Saturday, October 12, 2013

Om te krap in die verlede, of om deur die verlede dieper in die liefde te tree


Soms praat mense oor hul verlede op ‘n negatiewe manier as ‘n tyd wat hulle nie oor wil hê nie. Hulle onthou ‘n geskiedenis vol gebreke en foute.

Hulle sien hulself as mense met ‘n sondige verlede wat vol foute was.

Vir sekere mense word dit ‘n obsessiewe ding: hulle bly heeltyd besig met hoe ellendig dit was en hoe sleg hulle was. Hulle bly grawe in die lelike dinge wat met hulle gebeur het en wat hulle gedoen het.

Dan is daar ‘n ander groep wat hul verlede onthou, maar dit steeds weer bewustelik kontrasteer met die vryheid wat God aan hulle geskenk het.

Dit is boeiend dat hulle eintlik nie oor hulleself en hul slegtheid praat nie, maar eerder hoe daardie slegtheid nie vir God kon weerhou nie. Hulle was mense wat diep geval het, maar vir hulle is die wonderbaarlike dat God mense uit so ‘n broeikuil van die kwaad kon optel en nuut maak.

Vir mense wat werklik geestelik is,  gaan dit dus om iets totaal anders as om in die modder van hul verlede rond te krap. Wanneer hul oor die sondigheid van hul verlede praat, doen hulle dit uit die wete dat daar in hul lewe iets besonders gebeur het. God het hulle aangeraak wat hulle ‘n totaal nuwe perspektief op die lewe gegee het. Die liefdevolle aanraking van God maak dat hulle ook op ‘n ander manier as vroeër leef. Hulle staan verwonderd dat God op so ‘n spesiale manier vir hulle opgesoek het terwyl hulle so swak en ellendig was.

God se mag oorweldig hulle: hulle kan nie glo dat God hulle so verander het nie. Hulle aandag is op God gerig wat uit soveel mislukking soveel kan verander. Hulle herinneringe aan die verlede bly dus eerder op God gefokus wat in staat is om iemand uit die diepste modder op te tel as op hulle self wat so in die modder vasgeval het.

Daarom stel hulle nie belang om te “spog” in hul bose verlede nie. Hulle wil eerder naby aan die goddelike krag bly wat hul uit die kwaad opgetel het. Hulle is geïnspireer om meer van God se transformatiewe werking te wete te kom.

Hulle grawe dus nie in die foute van hulle verlede nie. Hulle staan eerder verwonderd oor God wat daardie tyd tot ‘n einde gebring het en wat hulle to nuwe mense gemaak het.

Hul verlange is om nader aan God te kom, om meer van God se liefde te ervaar. Hulle verlang om meer van die nuutheid te ervaar wat God gebring het. Hulle wil die krag van transformasie nader beleef.  

‘n Mens kan dus op verskillende maniere oor die sonde in jou lewe praat. Soms bly jy gefikseerd vasgevang deur jou foute en mislukkings. Soms laat hierdie beheptheid ‘n mens vasval en hou ‘n mens terug in die geestelike reis.

Maar die geestelike reis gaan om iets heel anders: dit is om steeds weer oor die verlede te praat as ‘n tyd dat God ingegryp het op ‘n verruklike, unieke manier om ‘n ellendeling, ‘n gevangene, te verander tot ‘n geliefde, ‘n kind wat huis toe gekom het. En om te weet: wat God een keer gedoen het, sal God bly doen. Steeds is God besig om die weifelende mens nader aan die Liefde te bring. Meer nog, God is op pad met die mens na ‘n tyd wat deurtrek is met oorvloedige liefde.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive