Friday, October 25, 2013

'n Mens lees die Bybel om verdiep, maar ook om verander te word.


By die kongres vra iemand uit die gehoor watter rol 'n leser speel in die uitleg van die Bybel. Hy verwys spesifiek na die rol wat 'n mens se voorveronderstellinge speel. As jy protestants is, gaan jy die Bybel uit 'n protestantse hoek lees. Wie jy is, gaan bepaal watter antwoorde jy in jou Bybel-uitleg vind.

John Meier lewer repliek. Hy verwys na die beroemde debat tussen Jeremias en Bultmann. Hierdie twee Nuwe-Testamentici het koppe geskuur oor die vraag of 'n mens sonder enige voorveronderstellinge eksegese van die Bybel kan doen.

Maar as dit waar is dat 'n mens nie die Bybel sonder voorveronderstelling kan lees nie, beteken dit nog nie dat 'n mens se uitleg van die Bybel daardeur gedetermineer word nie. Dikwels, byvoorbeeld, ondersoek 'n mens die Bybel met 'n bepaalde gedagte wat jy graag wil "bewys." Dit is ook 'n voorveronderstelling waarmee 'n mens na die teks gaan. Maar dan lees jy die teks en ontdek dat jou mooi teorie nie deur die teks gesteun word nie. Hy het, vertel Meier, dikwels sulke mooi teorieë gehad wat hy moes laat vaar het.

Jou voorveronderstellinge is die konteks waarbinne jy na die Bybel gaan. So het Bultmann dit ook gesê. Maar die teks bepaal uiteindelik wat met die uitleg gaan gebeur. Hiervoor het 'n mens 'n bepaalde openheid nodig: jy moet dus eerlik met jou voorveronderstelling omgaan. 'n Belangrike eiendskap van enige wetenskaplike ondersoek is dat 'n mens self-krities moet wees. Ook teenoor jou eie voorveronderstellinge. Jy is dus nie die slagoffer van jou voorveronderstellinge nie.

Dit alles veronderstel dat 'n mens na die teks, die Bybel gaan, met 'n fundamentele voorveronderstelling dat die teks 'n leidende rol speel in jou uitleg. Hoe jy nou ook al reeds die teks verstaan, bly jy altyd oop vir die moontlikheid dat jy die teks nuut kan interpreteer en dat ou gevestigde waarhede daardeur in die slag kan bly. En dit is nie net 'n gemeenskap wat uit jou eie, klein groep bestaan nie. Dikwels word jy getransformeer deur wat die eerste geloofsgemeenskap oor Jesus gedink het en kom jy daartoe om heel nuwe insigte te aanvaar as die insigte wat jy voorheen vasgehou het.

Op die manier, besef ek terwyl ek na die debat luister, is 'n mens nie net eerlik en self-krities terwyl jy die Bybel lees nie - ook teenoor die houvas wat jou eie, vooringenome idee's op jou kan hê nie. Nederigheid word 'n deug: die wete dat jy deel is van 'n groter Gemeenskap wat jou denke en lewe vorm en stuur - meer as wat jy somtyds dink of verwag.

Dus : 'n mens lees doelbewus die Bybel met die houding dat jy verander kan word in wat jy weet en wie jy is.


Blog Archive