Wednesday, December 23, 2009

Menslik en goddelik - oor die dieper betekenis van kersfees

Die kersverhaal, skryf Thielicke, is soos ‘n stuk bladmusiek wat uit twee note-balke bestaan: die boonste balk (vir die regterhand) en die onderste balk (vir die linkerhand).

Met kerstyd het ‘n mens al die aardse gebeure – geskryf op die een note-balk. Al hierdie note vertel van die menslikheid van Jesus se geboorte: sy geboorte van in ‘n dorpie in Israel, in ‘n stadjie wat vir Israeliete die plek was van hul Joodse koning Dawid. Maar hy word in ‘n stal in die wêreld gebring – in ‘n ongemerkte, doodgewone plek word Hy gebore. Hy is die seun van ‘n onbekende pa en ma, gewone burgers van die land. Daar is die toeskouers – die skaapwagters, gewone mense uit die veld, werkers uit die ongerekende dele van die samelewing.

En dan is daar die doodgewone reaksie op hierdie geboorte deur die omringende wêreld: Watter verskil maak hierdie geboorte-verhaal van ‘n kind wat iewers in ‘n dorpie die eerste lewenslig aanskou dan tog aan die wêreld wat argeloos met sy groot besigheid omgaan? Daar is eeder die harde werklikheid: die massa’s mense, skryf Thielicke, wat in die dorp vir die sensus saamdrom, die gebrek aan verblyf vir al die besoekers en die genadeloosheid teenoor hulle wat nie iewers ‘n oornagplek kan bekostig nie.

Hier gebeur maar een van die gewone dinge, net nog een van duisende geboortes.

Maar dit is nie die hele verhaal nie. Die ander kant van die melodie moet ook gehoor word, anders is die lied vals en onvoltooid. Daar is naamlik die ongewone, goddelike perspektief op hierdie gebeure: die engele, die stil nag, die geopende hemel, die vredeslied, die goeie nuus.

Albei hierdie note-balke saam gee vir ons die melodie van kersfees. En hierdie melodie sing vir ons oor God en oor die mens. Thielicke praat van God wat vanuit ‘n heel ander ruimte in ons menslike ruimte inbreek. Hier vloei die menslike en goddelike in een lewende stroom water saam wat vir ons aarde water sal gee om vir altyd die dors na die dieper dinge te les. En hoe diep loop die betekenis van die kerslied nie – God skep nie net die mens en die wêreld nie, maar tree meer intensief as ooit in ‘n verhouding met die mens. Kersfees is die tyd van die groot vernuwing. Nou woon God onder die mensdom soos nooit tevore nie. God kom nog nader as ooit tevore aan die skepping.

Matteus het dit op sy eie manier uitgedruk in die bekende woord: Immanuel. “God met ons” is die frase waarmee ons probeer verduidelik wat die vleeswording en die kerstyd beteken. Daar is ‘n onverbreekbare band wat tussen God en die mens geskep word. Hierdie intieme band kan miskien ongesiens aan die wêreld verbygaan. Maar vir die gelowige is die tekens duidelik: as God met ons kom leef, is die gevolge dadelik merkbaar. Die atmosfeer is elektries. Dinge is anders. Skielik lyk die toekoms vol hoop, al loop die wêreld origens nog op sy ou kontoere of al raak die owerhede onrustig en doodsgevaarlik. Dit is die eintlike melodie wat deur die boonste ry note uitgesing word, al lyk dit op die oog af of nie veel verander het nie.


En hierdie dubbele karakter van die kersboodskap bly by ons. Ons het nog ‘n lang pad om met hierdie vredesboodskap te loop, al het ons vir twee millennia al ver gevorder. Daar is onvrede in ons wêreld, en meer nog in ons lewens. Maar dit is ‘n pad wat ten spyte van sy baie kronkels, iewers heen lei. Ons is al veertig jaar in die woestyn, maar die beloofde land wag op ons. Ons vind wel op ons reis die oomblikke van vrede en rus, die oasisse wat ons verfris en nuwe moed gee.

Ons kan met kersfees allerhande vrae vra oor wat nou regtig daar in Bethlehem gebeur het. En as ons dit gedoen het, wil ons dikwels dan vra – “nou wat beteken dit vir my vandag?” Intussen gebeur dit jaar na jaar dat ons die kersboodskap lees en lank voordat ons enige vrae gevra het, geboei word daardeur. Deur net die verhaal te vertel, word iets aan ons verander. Ons sien die kindjie en ons voel: ja, hier ervaar ons iets so doodgewoons soos die lewe wat ons elke dag self beleef. En tog, wanneer ons die verhaal vertel, is dit elke keer asof ons iets diepers beleef. Daar is iets so spesiaals aan kersfees dat dit ons nader aan God bring. Ons wil wees by ‘n God wat vrede bring, wat ons in liefde omhels.

Dit bly tog oorweldigend – die kort tye dat ons net ‘n flits te ervare kry van die melodie van vrede, van God se teenwoordigheid. Hierdie mistieke oomblikke wanneer ons God se teenwoordigheid in ons lewe opmerk, die Immanuelsoomblikke, speel vir ons die toekomsmusiek. Hulle is proe-sels, voor-smake van die feesmaal wanneer ons in die teenwoordigheid van die oneindige sal wees. Ons is op pad na die toekoms wanneer God ons een sal maak met die Oneindige Volheid en Liefde.

Tuesday, December 22, 2009

Is godsdiens 'n stukkie kultuur?

In die Rapport van Sondag 20 Desember skryf Jaco Kirsten oor die kerk wat volgens hom nie kan verander ter wille van sy lidmate nie – lidmate wat aan die kerk behoort, moet dus eenvoudig aanvaar daar is sommige dinge wat van hulle verwag word en hulle moet hulle daarby neerlê.

So tussen-in hierdie opmerkings skryf hy dat hy nie meer kerklik aktief is nie. Hy is nie ‘n ateïs nie, só arrogant is hy nie. Hy beskryf homself as ‘n agnostikus wat nie sommer oornag godsdiens vaarwel toegeroep het nie. “Dit was ’n geleidelike proses waarin ek die gevolgtrekking gemaak het dat godsdiens ’n kulturele konstruksie is en afhang van waar jy gebore is. Só is daar, prakties gesproke, geen Christene in Saoedi-Arabië nie, min Sjinto-Boeddhiste in die Kalahari en ’n groot tekort aan Moslems in Antarktika. En omdat niemand kies waar hulle gebore word nie, het die hele spul nie meer sin gehad nie.” Hy skryf verder dat hy daarmee nie veroordelend wil wees nie. Hy is nie hatig op godsdiens nie. “Boonop is daar ’n yslike verskil tussen ’n fanatiese ateïs en ons agnostici wat nederig erken ons het meer vrae as antwoorde.”

Soms wonder ek of sulke artikels soos Kirsten s'n nie ‘n onvermydelike gevolg is van ‘n soort godsdiens wat die afgelope dekades in kerke gepropageer is ten koste van ‘n dieper verstaan van wie God is en wat die verhouding van God met die mens is. Ons het godsdiens verskraal tot ‘n burgerlikheid, tot ‘n sekere burgerlike moraal waarin die kerk “leerstellings” het wat sekere “reëls” vaslê: ‘n Christen is iemand wat ‘n ordentlike mens is wat sekere ordentlike gedragsreëls nakom. Op die manier is godsdiens niks anders as ‘n spieëlbeeld van ons maatskappy en sy waardes en norme nie. Kyk net hoe skryf Kirsten oor die kerk: “Dis tog ’n ondubbelsinnige feit dat, volgens die oorgrote meerderheid Christelike kerke se leerstellings, saambly teen die kerk se reëls is. Nes ’n aktiewe, homoseksuele leefstyl.” Die kerk is dus vir baie mense ‘n plek waar ‘n mens geleer word om ‘n spesifieke klomp lewensreëls na te volg. Een van die simptome van hierdie tipe godsdiens is dat die kerk ‘n “volkskerk”word – die kerk van ‘n sekere groep mense wat deel is van ‘n spesifieke kultuur en wat dikwels afwysend en negatief teenoor ander kulture is. Ons het hierdie verskynsel in die apartheidstyd gehad, maar ook in Nazi-Duitslang.

As ‘n mens teologie studeer, is dit egter een van die eerste insigte wat ‘n mens leer dat die kerk juis nie ‘n kultuurverskynsel is nie, maar in wesenlike opsigte kontra-kultureel is. Die kerk moet die kultuur waarin dit leef nie reflekteer nie, maar krities begelei. Die groot ellende in die kerkgeskiedenis het gekom waar hierdie boodskap nie helder en duidelik gehoor is nie. En dit is verskriklik dat ons vir lang tye in ons eie geskiedenis in die kerke nie duidelik die grens tussen die kerk en sy omringende kultuur gesien het nie. Die kerke was dikwels 'n spieelbeeld van die apartheidsamelewing.

Kirsten verduidelik in sy artikel dat hy agnostikus is omdat hy begin sien het hoe nou verbind die kerk se verkondiging met die kulturele kodes van die tyd is. En hierin is hy in ‘n sekere sin reg. Die kerk kan eintlik nooit sy boodskap aanbied in taal wat vir die mense in hul kultuur verstaanbaar is nie. Om oor God te praat, moet ‘n mens die taal van jou tyd gebruik.

Waarin hy egter ‘n groot, fundamentele fout maak, is dat godsdiens ‘n kulturele konstruk is. Dit is nie so dat ‘n mens wat in ‘n sekere kultuur gebore is, noodwendig ‘n sekere godsdiens sal hê nie soos hy skryf nie. Die opkoms van charismatiese kerke dwarsoor die wêreld – veral in die vroeëre Rooms-Katolieke Suid-Amerika en in Afrika bewys hoe sekere kulture oornag na ander godsdienste kan oorskakel. En die kerkgeskiedenis het baie meer ingrypende bewyse.

Dit is ook nie waar dat die groot godsdienste van die wêreld met ‘n spesifieke kultuur te doen het nie. Die Christendom het ver buite sy oorspronklike Naby-Oosterse kulturele konteks na ander kulture oorgespoel. Maar daar is ook baie godsdienskundiges wat beklemtoon dat daar in die wêreldgodsdienste, ongeag die kulturele kontekste, juis trans-kulturele kenmerke is wat wys dat godsdienste nie ‘n kulturele konstruk is nie. En in die Muslim-wereld sal 'n mens baie uiteenlopende kulture aantref.

Trouens, in alle godsdiente, ongeag die kultuur, is daar ‘n soeke na die diepste sin van die lewe, na die oorsprongsvraag, na die diepere dinge wat verborge is. En hierdie soek na God as die diepste sin van die lewe lewer sekere antwoorde op wat mense inspireer om ‘n verhouding met God te soek wat hul lewe radikaal omvorm en wat hulle inspireer om steeds weer in gehoorsaamheid aan God se wil te leef. Die drie groot wêreldgodsdienste – die Christendom, die Jodedom en die Muslims deel byvoorbeeld met mekaar die geloof aan God as skepper, terwyl hulle groot waarde heg aan God wat deur Abraham, Isak en Jakob ‘n verbondsvolk gevorm het en deur Moses ‘n goddelike wil bekend gemaak het en vryheid vir die mensdom gebring het. Uiteraard gaan dit in detail verskil van godsdiens tot godsdiens, maar steeds weer spoor godsdienste mense aan juis om verby hul kulturele waardes heen steeds weer te soek na dit wat hul lewe verryk en wat hul bestaan betekenisvol maak. Dit is net die oningeligte of die onoortuigbares wat hierdie diepere dimensies as “kultuurgebonde” sal interpreteer. Dit is by uitstek waar van die Nuwe Testament: van die mooiste dele van die Nuwe Testament wys op die feit dat die kerk mense uit verskillende kulture bymekaar bring in ‘n eenheid wat alle aardse grense en afkeure afbreek (Handelinge, Romeine en Efesiërs bevat ingrypende uitsprake hieroor).

Deur al die eeue heen was daar mense en predikante wat hierdie diepere vrae nie altyd goed kon beantwoord nie. En godsdiens kan, soos ons maar te goed uit die geskiedenis weet, gewelddadig, aaklig en mensontwaardig wees. Maar dit is onbillik om godsdiens uit te lewer aan foute van mense wat godsdiens bedryf. Dit is juis die kenmerk van godsdiens dat in tye van verwording en afvalligheid, hernuwingsbewegings die egter gesig van godsdiens herstel.

Die baie Christene wat tydens die xenofobiese aanvalle van ‘n tyd gelede in ons land skerp veroordeel het en daadwerklik ingespring het om die slagoffers by te staan, is maar een klein teken van hoe godsdienste ver verby kultuurgrense heen ‘n verskil kan maak. Terwyl groot groepe in ons samelewing teen buitelanders opgetrek het, hulle beroof, hulle besittings gesteel en hulle vermoor het, het godsdiens iewers hierdie proses gestuit.

Uit Kirsten se artikel kom ‘n belangrike vraag na vore: hoe kan die kerk oor God praat op ‘n manier wat verstaanbaar is vir mense in die kultuur waarin hulle hul bevind sonder dat die boodskap van die kerk verskraal word tot die kulturele taal, kodes en konvensies van die tyd. Uit die artikel kom die groot vraag na vore: wat is die dieper antwoorde omtrent God wat mense in alle tale en kulture ervaar? Hoekom gebeur dit dat ‘n mens in Japan saam met Christene kan aanbid, soos in Nederland en in Zimbabwe en iewers weet dat ‘n mens dwarsoor kulture heen een van hart en sin met mense in daardie plekke kan wees? Wat van Gamaliël? En Gandhi?

Die interessante is dat dit juis van die grootste vrae is wat in die mistiek gevra is.

Sunday, December 20, 2009

Kerstyd as fees van die egte liefde

Thielicke skryf in sy boek oor die Apostoliese Geloofsbelydenis (“Ich Glaube”) dat die kerstyd in teologiese taal abstrak uitgebeeld word met die uitdrukking dat God “mens” of “vlees” geword het. Hierdie “vleeswording” lyk op die oog af baie eenvoudig en byna niksseggend. Maar wanneer jy hierdie teologiese taal “vertaal” in wat gebeur wanneer God mens word, lyk dinge baie anders.

Thielicke vergelyk die vleeswording met die Griekse Gode wat vlugtelings aardse besoeke afgelê het. Maar anders as die gode, het God nie net ‘n ogie kom gooi wat op die aarde aangaan nie en mense reggesien nie.

God het mens geword deur te deel aan al ons angste, onsekerhede, versoekinge, swakhede en lyding.

Ek is geboei deur Thielicke se vergelyking van God se vleeswording met die huwelik: ons is almal op die dag van ons troue vol sterretjies in ons oë. Dit is ‘n romantiese tyd van die bruilof waarin ons ewige trou en liefde aan mekaar beloof. Maar hierdie romantiese oomblikke is die tye van maklike liefde. Egte liefde kom na vore wanneer ons in die moeilike tye vir mekaar lief bly, wanneer die slegte tye kom, wanneer die tye van mislukking en oneerlikheid ons oorval en ons bymekaar bly.

Christus se menswording was van die begin af ‘n verhouding waarin hy ons goeie en ons slegte oomblikke gedeel het. Christus het die eenvoudigste plek uitgekies om gebore te word – ‘n stal. As kind vlug hy na Egipte met sy ouers. Christus het deel gekry aan ons aanvegtinge in die woestyn en in Getsemane – hy het geworstel om die wil van die Vader te begryp en uit te leef. In hierdie moeilike tye het Hy getrou gebly. Enduit het hy die pad van liefde geloop. God kies nie net die maklike, goeie bruilofstye uit om by ons uit te kom en by ons te bly nie.

Wanneer ‘n mens iemand werklik lief het, is daardie persoon se pyn jou pyn. In ‘n intieme verhouding kies ‘n mens nie net die lekker tye uit om by jou maat te bly nie. Jy wil daar wees as dinge skeef loop – hoe swaar dit ook al vir jou is. Jy wil nie beter daaraan toe wees as jou maat wanneer sy of hy seer het, treur, ly, ongelukkig is of swaar kry nie. Trouens, jy wil dikwels eerder dat die slegte tye eerder oor jou kom as oor jou maat.

Ons vrolike kerstyd is inderdaad ‘n vrolike tyd omdat dit vir ons oor God se durende, onuitputlike liefde vertel. God knoop met ons ‘n verhouding aan waarin God volledig wil deel in alles wat ons ervaar – ook die minder goeie tye. En God neem ons lyding oor. Ter wille van ons wou Hy deurboor word.

Kerstyd is die fees van die liefde wat in hierdie gebroke wêreld kom woon – in die goeie en in die slegte tye. Dit is die fees van die egte liefde. Dit is tog die merkwaardige – dat God verlang om by ons te wees en dat God nie wil hê dat dit met ons slegter gaan as met God nie.

Saturday, December 19, 2009

Wanneer kliënte nie meer mense is nie... Oor spiritualiteit en die sake-wêreld

Die kersvakansie is al vroeg in ons familie beplan – die kinders het almal reeds in Maart hulle vliegkaartjies gekoop en al hulle reëlings vir hul lankverwagte vakansie by die huis in die kerstyd is getref.

Ons gaan almal die kerstyd bymekaar wees. Ons is dankbaar en bly. Dit is die tyd vir bymekaar wees. Dit is ons goue tye.

En so kom die eerste twee aan –elkeen met ‘n eie verhaal oor ‘n jaar wat verby is, oor hulle laaste reëlings, met tasse vol aankopies, volgepak van kersgeskenke, terwyl hulle veel te vertel het oor die uittog en optog na die lughawe en uiteindelik die vlug na die verre land totdat hulle veilig land en oor ‘n koppie tee die eerste kuier kuier.

Toe kom Joekie, die laaste een, aan die beurt. Sy vlieg British Airways, maar in een van daardie totaal bisarre situasies moet sy van Frankfurt met ‘n British Airways vlug oor Heathrow na Kaapstad vlieg. Haar kaartjie is goedkoper van Frankfurt, hoewel dit presies dieselfde vlug is waarvoor sy ‘n paar honderd pond moet betaal as sy net in Heathrow op die lughawe klim. Dit is werklik bisarre. Die enigste nadeel van die goedkoop vlug is dat sy van Heathrow na Frankfurt moet vlieg – maar selfs met die ekstra vlug spaar sy nog ‘n reuse bedrag geld. Sy vlieg dus Heathrow – Frankfurt – Frankfurt - Heathrow – Heathrow - Kaapstad. Bisarre. So spaar ‘n mens deesdae geld. Dit is kapitalisme.

Om veilig te speel, kry sy die oggend om 7h20 uit Heathrow ‘n vlug Frankfurt toe, wat haar genoeg tyd gee om vroeg-middag terug te vlieg Heathrow toe vir die nagvlug Kaapstad toe. En toe, omdat sy so vroeg vlieg, gaan slaap sy veiligheidshalwe die vorige aand in ‘n hotel op Heathrow.

Alles goed gereël en fyn beplan, maande voor die tyd. Ons is almal gerusgestel.

Maar toe sneeu dit die oggend en word haar vlug na Frankfurt gekanselleer. Dit is net ‘n snuffie sneeu, maar genoeg om Heathrow net daar lam te lê. Om een of ander rede het British Airways net nie die vermoë om die bietjie sneeu te hanteer nie.

Sy word later wel op ‘n later vlug geplaas. Sy kom tog veilig in Frankfurt aan. Daar geland, hoor sy haar vlug terug Heathrow toe is met twee uur vertraag – wat sou beteken dat sy nie haar vlug na Kaapstad vanaf Heathrow gaan maak nie. En op Frankfurt se groot lughawe in nêrens ‘n enkele siel van British Airways te sien om die passasiers in te lig oor wat aangaan en by te staan met moontlike alternatiewe vlugte nie. Uiteindelik kom sy op Heathrow ses minute aan nadat haar vlug Kaapstad toe vertrek het.

Op Heathrow, waar die meeste vlugte na Europa gekanselleer is, is dit chaos. Onbeskryflik. Om een of ander rede is die groot lugdiens, British Airways, nie in staat om genoeg nood-personeel bymekaar te bring om die situasie te hanteer nie. Niemand kan hulle met gesag inlig oor hotelreëlings nie.

Later, in al die chaos, word hulle so bietjie gehelp. Hulle slaap die aand in ‘n hotel wat vir hulle gereël word. Sy kry ‘n nommer in die hand gestop wat sy moet bel vir ‘n vlug om haar gekanselleerde vlug te vervang. Teen een uur die oggend bel sy nog rond om haar sake te reël. Sy kry van die noodnommer (wat haar met iemand in die VSA verbind) ‘n vlug Kaapstad toe – vier dae later.

Net so, sommer sonder seremonie, word vier kosbare dae van haar veertien dae se verlof van haar afgeneem. Niemand knip ‘n oog nie. Dit is hoe dinge is en so sal dit wees.

Teen dagbreek is sy weer op die lughawe – hierdie keer om haar tas te kry. En die personeel ruk net hulle skouers op. Haar tas is weg. Uiteindelik spoor sy self die tas in die reuse-bagasiesaal tussen duisende ander op en val toe weer in ‘n tou om haar verdere vlugreëlings te verander. En, nadat hulle sewe uur (ja, sewe!) in ‘n tou staan, kom sy by iemand uit wat vir haar môre ‘n vlug reël. Een dag vroeër. Sy hoef dus net drie dae van haar verlof op te offer.

Tuis, moeg en gedaan van die spanning en onsekerheid en na ‘n menigte telefoonoproepe tussen ons almal, sit ons en praat oor die totale ongeërgdheid van een van die grootste lugdienste in die wêreld oor die persoonlike situasie van honderde mense wat deur ‘n lagie sneeu uitmekaar geruk word.

Joekie bel weer om te vertel watter chaos op die lughawe heers. En, vertel sy, die verhale wat daar vertel word, is tragies. Haar storie is nie naasteby die ergste nie. Ja, sê Elsje, dit is onvoorstelbaar. Onthou, vertel sy, daar is, soos gebeur het, ‘n bruidegom wat twee dae voordat hy trou, huis toe vlieg. Hy kom op die lughawe aan en hoor sy vlug is gekanselleer.

Ek dink oor die etiek in ons sake-wêreld. In ‘n konteks waar winste nommer een is, geldmaak jou hoogste prioriteit is, is die prys wat mense betaal te hoog. Die nood van iemand wat moet huis toe gaan, die frustrasie van iemand wat maande lank versigtig beplan het, die moegheid van iemand wat na ‘n jaar se taai gewroeg en gewerk ‘n blaastydjie oor die kerstyd saam met familie wil deurbring is nie ‘n faktor nie. Jy kan sommer net so drie dae van iemand se vakansie steel. Sonder konsekwensies. En sonder om ‘n nag se slaap te verloor oor iemand anders se frustrasie, nood, trane en ellende nie.

Deesdae is daar regulasies in plek wat lugdienste dwing om passasiers te vergoed. (Lyk my, die bietjie etiek in ons sisteem is maar “van bo” af op ons afgeforseer). Maar, sê een van die personeel aan haar, sy moet nou maar van haar assuransie eis. Die lugdiens kan nie help as dit sneeu nie. En net om die draai sê ‘n ander een vir haar maar sy kan ‘n sekere bedrag wel van die lugdiens eis. Hoe nou gemaak? Wie is reg? En hoe vind sy uit wat reg is – nadat sy twee volle dae lank van bakboord na stuurboord gejaag is? En dit terwyl sy eintlik in Kaapstad by haar familie moes gewees het? En wat van al die mense wat nie haar inisiatief aan die dag kan lê nie? Mense wat nie, soos sy, internet-bedrewe is en dikwels antwoorde kan uitsnuffel op plekke en maniere waarvan ander niks weet nie?

Terwyl ek hieroor nadink, dink ek terug aan ‘n voorval twee weke terug: Ek sit en gesels in Windhoek by ‘n gesinsvriend. Sy bestuur ‘n groot sentrum waarvan die voorsitter skielik aan ‘n hart-aanval gesterf het. Sy is kennelik diep ontsteld. Sy het dadelik die weduwee besoek en ook gereël dat die sentrum ‘n meelewings-advertensie in die koerant plaas. Maar, vertel sy, hulle het gereël dat die advertensie eers geplaas sal word nadat die familie se aankondiging in die koerant verskyn het.

Ek sit nog lank en dink oor hierdie sensitiewe gebaar van haar kant af. Haar begrip vir die seerkry van die familie en haar respek vir hulle gevoelens.

Spiritualiteit onderstreep dat ons lewens te doen het met verhoudings. Waar God ‘n mens aanraak end opneem in ‘n verhouding, maak dit ‘n mens sensitief vir God, maar ook vir ander. Ook in die besigheidswêreld gaan dit om verhoudings waarin die menslikheid van die ander nommer een moet wees. Per slot van sake is jou passasiers mense, nie ‘n paar geld-note nie.

Daar is iets baie sieks aan ‘n sisteem wat wins sy hoogste oogmerk maak.

Ek dink nuut oor die Wyse Een wat oor die kameel en die oog van die naald gepraat het. Die sug na rykdom vernietig menslikheid. Dit bevorder gierigheid, ongevoeligheid en bring groot hartseer in ons wêreld.

As sake-mense maar net kan insien dat ons steeds in verhoudinge leef en dat ons ook in die sake-wêreld altyd weer op een of ander vlak met mense werk.

As die besigheidswêreld maar maande lank wil beplan aan maniere om die menslikheid van hulle kliënte te respekteer soos baie van ons maande lank aan ons kosbare tye beplan....

Friday, December 18, 2009

Egte vreugde - oor konformiteit aan Christus

Alistair McGrath in sy “The Unknown God” (p.47) vertel ‘n verhaal van Anthony de Mello oor ‘n monnik wat ‘n kosbare edelsteen ontdek en bewaar het. Een dag sien ‘n besoeker die duur steen in sy sak toe die monnik van sy kos met hom deel en vra die monnik om dit vir hom te gee. Die monnik het dit net daar vir hom gegee. Die besoeker is hoogs in sy skik – want hy het geweet die steen sal hom baie ryk maak sodat hy vir die res van sy lewe sonder sorge sou kon leef.

Maar ‘n paar dae later is die besoeker terug by die monnik. Hy gee die steen terug en vra vir die monnik: “Gee my eerder iets wat baie kosbaarders is as hierdie steen. Deel met my dit wat jou in staat gestel het om hierdie steen sommer vir my te gee.”

Die verhaal het my nie net beïndruk oor die vrygewigheid van die monnik nie. Wat my boei is die manier waarop die verhaal ‘n mens verras met die uitdaging om oor geluk na te dink. Ek hou van die karakter-uitbeelding – van daardie "ryke" wat nagedink het, gemymer het, gemediteer het oor dit wat hom oorgekom het. En dit is ‘n heerlike verrassing om te lees van sy dieper vraag na waarom die monnik so argeloos met sy rykdom omgegaan het. Wat my deur die verhaal egter verder boei is die verskynsel wat ‘n mens kry by baie mense wat roem verwerf het en wat baie geld besit: roem en geld kan nie vir jou gelukkig maak nie. Ons het hierdie diepe soeke na die dieper dinge wat ook in armoede en eenvoud na ons kom. Om monnik te wees, in ‘n sel te woon, hande-werk te doen, net die basiese elke dag te eet en te besit kan ‘n mens baie ryker maak as die meeste luukshede. Daar is niks so leeg soos al die uiterlikheide waarna ons met mag en mening jaag nie. Eenvoud en armoede is dikwels die kortste pad na ‘n verhouding met God.

