweging te gee aan ’n soort sosiale kontrak met Afrikaners, wat die begin van ’n vennootskap kan wees om die toekoms te bou. Só ’n wedersyds respekterende vennootskap moet voorsiening maak vir die beskerming van Afrikaners se geldige belange en terselfdertyd die demokratiese ruimte aan Afrikaners bied om hulself aan die land te herverbind en sy probleme saam met die regering aan te pak.

Laaste kans

Suid-Afrika is Afrika se laaste kans om te bewys dat daar hoop vir die vasteland is. Dit is nie meer die 1960’s nie. Ons regering kan leer uit dekades van foute en het nie ’n verskoning vir mislukking nie. Afrikaners hoef ook nie te kies tussen identiteite nie. As die regering ons die demokratiese ruimte gee om 100% Afrikaner te wees, sal dit ook die verbintenis skep om 100% Afrikaan én voluit Suid-Afrikaner te wees.

In plaas daarvan om te bly skop aan die lyk van apartheid, moet Smith eerder help om die voorwaardes vir wit mense se volhoubare voortbestaan in Afrika te help skep. Sodoende sal hy Afrikaners kan help om veilig en voorspoedig in Afrika te bly sodat hulle kan help bydra om Suid-Afrika ’n suksesverhaal te maak. Die hele Afrika benodig so ’n voorbeeld.

- Buys is uitvoerende hoof van Solidariteit

- Beeld

Tuesday, September 15, 2009

Die wintertye in ons geestelike reis.

In ons konferensie verlede week het een van die deelnemers heel onverwags afgewyk van sy slim referaat om te praat oor die diepe pessimisme wat daar tans onder inwoners van Europa heers. Mense het nie meer hoop nie, het hy gesê en niemand veg meer daarteen nie. Hoe meer mense daaroor praat, hoe groter word die pessimisme. Dit is soos 'n bose sirkelgang waarin ons opgevang is.

En dit in Europa! Die land van melk en heuning. Mense uit arm lande sou alles opoffer om hier te kon leef. Hulle stroom onwettig oor die see en die land om by die vleispotte te kom aansit. Hulle loop oor van bruisende hoop op 'n beter lewe, as hulle maar net hier kan inkom. Blykbaar kan al die voorspoed wat ander mense van ander lande begeer nie vir die inwoners van hierdie lande die sekuriteit en geluk bied wat hulle verlang nie.

Dit val my ook op.

Die pessimisme het met die ekonomiese situasie te doen. Die resessie het mense hard geslaan. Baie het hul werk verloor. Dit het te doen met ons planeet: die wêreld gaan sienderoë tot niet. Dit het te doen met die politiek. Ons verteenwoordigers is kansvatters, ons is leierloos, die korrupsie deursyfer die hoogste raadsale van die land, mense maak leë beloftes. Maar dit het ook te doen met godsdiens. Die kerke staan dikwels leeg. En waar hulle vol is, is dit ‘n godsdiens wat op eie belang of oorlewing ingestel is.

Daar is diepe pessimisme in ons wêreld. Daar is duidelik nie maklike oplossings nie.

Maar dink net oor hierdie pessimisme: ons het in ons tyd alles wat ons hart begeer: tegnologie, besittings, opvoeding, katedrale. Maar al hierdie dinge beskerm ons nie teen ontnugtering nie. In die donker siel van die nag het ons nie iets om op terug te val en om ons teen wanhoop te beskerm nie.

Wat sal ons aan die gang hou? As al ons prestasies, besittings, instellings en voorregte ons in die steek laat, wat sal oorbly?

Hieroor sal 'n mens baie kan praat. Maklike antwoorde sal nie sommer uit die mou geruk word nie.

Dit is byvoorbeeld in hierdie tyd dat ons die Bybelse boodskap van genade moet vashou - die boodskap dat God naby aan ons kom om vir ons die sekuriteit van onverganklike liefde en goddelike teenwoordigheid te gee. Ons leer tans die goeie les dat geluk binne-in ons te vind is en nie aan uiterlike dinge gekoppel is nie. Geluk is durend, dit bly by ons ondanks ons omstandighede. Dit woon in almal wat begryp dat ‘n vervullende verhouding met God die belangrikste is wat met ‘n mens kan gebeur. Om in ‘n verhouding met die liefdevolle God te staan, is wat werklik tel. En as ons dit nog nie ervaar nie of as ons dit verloor het, moet ons daarop wag, daarvoor soek, ons instel daarop. Dit maak nie sin om op te gee op die Liefde nie. Daar is niks groters en skoner as die Liefde nie. Hulle wat glo en hoop sal nie teleurgestel word nie.

Maar dit is net die een kant van die saak. Die ander kant het te doen met die vraag of dit dan so sleg is dat ons by tye ook pessimisties raak.

Om gelowig te wees, beteken nie dat ons almal optimiste moet wees nie. Die alternatief op pessimisme is nie dat almal noodwendig met gelukkige glimlagte op hul gesigte moet rondloop nie. Dit kan wel gebeur. En daar is inderdaad sommige gelowige mense wat so vrolik en konstant vreugdevol in hul geloofservaring kan wees.

Maar, soos Rahner geskryf het, naas hierdie sonnige, somer-gelowiges, is daar ook mense wat winter-gelowiges is. Hulle is nie noodwendig pessimiste of geniet dit nie om morbied te wees nie. Maar hulle het 'n oog vir die koue kant van die lewe. Hulle herken die winter-tye in ‘n mens se lewe of in in die lewe van ‘n gemeenskap of in die wêreld. Hulle voel dit aan, hulle trek hulle dit aan en hulle stel hulle daarop in. Daarmee word hul geloof getoets teen die koue aanslag van die donker tye. En wanneer hierdie wintertye aanbreek, is hulle voorbereid. Hulle kan die uitdaging van die wintertye herken en aanpak.

Die wintertye kan die tye van uitdaging wees. Miskien moet elke mens iewers in sy of haar geloofsreis oplet op die wintertye. As ons daarop let en ons daarop instel, kan ons net met 'n warm baadjie die donker nag in om die koue te trotseer. Immers, die Seun was ook aan 'n koue kruis vasgenael. Op die vooraand van sy wonderbare opstanding.

Monday, September 14, 2009

Heiligheid en gebed

Ons bid met goeie bedoelings. Ons wil deur ons gebede beter voel, beter mense word en ‘n beter bestaan voer.

Maar gebed, veral Bybelse gebed gaan om baie meer. Gebed is om by God te wees. In gebed ontmoet ons God, staan ons in die teenwoordigheid van die Here.

Die Fariseër, het Jesus geleer, het die goed-voel storie oor gebed gehad. Die tollenaar, verslae voor die heiligheid van God, kon maar net in diepe rou sy eie onheiligheid, sy eie verlange na God se teenwoordigheid uitkreun. Sy hand was in eie boesem, maar sy oë het gesoek na God se vergewende teenwoordigheid in sy lewe. Al sy tollenaarsrykdom het hom in die steek gelaat. Alles wat hom altyd laat goed voel het, kon sy besmette gewete nie tot rus laat kom nie.


Ons skrik hiervoor. Om by God te wees? Dit is soos die lawwe storie van die twee vroom ouens wat wou stout wees en by ‘n nagklub gaan kuier het. Hulle bestel nogal ‘n ete en toe sê die een: “Bid jy nou vir ons voor ete?” Waarop die ander een antwoord: “Is jy mal? Wil jy hê die Here moet ons hier sien?” Wie bid, laat toe dat God ‘n ruimte in sy of haar lewe vind. Maar die heiligheid van God kan brand, vernietig, pyn aandoen soos dit skoonmaak, uitdryf, genees en bekragtig. Maar ons vrees die pyn hiervan en ons vrees die heiligheid van God.


Wat jammer is. Want die heiligheid van God is nie vreesaanjaend nie. Dit is oorweldigend. Ons staan voor God wat suiwer lig is, wat ons omstraal met die helderheid van goedheid, wat ons omring met suiwer genade, wat so anders is as al ons donker gewoontes en smerighede.

God is so anders, so uniek, so totaal verskillend. Daarom wil God se heilige teenwoordigheid ons aantrek. Om te kan skoon wees, bevry van alles wat in ons is wat ons so aftrek, ons jaloesies, ons vrese, ons foute, ons hatighede, ons gemeenheid. Hoe bevrydend kan ons lewe word as ons deur God se heiligheid tot ‘n nuwe lewe betower en aangespoor word.


Laat U naam geheilig word...

