Aan die einde van die driedaagse konferensie oor geskiedenis en christologie in Rome, woon ons die oorhandiging van 'n prys van die Ratzinger-stigting vir twee belangrike boeke, deur die nuwe pous by.
Pous Franciskus spreek ons, in sy nou bekende monotone, selfs dralende stem, toe.
Dit vind in die ou Sinodesaal in die Vatikaanstad plaas.
My kollega's uit Nederland en Duitsland vertel my dat nie veel gewone sterflinge die kans kry om die plek binne te gaan nie. Dit is net langs die pous se woonkwartiere. En dit is ook die plek waar pouse na hul dood opgebaar word.
Die hele affêre is een allemintige skouspel. Maar uit al die indrukke wat ek beleef staan een uit: hier, in hierdie plek, word geïllustreer wat mag aan 'n kerk en instelling kan doen.
Dit het ek al tydens die konferensie sterk aangevoel: dit is duidelik dat die seleksie van sprekers en van inhoude, 'n bepaalde teologie dien. Die bestaande kerklike magstrukture bepaal die agenda en gebruik die agenda. Selfs al kom sprekers uit verskillende kerklike tradisies en is die persoon wat een van die pryse wen (vir die eerste keer) 'n Anglikaan, is die gesprekke nie vry van kerklike magspolitiek nie.
Dit pla my ook nie regtig nie. Dit sou naïef wees om te dink dat 'n geleentheid soos hierdie belangeloos moet wees. So iets bestaan nie. Steeds weer is, soos by alle akademiese werk, bepaalde belange op die spel.
Ek luister versigtig na die magsgrepe wat hier uitgeoefen word. Dit is immers in die kontemporêre hermeneutiek 'n uitgangspunt dat 'n mens bewus moet wees van die subteks van 'n gesprek. Altyd deur is dit nodig om die onderliggende belange van 'n spreker te kan herken.
Ten spyte hiervan, is daar tog opvallende veranderinge: 'n dekade of twee gelede sou 'n paar van die referate ondenkbaar gewees het. Nou hoor 'n mens al hoe meer hoe daar ten minste met die kritiese wetenskap omgegaan word en in gesprek daarmee getree word.
Die dinamiek is ten minste duidelik: geen respektabele kerklike instelling kan die moderne Bybelwetenskap meer ignoreer nie. Daarvoor is hierdie wetenskap te ver gevorder, te integer en te sterk. Ook hier aan die Lateraanse Universiteit wil mense dus die dialoog voer.
Maar die grense van die gesprek is stewig vasgelê: die konferensie is naamlik gefokus op die driedelige werk van Ratzinger, die vorige pous, oor die christologie en veral die evangelies. Hierdie drie boeke wemel van gesprekke met Bybelwetenskaplikes, waardeur sommige van die nuutste bybelwetenskaplike ondersoeke deeglik aan die orde gestel word.
Omdat die vorige pous hieroor geskryf het, word 'n hele, groot konferensie daaroor moontlik. Op die manier word die kerkleiding, insluitende 'n paar kardinale, ingetrek in 'n gesprek oor die Bybel wat 'n jaar of tien/twintig gelede nie moontlik sou wees nie.
Ook opvallend is dat feitlik al die sprekers, die kardinale inkluis, op een of ander manier by die teologie as wetenskap betrokke was of is. Hulle het 'n sterk teologiese onderbou.
Twyfel is daar egter nie: die bybelwetenskappe, soos sommige van hulle dit sien, word nog netjies gebruik om hul kerklike posisies te verskans. Die wetenskap word bedink, maar tot op 'n punt.
Ek het geen twyfel nie: 'n mens kan die insigte van die wetenskap nie stuit nie. Die mees verborge magsgrepe kry dit nie reg nie. Die kerk het dit al met Galileo ervaar. Dit sal oor en oor gebeur dat die kerk sy gebrekkige insigte sal moet prysgee vir wat wetenskaplik nagevors word.
Dit beteken nie dat die wetenskap alles reg het nie. Of dat die kerk die knie voor die wetenskap moet buig nie.
Maar dit is 'n futiele poging om die wetenskap te gebruik in soverre as wat dit jou eie standpunt dien.
Die mag van die kerk lê nie in sy vermoë om die wetenskap te gebruik bloot om sy bestaande standpunte te legitimeer nie. Die kerk is alleen sterk en magtig wanneer dit bereid is om vanuit 'n deurdagte besinning nuut te leef.