Trouens, daar is iets obseens aan oormatige luuksheid. Oordaad, weet ons van die vroegste tye, is ‘n swaar straf wat ons oor onsself haal. Ek huiwer om te dink aan alles waarna ons streef wat ons dink ons tevrede sal maak.

Die Wyse onder Wyses het vir ons geleer – dit is saliger, dit bring meer vreugde om te gee as om te ontvang.

Ons sal dit net ervaar as ons dit toepas. In hierdie Kerstyd sal eenvoud en liefdevolle vrede ons harte laat oorloop....Wie uit die geloof lewe, sal dink die storie van die monnik is lafferig, oordoen en sentimenteel. Maar wie uit die geloof leef en waag - soos dit pas by die geloof, sal dalk grootliks verras word oor die groot waarheid dat ‘n mens nie ‘n sagte kussing nodig het om God se liefde te ervaar nie. Dat ‘n mens juis in die bitter lydensweg tog iewers kan uitroep dat dit volbring is, dat die taak afgehandel is en dat ‘n mens uiteindelik jouself in groot vrede in God se hande kan oorgee.

Die Menseseun wat nie 'n plek gehad het om sy hoof neer te l ê nie, het ons hierin voorgegaan – as model en inspirasie. In ons nadenke oor die Kerstyd, kan ons in konformiteit aan Christus, opnuut weer ons vrede in die eenvoud van die menswording, die eenvoud van die kindjie in die krib ontdek. Want hoe eenvoudiger kan dit – hierdie goddelike Kind wat in heerlikheid bestaan het en dit prysgegee het om by ons te wees. – as model en inspirasie.

Thursday, December 17, 2009

Die vreugde van verandering: Konformiteit aan Christus.

Een van die groot motiewe in Spiritualiteit is "transformasie." Wanneer God ‘n mens aanraak, kan jy nooit dieselfde bly nie. Jou lewe word omgekeer en alles verander voortdurend. Spiritualiteit is daarom 'n voortgaande proses waarin 'n mens gedurig weer dieper en wyer verander word.

In die vorige blog het ons gesien dat transformasie beteken dat ‘n mens deur God getransformeer word wanneer 'n mens in die skepping uit niks gevorm word. Maar transformasie is ook dat ‘n mens uit jou misvormdheid, jou teensin aan 'n verhouding met God hervorm word in Christus. Dan word 'n mens se hele bestaan in beslag geneem na 'n diepe verlange om nader en ander aan God te wees en te leef. Maar transformasie kan nog mooier wees - ons sal eendag uiteindelik getransformeer word tot heerlikheid.

Maar dit is die “hervorming” of transformasie in die hede wat my op ‘n besondere manier interesseer. Want “hervorming” of “transformasie” kan ‘n baie oop woord wees wat baie dinge vir baie mense beteken, of wat net nog ‘n modewoord is vir een of ander nuwe gier. Dit kan byvoorbeeld 'n woord wees waarmee ons allerhande vroom gevoelens beskryf wat ons goed laat voel, maar wat nie regtig veel verskil aan ons lewens maak nie.

Transformasie beteken dat daar iets gebeur wat 'n radikale verskil aan ons lewens maak. En in Christelike Spiritualiteit word hierdie radikale "verskil" op baie manier vir ons uitgespel.

Om te transformeer kan iets heel ryks en verrykend in 'n mens se lewe tot stand bring. Dit kan beteken dat ons goddelike vreugde en geluk vind.

Op ‘n heel eenvoudige vlak beteken ons hervorming dat ons ‘n nuwe “vorm” ontvang wanneer ons in geloof lewe. Ons word nou na die beeld of vorm van God herskep – soos wat God dit in die skepping gedoen en bedoel het. Op die manier ontstaan daar weer, na die verbreking van ons intieme nabyheid aan God, ‘n intieme eenheid tussen God en ons. Op ‘n mistieke manier word ons so verbind aan God dat ons al hoe meer lyk na God. Ons word geheilig om so heilig soos God te wees (wees heilig want Ek is heilig...; 1 Pet.1:16; Lev.11:44).

Maar, en dit is nou die beslissende punt in Christelike spiritualiteit, ons word getransformeer op 'n goddelike manier deur gelykvormig aan Christus te word. Daarmee het ons by ‘n sleutelmotief in Christelike spiritualiteit uitgekom wat ons ken as “Konformiteit aan Christus” of Gelykvormigheid aan Christus.

Ons model vir transformasie is Christus. Wat ons doen, dink of begeer moet lyk op wat Christus gedoen, gedink en begeer het. Ons kry hierdie fokus byvoorbeeld in Thomas a Kempis se Navolging van Christus en in alle mistieke tekste wat ‘n Christologiese karakter het.

Paulus skryf heel eenvoudig hieroor in Galasiërs 4:19 wanneer hy opmerk dat Christus in ons gestalte (vorm) kry. Seker die mooiste teksgedeelte wat hierdie nuutheid van die geloof in Christus uitwerk is 2 Korintiërs 5:17-21. Iemand wat glo, is in Christus ‘n nuwe mens. Vir hom of haar het die ou dinge verbygegaan – hy of sy het ‘n nuwe bestaansvorm ontvang en deur heiligmaking moet ‘n mens in hierdie nuwe bestaanswyse verder ingroei.

Ons weet - ons weet te goed, watter vreugde dit is om die ou, verknegtende en sieldodende dinge af te skud. Ons weet wat dit beteken om nuwe dinge te kan beleef. Dit bring opwinding, afwagting, onsekerheid, maar tog vreugde.

Hoe word ons dus verander? Dit is nie ‘n oppervlakkigheid wat te doen het met vae goeie gevoelens nie. Ons hele lewe moet nuut word deurdat ons die lewe van Christus toeëien en ons deel maak. Ons moet dink soos Jesus, doen soos Jesus en begeer soos Jesus. Die model wat God in Hom vir ons gegee het, moet ons najaag en in ons eie lewe implementeer.

Hoe radikaal dit is, leer ons byvoorbeeld uit die tuin van Getsemane waar Jesus sy eie wil opgee en die wil van God soek. Die beker wat hy drink, is ‘n bitter beker. Maar dit is wat God wil wat uiteindelik vir Hom alles die moeite werd gemaak het.

Om te transformeer beteken dus dat ons omvorm word sodat ons lewe konform aan Christus. Uiteindelik beteken ons geloof dat Christus in ons lewe gestalte kry. Dit is ‘n wonderlik aantreklike idee – dat God vir ons ‘n “model” geskep het. God hou vir ons voor wat vir God belangrik is en wat ons lewe mooi maak. Ons hoef nie daaroor te twyfel nie. En die Evangeliste en Bybelskrywers onderstreep dit herhaaldelik: as ons sin wil vind, as ons lewe enigsins betekenis het, moet dit in Christus gevind word. Egte vreugde, diepe vervulling, volmaakte liefde kry ons wanneer ons die dinge van Christus bedink, wanneer ons lewe gevorm word aan die hand van die lewe van Christus.

Daarom is, byvoorbeeld, vrede so ‘n belangrike begrip in Spiritualiteit en in ons geloof. In die kerstyd, die tyd van vrede, hoor ons hoe die engele die verdesboodskap met Jesus se lewe verbind. Van sy geboorte af is Hy die vredeskind, die prins van vrede. Dit is ons model: om die vrede wat Hy gebring het, ons eie te maak. En die vrede is nie buite ons werk, gesin, vermaak of besigheid te vind nie.

Wanneer ons glo, dring die vrede van Christus oral in – ook in ons werk, gesin, vermaak of besigheid. Kerstyd, die tyd van God se vredeslig vir die wêreld herinner ons aan wat konformiteit aan Christus verder beteken. Om Christus se gestalte in ‘n mens se lewe te ontvang, beteken om ‘n lewe van innerlike en uiterlike vrede te lei. Dit beteken dat ons ons veroordelende kritiek, ons woede, ons onvergewensgesindheid, ons bakleierigheid, ons onvrede maar moet los. Ons moet die ou dinge maar agterlaat en dit ontgroei - hoe moeilik dit soms mag lyk. Ons weet dit eintlik, omdat ons hart vir ons diep in ons binneste vertel dat ons vry sal wees as ons eerder die nuwe dinge ons eie maak. Soos Christus alles wat kosbaar was in sy hemelse heerlikheid en vrede prysgegee het, so sal hulle in wie Hy gestalte vind, ook bereid wees om te laat gaan, om hul eie belang prys te gee, sodat ons kan liefhê en God se vrede kan uitleef.

Dit is nogal ‘n ding om konform aan Christus te leef. Dit is wel ‘n Kruispad, 'n prysgawe van die self, maar dit is die enigste pad na volmaakte vrede. Die prys wat ons behaal maak dit alles die moeite werd.

Wednesday, December 16, 2009

Die ritueel van die liefdesreis. Oor ‘n spiritualiteit van kersfees.

Ons ontmoet die kinders op die lughawe. Vier oorsese vlugte het almal gelyk geland en die passasiers stroom in hordes die aankomssaal binne. Terwyl ‘n mens andersins heelwat toeriste sien waarvan baie deur wagtende mans met plakkate ontmoet word, is dit hierdie keer, besef ek, veral families wat aankom. Hulle is meestal ‘n klomp jongerige ma’s en pa’s, meestal met opgeskote kinders, hand aan hand, wat ‘n pa, ma, oupa of ouma om die hals val en opgewonde die blye herontmoeting vier.

Dit is duidelik kerstyd, besef ek. Somer-kersfees. Simbool van ‘n eie plek, eie huis op die ver, afgeleë kontinent. Ons is dus beslis nie die enigste wat die kinders vir die somer-vakansie tuis kry nie. Vanoor die wêreld kom kinders en hul lote “huis toe” om die seisoen van bly wees, van omgee met mekaar te kan geniet. En daarmee word die ou tradisie voortgesit - die jarelange viering van ‘n Somerkersfees saam, by die strand, in die koel blou see met sy woelige wit branders, met die familie, die ooms, tante’s, ouma’, oupa’s, neefs, niggies, broers, susters, die honde en die katte en almal wat iewers in die familie sy of haar eie plekkie het. Dit is die tyd om lomerig in die son te braai, onder sambrele ‘n koeligheid te drink, poeletjies in die strand te graaf. Skemer-aand saam om die vuur vir die baie-praat, die (tweede) opvang van die jaar se nuus, herinnering oor dinge van lank terug te deel, om losserig-wordende bande te verstewig. Dit is die tyd van Ouma se vrugtekoek en karringmelk-beskuit en koffiekoekies. Dit is die tyd van saam-wees.

En, dink ek, terwyl ek die jong terugkerende gesinne met die vonk in hul oë, wyd-oop van afwagtende blydskap, so staan en bekyk, kan ‘n mens by al die vreugde en opwinding oor die tuiskoms, nie die ondertoon van voorlopigheid en selfs treurigheid mis nie. Die vreugde is so deurwinterd, so eg en so deeglik omdat die vae gemis, die knaende verlange en miskiens selfs die ontbering maar altyd daar is en op een of ander manier aan ons bestaan bly peusel. Die uitbundige vreugde hier op die lughawe is omring deur ‘n oop spasie: ingeskryf in hierdie spasie is weke of maande se weg-wees, lang tye se broeiende verlange na die son, die lui dae, na die gedeelde verdriet en vreugde, na ‘n geborge verlede, na ‘n geskiedenis vol ryke ervaringe. En diep in ons harte, weggesteek onder ons vrolikheid, weet ons terwyl ons die kosbare dae proe-proe saam deurbring, ons vul eintlik maar net die spens met kosbaarhede vir die skaarser tye, vorentoe.

Wat my laat dink aan ‘n gedig van Cussons:

Reëls vir ’n laatwintermiddag

Huis, geliefde huis wat stewig staan,
wind wat die roosranke van die mure afslaan,
lewend wind met die skuins-son skyn -
wind, glans, huis, as ek ver is hiervandaan
waai só, blink só, bly stewig staan.

Dit is sulke mooi mense wat vanoggend hier vol energie en ingetoë afwagting die aankomssaal instap. Duidelik mense vir wie “huis” nog saak maak. Hulle het duisende kilometers na die verre land afgelê. En dit is so mooi – hierdie ontmoetinge: die bejaarde pa, bietjie wankelrig van die ouderdom, se innige groet van die seun – die hand wat hom omarm en teen die bors druk en 'n klop op die skouer gee. Die dankbare, liefdevolle blik van die grys moeder-ma as sy plooi-wang teen sagte baba-boud wang van die kleinkind, die woelige kleinkind naby haar hou en wil hou en wil hou. Die groetslag, die stil, net-vir-‘n-gestolde-oomblik se kyk van herkenning, die opsom van mekaar se voorkoms, die opgaan in mekaar deur die ontmoetende blik, die oomblik se diep gedagtes wat loswoel in die omhelsing en in honderde flits-gedagtes ‘n mens oorval as jy, onbewus van die groot klomp toeskouers, jare en jare se saamwees, grootword, verweefde lewens, na die maande-lange skeiding weer bly kan voortsit en vier. Dis die gelaat tot gelaat van Levinas. Die Ander wat die lewe is.







Dit is nie nou met hierdie uitbundigheid en uit-die-vel-uit-wees-tyd die oomblik vir nadink oor die afskeid oor twee weke nie. Ons besweer die ondertoon van die donker en skaarser tye so maklik hier aan die vars begin van die kerstyd, hier op die lughawe met sy blyheid en vrolikheid – die Kaap is so lui, so somers, so vol son, net soos ons harte en ons saamwees. Alles is daar om ons blydskap volkome te maak.

Saam stap ons die lughawe-gebou uit, die somerdag binne, vol praat, vol mooi-goed. Dankbaar.

Hoe sal ons ooit kan peil wat ons herontmoetinge, ons kosbare oomblikke van kort-saamwees in ons lewens inbrand?