Sunday, September 13, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: toewyding aan God se woorde

Spiritualiteitskrywers het baie gemaak van die geestelike lees van die Bybel. Soos ‘n mens die Bybel lees en weer oorlees, het hulle geredeneer, word ‘n mens dieper in die skoonheid en betekenis daarvan ingetrek.

Hulle het ook besef dat die Bybel op baie maniere ‘n appel op ons maak. Die vroeë skrywers het besef op watter baie verskillende maniere die Bybel ‘n effek op ons kan hê.

Hier moet ‘n mens veral twee kontekste onderskei. Aan die een kant is daar die tye wat ons saam met ander die Bybel lees en hulle ons oë op ‘n spesiale manier oopmaak vir die teks. Iemand kan op so ‘n spesiale manier aan ons voorlees, soms selfs deur een klein aksent te lê of ‘n woord uit te lig, dat dit ‘n durende invloed op ons lewe uitoefen. ‘n Skildery of ‘n beeld oor ‘n Bybelse tema of teks kan ons verstaan van daardie teks beïnvloed. En ons weet hoe ‘n preek oor ‘n teksverhaal ons hele lewe by ons kan bly. Dit het dikwels met my gebeur dat ek, terwyl ek die Bybel in die diens gelees het, besef het dat die nadruk op ‘n sekere woord, die pouses wat ek moet maak tussen frases en of ek ‘n teks harder of sagter lees, vir my self ‘n leerproses was.

Aan die ander kant is daar die tye wat ons op ons eie met die Bybel besig is. Dan kan dieselfde spesiale ervaringe ons deel word. Wanneer ‘n mens op jou eie is, in tye van vreugde, seerkry, teleurstelling, bekommernisse of twyfel, kry die Bybel in elkeen van hierdie situasies ‘n eie betekenis en werking. Ons sien in sekere omstandighede en kontekste in die Bybel dinge raak wat ons andersinds nog nie ingesien het nie.

Een van die vroegste kerkvaders, Gregorius die Grote, het reeds eeue gelede geskryf: “Die siel, bewus van sy foute en in die besef van dit wat gehoor is, word geraak deur innerlike hartseer en berou. Dan wil dit niks anders doen as om te treur en deur trane die innerlike onrustigheid weg te was nie. Ander kere weer, is die siel in totale verrukking wanneer dit in kontemplasie is oor die groter dinge. Dan weer loop die trane soos die mens innerlik verlang na die hoëre dinge.”

Maar uiteindelik is die doel van Bybellees om in God se teenwoordigheid te wees. Dit gaan nie maar net om die woorde van die Bybel nie, maar om die Een wie se woorde dit is. Die toegewyde lees is ‘n lees wat ‘n mens se toewyding aan God verdiep en sterker maak.

Saturday, September 12, 2009

Die onverwagte aanraking

Soms gaan jare in ons lewe rustig en ongestoord verby voordat ons op ‘n dag bewus raak dat iets besonders aan die gebeur is met ons lewens. Dit hoef nie ‘n drastiese bekering te wees nie. Ons hoef nie vreeslik goddeloos te geleef het nie. Ons kan ‘n heel ordentlike, selfs vervullende bestaan voer. Ons kan gelukkig getroud wees, wonderlike kinders hê, genoeg hê om van te lewe, lekker kuier met vriende, mooi dinge besit en sien. Ons kan ‘n normale godsdienstige lewe hê, bid tot God, leef vir God en gehoorsaam wees aan God se wil. Daar hoef nie groot fout met ons lewe te wees nie.

Maar dan kom daar ‘n dag dat ons wéét iets het met ons gebeur. Dit is asof daar ‘n vonk in ons lewens inskiet. Dan gebeur heelwat dinge met ons. ‘n Besondere ervaring het ons lewens binne-gevloei, of binne-geval. Self daardie besef hoef nie vreeslik opspraakwekkend te wees nie. Dit kan heel rustig in ‘n oomblik gebeur, of selfs stadig, oor ‘n tyd. Dit kan geleidelik tot ons deurdring.

Ons weet net op ‘n dag dat daar ‘n spesiale oomblik was en dat dit ‘n vloed van vervulling in ons losgemaak het. Ek hoor iemand iets oor God sê wat my bewus maak van hoe goed en groot God is. Ek lees iewers ‘n boek en ek word geraak en vir altyd verander deur iets spesiaal wat ek oor God hoor. Hoekom het ek dit nooit só raakgesien of gehoor nie? Hoekom brand dit iets in my los en wil my nie met rus laat nie? Hoekom is my lewe skielik so vasgemaak aan God?

Dit het niks te doen met ek wat nou so volwasse geword het in my denke en insig nie. Of dit gaan ook nie daaroor dat ek emosioneel hoog opgewerk raak nie.

Dit is ‘n liefde en ‘n aanraking wat van buite na my kom en my soos ‘n koue, fris stroom water in die gesig tref. Hier ervaar ek iets wat wêrelde vir my oopmaak.

Dan begin ek anders na myself kyk: ek sien nie meer die ou ek nie. Vanuit die liefde van God kyk ek na myself en ek dink: kan dit wees dat dit met my gebeur? Kan ek so wonderlike begenadig wees om hierdie spesiale ervaring te kan geniet? Hoekom nou eers? Hoekom soveel vreugde na al die jare van my gewone lewe, wat nou so saai vir my lyk.

Hoekom het ek nie reeds dertig jaar gelede dit geweet nie? Hoe sou dit nie my lewe verander het nie! Hoeveel anders sou ek nie gelewe het nie, hoeveel meer sou ek nie vir ander wou gedoen het nie, hoeveel meer liefde sou ek nie aan God wou gee nie?

Maar te midde van al die vrae en verwondering, het daar ook in my ‘n gees van rustigheid ingedaal. Dit is dan dat goddelike vrede in ons kom woon: ons is daar waar ons moet wees. In my is die een begeerte wat oorbly om om meer daarvan te kry.

Ek vra meer, meer van hierdie liefde, van hierdie teenwoordigheid van God by my. En dan is die smagtende verlange nie die beginpunt van my geestelike reis nie, maar ook die eindpunt daarvan. Dit is hierdie verlange wat so oorweldigend word in my geestelike reis. My wandel na God word ‘n smagtende uitsien na die volmaakte eenwees met God. Dit word ‘n begeerte na die einde van alle begeerte: om God tog te kan aanskou. Om in kontemplastie voor God te kan staan.

Dit is natuurlik suiwer genade wat my lewe ingekom het. God het my kom aanraak. Die genadige aankoms en inwoning het my lewe nuwe vorm gegee. En in my ‘n passie, ‘n doodgaan aan myself en ‘n smag na God wakker maak. Hoekom nou eers? Hoekom so laat? As dit tog net al lankal gebeur het.....

Die mistieke aanraking van God laat my uitroep: gee meer, kom Gees, maranata, kom gou, laat u vrede my lewe totaal vul. Laat dit gou gebeur.

Augustinus het lank terug só gebid:

Te laat het ek U leer liefkry. O skoonheid, so oud en tog ook weer so nuut. Te laat het ek U leer bemin! U het na my geroep, U het uitgeroep en my doofheid tot niet gemaak. U het lig laat uitstroom en in oorvloed oor my laat skyn en U het my blindheid op die vlug laat slaan! U het ‘n lieflike geur laat opstyg en ek het dit met diep teue ingeasem en na U gesmag. Ek het U geproe en ek honger en dors na U. U het my aangeraak en in my het dit gebrand om U vrede te ervaar.

Te laat het ek U leer liefkry... U het my aangeraak en in my het dit gebrand om U vrede te ervaar.

Friday, September 11, 2009

"My" melaatses. Oor eindelose liefde.

In Leuven is daar ‘n kerk waar daar tans ‘n groot uitstalling is van ‘n geestelike, Jozef de Veuster, beter bekend as Damiaan wat in die volksgeskiedenis groot bewondering van Belge uitgelok het.

Hy het as jong man ‘n roeping ontvang en het toe as negentienjarige sendeling na Hawaii vertrek. In 1873, toe Damiaan 33 jaar oud was, word hy aangestel in ‘n nedersetting waarheen melaatses deur die owerhede uitgeban is en in die allerellendigste toestande ingehok is. Hy het die lot van die mense vir hom aangetrek. As die enigste persoon wat onder hulle wou werk, moes hy feitlik alles vir hulle doen. Hy was boer, onderwyser en hulle verpleër. Omdat hy so hard vir hulle baklei het, het hy vyande gemaak. Maar mettertyd het hy ‘n soort Moeder Teresa-figuur geword wat internasionaal groot aandag getrek het. Hy raak na 16 jaar in die kolonie self melaats en sterf in 1889 toe hy 49 jaar oud was.

