Uit vanoggend se Rapport kom hierdie storie van Reney Warrington. Dit het die opskrif "Die antie in #49".
Dit vertel van 'n vrou wat om elke hoek en draai die waagstuk aangaan om haar karige aardse besittings met mense wat sy nie ken nie, te deel. Die mense, ondenkbaar, gee nie net terug wat hulle van haar kry nie, maar begin om haar by te staan in haar eie nood.
Haar dogter skryf die berig. Sy is beskaamd omdat haar ma haarself so oopstel vir misbruik en mense in nood so skromelik vertrou.
Uit haar ma se lewensstyl kom 'n klomp mense bymekaar in 'n klein gemeenskap van mense wat vir mekaar omgee.
Maar my aandag word ook deur iets anders getrek. So maklik, in enkele woorde, staan dit daar: sy sorg al 30 jaar vir haar erg gestremde seun.
Die kind wat hierdie woorde oor die ma se liefde vir haar broer skryf, praat deur een enkele sin van 'n hele wêreld van ervaring. Dit gaan oor jare se vanselfsprekende liefde vir iemand wat baie van jou vra: dit onthul die wonder van die ma se dertigjaar-lange omgee vir haar kind.
Maar sy wil ook vertel dat haar ma se mededeelsaamheid met ander in hul nood, nie sommer net 'n toevallige oomblik is nie. Dit is hoe haar karakter lyk. En so was sy teenoor almal al die jare.
'n Mens moet gaan sit en jou indink in hierdie situasie: Dertig jaar lank pas die ma haar kind op. Haar lewe wentel om sy behoeftes, lewe en toekoms.
Onpeilbaar. Hierdie liefde van 'n ma.
En dan, boonop, die manier waarop sy nog, in haar lewe van swaar-dra, vir ander omgee.
In hoë vergaderings van die kerk, lees ek in dieselfde koerant en hoor ek van my vriende in ander kerke, baklei mense oor alles en nog wat. Daar is lang artikels van verontwaardiging oor wie te min of te veel van die kerkleer wil afwyk. En onderaan die berigte is daar die eindelose kommentaar van al die Christelike lesers waarin die een vromer as die ander weet presies wat reg en verkeerd is.
Met 'n wrang smaak wil-wil my dag begin as ek die goed lees.
Ek dink aan die ma wat elke oggend moet opstaan met die wete dat sy nog 'n dag haar lewe aan haar erg gestremde kind sal wy. Dit is 'n spesiale verhaal.
Dit is die lewe van 'n ma wat in heiligheid uitblink, wat ander raak en verander.
Dit is woorde wat 'n mens in 'n heilige ruimte inlei waar iemand teenwoordig is as 'n volledige mense, deurdrenk van menslikheid, ontferming en van die liefde.
In Spiritualiteit praat 'n mens dikwels van die uitdaging om in die ingesteldheid van Christus te bly leef. "The mind of Christ", is die Engelse uitdrukking. Dit is die ingestelheid wat 'n mens herken in die evangelie-verhaal van die weduwee van Naïn aan wie, skryf die teks, Jesus haar seun "teruggee het" nadat hy die begrafnisstoet tot stilstand gebring het en die seun aanraak tot nuwe lewe. Of die woorde van lof waarmee hy praat oor die weduwee wat van haar min geld, nog in die tempel se skatkis gooi. Hy het dit raakgesien. En daaroor gepraat om dit uit te wys as onselfsugtige gee.
Dit is nie 'n romantiese ingesteldheid nie: om die lewenswyse te soek, is 'n kruisweg wat baie van 'n mens vra. Soms 'n kruisdood, soms 30 jaar se versorging van jou seun. Dit is taai.
Miskien is die toetsteen vir die waarde van die verhaal 'n enkele vraag: hoeveel kinders kan vandag só oor hul ouers praat?
Hier is die berig:
My ma voer nog altyd elke mank, afvlerk-siel wat oor haar pad kom. Al het sy dit self nie breed nie. Ek het lankal ophou baklei. Toe sy by haar nuwe kompleks intrek en een van die wagte R60 wil leen, het ek oë gerol en onder my asem gebrom. Sy het die geld uitgehaal wetende dat sy dit dalk nie weer gaan sien nie. Die wag het die skuld R20 op ’n slag afbetaal en ek moes my gebrom sluk.
Die eerste wag sê wel toe vir die tweede wag dat die antie in #49 hulle goedgesind is. So leen sy hier en daar geld uit, maak sy soms ’n oproep namens hulle en stuur sy ’n faks of twee. Dit kos haar mos niks, is haar redenasie.
My boetie is fisiek en verstandelik erg gestrem en my ma sorg al 30 jaar vir hom. Hy kon nog altyd self uit sy rolstoel uit “maneuvre”, maar so ’n paar maande terug verswak hy tot op die punt waar hy hulp nodig het.
Uit desperaatheid roep my ma een van die wagte om te help. Soos ’n kosbare skat tel Lukas my boetie oor op die bed. Toe my ma ’n fooitjie belowe, wys Lukas dit van die hand. Sy help hulle dan altyd, so hulle sal die antie in #49 verniet help.
Die stelsel werk goed. Sy loer by die agterdeur uit en die manne hardloop nader. Een van haar nuwe vriende word toe wel siek en hy word vervang deur ’n onbekende wag wie se Engels maar sukkel.
Huiwerig stop my ma by die hek, kry haar storie reg en roep die wag nader. Sy wil nog verduidelik, toe sê hy, hy weet van alles. Die ander wagte het hom ingelig.