Sê ek vir klein sussie wat kinderlik-opgewonde skoon uit hul vel uit saam met haar boetie-broer (wat nie kan ophou om hom funny te hou nie) vir almal loop en soene en drukke uitdeel: “Ek is so bly om jou weer te sien – ek het jou so gemis. Kom gee vir my weer nog ‘n lekker ou drukkie.” Woorde wat ek dink by die een oor ingaan en by die ander een uit. En ek gee haar ‘n drukkie. Wat hoor so ‘n tweejarige kind dan deur hierdie woorde heen? Wat weet sy van om iemand te “mis”? Hoe verstaan sy dit?

En tog, sy weet. Want instemmend, vrygewig, patroniserend teenoor die verlange van die oupa-woorde, deel sy mildelik haar baba-drukkies uit.

Later sê sy vir haar ma sy is bly om by oupa te kuier: “Oupa is my vriend – hy het my gemis.”

Kyk net dan – hierdie hermeneutiek. Sy het my woorde gehoor, dit omraam deur haar rype kinder-insig en daaraan diepe betekenis geheg: as iemand jou mis beteken dit hy of sy is lief vir jou. Dit is ‘n vriendskap van liefde. Ek dink onwillekeurig aan Johannes-Evangelie met sy deurlopende vriendskapsmotief waarmee Jesus die innige verhouding tussen hom en sy dissipels uitgedruk het. “Ek noem julle my vriende....” Goddelike band van vriendskap (Johannes 15:13-15).









Hoe kyk óns tog patroniserend en daarom geringskattend na die kleinstes en geringstes onder ons. Hulle wat skaars nog kan praat, wat nog nie van beter weet nie, wie se wankelende voetjies nog skaars op die lewenspad geloop het, hulle, dink ons, moet nog leer verstaan. En hoe sê ons baie keer dinge sonder om self te besef hoeveel skuil daar in ons woorde, watter dieptestrukture ons daarmee aanraak.

Maar hulle, die Ander, die geringes, die weerloses, weet te goed. En hulle sal onthou, al is dit later miskien net vaagweg. Die oomblikke sal dalk selfs verbygaan, maar die liefde, die vriendskap sal bly.

Om op die vliegtuig te klim, vol opwinding oor die huis toe gaan, is meer as net die vervulling van ‘n verlange na die bekende, na die ou-ou tye, die plekke van goeie herinneringe. Dit is ook ‘n ritueel waarin ons weer die liefde herontdek, ervaar en vier. Dit is iewers soos ‘n sakrament – ‘n handeling wat heiligend werk, wat ons herinneringe, ons lewens vul en sin gee.

En, kom die dag dat ons nie meer huis toe sal gaan nie, wanneer ons nie weer sal afklim en bly-bly in die aankomsaal in die hande van ons geliefdes omarm sal word nie, sal die ritueel van baie jare ons te hulp snel, ons gedagtes vul, ons ryk laat voel. Want in ons ritueel vier ons die liefde wat nooit ophou nie en wat ons sal bly omring – nou al, maar ook vir altyd. Die liefde vergaan nimmermeer nie... Die diepste troos is dat ons eendag ten volle tot hierdie liefde getransformeer sal wees en direk in hierdie liefde sal woon en bly – sonder skadu-kante, sonder donker oomblikke, sonder die vaal tye van verlange en gemis. Ons is op pad na die huis van liefde, die huis met baie wonings. Selfs al brom die donker van afskeid, tydelikheid en verganklikheid om ons, kan die onaf valsheid daarvan die helder klanke van hierdie dieper wete nie verdoof nie. Ons is geseënd, ons leef in God se liefde.

Tuesday, December 15, 2009

God maak die nuwe en maak nuut. Oor Spiritualiteit as God se transformerende verhouding met die mens.

Ons sê dikwels in ons gesprekke waar ons oor iemand praat, dat ons “van” die persoon weet, maar hom of haar nie regtig “ken” nie. Daarmee onderstreep ons ‘n belangrike verskil – ons kan allerhande feite omtrent iemand weet, maar dit beteken nog glad nie dat ons ‘n verhouding met daardie persoon het nie.

Terselfdertyd weet ons ook dat ons iemand in ‘n ander lig sien as ons ‘n bepaalde verhouding met die persoon het. Ons praat anders oor iemand wat ons ken as oor iemand wat familie is, of ‘n vriend, ‘n kollega, ‘n spanmaat of kamermaat.

In die vorige blog het geloof as ‘n verhouding van vertroue in God eerder as ‘n kennis van sekere waarhede of feite na vore gekom. Ons het ook gesien dat ons die Bybel as gelowiges lees. Ons wil nie soseer ons kennis van God vermeerder nie, maar baie meer nog ons verhouding met God verryk.

Spiritualiteit beklemtoon dat God en mens in ‘n verhouding met mekaar leef. ‘n Mens kan alles van God weet sonder om in ‘n verhouding met God te leef. Wanneer ons ‘n verhouding met iemand het, doen daardie verhouding iets aan ons. In Spiritualiteit word hierdie aspek uitgedruk deur die woord “transformasie.”

Ons beskryf spiritualiteit as die verhouding van God wat die mens omvorm of transformeer. Ons kan onmiddellik aan ten minste drie verskillende “transformasies” dink wat ons ontdek as ons die Bybel lees:

1. Op die mees basiese vlak weet ons dat ons geloofsverhouding met God beteken dat ons ons misvormde lewe agter ons laat – God “hervorm” ons en maak ons nuut. Ons word deur God “herskep.” Die mooiste teksvers wat dit uitdruk is 2 Kor.5:17 waar gelowiges beskryf word as ‘n nuwe skepping waarvoor die ou dinge verbygegaan het. Ons verbind hierdie herskepping met lewe en werk van Christus en met ons geloof in Christus.

2. Maar as ons van “herskepping” as ons transformasie tot die nuwe lewe praat, dink ons onmiddellik aan die begin van alle dinge: toe ons geskape is, het God ons uit niks geskep om in God se paradys te woon. Waaijman verwys na Psalm 139:13-16 as ‘n voorbeeld van ‘n baie ou lied wat beskryf hoe God ons bedink het, tot stand gebring het en bestem het tot diens van God. Hy noem dit “transformasie in skepping.” Van die begin af, dus, reeds met die skepping het God met ons in ons moederskoot ‘n verhouding aangeknoop en ons getransformeer tot skepping. Dit is nie net die skepping van die wêreld en die mensdom nie, maar ook ons indivduele geboorte. Ons verhouding met God val nie sommer uit die lug nie. Vanaf die begin, selfs voordat ons dit besef het, knoop God met ons ‘n verhouding aan.

3. Ons weet ook dat die Bybel praat van die groot, finale transformasie wat ons na hierdie lewe sal beleef. Dit, in die woorde van Waaijman, is ‘n transformasie in heerlikheid. Om ‘n verhouding met God te hê beteken dat God ons saamneem op pad na die groot einde, wanneer die voorlopigheid van ons bestaan tot niet sal gaan en ons in heerlikheid by God sal wees. ‘n Verhouding met God gaan nie tot niet nie en bly end-uit voortbestaan.

Hierdie is maar enkele van die groot gedagtes oor die verhouding van God met die mens wat alles aanraak en nuut maak. Elkeen van hierdie drie aspekte kan ‘n mens in meer detail ontleed om verdere aspekte van transformasie uit te wys. God se verhouding met die mensdom werk op baie vlakke transformatief. Dit is ‘n ryk verhouding wat baie fasette van ons lewe raak. Meer volg.

Spiritualiteit praat nie bloot net oor kennis van God of oor Goddelike waarhede nie. Spiritualiteit gaan oor 'n verhouding wat 'n mens met God het en wat jou hele lewe gedurigdeur en op baie vlakke ingrypend bepaal.

Monday, December 14, 2009

ons biddende verhouding tot God. Oor oratio.

Die Bybel is die boek van die Heilige Gees, sê ons. Dit is ‘n “geïnspireerde” boek. En, n.a.v. 2 Timoteus 3:16 wat praat oor die hele Skrif wat deur God “ingegee is,” praat ons van die Bybel as ‘n versameling boeke wat deurtrek is met die asem van die Heilige Gees (theopneustos) en wat nuwe lewe in ons adem en blaas.

Dit beteken dat ons die Bybel as geïnspireerde boeke van die Gees lees sodat dit ons ook kan “inspireer.” Ons praat ook van die “geestelike” lees van die Bybel. Om die bedoeling van die Heilige Gees met die Bybelboeke te bepaal, gebruik ons die baie ou model van die lectio divina (lectio, meditatio, oratio, contemplatio). Elkeen van hierdie dimensies bevorder die “geestelike” lees van die Bybel.

Ons besef dat selfs al die blote “lees” van die teks belangrik is. Ons tel die Bybel op – stil, met aandag, met eerbied vir die een wat met ons in ‘n Bybelboek praat en ook terwyl ons ons oopstel vir die skoonheid van die boek: ons staan verbaas voor die onuitputlikheid van die Bybelboodskap, die nuwe gedagtes wat dit telkens by ons wakker maak, die skoonheid van die digterlike gedeeltes, die boeiende eenvoud van sy verhale, die tydloosheid van sy karakters en die trefkrag wat die boeke nog steeds vandag het.

Ons “lees” die verhale, maar dan “bedink” ons hulle in meditatio. Ons pluis hulle mening versigtig uit. In meditatio leer ons werklik die teks baie goed ken deur ‘n versigtige lees daarvan.

Maar, en dit is dan ook die belangrike punt in hierdie skrywe, as ons gelees en gedink het, gebeur dit op ‘n stadium dat die teks ons so raak dat ons ook daarop reageer. En as ons terugkyk op ons lewe, sien ons hoe die Bybel oor jare heen soveel verskillende reaksies by ons wakker gemaak het. Ons staan verbaas, verwonderd, oorweldig, in ontsag, vol lof, met vreugde en lofprysend voor God. Ons treur, gee ons oor of ontbloot ons mees intieme gedagtes aan God. Ons vra om hulp, beskerming en uitkoms.

As ons al hierdie baie reaksies op die Bybel bymekaar bring, ontdek ons ‘n bepaalde patroon daarin. Waaijman skryf dat daar uiteindelik vier kernvorme van ons gebed of oratiwiteit is. Die veelgeskakeerde aard van ons verhouding met God blyk uit die volgende vier aspekte:

1. Heel eerstens het ons gebede te doen met ‘n bepaalde uitreik na God. Ons nader tot God omdat ons na God verlang. Die lees van die Bybel bring ons tot ‘n punt dat ons besef ons kan nie maar net voortgaan om te leef soos ons leef nie. Ons voel ‘n innerlike onvrede met wie ons is. Dan soek ons God op en gee onsself in vertroue oor aan God. God ontvang ons, omhels ons en maak ons God se eiendom. Ons “nader” dus tot God “in die gebed” – soos ons dit so dikwels sê. Uiteindelik brings ons toenadering tot God groot vreugde in ons lewens. Op die manier bring on lees van die Bybel ons om na God uit te reik. Ons gebed is ‘n soeke na God wat ons met diepe blydskap vul. Dan is ons smeegebede ook vreugdegebede.
2. Ons gebede is verder nou ‘n oopstelling vir God se werke in ons lewens. Ons laat voorts toe dat God deel word van ons bestaan. Dit doen ons deur God aan te spreek met goddelike name. Ons is deur hierdie benoeming van God, die uitspreek van God se name, liggaamlik betrokke in ons gebed. Verder word God in ons innerlike toegelaat wanneer ons sintuie ingestel is op God se teenwoordigheid. Deur ons lewe van toewyding word God verder deel van ons lewe. Maar God moet nog verder deel word van ons bestaan deurdat ons aan God gelykvormig word.
3. Maar ons gebede wil ook vir God sover bring om tot ons te nader. Soos in enige verhouding is ons reaksie tot God om God te bring om op ‘n sekere manier teenoor ons op te tree. Ons vra sekere dinge van God. Ons wil God se innerlike só deur ons gebed aanraak, dat God tot aksie kom. Ons bring God tot aksie wanneer ons ons rou en verdriet met God deel. Of ons herinner God aan die goddelike beloftes wat aan ons gegee is. Of ons wil dat God oor ons ontfermend sal wees en dan doen ons ‘n beroep op God se emosies. Of somtyds kan ons in ons gebed net op God wag – dan doen ons niks nie, maar is ons ingestel op God se koms. Ons probeer God nie te beïnvloed om iets vir ons te doen nie.
4. ‘n Vierde vorm van oratio is om openlik van God te getuig. In ons gebede getuig ons dan openlik van God se teenwoordigheid en optrede. Ons gee erkening aan wat God in ons lewens doen. Of ons getuig van ‘n geloofsheld in wie se lewe God se teenwoordigheid raakgesien kan word. Ons wys dan uit wat God alles in ons lewe doen. Somtyds lig ons vertel God se mag en majesteit uit en bid dat dit tot ons heil gebruik sal word. Dan weer kan ons in ons gebede getuig hoedat God se dade die sentrum van ons lewens is. Uiteindlik, skryf Waaijman, kan ons gebede God se teenwoordigheid uitstraal. Wanneer ons as volk van God bid, kan dit so kragtig word dat die gemeenskap uitstraal hoe God die middelpunt van hul lewe en bestaan uitmaak.

Ons lees die Bybel en ons sien hoe mense van alle tye op baie verskillende maniere gereageer het op God se aanraking. En wanneer ons dit lees, gebeur daar ook iets met onsself. ‘n Mens lees maar nie net die Bybel om oor allerhande feite ingelig te word nie. Ons lees die Bybel omdat ons saam met gelowiges van alle tye opgeneem word in ‘n verhouding met God wat op baie verskillende en uiteenlopende maniere ons lewens raak. Dit is merkwaardig hoeveel gebede deur die Bybel uitgelok word. Ons het ‘n ryke, veelgeskakeerde verhouding met God wat ons op baie maniere raak en verander.