Ons was vanmiddag in die kerk hier in Leuven waar daar reuse-foto’s van sy lewensloop is. Onder andere is daar die foto van hom as ‘n jong man, gereed om sy roeping te gehoorsaam en as geestelike uit te gaan in die Here se werk. Sy jong gesig is ernstig, met ‘n innerlike rustigheid, ‘n amper gedetermineerdheid.

Aan die oorkant is daar fotos uit ‘n heel later tyd van die hele melaatse kolonie. Die een foto lyk oorweldigend mooi: die ongelooflike natuurskoon met die huisies vir die melaatses in die voorgrond. Dit lyk heel onskuldig totdat ‘n mens lees dat die melaatses daarheen verban is en nie elders kon gaan nie. Op die ander foto staan al die inwoners netjies in rye vir ‘n groepfoto. Ook dit lyk heel onskuldig. Totdat ‘n mens nader staan en die misvormde, ontstellende melaatse gesigte van nader bekyk. En dan is daar onder hulle, deel van hulle, die gesig van Damiaan, oortrek met melaatsheid, ‘n totaal ander prentjie van die eerste foto van die ernstige, helder gesig van die jong mens wat sy lewe voor hom uitgestrek het.

Die foto’s wat ek neem, vertel ‘n hele verhaal. Maar daar is groot aanhalings onder elke foto wat wêrelde van betekenis ontsluit.

In die een aanhaling praat hy oor die verskriklike en angsaanjagende siekte wat ook op hom toegeslaan het. Maar, sê hy, dit is nie die siekte wat hom soveel pla nie. Hy mis dit baie meer dat hy nie die nagmaal kan bedien nie. Tot op daardie stadium was hy nog gelukkig, ook in sy ellende, totdat dit met hom begin gebeur het dat hy geestelik onbering begin ly het. Maar selfs dit breek nie sy gees nie en bedreig nie sy band met sy mense nie. “Sou ek die keuse kry om hier weg te gaan in goeie gesondheid, dan sou ek sonder om ‘n oomblik te twyfel sê: ‘Ek bly hier by my melaatses tot die einde toe.”


Dit is die “my” melaatses, die toe-eiening, die intimiteit, die nabyheid wat my soos ‘n vuishou in die maag tref. Die liefde wat verby al die hatige grense wat mense so maklik trek leef. Die liefde wat die verwerping van hulle wat bevoorreg is, doodgewoon verbyloop. In hulle misvormdheid, hulle verlatenheid, hulle alleenheid, is hulle veral “myne.”

Ek dink meteens aan Salvador Dali se skildery van die kruis en dit is asof daar vir my nuwe lig opgaan. Hy teken Jesus asof ‘n mens van bo-af, uit die hemel vir hom sien. God uit die hemel kyk na die kruis en daar hang die stil, mistieke Jesus se kop roerloos in die dood. En tog is daar nie bloed wat loop. En die liggaam van Jesus is nie bebloed of misvorm nie. God kyk in diepe vereniging na die Seun. “Jy is Myne. Ek het jou by die Naam geroep. Jy is my geliefde Seun” staan vir my nou oor daardie uitbeelding geskryf. En in Damiaan se “my” melaatses voel ek meteens dieselfde liefde. Konformiteit aan Christus.

Daar word vertel hoe hy oor homself gepraat het kort voor hy gesterf het. Kyk na my hande. Daar is ‘n harde kors oor al my wonde. En kyk hoe swart word die kors. Dit is die teken dat my einde naby is. Kyk ook na my oë. Ek het al so baie sterwende melaatses gesien. Ek maak nie ‘n fout nie. Die dood is nie meer ver nie. Ek sou nog so graag die biskop wou gesien het; maar God roep my om Paasfees met hom te vier.

My melaatses. Swart korse van ellende. Brekende oë. En dan daardie wete: God is naby. God roep my. Die vooruitsig van die teenwoordigheid van God, genesing, oorwinning oor die dood, die nuwe lewe. Paasfees.



Die jong Damiaan:



Die kolonie in die wonderskone omgewing:


Die groepfoto van die jong kinders in die melaatse kamp



Die melaatse Damiaan se gesig: detail






Voor in die kerk hang hierdie triptiek.


Thursday, September 10, 2009

Die hart en die opstanding. Geleefde geloof in die aangesig van die dood.

Ons word feestelik onthaal tydens ons byeenkoms, verbysterend feestelik. Die gees is besonder gemoedelik.

Intussen is ons besig met hoogs tegniese, akademiese werk. Mense wat al jare die spreekwoordelike naald in die hooimied soek, wys al die naalde wat hulle al uitgediep het en die res van ons geniet die uitstaltyd. Die kennis is wyd en diep. Ons word gedwing om te konsentreer, argumente te toets, die brein nog verder te rek.

Een van die kollegas het twee van sy nuutste boeke by hom op die tafel. Die een gaan nogal oor die opstanding, iets waaroor ek baie in onlangse tye gelees het. Ek staan nuuskierig nader, want ons het die vorige aand ‘n ellelange, diepsinnige en intense gesprek gehad wat my diep aan die dink gesit het. En ek is verbaas dat hy nou ook oor die opstanding geskryf het.

Hoe het dit gebeur, vra ek nuuskierg?

Die antwoord kom eerlik, dadelik en direk: Sy pa is vier jaar gelede dood en kort daarna verloor hy albei sy skoonouers. En, nie net hy nie, maar sy hele gesin word met die realiteit van die dood gekonfronteer.

Die antwoorde is nie altyd daar nie, jare se teologie ten spyt. Die dood was nooit naby genoeg om daardeur geraak te word nie....

En hoe dan nou anders gemaak as om oor die opstanding ‘n boek te skryf? Drie jaar lank geskryf en uiteindelik is die produk klaar.

Dit is die ervaringswêreld waaruit teologie soms gebore word. Die direkte, naakte konfrontasie met die laaste, groot vyand. Dit is ‘n eksistensiële aanvegting. Al die jare met teologie besig gewees. Baie geskryf oor allerhande diepsinnige onderwerpe. ‘n Mens weet alles en jou beheer oor dinge is so goed.

En dan gebeur dit: jy word uit jou gemaksone weggeneem en geslyp op die toetsteen van die lewe. Wat doen jy, in die aangesig van die “harde werklikheid”? Wat sê jou teologie vir jou in sulke omstandighede? Hoe hanteer jy dit?

Die antwoorde is nie paraat nie. Jy moet drie jaar lank sit en worstel om iets te formuleer. Na 25 jaar in die teologie.

Ek wil baie graag daardie boek lees. Die feestelike onthaal en die konferensie-geleerdheid is goed en reg. Die stemming is vol pret en aangenaam. Ek leer baie en my brein strek tot breekpunt sulke lang hale.

Maar ek wil die dieper dinge, die groter nadenke bedink.... My hart vra dit...

Wednesday, September 09, 2009

Tuesday, September 08, 2009

Oor spiritualiteit as vriendelikheid en oor gewildheid

Ons het ‘n bepaalde opvatting dat “spiritualiteit” as die lewenskuns van die liefde gaan om “vriendelikheid.” Paulus het nie verniet dit selfs nodig gevind om sy gemeentes te herinner dat hulle hul vriendelikheid aan almal bekend moet maak nie. As geestelike mense, dink ons daarom, moet ons eerder verdraagsaam as vingerwysend wees.

Daarom verdra ons alles, in Paulus se beroemde woorde. Daar is nie meer baie geestelike leiers wat met hul vuiste op die preekstoel slaan of wat die Mormone se Bybel op die preekstoel stukkend skeur nie. Gelowiges hou nie van harde woorde en skerp taal nie. Hulle kyk skeef op na kritikastery.

En dit is alles goed so. ‘n Spirituele mens sal inderdaad nie aanstoot gee nie. Vriendelikheid en goedheid is wonderlike deugde. Die ander persoon het ‘n verantwoording vir sy eie lewe en het nie ‘n nuuskierige neus in hulle sake nodig nie. Soos Jesus skep ons ruimte sodat selfs die mees verdorwe mens daartoe kan kom om ‘n sinvolle bestaan te ontdek en te kan voer. Iewers, glo ons, is daar ‘n “Saggeus” in elke mens wat net wag om uitgehaal te word.

Maar vriendelikheid kan ook ‘n donker kant hê. Dikwels is ons idee dat ‘n spirituele mens ‘n allemansvriend is. Dan word ons bang om te sê wat ons in ons hart voel, bang om uit te kom vir wat ons werklik dink, versigtig om te deel wat ons glo. Ons sal hoogstens nog agter die rug die woord van kritiek uiter. Vriendelikheid word dan ‘n instrument om ons eie gewildheid te bevorder. Wat saak maak, is wat ons bereik vir onsself deur goed en gaaf teenoor almal te wees.

