Friday, October 18, 2013

Daar kom 'n tyd dat 'n mens te laat ontdek hoe belangrik dit is om goed te doen.


'n Paar jaar terug vertel iemand my hoe 'n persoon wat jare lank vir haar eie ideale en voordeel geleef het, op 'n dag 'n heel nuwe insig in haar eie lewe ontdek het. Daar was niks korrup aan haar vorige lewe nie. Sy het geveg vir wat reg en goed is. Haar morele kompas was onberispelik en haar sukses in haar beroep groot.

Toe, op 'n gevorderde leeftyd, het sy ontdek hoe sy in haar lewe mense as syfers beleef het. Sy het besef hoe min goed sy gedoen het. Op haar ouderdom het sy ingesien dat 'n suksesvolle, morele lewe nie noodwendig die belangrikste is nie.

En, vertel my gespreksgenoot, 'n mens kan moeilik dertig jaar se gebrek aan goed-doen inhaal.

Ek kou lank aan ons gesprek. Soms is die belangrikste ding wat 'n mens kan doen, om goed te wees vir mense om jou.

Die gedagte van goed-doen  kry vir my 'n nuwe betekenis. Dit is sekerlik, besef ek ook, waar dat 'n mens moeilik jare se verwaarlosing hiervan kan inhaal. Vele, vele mense ontdek dit te laat in hulle lewens. En hulle dra 'n las van verwyt hieroor.

Juis daarom vra die tema besonder aandag.

Dit gaan vir my nie om 'n nuwe moralisme nie. Ek dink aan die verhaal eerder as 'n ontwaking van spiritualiteit: ontferming en heiligheid is immers twee sleutelbegrippe in spiritualiteit.  Omgee staan in die hart van spiritualiteit. Heiligheid beteken dat 'n mens 'n lewe soek wat so ontfermend is soos wat God teenoor die wêreld en die skepping is. Om goed te doen is dus 'n teken van 'n mens se geestelike volwassenheid en groei.

Dit is daarom spesiaal dat iemand tot so 'n ontdekking en, dus, geestelike verdieping kan kom, al is dit eers laat in so 'n persoon se lewe.

Onlangs loop ek die persoon raak waaroor ons gesprek gegaan het. Ons staan lank en gesels. Sy vertel my, terloops en sonder enige pretensies, hoe sy gereeld 'n vriendin wat 'n invalide is, besoek om haar te versorg, uit te neem, haar finansies te hanteer en haar versorging in die inrigting te monitor.

In daardie een gesprek het ek 'n kant van die persoon gesien wat my meer aangespreek het as al die spesiale gesprekke wat ons ooit gehad het. Nie oor die goeie dade waaroor ons gepraat het nie, maar omdat ek in hierdie gesprek ervaar hoe iemand omgee vir 'n ander, en, heeltemal onbewustelik, haar eie belange eenvoudig op die agtergrond skuif.

Daar is iets roerends aan dinge wat mense doen bloot omdat hulle ander gelukkig wil sien.

Veral en des te meer wanneer dit iemand is van wie jy dit nie verwag nie. 

En tog: die ervaring laat my weer eens besef hoe belangrik dit is dat 'n mens gedurigdeur weer met mede-pelgrims weeg wat werklik saak maak. Want, daar kan 'n tyd kom dat dit nie meer moontlik is om goed te doen nie.

Hieraan dink ek toe ek vanoggend 'n spesiale berig lees. In 1979 is 'n Amerikaner wat vir 'n groot firma in 'n Suid-Amerikaanse land gewerk het, uit sy huis ontvoer deur 'n groep wat gekant was teen sy firma se teenwoordigheid en samewerking met die destydse regering.

Hy is vir byna drie en 'n half jaar in 'n oerwoud deur gemaskerde wagte aangehou in 'n hut, vasgeketting aan 'n paal. Heel per ongeluk het polisielede op hom afgekom, sy wagte doodgeskiet en hom tronk toe geneem. Hulle het nie geweet wie hy was nie.

Niemand het gedink hy leef nog nie. Net sy familie het aan die hoop vasgehou dat hulle hom weer sou sien.

Hy het nooit bitter geword nie. Hy het van Woensdag tot Woensdag geleef, met sy wagte gesprekke aangeknoop en met hulle geargumenteer oor die politiek.

Van kindsbeen af, vertel hy, het hy mense se woord maklik aanvaar. Daarom het hy ook geglo dat sy wagte bedoel het toe hulle hom verseker het dat hulle hom nie gaan doodmaak nie.  Sy ontvoerders het drie en 'n half miljoen dollars as losprys geëis, maar ook dat sy firma kos vir die armes versprei en hul korrupte samewerking met die regering in advertensies erken.

Sy traumatiese ervaring in die diep oerwoud van 'n Suid-Amerikaanse land toe hy 24 uur per dag vasgeketting en voor die loop van 'n geweer geleef het, het hom 'n paar dinge geleer, het hy na sy bevryding en terugkeer huis toe, vertel.

Dit is 'n indrukwekkende eenvoudige les: 

Hy het geleer wat regtig in 'n mens se lewe saak maak en watter prioriteite jy moet nastreef.

Hy het geleer hoe belangrike sy geloof in God vir hom was.

En, lees ek die slot van hierdie verhaal in vandag se NYT: hy het geleer hoe belangrik dit is om goed te doen terwyl 'n mens kan. 

Dit is die laaste woordjie wat by my bly: om goed te doen terwyl 'n mens kan.  

Die uitdaging, dus, is nie net om te ontdek hoe belangrik goed-doen is nie, maar ook om te besef dat goed-doen 'n goddelike gawe is wat 'n mens net tot jou eie geestelike agteruitgang verwaarloos. Meer nog: om te kan goed doen, is 'n voorreg - daar kom tye dat dit dalk nie meer moontlik is nie.

Blog Archive