Wanneer ons só die Bybel lees, lees ons dit anders as wat tradisioneel gebeur. Mense lees dikwels die Bybel om “meer te leer” oor God. Hulle wil “kennis” van God opdoen en vermeerder. Maar wanneer ‘n mens die Bybel lees in ‘n geestelike sin, gaan dit om baie meer as kennis van God. ‘n Mens “dink” nie net na oor God nie, maar jou denke, jou meditatio is ingestel op ‘n biddende verhouding met God. ‘n Mens lees die Bybel om te groei in jou verhouding met God.

Ons verarm ons geloofslewe deur ons Bybellees af te skaal tot ‘n “verstaan” van die Bybel. Ons tel die Bybel op om dit te lees, omdat ons God vertrou en lief het. Dit was die gesindheid waarmee die Bybelskrywers die Bybel gelees het. Hulle het vanuit ‘n vertrouensverhouding tot God hul boeke geskryf en is tot ‘n magdom van ervaringe deur die Bybeltekste gebring.

Thursday, December 10, 2009

Die daaglikse gevit en gesleur....

Ek wil my daaglikse sleur graag voor u kom neersit, o Here - die lang ure en dae volgeprop met alles en nog wat en met niks van U nie. Kyk na hierdie daaglikse gesleur, my liefdevolle, vriendelike God, U wat genadig is vir mense vir wie 'n daaglikse gesleur al is wat ons het. Kyk na my siel, wat eintlik niks anders is as 'n straat waarop die aarde se begasie-wa vol oneindige onbenullighede verbyjaag, met sy geskinder en gevittery, met sy geraas en sy lee pretensies.

Dit is 'n gebed van Karl Rahner!

Wednesday, December 09, 2009

Wat is vreugde?

Voordat ‘n mens die baie kante van vreugde bekyk en bedink, is dit sekerlik belangrik om te vra “wat is vreugde?”

Ons sien dikwels vreugde as ‘n emosie. Wanneer ons dit nie “voel” nie, lyk ons lewe vir ons vaal. Ons word maklik moedeloos en wanhopig.

Natuurlik is vreugde ook ‘n gevoel. Maar vreugde is baie meer as ‘n gevoel. ‘n Mens kan in angstige tye, in moeilike oomblikke, in wanhoop nog vreugde ervaar. Vreugde loop baie dieper as daardie salige gevoel van opwinding en vrolikheid wat ons soms so goed kan laat voel. Vreugde beteken allermins dat ‘n mens die heel dag met ‘n glimlag op jou gesig rondloop.

Dit is die volwasse, ryp en ryk gemoedstoestand wat ‘n mens ervaar te midde van lewenstorme – soos Paulus in die gevangenis om middernag toe hy in boeie vasgekerker sy liedere gesing het.

Vreugde is die gevoel van krag, van energie, van vertroue, van die vaste wete wat ‘n mens het dat jou lewe in God se hand is.

Ek onthou hoe ek by die muurbalbaan in Pretoria gesit en luister het hoe ‘n jong man in sy twintigs vertel het dat hy die naweek afry Kaap toe. Hy het dit nog nooit in sy lewe gedoen nie, het hy vertel. En hy weet nie of hy ooit weer die kans kry om die Kaap te sien nie. Hy het altyd van sy ouers, wat daar groot geword het, net lofsange oor die Kaap gehoor. Sy gespreksgenoot het verstom geluister wat hy alles in daardie paar dae wou inpas.

Veel later het iemand my vertel dat daardie jongman toe pas gehoor het dat hy terminaal siek is en net ‘n paar maande oor het om te leef. Hy het in die laaste paar weke van sy lewe, vertel hulle my, met ‘n lewensvreugde die mooiste dinge in die lewe opgesoek.

As ‘n mens innerlike vreugde het, jou rus in God gevind het, kom lewensvreugde as ‘n diepe energie in jou lewe los. Dan sal selfs die laaste vyand niks kan wegneem van die gebrokenheid van die lewe nie. Vreugde word nie deur eksterne dinge bepaal nie. Dit is die lewenservaring van mense wat volwasse in die geloof is en in diepe harmonie met God leef.

Tuesday, December 08, 2009

Kry 'n mens verskillende soorte spiritualiteit?

In sommige kontekste praat mense oor verskillende “soorte” of tipe spiritualiteite. Dit lyk asof hulle met so ‘n genuanseerde benadering wil ruimte skep vir verskillende “geloofsbelewinge” in ‘n gemeente. Daar is meer “tradisionele” groep, sê hulle, wat graag ‘n tradisionele liturgie en veral ‘n “preek” wil hoor. Dan is daar, dink hulle verder, groepe wat meer bevindelik is. Hulle hou van simbole, musiek, kerse, rustige ambience, gedigte, wierook en ander meer sensories-gerigte elemente en aspekte. Of daar word ook gepraat van die vuriger, moderner, jonger benadering waar ‘n orkes en vrolike, opgewekte musiek ‘n belangrike plek inneem.

Ek wonder soms hoe suksesvol só ‘n benadering op die lang duur gaan wees. Daar is tye in my lewe dat ek byvoorbeeld ‘n baie “aktiewe” spiritualiteit het. In sulke tye is ek sensitief vir die “deurwerking” van my verhouding tot God in die gewone, alledaagse lewe. Dit gaan dan eintlik om die geloofspraktyk (of praxis). Dit is dit tye dat ‘n mens bewus is van die lot van mense op die rand van die samelewling – armes, politieke slagoffers van vreemdelinge-haat, alkoholiste, mishandelde vroue, vigs-wesies of terminaal siek mense.

Ander kere weer kom daar dikwels tye dat ek meer nadenkend en reflekterend (“meditatief”) met my verhouding tot God besig is. Dan is ek weetgierig. Ek wil die pad loop van mistici van die verlede om uit hul ervaring te leer hoe geloof lyk. Dit is die tye dat ek telkens verras is om te sien hoeveel nuwe dinge daar in die Bybel te vind is. Dit is die tye van nadenke, van refleksie, van “meditering” soos dit in geestelike hermeneutiek bekend is. Dit is dan wat ek wil stil wees, weg van die geraas van die geloofspraksis, besig, soos Maria, met die “dinge van God.” Terwyl ek daaroor dink, besef ek hoe dit in die tyd van my oupa, die sendeling-predikant, die tye van die “kategese-prediking” was. Die dominee’s het nie baie daarvan gehou nie. Hulle moes ‘n sekere getal preke lewer en tydens ringsbesoeke is opgecheck of hulle die voorskrifte nagekom het. Tydens sulke preke moet hulle uit die geloofsbelydenisse van die kerk preek, altyd met die bedoeling dat geloofsinhoude tot hul reg in die geestelike lewe van die kerk moet kom. Dit was die tye van meditasie wat ons vandag op nuwe maniere wil behou, deur oor teologiese temas en geloofsinhoude na te dink. Deesdae kom hierdie meditatiewe element ook na vore in die intense belangstelling wat lidmate in Bybelstudie het. Onlangs toe op ‘n Sondagoggend tydens ‘n kerkdiens met die gemeente moes praat oor Bybelse Spiritualiteit het dit my opgeval hoe geïnteresseerd hulle was om moeilike inhoude te leer. Hulle verlang om hul geloof inhoudelik te begryp.

Deesdae merk ek veral op hoedat ek baie meer aangetrokke is tot ‘n kontemplatiewe spiritualiteit waarin ek ‘n behoefte het om in God se teenwoordigheid vrede te vind. Genoeg van nadenke, refleksie, meditasie, herkou, verstaan. Dan word dit tyd vir bid, om dit wat ‘n mens van God se kant gehoor het in jou hart op te neem en met God daaroor te praat. Die oratiewe element kom op ‘n nuwe manier na my. Ek wil soms in stilte vir God sê: hier is ek, Here. My hart praat sonder woorde. My gevoelens is vol. Ek reik uit na U. Stilte is vir my belangrik, maar ek wil ook ervaar dat my geloof in my lewe transformatief werk deurdat dit uitroep en uitreik na God.

Maar ek weet ook nou dat daar ‘n verdere soort spiritualiteit in my lewe begin werk het. Daar is al hoe meer die tye dat ek ingestel is daarop om gereed te wees vir God se werking in my lewe. Die verlange om by God te wees, weet jy in hierdie oomblikke, slaan skielik om wanneer God jou seën met diepe, innerlike seëninge en bewussyn van ‘n goddelike werking in jou lewe. Dit is die tye wat die pottebakkershande aan jou vorm, wanneer jy voel hoe jy vooroordele prysgee, wanneer jy begin insien dat jy sekere dinge moet prysgee, wanneer God jou bring om moeilike keuses te maak. Dit is daardie tye dat jy besef jy is in die Verborgene. Dit is egte kontemplasie – die wees by God.

Hoewel dit 'n nuwe fase in my lewe is waarin ek in onlangse jare ingegroei het, kan ek egter nooit die ander fases van my lewe "afskud" nie. Hulle is 'n vaste deel van my lewe waarsonder ek nie wil wees nie. Trouens spiritualiteit het vir my juis geleer dat 'n mens nie jou verhouding met God moet reduseer nie. Ek is nie regtig net een van hierdie dinge nie. Soms is ek die gevoelsmens wat sin het in die estetiese en die mooie. Ander kere weer is ek die brein-mens wat wil weet en wat vra vra. En soms wil ek alleen wees, stil wees. Dit is fases in my lewe. Dan weer word ek die praktiese mens wat 'n verskil wil maak.

Vir my is my lewe dus gelaai met verskillende dimensies van spirirtualiteit wat bymekaar hoort eerder as wat ek altyd veral vir een aspek daarvan kies. En ek het ‘n vermoede mense is nogal dikwels (indien nie altyd nie) so – dit is nie altyd maklik om mense in ‘n “tipe” in te pas nie. Ek wonder selfs of die indeling van mense in spiritualiteitstipes nie kontra-produktief is nie. Ons stereotipeer mense en plaas hulle in hokkies, ‘n ronde bol in ‘n vierkantige boksie. En daarmee “verdoem” ons hulle tot ‘n afgewaterde geloofservaring. Dikwels is mense ‘n “tipe” omdat hulle nie van ander opsies weet nie of nie blootgestel is aan ander moontlikhede nie. As hulle eers buite hul gemaksone beweeg of ingelig word, kan hulle nogal dinamies verander. Spiritualiteit gaan om prosesmatige transformasie. Juis deur blootgestel te word aan nuwe vorme van geloofsbelewing kan geestelike groei gestimuleer word. Daarom vind ek dit jammer dat “tradisionaliste” so maklik ‘n eie plekkie weg van die “eksperimenteles” gegee word. Hulle het mekaar nodig. Dikwels is die probleem nie dat daar soveel verskillende vorme van spiritualiteit bestaan nie. Dit is egter wel ‘n probleem “hoe” ‘n mens jou geloofservaring beoordeel. Spiritualiteit sal altyd uitgaan van diversiteit – dat mense elkeen op hul eie manier hul geloof beleef. Maar Paulus se beeld van die kop en die oë en die ore en die hart en die voete en die arms verondertel steeds dat almal een liggaam moet wees en in tandem moet saamgroei.

My vermoede is dat ons nie net die “tradisionaliste” in die gemeente moet “vermaan” of beter, begelei tot nuwe dinge of ten minste tot begrip vir die nuwe dinge nie, maar dat ons ook die “reformiste” moet laat besef dat sekere geloofstradisies vir hulle dalk nie meer sin maak nie, maar vir ander weer lewensbelangrik kan wees - miskien selfs vir hulleself ook. Dit is dus ‘n oor en weer bedagsaamheid en sensitiwiteit wat pas by die kerk.

Hoe spreek 'n mens dan die verskillende behoeftes van mense in een gemeente aan? Ek dink dit moet op 'n baie basiese vlak aangespreek word deur mense te leer hoe verrykend verskeie geloofservaringe kan wees. Hiervoor moet 'n mens weer leer dat die ander mens nie 'n bedreiging is nie, maar dat wat ander mense oor God se, hoe vreemd ook al soms, dalk vir 'n mens tot nuwe lewe kan lei. Paulus wat die Christene so tot die dood gejag het, moes uitvind dat sy godsdiens eintlik in sy aartsvyande se geloofservaring sy diepste sin gevind het. En toe hy dit eers ontdek het, het hy 'n bron van genesing geword - op 'n verstommende manier. Die tradisionalis het reformis en radikaal geword. Die wyse Gamaliel se woorde is nie verniet in Handelinge opgeteken nie. Laat dit oor jou pad kom - as dit nie van God is nie, sal dit in elk geval tot niet gaan...

Monday, December 07, 2009

Om vreugde te deel

Gedeelde vreugde, sê ons, is dubbele vreugde. Dit beteken dat vreugde eintlik saam met ander gevier wil word.

Dit sien ‘n mens veral in ‘n godsdienstige konteks. Die eerste gemeente was ‘n groep mense wat “met diep ontsag” gevul was (Hd.2:43) – veral oor die bediening van die apostels. ‘n Mens sou, in ou taal, dit kon weergee as dat hulle in vrees voor God geleef het. Maar hierdie vrees het niks met angs te doen gehad nie. Want, lees ons, as eensgesinde groep mense het hulle ook hulle “kos met blydskap gedeel” en – as laaste klimaktiese kenmerk “God geprys.” In hul eenvoudige maaltye (Hd.2:46) was vreugde teenwoordig. Maar in hul dieper, geestelike lewe en in hul verhouding met God was hulle bly, lofprysende mense (Hd.2:47).

Dit is opvallend hoe die mees fundamentele aspekte van die kerklike lewe ingerig is op oomblikke en ervaring van vreugde:

Liedere en musiek is byvoorbeeld 'n wesenlik deel van die erediens. Dit is ‘n natuurlike manier om ‘n mens se blydskap uit te druk. Musiek, veral musiek wat ‘n mens innerlike vreugde gee, kan ‘n erediens ‘n besondere ervaring maak. Ons sing “lekker,” en die sang in die kerk was “pragtig” is die soort van kommentaar wat mense se plesier en vreugde in die erediens uitdruk. Gepaste woorde, bekende melodieë, entoesiastiese begeleiding en ‘n gemeente wat voluit meedoen werk aansteeklik sodat min mense onaangeraak bly. Die vreugde werk aansteeklik. Gedeelde blydskap is inspirerend en transformatief. Daar is min dinge soos musiek om ‘n groep mense saam te bind. Iemand wat lank uit die kerk weg was en wat na ‘n tyd weer ‘n diens bywoon, word deur ‘n eerste reël al meegesleur.