Soms kan so ‘n vriendelikheid kwaad en onreg verswyg of miskyk.

Ons weet egter dat spiritualiteit nie beteken dat ons alles van almal moet verdra nie. Spiritualiteit is inderdaad meer as net die storie van vriendelikheid, ‘n geloof wat gedurig goedmoedig en vergewensgesind moet wees sonder dat ‘n mens eintlik ooit te kenne gee van die voorbehoude en sorge in jou eie hart. Ons omgee vir ander is meer as net om hulle in hul ellende te troos en by te staan, te omarm en moed te gee. Ons geloof kan beteken dat ons goedheid teenoor ander dikwels baie meer vra as hierdie verdraagsame vriendelikheid.

Die groot mistici in die verlede was, interessant genoeg, maar by tye kwaai kêrels en moeilike susters wat nie gehuiwer het om openlik hulle sê te sê oor wat hulle self voel oor sake van die dag nie. Trouens, die heel grotes, soos Katarina van Sienna het die magtiges van haar tyd goed vertel wat in haar gedagtes omgaan. En, vreemd genoeg, het hulle haar dikwels gaan raadpleeg. Hulle het geweet sy is meer as net ‘n moed-inprater, ‘n ja-suster, ‘n pleeg-moeder. Hulle wat naby aan God gebly het was nie bang om te praat as iets hulle gewete gepla het. Hulle was nooit bang om die kwaad openlik uit te daag nie – al het dit hulle ongewild gemaak en soms selfs hulle dood veroorsaak.

Monday, September 07, 2009

Die gesig van God by die kleinstes van kleines... Oor die uitlewing



Op die Duitse televisie is daar ‘n program oor iemand wat in ‘n hospitaal werk met kinders wat te vroeg gebore word. Hy werk in ‘n saal waar hoogs gespesialiseerde versorging gebied word en waar kindertjies wat ‘n dekade gelede nie sou oorleef het nie, nou ‘n groot kans op oorlewing het. Hy is deel van ‘n groep mense wat met groot toewyding en sorg die werk doen, maar die program gaan vandag net oor hom.

Hy moet ‘n saal vol baba’s versorg wat in bedjies slaap wat soos buite-ruimtelike kontrepsies lyk en wat aan elke denkbare masjien gekoppel is. Kabels kom orals uit en gaan orals in. Kort-kort gaan daar ‘n alarm van die masjiene af. Dan moet hy kyk wat aangaan. Hy gaan staan dadelik by die bedjie, maar rustig en bekyk die situasie. Soms tel hy die kindjie op, praat vaderlike met hom, skuif hom of hou hom tot hy dalk ‘n windjie breek. Maar altyd bly hy daar staan totdat die alarm afgaan.

Hy bad selfs die baba’s, wys hulle ouers hoe om hulle te hanteer , hulle te voed en vas te hou.

En die kleintjies is piepklein. Die kleinstes van kleines. Jy wil amper ‘n vergrootglas gaan haal om hulle te bekyk. Die baba’s se handjies is party keer so groot soos ‘n vingernael is.

Rustig, ingelig, bekwaam praat hy oor sy werk. En dit is duidelik dat hierdie groot, uitgevrete jongman (soos ons in Boeretaal sou sê), omgee vir wat hy doen en veral vir die kinders. Hy weet van alles. Hy lees die kleinste teken. Kyk, vertel hy, as die baba met sy tongetjie so vroetel, het hy honger.

En toe vra die mens wat die onderhoud voer: nou waar kom jy vandaan met hierdie werk?

Hy vertel dat hy twee jaar ‘n kursus gedoen het wat hom in ‘n hoogsgespesialiseerde rigting geneem het. Maar al was dit ‘n loopbaan wat baie geld sou inbring, was dit nie wat hy wou doen nie. Toe huis toe en toe twee jaar medisyne, maar ook die studie was vir hom niks nie. Hy het nie gevoel dat dit is waaraan hy sy lewe wou spandeer nie. In daardie tyd, vertel hy in hierdie nie-godsdienstige program sommer so spontaan, was sy verhouding met God nie reg nie. Sommer so terloops, en hy slaan sy oë vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde boontoe, hemelwaarts. In die Bybelskool iewers in Duitsland het hy sake begin verstaan, by die hospitaal aangesluit en toe geluk gevind.

Elke dag werk hy met kindertjies wat deur hoogsgespesialiseerde tegnologie ‘n kans kry wat vroeër geslagte van vroeggebore kinders nooit gehad het nie. Vandag oorleef kindertjies met handjies so groot soos vingernaels danksy die mediese wetenskap. En danksy mense wat aan die tegnologie ‘n menslike gelaat gee. So eenvoudig soos om kinders te bad, hulle versigtig op te tel en hulle te help om hulle winde te braak, om vir ma’s te leer om die melk reg aan te maak en vir pa’s om vuil doeke reg aan te sit.

In sy eindelose geduld en toewyding gee hy lewe vir die kleintjies, gee hy dit deur, gee hy raad, troos en hoop aan angstige, bekommerde, verdrietige, liefdevolle ouers. Hy is die beeld van God in hulle donker nag.

Dit is die deurwerking – in sy mees konkrete, self-opofferende gestalte. Om dinge met God reg te maak en dan met die voorskoot en die waskom by die voete te gaan sit.

Sunday, September 06, 2009

By 'n berig... Oor die stil mense in jou lewe.

Ons hoor vandag van iemand na aan ons wat ons verloor het. Nog ‘n lewenshoofstuk in ons eie lewensverhaal wat deur hierdie verlies afgesluit word.

Ek dink aan die baie stil dae oor jare wat ons almal saam deurgebring het, al was dit maar min woorde wat ons met mekaar gewissel het.

Ek dink aan die gerusstelling en aan die konstante teenwoordigheid wat hierdie persoon aan ons geskenk het en wat soveel gerustheid en rustigheid vir ons meegebring het. In ons almal se vinnige leef was dit daardie teenwoordigheid wat, op die keper beskou, juis vir ons ook gehelp het om makliker te leef. Dit het op ‘n klein manier gehelp om alles moontlik en draaglik en goed te maak.

‘n Mens kry met sulke nuus dikwels hierdie gevoel: ek kon meer gedoen het, meer gesê het, meer opgevolg het, meer omgegee het. En tog, aan die ander kant, was daar darem altyd die wete dat die baie ander mense en dinge in jou lewe wat om aandag gevra het, nooit te veel was om te sorg dat daardie persoon ook veilig is en versorg word. Dae en dae se rondhardloop, agter afsprake aan, skrywery wat moet klaar kom, administrasie wat afgehandel moet word, verpligtinge wat om aandag gevra het het dalk nie altyd tyd gegee vir uitvra en gesels nie. Maar altyd was daar die wete, as die nood daar is, moet jy eerste daar wees om te sorg dat dinge regloop en niemand seerkry nie.

En jy weet, uiteindelik, daardie een het dit besef, het dit so ook verstaan en het dit goed gevind. Daardie een het besef hoe nodig dit is om ons in hierdie maalstroom te help, te ondersteun, maar kon ook soms heel direk en eenvoudigweg net vra vir hulp en ondersteunig.

In die wedersydse “daar-wees” was daar iets eg mensliks. 'n Mikro-verhaal, 'n petits-recit wat 'n hele diskoers van menslikheid aan die orde stel.

Die wete dat die wedersydse afhanklikheid ‘n band vorm wat veilige wêrelde tot stand bring, juis daardie wete maak so ‘n nuusberig van die finale weggaan en nooit-weer-sien afskeid ‘n stilword-ervaring.

Dus bly ons hier agter met die wete dit is nou finaal oor. Daar kan nie meer ‘n ontmoeting, ‘n woord te wissel, ‘n besoekie, ‘n geskenkie, ‘n briefie wees nie. En dan, die gevoel van verganklikheid wat deur die kort beriggie onvermydelik sy donker skaduwee agter hom aandra.

In die presiese lees van tekste het ek as eksegeet geleer dat die opvallende woord of gedagte in ‘n teks nie noodwendig die een is wat honderde kere daarin gebruik word nie. Juis die onverwagte alleen-woord, die een enkele keer wat dit voorkom, juis daardie woord val op, bly by jou agter en draal in jou gedagtes. Dit is die weggesteekte woord wat dikwels die opvallendste is. En wat jy onthou omdat dit juis in sy enkelvoudigheid so mooi is en diep weggebêre sal word.

