In Lukas 15 word die volgende
gelykenis van Jesus vertel:
8 “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een
raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy
dit kry nie?
9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en
buurvroue bymekaar en sê:
‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat
weggeraak het, weer gekry.’
10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die
engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Die laaste paar
dae bly hierdie gelykenis in my kop vassteek.
Die boodskap gaan
blykbaar oor God se omgee vir die “verlorene.”
Tog is daar iets
meer:
God, vertel die
gelykenis, is ryk. God is soos iemand wat 10 muntstukke het.
Dit is nie die
grootste ramp, dus, as een van die tien wegraak nie. Daar bly tog genoeg oor?
Dit
is soos die gelykenis van die skaapwagter wat min gepla is oor 99 skape wat hy
nog het, maar gaan soek na die een wat weggeraak het. Hy los, trouens, die 99
net so in die woestyn. Dit is nie die veiligste plek om ‘n skaap te los nie.
Hoekom
sou hy dit wou doen?
Hy
het immers nog 99 skape. Dit is soos die pa van die verlore seun wat meer oor
hom begaan is as oor die een seun wat hom getrou tuis bly dien het.
God
se houding is anders: een skaap of muntstuk wat weg is, is genoeg rede om uit
te gaan en daarna te soek.
Jy
is altyd by my, het die pa vir die oudste seun gesê. Maar as een deel van ons
familie ontbreek, ly almal.
As
een skaap weg is, as een muntstuk ontbreek, word die volmaakte vermink. God
soek die volheid van die skepping. Niks mag ontbreek nie.
Die
lelies en die voëltjies het hul plek: God gee om.
Hieroor
kan ‘n mens alleen maar bly wees.
Dit is ‘n boodskap
oor God se verlange na heelheid. Niks, nie die kleinste van dinge, ontbreek in
God se ryk nie.
Die gelykenis sê
veel meer van God as van verlore mense. Dit is ‘n verhaal van God se totale
verlange.