Maar ook die prediking - as verkondiging van die blye nuus - is op vreugde gerig.

Nou onlangs sit ek in ‘n erediens waar die prediker skielik stil raak. Hy is normaalweg ‘n vrolike mens wat sonder opgesmuktheid altyd pitkos met sy gemeente deel. Hy vertel skielik hoe hy die vorige week een van die ouer gemeentelede by sy sterfbed begelei het en toe begrawe het. Hy is nie sentimenteel of soetsappig daaroor nie. Sy woorde word stadig gekies – sonder hoogdrawendheid, sonder om die week se gebeure erg dramaties oor te vertel. Maar in die eenvoud van wat hy sê kan ‘n mens agterkom hy praat meer as gewoonlik uit sy hart uit. En op ‘n sekere stadium praat hy al hoe stadiger totdat hy vir ‘n oomblik stil word. Dit is asof hy nie woorde kry om verder te gaan nie en dit is asof hy versigtig wil wees sodat hy van hierdie gesprek met sy gemeente nie ‘n melodrama wil maak nie. Maar ‘n mens kan ook aanvoel sy emosies sit vlak. Hy moet mooi praat om rustig te kan kommunikeer.

En toe vertel hy dat hy in die week van afskeid, skielik op ‘n stadium bewus geraak het van al die goedheid wat die gemeente met mekaar deel en hoeveel vreugde daardeur in mense se lewens ingedra word. Selfs in tye van seer- en swaarkry is die beste in mense se lewens op te merk. En ‘n mens kan sien dit het hom geraak dat hy in die tyd van hartseer kon terugval op al die blydskap wat hy van so baie kante ervaar het. Gedempte vreugde. Gelouterde blydskap. Vreugde, maar selfs die herinnering aan vreugdevolle tye kan ons deur swaar tye orent hou en dra.

Dis moeilik om oor sulke dinge te praat sonder om aansitterig te wees. ‘n Gemeente kyk gou oppervlakkigheid uit. Vreugde kan nie aangesit word nie. Vreugde kan ook nie opkom uit ‘n hart wat kil geword het, wat sonder hoop leef, wat self nie heel is nie. Wee die prediker wat angstig is, wat depressie het, wat innerlik woes en leeg leef. Daardie leegheid straal deur en kan nie deur gemaakte blydskap verberg word nie.

Gedeelde vreugde is intense vreugde. Ons is aanmekaar verbind deur al die blye tye wat ons deel. Altyd is vreugde ‘n grondtoon van ons geestelike lewe. As ons dit nie het nie, is dit nodig om weer God op te wag – want in ons verbintenis met God word vreugde gebore.

Sunday, December 06, 2009

Om God te smaak en te sien. Wat is die mistiek?

Daar is nie juis enige twyfel wie die groot mistici uit ons geskiedenis is nie. ‘n Mens dink sommer dadelik aan ‘n paar van die bekende figure. Daar is Hildegard van Bingen en Bernard van Clairvaux uit die elfde eeu, , Meister Ekchart uit die dertiende eeu, Jan van Ruusbroec en Juliana van Norwich in die veertiende eeu, Ignatius van Loyola uit die sestiende eeu en vele ander tot op vandag. Hierdie skrywers word almal as sleutelfigure in die geskiedenis van die mistiek gesien. Hulle is bekend omdat hulle oor hulle mistieke ervaring geskryf het. En deur die geskiedenis is hulle werke deur duisende lesers gelees omdat mense in die boeke hul eie mistieke ervaringe herken het. ‘n Mens is nie net ‘n mistikus as jy oor jou mistieke lewe skryf nie. Trouens, die groot mistici is hulle wat in volkome prysgawe van hulself eenvoudige vervulling gevind het in hul verhouding met God. Hulle het doelbewus nie daaroor geskryf nie. Soms omdat hulle nie kon nie. Andersins omdat hulle nie wou nie. Of hulle het eenvoudig soveel vervulling in God gevind dat die res eenvoudig nie belangrik was nie.

Dit is interessant dat die bekende skrywers “mistici” genoem word. ‘n Mens lees ‘n mistikus se boek en jy weet sommer dadelik hier gaan dit om die mistiek. En tog, al ken ons die mistieke tekse, is ons gedurig aan die uitpluis wat die mistiek nou werklik is. Die woord “mistiek” kan op versikillende maniere verstaan word.

Wat mistiek is, word soms op ‘n heel eenvoudige manier in die Bybel self verduidelik. Die geleerde kenner van die Joodse en Christelike mistiek, Scholem (in sy beroemde werk, “Die jüdische Mystik,” pp.6-7) , wat van die belangrikste moderne werke oor die mistiek geskryf het, dink dat ‘n mens mistieke insigte kan saamvat deur by Psalm 34:9 te begin.

Die Nuwe Afrikaanse Vertaling het ‘n taamlike flou weergawe van die Hebreeuse teks: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” Geloofservaring, dus – hierdie “ondervind” van God se goedheid. ‘n Mens dink onmiddellik aan spiritualiteit as geleefde geloof. Die Ou Afrikaanse vertaling gee die Hebreeus baie beter en poëties-letterlik weer: “Smaak en sien dat die Here goed is.” Smaak (!) en sien (!) die goddelike goedheid.

Die vers vertel dus vir ons dat gGelowiges op ‘n besondere intieme manier die direkte en onmiddellike teenwoordigheid van God ervaar – so naby, so volmaak deel van ‘n mens se lewe dat ‘n mens saam met die Psalmis die Here se goedheid “smaak en sien.”

Iewers lyk dit amper na ‘n teenspraak – dat ‘n mens die goddelike goedheid kan smaak en sien. Die mistiek wil juis eintlik die onmoontlike doen. Aan die een kant gaan die mistiek oor die ondenkbare – dat ons God se teenwoordigheid ervaar. Hierdie oorrompelende gebeurtenis moet nou oorvertel word in menslike woorde. Hoe kan God wat die begin en oorsaak van alle dinge is, wat die mens en die skepping tot stand gebring het, wat ver bo ons begrip is, wat in mensewoorde nie vasgevang kan word nie, deur die mens ervaar word? Dit is ondenkbaar en onvoorstelbaar. Ons staan voor die verborgene, die geheimenis, dit wat alles van ons ontsnap, wat ons nie kan vasvat en peil nie. En op een of ander manier skiet ‘n vonk, nuwe lewe oor van God na ons. Ons staan voor die diepe verborgenheid, maar ons word terselfdertyd daardeur aangetrek en geroer.

En dan volg die verdere kwessie: hoe kan ‘n mens hierdie unieke, onvoorstelbare ervaring nog boonop in menslike woorde vaslê? Hoe vertel ‘n mens wanneer jy God se onpeilbare aanraking ervaar het?

Die mistici worstel dus met die “onwerklikheid” of die “bo-werklikheid” van die mistieke ervaring. Hulle ervaar vir God wat buite ons klein, beperkte werklikheid bestaan. Maar mistieke skrywers het ook ‘n intense worsteling om hierdie unieke mistieke ervaring in menslike woorde uit te druk. Hier het ons te doen met die konflik tussen mistieke “denke” (ons menslike gedagtes en woorde) en mistieke ervaring (ons geloofsbelewing). Reeds op ‘n heel gewone vlak worstel ‘n mens daarmee: hoe vertel ‘n mens aan ander wanneer God jou aangeraak het? Waar vind jy die woorde wat goed goed genoeg kan sê hoe ‘n mens God se teenwoordighed beleef het?

Ek hou van Scholem se opmerkings oor hierdie verborge ervaring. Hy wil beklemtoon dat mense ‘n godsdienstige ervaring of belewenis het wat uniek is. Dit is ‘n ervaring wat alles omkeer en verander. Die mens word losgemaak van hom- of haarself (soms ook “ekstase” genoem). Dit is ‘n oneindige verrukking, die innerlike van die mens word tot die hoogste vlak opgetel (“den endlichen Aufschwung der Seele zur höchsten Stufe). ‘n Mens moet net vir Kierkegaard en Pascal se mistieke belewenisse te lees om te besef waarmee ons in die mistiek te doen het. Ons is voorwaar op heilige grond.

Scholem merk op dat skrywers dikwels van mistiek praat as “die vereniging met God.” Maar daar is weer heelwat skrywers oor die mistiek wat nie van hierdie beskrywing hou nie – veral nie omdat dit lyk asof so ‘n beskrywing die grense tussen God en mens uitwis en uiteindelik die mens vergoddellik. Dan sou dit beteken dat die mens sy eie afsonderlikheid prysgee en heeltemal in God opgaan. Die gedagte dat die mens vergoddellik word is nogal gewild in ons tyd met sy groot belangstelling in die panteïsme en daarom iets om op bedag te wees.

Dit beteken nou nie dat hierdie beskrywing nutteloos is nie. Mistiek as die vereniging van die siel met God is wel deeglik ‘n treffende beskrywing: dit gaan immers om God wat op ‘n intieme manier met die mens ‘n verhouding aanknoop – God wil juis een word met die mens. Daarom is die huwelik met sy eenwordingsimboliek ‘n gewilde tema in mistieke skrywers en Hooglied ‘n geliefde teks.

Maar hierdie beskrywing is baie wyd. Daar is nie eintlik so iets soos ‘n “belewenis van eenwording met God” in godsdiens nie. Die beskrywing is ‘n baie algemene formulering wat ons wil help om breedweg iets algemeens omtrent mistieke tekste te weet wanneer ons hulle begin lees. Elke mistikus sal op sy of haar manier hierdie intieme verhouding nader uitwerk. Ons het nie so iets soos “eenwording met God” in die algemeen nie. Daar is net werklike mistieke skrywers wat in hulle tyd met die taal wat tot hulle beskikking was gepraat het oor hul geloofsbelewing. Mistiek het dus altyd ‘n spesifieke karakter en konteks. ‘n Mens sal dus altyd moet vra hoe Jode, Boeddhiste, Moslems, Anglikane, Lutherane, Calviniste, wysheidsreraars, rabbi’s, Gereformeerdes, leke, kloosterlinge, woestyn-monnikke en baie ander groepe gepraat het oor hulle mistieke ervaring van God. ‘n Mens kan dit met musiek vergelyk waarin gaan dit om ‘n oktaaf van note waarop klank voortgebring word en mense daardeur geraak word. Maar daardie musiek gaan baie anders klink waar Bono en U2 in ‘n stadion vol Londenaars optree as wanneer Von Karajan die Berlynse Phiharmoniese orkes dirigeer of Worsie Visser en die Klipwerforkes hulle trekklaviere en konsertina’s begin tokkel. So is dit ook met die mistieke skrywers – dit is juis boeiend om te sien hoe praat hulle oor hul ervaring van die Verborgene.

Maar ‘n mens moet ook iets anders dadelik uitlig. Enige iemand kan onder groot illusies ‘n paar note op die klavier druk en dink hy of sy is ‘n ontluikende superster – soos Idols maar te dikwels wys. Maar musiek is baie meer as ‘n vae saamflansing van los klanke. Die mistici het ook nie so ‘n vae gevoel van goddelikheid bepleit nie. Dit was nie vir hulle ‘n kwessie van die menslike of die menslike vermoë wat tot groot, goddelike hoogtes opstyg of ontplooi nie. Hulle het in die taal van hulle tyd nagedink oor die onbeskryflike, onnaspeurlike aanraking van God wat die mens oorval en meegesleur het in ‘n totaal nuwe lewensrigting. En hulle het elkeen op hul eie aan hul unieke ervaring ‘n eie vorm gegee.

Neem byvoorbeeld die Joodse mistiek. Scholem skryf dat die Joodse mistici nooit in soveel woorde gepraat het van die “vereniging met God” nie, al sou ‘n mens iewers kon sê dit is waaroor hulle tekste gaan. Dit is juis ‘n kenmerk van die Joodse mistiek dat God so totaal anders is en bly, ongeag watter verhouding God met die mens aanknoop. In die Joodse mistiek is daar ‘n akute bewussyn van hoe anders God as die mens is. Ons kry iets daarvan by Jesaja 6 wat terugskrik as hy in God se teenwoordigheid is en God se heiligheid beleef. God is so oorweldigend anders dat die mens wat God sien sal sterf, lees ons in die Ou Testament. En tog het hierdie Joodse mistici met hul ontsag vir God, ook vir God op ‘n intieme manier “beleef” en naby God gekom. Hulle het gepraat van ‘n spesiale, persoonlike ervaring wat op ‘n ekstatiese manier vir hulle tot ‘n aanskouing van God gebring het. Hierdie persoonlike belewenis is egter deur verskillende groepe anders beskryf.

Die oudste Joodse mistici wat veral in die tweeede eeu n.C. kom, het hul ervaring van God in beelde uitgedruk wat uit hulle tyd afkomstig was. Hulle het veral Jesaja 6 en Esegiël 1 met hulle troonvisioene gelees. Baie later sou Johannes dit in Openbaring ook neerskryf as hy vertel hoedat hy voor God se troon staan en die verborge dinge van God leer. Al sy visioene is mistieke ervarings waarin hy van God die diepste geheime van die wêreld leer. Die mistici het nou hulle mistieke ervaringe aangebied as reise van die siel deur die hemel tot by die troon van God. Daar het hulle oorstelpt en oorweldig deur God se heerlikheid en majesteit gestaan. En daar is allerhande goddelike geheimenisse oor die hemelse lewe aan hulle meegedeel.