Net so werk dit met mense. Sommige word nie dikwels in jou lewe genoem nie. Hulle staan nie prominent op jou agenda se afsprake-lys ingeskryf nie. En tog is jou lewe op ‘n sekere klein manier sonder hulle onleefbaar, moeiliker, armer. As hulle op 'n dag nie daar is nie, loop dinge nie reg nie. Hulle doen nie groot dinge in jou lewe nie. Hulle bring jou nie tot bekering nie. Hulle kan selfs baie, baie min voorkom. Hulle maak selfs dalk net ‘n motor so af en toe vir jou reg. Of sny jou hare een keer in ‘n paar weke. Of diagnoseer jou geduldig as jy siek is. Of groet jou as jy hulle by geleentheid gereeld iewers raakloop. Maar hulle is daar. En hulle maak jou lewe voller en ryker. Hulle wêreld, dikwels so totaal anders as joune, sny soms diep op jou wêreld in, maak jou bewus van groter dinge, van nood, van jou verpligtinge.

Dikwels, veral, in die groot fasade van mens-wees, in die groot brawade van ons jaag-kultuur, in die ontstellende leegheid van ons uitstal-maniere, is daar soms die een, eenvoudige mens wat in jou lewe leef met ‘n stille opregtheid, sonder om aansprake te maak, sonder om jou tyd op te eis, maar altyd weer dienende. Hulle gee vir jou die kleinste van dinge, die eenvoudigste van hulp. Hulle tel geduldig jou skoene op, spit swoegend in jou tuin. Hulle sit vriendelik of getrou jou telefoonoproepe na jou deur op kantoor. Hulle word dan deur hul stil mee-leef die vensters wat lig inlaat in die digte, selfs stikdigte lewensfasade, die wat eg menslik is in ‘n raas-lewe. Hulle is die rustige ankerplekke, sonder pretensies. Hulle is die tevredenes wat niks wil afwys of uitstal of opeis nie, want hulle is innerlik goed.

Waarom dink ek nou weer eens aan Saggeus – die een wat net een keer in die Bybel genoem word? Die een wat stilweg geleer het om weg te gee. En wat deur sy een-keer-plek in die Bybel iewers diep spore agterlaat. ‘n Mens hoef nie groot en vinnig te leef, om lank en dankbaar in herinnering gehou te word nie.

"Oopgeskop": oor misrekende ontferming....

Die volgende word opgeneem in my spesiale boekie vir nuwe, goeie grappe. Dit kom uit vandag se Rapport.

Die dronkie kies kortpad deur die begraafplaas en beland in ’n oop graf. Later die nag begin dit reën en hy kry koud?… Hy huil kliphard.

“Help! Iemand, help my tog, dis koud hier onder!” Daar stap Gatiep verby, lekker getrek. Hy hoor die hulpkreet, loer in die graf, gryp ’n graaf en begin die hoop sand ingooi terwyl hy troos: “Toemaar, toemaar. Dish g’n wonner jy kry koutie, jy’tjousjelf dan oopgesjkop.”

Saturday, September 05, 2009

God se waaghalsige genade. Oor Saggeus en spiritualiteit. (3)

Nadat ek oor Saggeus in my vorige blogs geskryf het, loop ek die volgende pragtige inskrywing van Neil Thorogood raak (interessante webwerf van die gereformeerde kerke in Cambridge waarop hy skryf). Sy inskrywing gaan ook oor Saggeus, maar werk die implikasies van hierdie verhaal op ‘n besonder uitdagende manier uit.

In sy inskrywing sien ek vir myself raak hoe ‘n mens oor God se genade kan dink. Ons weet so maklik God se genade word geskenk, vrylik, in kerklike jargon, sonder menslike verdienste. En in Spiritualiteit is dit ‘n belangrike motief. Die lewensveranderende aanraking van God kom wanneer ‘n mens dit nie verwag nie, kan nie afgedwing word nie, verdien word nie. Maar jy weet wanneer dit gebeur het, diep in jou innerlike. God het vir my buite alle meriete om kom raak. En met God se aanraking sal dinge nooit weer in ‘n mens se lewe dieselfde wees nie.

Maar hoe lyk dit prakties, eenvoudig en in sy alledaagse konsekwensies? Hoe gebeur dit dan dat God ons aanraak? Soms op mistieke wyse in oomblikke van verrukking, ja. Dan maak God se aanraking ‘n brandende pinkstervuur in ‘n mens wakker. Maar Lukas, wat verrukkende oomblikke soos Pinksterdag ken, ken ook die eenvoudige aanraking van God. Dan kom gebeur die sagte sprong (Cussons) in ‘n vlietende oomblik. Partykeer, verbasend, soos vir Saggeus in die midde van die daaglikse rumoer van die skares wanneer ‘n Mens by jou kom stil staan, opkyk en jou by die naam roep. Dit gebeur in Lukas se verhaal oor Saggeus: Hierdie oomblik dat Jesus gaan stil staan en opkyk na Saggeus en “sonder enige gesprek,” soos Thorogood dit stel, by hom tuisgaan. Geen kategese! Geen geloofsbelydenis! Geen colloquium doctum. God waag darem baie.

En dan uiteindelik die eintlike punt: as ons sien hoe God stilweg in Saggeus se lewe instap, staan ons gekonfronteer met die waagstukke in ons eie dissipelskap. Hoe kan dit dan ook nou meer prakties by ons tuisgebring word as in hierdie Lukas-verhaal oor Saggeus: Hoe waag dissipels om lief te hê soos Christus hier liefgehad het? Eenvoudig, by die huis, in die familie, in die kerk kan ‘n mens dit nog waag.

Maar baie moeiliker is dit in ander plekke, selfs gevaarlik met die groot moontlikheid van aaklige gevolge. Hoe waag ons om keiharde misdadigers lief te hê? Is die kapelaan by sy volle verstand as hy, sonder naam in hierdie verhaal, sonder vermelding van die ure van sy angs, onsekerheid, sweet, trane, gebede oor sy geloofswaagstukke sê: “And as we talk faith in this place begins to unfold as he speaks of value, worth, humanity and the inexhaustible grace of God that can transform the most powerful evil and claim shattered lives.” Hy praat van God se genade wat die hardste van harde klipmens kan stukkend breek.

Praat van konformiteit aan Christus. Dit is egte spiritualiteit. Dit is nie ‘n maklike pad nie – die grommende skares wat saam met ons in die kerk is, raak kwaad en opstandig as ons so baie waag (Moet tog nou nie laf wees met sulke sentimentele praatjies nie...). Dis hulle wat uiteindelik hul woede kruisgewys op Hom uitgehaal het (Ander het jy gered...) Maar selfs vir hulle wat gehoorsaam die pad wil loop, is dit nie maklik nie – soos Thorogood se baie vrae aan die einde uitwys.

Maar dit is hoe God met die mensdom reis – ‘n avontuurlike, maar gevaarlike, waaghalsige reis.


Hier volg sy inskrywing en die web-verwysing

http://www.westminster.cam.ac.uk/index.php/reflect/27-reflections-on-my-first-visit-to-wayland-prison

Reflections on my First Visit to Wayland Prison
Written by Neil Thorogood
Arriving on a grey day I’m immediately aware of scale. A vast and featureless wall, rounded and bulging at its peak, shuts out the world of prison from my world. There’s a neat car park with small trees off an unremarkable country side road, and this great wall. In the gate house I’m warmly welcomed and my passport is checked. They’re expecting me. The strangeness is calmed a little by being expected, my name on a list, my reason for being here understood. But I’m conscious of fidgeting and turning pages without reading the magazines as I wait for the chaplain to see me through the gates. And I think of prison as a place where God is. I recall that role of apostles, and Jesus, heading into the cells. They were captured, or handed themselves over, alive in faithfulness. I think of Daniel. I think of Bonhoeffer. What might it mean for me to bring my faith into prison? What faithfulness will I meet here? How is God busy?
Then we’re in, surrounded by the hardness of concrete and stone, the clanging shut of gates and the endless clinking of huge bunches of keys. There are dogs with handlers in the exercise yard. But otherwise it is empty and the chaplain and I make a lonely procession towards the normality of his office and a welcome coffee. And as we talk faith in this place begins to unfold as he speaks of value, worth, humanity and the inexhaustible grace of God that can transform the most powerful evil and claim shattered lives.

Root is carved from a great block of limestone. It has been worked on, yet retains much of its original form. It isn’t hard to think of it still as just a block of rock. Yet there is also transformation here with twisting forms and a whole language of tiny marks incised on its sheen as if it is some sort of Rosetta stone remembering another language, offering a voice into the stillness around it.

In Wayland I encountered people who carried still the weight of evil done. I talked with some who have hurt others beyond imagining, and some who hurt themselves beyond enduring. They carry scars, a language of broken lives like the marks of the chisel on the stone.
I find myself drawn to glimpses of salvation; Jesus calling to Zacchaeus in his tree and, without it seems discussion, inviting himself in to this man’s home for food and fellowship and a conversation that will change life for a sinner, and for a community that must welcome back a sinner (Luke 19:1-10). Jesus makes the approach, but Zacchaeus eagerly responds to it. A way is opened, but a step over the threshold is taken. I encountered in chaplaincy this willingness to constantly open a way: a way into relationships; a way into honesty; a way into giving an account; a way towards taking hold of consequences; a way towards God. Some of the prison officers, I gathered, saw chaplaincy as the feather bed offering a place of comfort for anyone with the wit to befuddle the chaplains. But in the chaplains I found a realism about the possibility of being lied to by prisoners gifted in dishonesty, yet a conviction that following Christ here meant always risking. Zacchaeus has to re-enter his community able to demonstrate change, yet unable to remove the past. He carries the scars and, maybe, every day has to live out being forgiven all over again. How does that work with a convicted sex offender contemplating release into a society hostile? What would ministry mean for me in a congregation welcoming Zacchaeus yet also upholding the victims of deceit and abuse? How do I now understand what Jesus means when he speaks of seeking and saving the lost?
Neil Thorogood (February, 2009)


Die beloofde skildery oor Saggeus volg nog.

Friday, September 04, 2009

Vier keer, vier keer meer liefde.... Oor spiritualiteit en die uitwerking van geloof. Saggeus in Lukas 19:1-10 (2)

Saggeus se verhaal is eintlik verbysterend eenvoudig. Dit het geen groot bekeringsmomente nie. Saggeus het nie soos die Verlore Seun ‘n hele voorbereide belydenis om vir Jesus te gee nie en ook nie ‘n “ek het gesondig, wees my genadig” uitroep nie. Saggeus doen eenvoudig wat Jesus vir hom vra terwyl hy bo in die boom sit: “Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.” Dit is die moment van omkeer waneer God eenvoudigweg in sy lewe tuiskom.

Dat hy en Jesus saam in sy huis is, stuit die omstanders so teen die bors dat hulle diep vies en opgeruk daaroor is. Want in iemand se huis deel jy jouself met daardie persoon op ‘n intieme wyse – en kan ‘n boodskapper van God by so ‘n gehate uitbuiter kuier?

Dan, as die skare staan en grom, praat Saggeus vir die eerste keer in die verhaal. Hy, die ryk man gaan helfte van sy besittings prysgee. En hy gaan mense van wie hy afgepers het, vierdubbel vergoed.

Daarmee doen Saggeus drie dinge:

Hy wys eerstens dat hy daadwerklik volgens God se wil leef. Iets dramaties het in sy lewe verander. Dit is radikaal omvorm en getransformeer deur Jesus se besoek. Spontaan wys hy: In die sentrum van sy bestaan staan nou nie meer sy eie begeertes en gierigheid nie. Hy het die las van tydelike dinge afgegooi. God se wil het die middelpunt van sy lewe geword. En God se wil is duidelik: Eksodus 22 vra van iemand wat ‘n ander skade aangedoen het om daarvoor te vergoed. Noudat God in sy huis ‘n ereplek inneem, het sy rykdom, die verleentheid, vir hom ‘n geleentheid geword. Hy verander van iemand wat ander afpers vir hul geld, wat oor ander loop om homself te verryk, na iemand wat ter wille van God sy besittings uitdeel. En hoe dramaties dit is besef ‘n mens eers as jy sien hoe min mense so iets sal oorweeg. ‘n Mens sien op die agtergrond die verhaal van daardie ander ryk jongman wat uiteindelik nie sy rykdom kon opgee nie. Hier is Saggeus, die ryke, meer as net ‘n volgeling van Jesus. Hy, die slegte tollenaar, gee weg uit sy eie, sonder dat hy, soos daardie ryk jongman, gevra word. En daardie ryk jongman was baie voorbeeldig - Jesus was selfs oombliklike lief vir hom.

'n Mens wil amper dink: Saggeus word byna ‘n Christus-figuur. Hy verstaan God se wil vanuit sy intieme gemeenskap met die Here. Nie my wil nie... Julle sal groter dinge doen....

Tweedens wys Saggeus hoe oorvloedig sy transformasie is. Die Ou Testament vertel: Hoe erger die misdaad was waaraan ‘n mens skuldig is, hoe groter die vergoeding wat ‘n mens betaal. En Saggeus groei in hierdie geloofsinsig in. Hy, die verloopte Kind van Abraham, word nou gretig gehoorsaam aan die Verbondsgod se opdragte en hy kies om sy eie lewe so negatief as moontlike te beoordeel sodat hy soveel as moontlik moet vergoed en regmaak. Hy eien dit vir hom toe – sonder opdrag van Jesus. Laat ek anders wees, sommer baie anders as die hatige afperser wat ek al die jare was. Saggeus verstaan hoe aaklig sy lewe was. Hy het insig in en en intense bewuswording van sy verlede. In daardie kort tydjie wat hy by Jesus was, is die donkerte van sy donker hart tot sy skande voor hom oopgevlek – deur homself. Hy besef die erns van sy skuld en sy oortredinge. Net soos die Verlore Seun wat tussen die varkpeule tot homself gekom het. En Sagggeus wys hoedat hy begeer dat sy nuwe lewe totaal en oorvloediglik anders sal wees as wat dit was. Is dit iets van die transformasie in heerlikheid?

En derdens verstaan Saggeus die evangelie van Jesus – wat ‘n evangelie aan die armes is. Wie een oomblik by Jesus staan, word ingetrek in die groot diskoers van die Seun se uitreik na ander. Hy word die dienaar, die voetewasser soos sy Meester. Hy, die stinkryke, doen wat Jesus deur sy hele bediening altyd nog van sy dissipels gevra het. Hy wat die armes besteel het, reik nou na hulle uit soos wat Jesus sy hele lewe gedoen en gevra het. Dit is nou konformiteit in Christus: die vorm van sy nuwe lewe neem die vorm van Jesus se lewe aan. Sy ontmoeting – eers op ‘n afstand, maar toe, intiem, met Jesus by hom aan huis, lei tot Saggeus se ontferming vir ander. Die beeld van die Meester lê diep afgeëts op die gelaat van sy dissipel.

Hier kan ‘n mens in meditasie vele gedagtes oproep: die gedagtes wat in sy kop moes gemaal het terwyl hy by Jesus gesit het, in sy gesig gekyk het, met hom gepraat het, sy woorde gehoor het: “Het ek tog maar daardie keer teenoor die armes nie so wild te kere gegaan nie, nie hul laaste sent geroof nie, dieselfde ontferming getoon as wat ek vandag ontvang het. Kan ek maar soos hierdie Mens wees!” Die innerlike skaamte: “te kort, te kort ken ek U – hoe kan ek ooit ontdaan maak wat fout gegaan het...”

Om volgens God se wil te lewe, om heeltemal in God se wil bevind te word en om deur Christus gedryf te word om – soos Christus – vir die sagtes, die stiles, die weerloses, die uitgebuites, die platgelooptes te leef.

Uiteindelik dan die praksis, die uitwerking, die afronding, die closure: die mistieke verhaal van ‘n ryk, magtige man wat in ‘n boom klim om die rondreisende prediker te sien, onthul hoe word hy nou eensklaps die dissipel van Jesus wat op die strate gaan soek na almal wat hy kwaad aangedoen het. Saggeus se verhouding met Jesus kristalliseer in ‘n deurwerking na buite uit. Sy geloof in Jesus het praktiese gevolge. Transformasie eindig in deurwerking, uitwerking, uitleef van ‘n mens se lewe op ‘n gelowige manier.

In die kerklike tradisie het die beroemde kerkvader, Clemens van Alexandrië, geskryf dat Saggeus later Judas se plek as apostel ingeneem het en die naam Mattias gekry het. Of dit waar is, sal niemand ooit kan sê nie. Maar dit wys net hoe diep het hierdie verhaal van die ommekeer en dissipelskap van Saggeus ‘n indruk gemaak. En dalk, wie weet, het hierdie man, omdat hy in die gelaat van Jesus, reeds al bo uit die boom, die liefde herken het waarna hy so gesmag het, inderdaad oral rondgeloop en sy geld uitgedeel. Met sy skerp, soekende brein (ek klim selfs in ‘n boom om Hom te sien...) het hy hulle gesigte onthou, hulle gesoek en uitgedeel. Soveel so dat hy wat konform aan Christus wou leef, uiteindelik as die dertiende apostel gekies ie.