Later, in die Chassidiese mistiek, het een van die mistici dieselfde spesiale ervaring baie minder beeldryk en op ‘n minder konkrete wys uitgebeeld: “Baie mense dien God met hulle menslike verstand. Baie aanskou egter die goddelike ‘Niks.’ Hierdie spesiale ervaring wat gegee word aan mense wat daarvoor waardig geag word, gaan alle menslike verstand te bowe. Maar na hierdie visioen en aanskouing is die mens weer by sy volle verstand, maar dan is die mens vol van die goddelike glans.”

Die mistiek is dus nie sommer net ‘n maklike klompie opmerkings oor ‘n mens se ontmoeting met God nie. Dit gaan om ‘n spesiale ervaring wat moeilik in woorde uitgedruk word. Maar waar dit wel neergeskryf word, is die mistieke tekse se impak duidelik: mense verslind hulle, want in hierdie tekste ontdek ‘n mens die diepste sin van die lewe. Die tekste konfronteer ‘n mens met die Verborge kant van die lewe. En dit is in hierdie verborgenhede, hierdie ontmoeting met God wat ‘n mens volle vrede vind.

Saturday, December 05, 2009

Vreugde kom tot hulle wat daarna soek. Oor lewensvreugde.

Ek raak vanmiddag aan die gesels met iemand wat vir my vertel dat hy ses jaar gelede deur ‘n traumaties tyd is. Sy hele lewe is deur donker gedagtes oorheers, veral toe hy ‘n egskeiding moes verwerk. Maar nou, nadat hy iemand ontmoet het vir wie hy besonder lief is, kan hy nie dink dat hy op daardie stadium so diep in depressie ingetrek was nie. Sy donker tye lyk vir hom nou so onwerklik in die lig van die geluk wat oor sy pad gekom het.

Lewensvreugde, het ons gesien, is net so ‘n vaste deel van ons bestaan soos ons treurige en ongelukkige buie, gevoelens en ervaringe. Op ‘n realistiese manier weet ons ervaar ons beide vreugde en verdriet, geluk en smart. Die uitdaging wat op ons wag is om nooit ons visie op vreugde te verloor nie. Ons bestaan kan nie net donker wees nie – ons kan alleen maar toelaat dat ons bestaan deur die donkerte oorheers word.

As ons dit weet, kan ons al die vreugdeloosheid en depressie in ons lewens relativeer: hoewel dit ons hele bestaan kan oorheers, weet ons ook dit kan nie so bly nie. Daar moet ook goeie tye wees waarna ons kan uitsien en wat ons kan bedink.

Ons depressie is dikwels die gevolg van ons onvermoë om te besef dat ons treurige gevoelens nie ons hele lewe is nie. Ons moet ook nie toelaat dat ons probleme die oorhand oor ons kry nie. Ons depressie is moeilik genoeg om te verwerk sodat ons nie nog ‘n slagoffer daarvan moet word nie.

Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. My gespreksgenoot sou ses jaar gelede toe hy deur sy donker dae moes leef, sekerlik nie daarvan gehou het dat iemand vir hom vertel dat hy moet onthou dat die lewe ook uit goeie dinge bestaan en dat hy nie moet toelaat dat hy deur die donkerte oorweldig moet word nie.

Maar dit bly ten minste iets om te onthou en om aan te dink. Anders is die probleem dat mense so opgeneem is in hul eie verdriet dat hulle alle perspektief kan verloor – selfs op die goeie dinge.

Ons geestelike lewe kan in sulke omstandighede bar en dor word: ons kan voel asof ons nêrens vir God sien nie, of van God afgesny is. Ons kan dan ook vashou hieraan: En soms is dit noodsaaklik dat ons deur so ‘n tyd van dorheid en barheid gaan – ons moet eers van alles gestroop word.

Om in God se teenwoordigheid te kan kom word ons dikwels gestroop....

Maar daar is ook 'n ander perspektief: meestal sal ons in ons donker dae tog wel, ten spyte van al die diepe negatiwiteit en depressie, by God ons vrede moet gaan soek. Deur by die Vader te gaan skuil, in ‘n sfeer van liefde ingetrek te word, bewus te wees van die intieme nabyheid van God, kan ons weer lewensvreugde begin ervaar. Iewers moet ek my swartgallige bui agter my kan laat en in God se lig in te stap. Dit hoef ek nou nie met ‘n ongebalanseerdheid te doen asof ek ten alle koste ‘n gelukkige en glimlaggende mens moet wees nie.

Deur na God te gaan, die goeie dinge oor God te ervaar, te lees en na te dink oor God as God van Liefde, as die getroue Vader, as die Een wat met my deur die tuin van vrede wil wandel, kom ek iewers weg van die donkerte om en in my – selfs al is dit baie min. Ek hoef nie meteens uit te breek in gejubel en gejuig nie. Maar, as ek by God was, kan daar iewers in my tog ‘n stil oomblik van dankbare blydskap voorkom. My verdriet en my depressie sal nie noodwendig soos mis voor die son verdwyn nie en dikwels sal die treurigheid waarskynlik in sterkte terugkom. Die pad vorentoe gaan nie noodwendig sommer meteens ‘n vreugdespad word nie. Maar tog kan daardie een oomblik van vreugde die genesingsproses aan die gang sit en ons herinner dat die lewe nie net donker is nie.

Dit is byna soos iemand wat in die donkerte langs ‘n pad loop: voel-voel. Maar dan, vir ‘n oomblik, jaag ‘n motor verby en kan ‘n mens die rigting van die pad weer sien voordat alles weer donker word. Maar die wete dat ‘n mens in die regte rigting beweeg, besweer die angs en maak dinge iewers draagliker – of bring selfs miskien nog daardie klein vreugdesoomblik te midde van die donker lewensreis.

‘n Mens kan deur vreugdelose tye gaan, soos my gespreksgenoot vertel van sy donker tye van ses jaar gelede. Iewers, op ‘n dag, skyn daar vir ‘n oomblik ‘n lig op jou pad en vind jy verligting. En deur vas te byt vorder ‘n mens, wetende dat iewers wil God ook vir ons geluk skenk. En, jare later, kyk ons miskien terug na daardie donker tye en bely: dit was net God se genade wat my deur daardie donkerte gedra het.... Dis nogal iets om te kan sê...

Dit alles beteken eintlik net dit: lewensvreugde val nie uit die lug nie. Dit moet gesoek word.

En tog.... as ons uiteindelik vreugde herontdek het, gebeur dit dikwels tog wel dat ons kan vertel - lewensvreugde het vir my uit die Lug geval....

Friday, December 04, 2009

Blydskap val nie uit die lug nie. Oor lewensvreugde.

Die dood van Chris Louw was hierdie week voorbladnuus. Hy het gekies om sy lewe te beëindig, omdat hy volgens die berigte in die koerant genoeg gehad het. In kommentaar op sy dood het geskokte kollega’s en vriende gesê dat sy dood ‘n teken is van ‘n wye malaise en ‘n wydverspreide gevoel van donkerte/depressie onder groepe in ons land. Sy dood aan sy eie hand is ‘n oproep aan almal in magsposisies om te begryp hoe diep die negatiewe lewensgevoel onder mense loop.

En daar is inderdaad grootskaalse swartgalligheid oor die situasie van korrupsie, misdadigheid, agteruitgang van dienste en uiterste vorme van rassisme. Radioprogramme en lesersbriewe vertel maar te duidelik hoe diep bekommerd en selfs wanhopig baie mense geword het.

‘n Mens assosieer nie vir Chris Louw met wanhoop nie. Hy het, toe min ander mense die insig gehad het, en nog minder die moed gehad het, die apartheidsisteem grondiglik en met ‘n bewonderenswaardige dapperheid bevraagteken. Ek onthou hoe graag ek sy uitdagende skryfwerk gelees het. Vir my was hy ‘n belangrike naam lank voor die Boetman-debat. Terwyl die magshebbers in die politiek, kultuur en in die kerk ‘n monolitiese bolwerk gevorm het wat geen debat geduld het en kritiese stemme doodgedruk het of gemarginaliseer het, het hy deur sy vreeslose kommentaar ‘n diep indruk op my gemaak. Hy het, ook vir ons destyds as jong teoloë en predikante in die kerk hoop gegee. Sy stem was vir ons ook bevrydend, ironies genoeg. Ek het respek gehad vir sy etiese en spirituele waardes. Dit, het ek gedink, is ‘n kragtige bron om te veg vir transformasie.

Natuurlik het hy sy donker kante en sy venynige oomblikke gehad. Maar oor sy integriteit sou niemand kon twyfel nie en oor sy boodskap dat ons moet werk vir geregtigheid en ‘n bestel van gelykheid sou ‘n mens net geïnspireer kon wees. Ek sal hom onthou as iemand wat in my lewe ‘n belangrike rol gespeel het – al het ek hom nooit persoonlik geken nie.

Maar daar is iets anders wat my vandag aan hom laat dink. In my leeswerk kom ek gister af op Anselm Grün se “Je Eigen Spiritualiteit ontdekken.” Hy skryf daarin oor lewensvreugde en veral oor die feit dat ons samelewing so vreugdeloos geword het. Na aanleiding van sy gedagtes het ek nagedink oor dit wat keer dat ons ons lewensvreugde verloor en aan ons eie donkerte ondergaan. Lewensvreugde is nie maar net ‘n sekere emosie wat ons bestaan mooi maak nie. Dit is die sleutel tot oorlewing. En as ons lewensvreugde verloor, kom ons dikwels tot die punt dat ons nie meer kans sien om te lewe nie.

Grün wys daarop dat die wanhoop en depressie van ons tyd kontrasteer met die Bybel wat wemel van die feeste. Hierdie feeste wat met vreugde gevier is, vertel van ‘n wesenlike kenmerk van ons godsdienstige erfernis. Dit is reeds die geval in die Ou Testament, waar mense hul lewensblydskap gedurig uitsing wanneer hulle hierdie spesiale gebeurtenisse meegemaak het.

Maar, vervolg Grün, die geestelike lewe is nooit maar bloot net vol blydskap nie. En hy is reg. Dit is waansinnig om te dink dat die lewe net uit vreugde kan bestaan. En dit is net die grootste dwaas wat godsdiens met permanent vreugde verbind. Elke lewende wese weet dat die lewe ook verdrietig kan wees, dat daar dae kom dat ‘n mens soggens nie wil opstaan nie en net die kombers oor jou kop wil trek en in jou bed vir ewig bly lê. Daar is baie dae dat ons lusteloos is. Of niks meer het om na uit te sien nie. Daar is dae wat ons woedend raak. Ons ontstel ons. Ons baklei soms weke om. Ons raak soms siek. Of ons word afgedank. Of ons beland in finansiële nood. Of ons twyfel oor ons toekoms. Of ons het teenspoed by die werk. Of mense ignoreer ons. Of doen ons skade aan. En dit alles maak van ons treurige, ongelukkige en onvervulde mense wat ons omgewing aansteek en negatief beïnvloed.

Wat waar is van ons godsdienstige lewe, is ook waar van ons gewone lewe. Ons kan die wonderlikste oomblikke van vreugde ervaar, maar dan kan ‘n enkele woord, ‘n nuusberig, ‘n kwaai kyk, ‘n stuk kritiek of ‘n klein gebeurtenis ons dae lank van ons vreugde beroof. Dit bly vir my ontstellend om te hoor en te sien hoe hierdie emosies en negatiewe gevoelens hoogty vier in die lewe van mense, veral ook by gelowiges. Daar is niemand op die wêreld wat aan hierdie donker dinge kan ontsnap nie. Selfs die mens wat met ‘n groot glimlag op sy of haar gesig rondloop, ken hierdie donkerte.

En dit alles leer die Bybel self vir ons. Die beste simbole daarvan is die slawerny in Egipte, die moeisame tog deur die woestyn, die kruis van Jesus en die aanvegtinge van die eerste Christen-getuies. Daar is werklik tye van groot treurigheid. Ons godsdiens ken sy slegte oomblikke. Die Bybel vertel vir ons duidelik hoe treurig mense kan raak.

Maar die verskil tussen Bybelse en moderne tye is: sommige mense word slagooffers van hulle donker dae en slegte oomblikke. Ander weer besef dat die lewe uit baie meer dinge bestaan as net die donker oomblikke. Hoekom moet hierdie ongelukkige oomblikke bobaas word en jou lewe stuur? Hoekom moet jy toegee aan jou vrees, jou smart? Hoekom moet jy ondergaan aan jou teleurstellings? Die lewe is tog groter as die slegte dae en die rou oomblikke.

Die Bybel vertel vir ons van die goeie tye vol blydskap wat die geskiedenis van allegelowiges kenmerk. Maar, as ‘n realistiese boek vertel dit vir ons ook hoe die grootste geloofshelde diep, donker oomblikke van pyn, vertwyfeling en hartseer geken het. Daar was in hulle lewens die goeie oomblikke én die slegte oomblikke. Die verskil is net: Die Bybelskrywers steek nooit vas in hierdie donker oomblikke nie. Deur voor God fees te vier in die Ou Testament, het Bybelskrywers geleer dat ‘n mens verby jou donkerte moet leef. Hoewel ‘n mens blydskap én treurigheid beleef, weeg die blydskap altyd swaarder. Deur blydskap te onderstreep word die treurighede gerelativeeer. Deur hoop te verkondig, word wanhoop ingeperk. Deur op genesing te fokus, word die pyn besweer.

Die perspektief is anders: ‘n mens kyk na die treurige dae vanuit die hoek van die vreugde in die goeie dinge. Jou vreugde word die raamwerk waarin die treurige oomblikke pas. ‘n Mens kan so behep raak met jou donker dae, dat jy onvermydelik daaraan sal ondergaan. Dit is soos ‘n spiraal waarin jy al dieper en vinniger na ondergetrek word. Jy word al hoe dieper in jou eie donkerte ingetrek, totdat jy daardeur vernietig word. Of ‘n mens kan so diep ingewortel wees in God se liefdevolle teenwoordigheid dat ‘n mens ook die donker tye met God kan bewandel.