Hoe boeiend. Hierdie verhaal het geen eise van Jesus dat hy moet verander nie. Lukas moraliseer nie die God-mens verhouding en die transformasie wat daaruit voortvloei nie. Uit die goddelike ontferming vir en uit die tuiskoms van Jesus by Saggeus word nuwe ontferming gebore. Liefde lei tot oorvloedige, viervoudige liefde. Die bose sirkelgang van Saggeus se gierigheid is deur een enkele oomblik van ontferming gebreek – daardie dag in die woelige strate van Jerigo toe die man van die liefde gaan stil staan het en opgekyk het na hom. Soos Jesus se lewe word Saggeus se lewe nou ‘n lewe-gewende bron van uitreik, van regmaak van die verlede, van oormaat van ontferming, van insig in eie feilbaarheid.

Vier keer, vier keer meer wil ek vir Jesus doen as wat ek ooit vir myself gedoen het. Groter dinge as wat Ek....

Daar is nog so baie ander dinge wat 'n mens oor die wonderlike verhaal sou kon skryf. 'n Mens sou 'n hele reeks daaroor kan maak - die een preek na die ander. Die wildevyeboom, Jerigo, die tollenaar...

Thursday, September 03, 2009

Spiritualiteit, gevoel en ervaring

Spiritualiteit word dikwels verbind met emosies. Dan word geredeneer dat dit ‘n ontwikkeling is wat teen die oordrewe klem op die verstand in godsdiens gereageer het.

En in ‘n sekere sin is dit waar. Geloof raak nie net ons rede en insig nie, maar ook ons hart en gevoelens. Spiritualiteit gaan oor geleefde geloof, ervaarde geloof, geloof wat in die werklikheid staan en wortel skiet.

Die probleem is net dat ons emosies of gevoelens te dikwels verbind met ‘n soort bui. Dan sien ons spiritualiteit as iets wat my in ‘n goeie bui laat beland en dink ons dat ‘n slegte bui beteken dat ons minder geestelik of spiritueel is. My geloof, glo ons, maak my gelukkig, vrolik en opgewonde. Spiritualiteit word dan 'n soeke na self-vervulling en innerlike geluk.

En dit is ook seker waar: ons geloof bring inderdaad sy buitengewone bly oomblikke. Ons kan selfs ook van ekstatiese oomblikke praat, waar ons heeltemal in verrukking is omdat ons God se nabyheid ervaar.

Maar ons kan net so dikwels met ‘n groot rustigheid en sonder dat ons in ‘n goeie bui is, met innerlike blydskap “ervaar” dat God goed is en dat ons die goddelike geskenk van geloof ontvang. Dit kan selfs gebeur wanneer ons neutraal voel, ongelukkig is of selfs as ons diep depressief is.

Ons “weet” van God se goedheid, ons “besef” dit – al “voel” ons dit nie altyd nie. In tye van ons donker buie kan ons nog steeds God se teenwoordigheid “ervaar.” Ervaring beteken nie dat ons in ‘n goeie bui is nie. Ervaring beteken dat ons geloof vir ons ‘n werklikheid is. Daarom is spirtualiteit nie nodwendig ‘n toestand van “goeie emosies” nie.

Ons geloof plaas ons nie altyd in ‘n “goeie bui” nie. Trouens, wanneer ons lewens so wild skommel tussen ons buie, bedreig dit selfs ons geloof. Ons raak verward: hoekom is dit dat ek nog vanoggend so naby aan die Here “gevoel” het en nou is dit asof ‘n groot gaping my van God skei? Hoekom was my stiltetyd gisteraand so vol rustigheid, maar nou, vanaand, is my hart onrustig in my wanneer ek met God wil praat? Hoekom is alles dan nou vir my donker en net wanneer nog was my lewe so lig, so helder en so pragtig? Hoekom ervaar ek soveel wisselende emosies?

Geloof wil juis nie so kom en gaan nie. In geloof bly ons ervaring steeds dat God naby is. Niks skei ons van God nie – sekerlik nie ons buie nie.

Wat maak dan die verskil, wat help dat ek nie my geloof verwar met emosies en buie nie? Die antwoord is: alles hang af hoe jy daarna kyk: Met my buie is ek op myself gerig en op wat ek voel, kyk ek in myself vas. En omdat ons menslike gemoed hoogs onstabiel is, gebeur dit dan dat my geloofskippie dikwels in stormwaters ronddobber. Petrus het die geloofstorm gevoel: een oomblik het hy ekstaties kans gesien om op die waters te loop na die Here toe. Die volgende oomblik het hy hoogsbenoud in die donker waters van twyfel weggesak. En dit het hom nie minder van 'n dissipel gemaak nie. Of dit het nie veroorsaak dat Jesus hom uit sy vriendekring uitgegooi het nie.

Spiritualiteit gaan om geloof in God, om die oog op God te rig, weg van myself. Wie die oog gevestig hou op die Leidsman van die geloof.... Om op Jesus te fokus. Die navolging van Christus. Ek ervaar nou dat ek, ten spyte van my buie, tog rigting het, tog Iemand het om na op te sien. Dan word my lewe gelei deur Hom en nie deur my buierigheid rondgegooi nie.

Thomas a Kempis skryf iets hieroor in Navolging van Christus 3:34. En hy haal dan Matteus 6:21-23 aan: Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. 22 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. 23 Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! En hy vra: hou jou oog op die regte teiken. Maak seker op watter manier jy kyk. Moenie die teiken miskyk nie, dit kan jou uitlewer aan die donkerte en die storms.

Hier is die uitdaging: om ons buierigheid mis te kyk, in my donker depressie, weg te kyk van myself. In my troebel oomblikke, op te kyk na die Man van Smarte wat uit liefde die Leidsman tot die lewe geword het. Selfs in die blyste oomblikke te onthou dat Christus die Lig is, die Een na wie ek moet smag. En hoe kan ek anders as om elke keer weer te ervaar hoe die storms om my en in my hierdie groot Liefde nie kan verswelg nie. Soos Thomas vra: ons blik moet gerig wees op Christus, altyd, te midde van al ons buie en alles wat ons laat wankel en weifel.

Die geheim is om vanuit ‘n heel ander perspektief na ons lewe te kyk – nie na onsself nie, maar altyd die oog op Jesus, die lig, dit wat in my lewe ewigheidswaarde het, die mot en roes oorleef, die tydelike dinge oortref.

Wednesday, September 02, 2009

Verlangend om God te sien. Saggéüs in Lukas 19:1-10 vanuit 'n spiritualiteitshoek

EN Hy het in Jérigo gekom en daar deurgegaan. 2. En daar was ’n man met die naam van Saggéüs, ’n hoof van die tollenaars en ’n ryk man. 3 En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was. 4 En hy het vooruit gehardloop en in ’n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien, want Hy sou daarlangs verbygaan 5 En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly. 6 Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang. 7 En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by ’n sondige man tuisgegaan. 8 Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. 9 Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is. 10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.




Saggeus bly vir my een van die mooiste verhale in die Nuwe Testament en baie spesiaal in die Lukas Evangelie. Ek dink ‘n mens sou ‘n wonderlike reeks oor hom kan maak, As ‘n mens die vertelling vanuit die hoek van spiriutaliteit lees bied dit boeiende insigte. Hier twee daarvan:

1. Die God-mens verhouding:
Die verhaal is vir ons bekend: Jesus die rondreisende prediker op pad deur Jerigo vertel vir die kinders van Abraham, sy Joodse tydgenote, van God se nuwe planne met sy volk. Maar kyk veral watter nuwe Godsbeeld dra hy uit. Hy praat anders, ongewoond oor God. Sy God lyk ‘n bietjie anders as waaraan sy luisteraars gewoond is. Hulle netjies idee’s oor wie God is, sê Jesus, kop nie regtig met wie God is nie. Daar is iets dringends wat God dryf om die wêreld anders te maak. God “red”, “nou”, “vandag”, maak ‘n verskil, bring die buitestaanders in, die veragtes van die land. Hulle wat ‘n siniese, hol gelag onder die Jode veroorsaak het (“julle gemene, diefagtige tollenaars!”), hulle is “ook” ‘n seun van Abraham. Die gif is in die stert van hierdie verhaal!