Paulus kon in ‘n tronk, die treurige plek van geselslae en van pikdonkerte, om middernag vreugdesliedere sing (Hand.16). Natuurlik kon hy dit doen omdat hy geweet het hy lewer ‘n getuienis teen onreg. Hulle het hom voos geslaan (Hand.16:22-23), in kettings geboei en onregverdiglik sonder verhoor opgesluit (Hand.16:37). Hier lewer hulle ‘n getuienis vir die waarheid en geregtigheid – wat al ‘n rede tot blydskap is. Maar hy het ook om ‘n ander rede gesing: hy het geweet sy lewe is veilig in God se hande. Hy het geweet dat niemand die verborge lewe van hom kon wegneem nie. Hy het, volgens Hand.16:25, liedere “tot God” gesing.

Dit is nou die Paulus wat aan sy gemeente geskryf het: “Verbly julle”, maar wyslik bygevoeg het: “ in die Here.” Dit is nie maklik om van ‘n mens se depressie ontslae te raak nie. Ons lewe sal gedurige die tye van treurigheid ken. Dit is ‘n hele oefening om vreugde te leer leef. Maar dit is moonlik – al is dit hoe moeilik. Paulus het ook, opmerklik genoeg, dit nodig gevind om by te voeg: Verbly julle “altyd” in die Here. Vreugde moet gesoek word – dit val nie sommer uit die lug nie.

Thursday, December 03, 2009

Die Bybel as Woord van God wat alles gedurig bly omkeer

Dit lyk so eenvoudig om te praat oor “die woord van God.” Dit is die manier waarop en die woorde waarmee ons meestal oor die Bybel praat. En dikwels dink ons dan aan die Bybel as Boek.

Soms, as ons ‘n bietjie dieper nadink, sou ons maklik kon redeneer dat ons eintlik “slegter” af is as die dissipels van Jesus. Terwyl ons “maar net” ‘n boek moet lees, het hulle in die teenwoordigheid van Jesus geleef en kon direk en in ‘n persoon-tot-persoon verhouding met Hom baie leer. Ons is, dink ons dan, deel van die nuwe bedeling wat gekom het nadat Jesus weg is. In die plek van Jesus Self het daar ongelukkig “woorde” van en “woorde” oor Jesus gekom.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Lukas begin die eerste verhaal in sy evangelie met ‘n wonderlike “verhaal” oor twee ernstige “Bybellesers”: Sagaria en Elisabeth, die ouers van Johannes, hoor die nuus van Johannes se geboorte. Hulle word dan beskryf as: “hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou (Lk.1:6).” Hier is spiritualiteit: hulle leef vanuit hulle verhouding met God ‘n volhardende lewe van transformasie – maar hulle verhouding met God sentreer rondom die “Woord van die Here.” Uit die Ou Testament, uit die Wet, word hul lewe geïnspireer en dag na dag radikaal verander. Al die woorde van die Here in die eerste bedeling word ‘n werklikheid in hulle geloof, hulle lewe en hulle diens van God. Hulle ervaar hulle geloof aan die hand van God se wet, van die gebooie en voorskrifte. Die woorde van die Here, die verhaal van God se wil, word die bron van hul getransformeerde bestaan.

Wanneer Lukas dus oor Jesus skryf, vertel hy van die begin af hoe “Woorde” van God, “boeke” oor God se wil in mense se lewens gewerk het. Hulle het God se woorde vir hul lewe verstaan, dit dag na dag met volharding uitgelewe. Die Bybel was ‘n “werklikheid” in hul lewe. Wat God destyds vir Moses gesê het, maar ook die Woord soos dit neergeskryf is in die wet en deel geword het van ons Bybel, was vir hul ‘n inspirasie. Hulle het uit die verhaal van God geleef. Hulle het die Woord gelees, geken, maar het ook die woord as ‘n reddende, transformatiewe krag ervaar. Net soos Moses God se Woord gehoor en toe oorgedra het, so hoor hulle ook God se Woord en dra dit uit.

Maar die vertelling oor Sagaria en Elizabeth het ‘n boeiende ekstra vertelling. Hulle hoor nie net God se Woord in die wet nie, maar hulle hoor ook God se Woord op nuwe maniere. Die engel Gabriël praat heel onthullend oor homself: “Ek is Gabriël wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring” (Lk.1:19). Só werk God: die engele wat by God is en die woord van God kry, word dan Woordbedienaars. Hulle hoor en ervaar God se woord – heel intens in God se teenwoorigheid self – en hulle bring dan die boodskap aan ander oor.

So begin die lewe van Jesus in Lukas se Evangelie. Dit begin met ‘n “preek”, ‘n “Woordverkondiging” aan Sagaria en Elisabeth. En hoe het die engel e woorde nie deur die blye aard daarvan vir hierdie twee vroom, wetsgetroue mense se lewens verander nie. Lank voor Jesus se geboorte, vier hulle reeds die goeie nuus!

Die Bybel wat ons het is nie bloot ‘n boek nie. Dit is God se Woord wat in alle tye, ook in Jesus s lewe, in verhaalvorm tot mense kom en mense se lewens onherroeplik omkeer. Voor Jesus se geboorte het mense God se Woord gehoor en gevoel hoedat dit hulle lewens verander. Jesus Self sou ook keer op keer ook uit die Woorde van God leef – kyk maar hoe begin sy openbare bediening met die Woord-uitleg in Nasaret (Luk.4) en kyk net hoe getrou lees Jesus die Woord van God in sy Bergrede - nie 'n tittel of jota mag verander nie! En vir Satan leer hy 'n mens sal uit die Woord van God alleen lewe.

En nou, nou is Jesus weg. Maar ons leef nog uit sy goddelike woorde, soos die mense van alle tye en die goddelike Woord is so kragtig soos altyd. Ons het meer as ‘n Boek. Ons het die Woord van God – en waar God praat word mense se lewens verander en word die verhaal van hul transformasie weer ‘n verhaal van God se woorde.

Ons is nie slegter af as mense in die ou bedeling en in die tyd van Jesus nie. Ons kry, soos in die tyd van Jesus, die goeie nuus. Die Bybel laat ons nie onaangeraak nie. Die verhaal van ons aanraking word ‘n kragtige getuienis wat ander weer lees en God se woorde daaraan herken. Dit is ‘n nimmereindigende kringloop van omvorming en bemagtiging, van God se Woord wat tot ons kom en weer as Woord van God verder in die wêreld ingaan.

Geen wonder dat Lukas aan die begin van sy evangelie vertel van al die woorde oor Jesus wat mense verkondig het. Sy boek is ‘n poging om die verhaal van Jesus so noukeurig as moontlik neer te skryf (Luk.1:1-4). Hy het geweet dat hierdie Woord is lewensbelangrik. Dit is die woord wat die Emmausgangers se hart brandende gehad het. Dit is die Woord wat die Emmausgangers in Jerusalem verkondig het – selfs toe Jesus af weggegaan het. En dit is die Woord wat die Etiopiër gebring het om gedoop te word en wat sy lewe met blydskap gevul het.

Wednesday, December 02, 2009

In verwondering ingeruk – die kragtige ervaring van God.

Ons kan baie oor God lees, praat, dink, bid en mediteer – maar dikwels vir God miskyk en selfs sonder God leef.

Handelinge begin heel bedaard met ‘n laaste gesprek van Jesus en sy dissipels waarin Hy hulle vertel van wat na sy hemelvaart sal gebeur (Hand.1:1-10). Jesus belowe vir hulle die Heilige Gees wat hulle tot getuies sal bemagtig (Hand.1:8-9). Dit is ‘n deeglike gesprek waarin hulle oor die toekoms ingelig word. Hulle gaan na die hemelvaart dan ook gehoorsaam terug na Jerusalem, soos Jesus van hulle gevra het (Hand.1:4) waar hulle ook in afwagting bid en sommer ook heel prakties ‘n opvolger vir Judas kies (Hand.1:12-26).

Tussen al hierdie bedaardheid is daat 'n duidelik ondertoon van afwagting te merk: Die gedeelte is sterk ingestel op die Heilige Gees as die belofte van die Vader (Hand.1:4, veral ook Hand.1:33) en hulle bemagtiging tot getuies. Kenmerkend van spiritualiteit fokus die gedeelte op God se handelinge in die gawe van die Gees wat die dissipels sal transformeer om die lang pad van getuienislewering te loop. Duidelik behou God die inisiatief en doen God merkwaardige dinge om die verhouding met mense te verdiep en intensifieer. Die opstanding is nie genoeg nie. Nou volg die verdere fase waarin die mens op ‘n Goddelike, besondere manier bemagtig word om self merkwaardige, magtige, geesvervulde dinge te doen.

Sekerlik vertel hierdie geestelike gebeure vanuit ‘n menslike hoek van die dissipels se gelowige instelling: hulle luister met aandag ne en doen gehoorsaam wat Jesus van hulle vra. Terselfdertyd is hulle gedurig in gebed soos wat hulle soek om in Jesus se woorde te bly en te leef. Hulle dae van voorbereiding en gesprekke met Jesus bring hulle tot ernstige gebed (Hand.1:14), tot ‘n verdiepte verhouding met God. Die afskeid van Jesus met die hemelvaart het nie dieselfde effek op hulle soos wat die leë graf op die Emmausgangers gehad het nie. Noudat God hulle in die opstanding en verskyning van Jesus aangeraak het, volg daar by hulle ‘n reaksie van toewyding. Hulle bly bid tot God en hulle maak sommer ook dinge onder hulle reg deur die getal dissipels weer vol te maak.

Al hierdie dinge belig verskeie aspekte van die groeiende verhouding van God met die mens en die mens se liefdevolle reaksie op God se werking in hul lewe. En watter ryk verhouding is dit nie – met baie dimensies. Dit gaan om goddelike gawes, bemoediging – maar ook om afskeid, nuwe vorme van hul verbintenis, maar ook om toewyding, gehoorsaamheid, afsondering, soeke na God se wil en vertroue op God se leiding. Die verhouding tussen God en mens neem baie vorme aand and wissel gedurig. Dit is inderdaad ‘n reis waarin hierdie ryk, vervullende verhouding gedurig groei.

Maar daar is vir my iets heel besonders aan hierdie eerste fase van Handelinge deurdat dit so sterk tot voltooiing kom op Pinksterdag en daarmee tog weer wegbeweeg van die menslike kant af. Alles is ingestel op hierdie dag: dit is die dag waarop God die lank-beloofde beloftes getrou waar maak en die Gees vir mense vir altyd vurig aanraak en verander. Hier kom brand God se vuur in mense, word hulle aangewakker tot ‘n liefdevolle lewe in diens van God. Dit is die groot oomblik van transformasie deur God se lewegewende aanraking.

Alles wat so bedaard en nugter in hoofstuk 1 afspeel en waarin alles reggemaak word, slaan om in ekstatiese verwondering. Een oomblik is die dissipels aan die bid en aan die werk. Die volgende oomblik is hulle in totale verrukking.

Dit is te min om hierdie gawe van die Gees weer af te water tot iets wat mense so besonders maak. Hulle word vreeslose getuies, sê ons van dié dag. Maar Pinksterdag gaan oor baie meer as net hierdie gebeure. Kyk maar na die uitkoms van die dag: Die mense word verander, hulle praat vreesloos, maar uiteindelik word hulle omvorm tot ‘n eerbiedige, verwonderende verering vir die God van krag en sterkte wat in hul lewens ingekom het. Dit is nie wat hulle doen wat so saak maak nie, maar wat God doen. Of meer nog: dit gaan uiteindelik om God se vervullende teenwoordigheid in hulle lewe. Ons word deur Pinskterdag in die teenwoordigheid van God self gebring.

Dit blyk heel eenvoudig uit die manier waarop die Pinkstergebeur beskryf word. ‘n Sterk geluid uit die hemel breek op Pinksterdag vanuit die hemel oor hulle los. En hemelse vuur daal oor elkeen neer. Die hemel daal op aarde neer. En die aangeraaktes vertel dan, sê Handelinge 2:11 die wonders van God. Dit is God se teenwoordigheid en dade wat hulle harte vol maak. Met die beskrywing vertel Lukas eintlik van die koms van God (Hand.2:20). Dit is die dag waarop die Here kom in al sy grootheid en heerlikheid – God oorweldig ons deur onder ons te kom woon.

Pinkster is ‘n kragtige herinnering aan mense dat God ‘n verhouding met mense aanknoop op ‘n intieme manier: uiteindelik is daar Iemand by ons wat sterker is as die graf en die dood. Ons moet dit gedurig bly bedink – vra Lukas. Van die begin af was God by en in ons as die vuur van liefde wat ons nuut maak.

Ons kan baie oor God lees, praat, dink en mediteer. En tog kan ons God miskyk. Pinkster is die ervaring van God se kragtige teenwoordigheid in ons lewens. Dit is wat ons moet bly kontempleer. Dit is nie dat ons nuwe krag kry nie, maar dat God vir ons nuut maak deur by ons te kom woon – dit is die wonder wat ons vier en wat ons harte laat ontvlam. Pinkster-kontemplasie: om deur God in verwondering ingeruk te word! Die dag waarop die hemel op ons neergedaal het. Dit is die dag waarop mense God se teenwoordigheid ervaar het.

Tuesday, December 01, 2009

Wat is Spiritualiteit? Om verby 'n kleinood te loop.....

Ek lees die volgende grappie op my vlug terug van Windhoek:

Twee professors in Ekonomie stap die straat af. Hulle loop verby 'n R200 noot op die sypaadjie.

Professor A raak die volgende kwyt:

"Kyk net, een of ander dom en agtelosige ou het die geld verloor."

'n Entjie verder laat hoor Professor B:

"Dit kon nie 'n egte noot wees nie, want dan sou iemand anders dit al opgetel het."

Nouja, dog ek oor hierdie gevatte verhaal, dit kan net sowel 'n definisie van Spiritualiteit wees. Jy sien die kosbare skat, bepraat dit en loop dan verby.

Blog Archive