En Jesus se fokus is verder op die herstel van die verhouding met God: Die Menseseun, Hy, die vleesgeworde, wat so naby aan ons gekom het, wat ons menslike bestaan van binne kom bewoon het, se hele bestaan was ingerig op hierdie redding, die verlossing, die vrymaking van die verlorenes, die veragtes, die wat uitgesluit is van die binnekring van die “egte Jode.” God se hart is uitverkoop aan die boodskap van insluiting, vernuwing, omhelsing. Dit is wat Hy kom doen...


Dit is mooi gedagtes. Ons hou daarvan, veral in ons tyd waar ons bewus raak van die grense wat ons maar al te dikwels so subtiel en minder subtiel neerlê om die ongewenstes uit te sluit en van ons weg te hou.

Maar deesdae sien ek nog ‘n verdere boeiende dimensie raak: hoe die mens smag na ‘n verhouding met God. Saggeus, wat alles kon kry wat sy hart begeer, wat alle mag besit het, wat niks en niemand in sy pad laat staan het nie, wat die armes verag en afgepers het sonder om die gevolge te vrees, soos hy self bely, het in sy hart ‘n leegheid. Iewers maak sy bestaan nie meer sin nie. Ons sien hom hier, ironies genoeg, rondskarrel agter Jesus aan. Hy wat die armes kan rondorder, hardloop ywerig agter die stil Jood, die eenvoudige man wat oral rondreis en preek sonder om ‘n pennie te besit of ‘n plek het om in te slaap nie.

Dink net hoe het sy dorpsgenote die petalje bekyk. Hulle sien hier met hul eie oog wat baie so mooi filosofies bedink: Die verlange na die dieper dinge maak mag betekenisloos en rykdom waardeloos. Hoe diep slaan ons begeerte na God in ons binne-hart in.

Hy het gehoor van Jesus, genoeg om hom besig te hou (lectio). Iewers het daar in sy hart ‘n biddende verlange begin ontbrand. Kyk Lukas se taal: Ek wil hom graag “sien,” het hy begin dink toe hy hoor Jesus is op pad deur sy dorp. En dan die sleutel: ek wil hom sien vir “wie Hy is.” Dit is nie maar net ‘n nuuskierige kyk na Jesus nie, maar ‘n blik op sy gelaat (τίς ἐστιν).Laat ek hom in die gesig kyk, laat ek sien wie dit is waaroor almal in verwondering praat, laat ek vir myself uitvind.

En hierdie verlange bly brand in hom: hy veg deur die samedrommende skare, maar sy portuur tel teen hom. Hy hol na ‘n boom, vertel Lukas weer, want hy wou Jesus “sien.” Hy het dit alles mooi bedink, die meditatio: hy het Jesus se roete uitgewerk, dat Jesus by die boom sou verbyloop. Hy soek na Jesus, reik uit na hom. Sy boomklim is sy gebed, sy oratio, sy klein, wankelrige, feilbare, sondaars-soeke na die gesig van die Here.

2. Die transformasie:
En dan is daar die groot oomblik waar God en mens se bestaan mekaar kruis: Hier volg die oomblik van herkenning: let op hoe word die verhoudinge dramaties weer eens omgekeer. Terwyl Saggeus na Jesus verlang het en hom wou sien, is dit Jesus wat gaan staan, na hom kyk en hóm sien. Die swetende, hygende Saggeus wat as grootmens boomklim agter Jesus aan, sien Jesus “stil” staan. Hy dog nog hy gaan Jesus bekyk, sy blik daal dwalende oor die gesig van Jesus. En dan volg die lewe-wekkende oomblik – Jesus sien hom. Terwyl hy nie eers droom dat Jesus hom sou merk nie, het Jesus al geweet hy sit daar. Die blik van Jesus is deurtastend. Jesus ken hom en noem hom by die naam.

In meditatio sou ‘n mens hier veel emosie kon ervaar. Malende skare, reisende Jesus, dan die plek, Jesus wat stilstaan op daardie “plek” onder die wildevyeboom, die krioelende skare wat saam het hom in die boom opkyk na die ryk man, die een wat so oor almal baasgespeel het, en wat nou in ‘n boom sit! Hulle stilte, want Jesus praat met daardie man. Maar geen spot, soos ander Hom sou bespot toe hy gekruisig was nie, maar ‘n roep op die gehate mishandelaar se naam. Ek het jou by die Naam geroep... kom in ‘n mens se gedagtes onvermydelik op.

En dan die oproep tot navolging: “klim dadelik af.” Kom, ek maak plek vir jou. Gou, Saggeus, gou, gou. Die goddelike hart is ongeduldig, die soeke na jou is groter, dringende, verlangender as jou soeke na my.

Met die mistieke woord wat dan volg: “ek moet vandag by jou tuisgaan.” Die contemplatio. Die aanskoue. Die lewe in die tuiste van God. Die omhelsing en soene van die verlore seun deur die hardlopende Vader. Die Vaderhart wat nie anders kan as om lief te hê nie. Gedrewe deur die liefde.

En die donker kant – die prys wat dit vra – is ook geskilder. Die kruis werp sy skadu dreigend, want die donker dryf die liefde uit. Daar is in Lukas se verhaal die duidelike ondertoon van Jesus wat met die sondaars meng en nie kan wag om God se seën met hulle te deel nie (Die Menseseun kom om te red; jy is ook ‘n seun van Abraham en dus God s’n).

En wat maar net te verwagte is, gebeur inderdaad: die mense mor en dreig dat Jesus so na sondaars uitreik. Terwyl Saggeus op soek is, agter hom aanhardloop, hom wil sien “wie Hy is”, wil die “heiliges en vromes” vir Jesus voorskryf en dreig. Die profiel van Saggeus kry sagter kleure met hierdie vergelyking. Die soekende teenoor die siedendes. Die velangende teenoor die verwytendes. En wie word getransformeer? Wie se houding teenoor Jesus, ten spyte van al die lewenslas wat hy dra, is uiteindelik die houding wat die deur vir die kloppende Jesus oopmaak? Wie se hart is aangenaam voor die lewende God?

Maar die diepste moment bly daardie “ek moet by jou tuisgaan...” “Ek kan nie anders nie”, sê die Here. “My goddelike hart dryf my uit na jou toe.” Saggeus wil Jesus sien om uit te vind: Wie is Hy? En die wonderlike dubbelsinnige antwoord is: “As jy my sien, sien jy eintlik die Een wat nie anders kan nie. Hy moet by jou wees.” Hier in die eenvoudige plek, onder die wildevyeboom, staan God oop-arms om by jou tuis te kom. Só is God se Vaderhart, gedrewe deur ontfermende liefde.

Nog so baie om te vertel van hierdie verhaal se boeiende slot... maar dan op ‘n ander keer.

Tuesday, September 01, 2009

Verfrissende oomblikke van helderheid

Soms sukkel ons lank om iets te verstaan. Ons kan die kloutjie nie lekker by die oor bring nie. Ons loop met ‘n onbehae in ons rond. Ons voel nie lekker nie, want daar is iets wat aan ons karring. “Ek het net so ‘n gevoel....” "Hoe moet ek dit dan nou verstaan..."

Dan, op ‘n dag, val dinge in mekaar. ‘n Oomblik van verheldering kom oor ons. Ons is verlig, ver-lig en veer-lig.

Maar hierdie verstaan is meer as nie om iets met jou brein te kan ontleed. As jy so verstaan, spoel daar gewoonlik ‘n wonderlike gevoel oor jou: “O, nou weet ek!” “Nou maak dinge vir my sin.” Dit is asof alles nuwe betekenis kry. Ons lewe voel weer lig. 'n Las het van ons skouers gegly.

Dit gee ons gewoonlik vreugde. Daardie deurbreek van iets wat lê en broei het in ons onderbewussyn tot ons bewussyn. Dit is dan dat iets in ons begin koers kry.

Dit is ‘n vreugde om hierdie oomblikke in jou lewe te kan hê.

Dit gebeur ook in ons verhouding met God. Iets in ons geestelike lewe pla en karring aan ons, tot ons op ‘n dag na ‘n gebed, na oomblikke van rustigheid, stilte, of deur ‘n gesprek met iemand wat omgee ‘n oomblik van verheldering ontvang. En as ons ‘n antwoord kry op ons onrustige verlange, is die vreugde oorweldigend. Ons raak weer vol lewe.

Maar daar is ook ander plekke waar 'n mens soms sukkel om iets te verstaan. En al is dit net maar 'n gewone ding wat ek nie begryp het nie, kom dit ook van God. Elke oomblik van verheldering is God se manier om ons die lewe te laat omhels. Dit roep ons op om dieper te verstaan, opnuut weer oomblikke van verheldering te soek, om die lig in ons lewens te begeer.

Blog Archive