Tuesday, October 22, 2013

Toe Calvyn se pa die priester geklap het.

Ons besoek vanoggend Noyon.

Die katedraal toring bo die stadjie uit. Dit dateer uit 1150, toe begin is om dit te bou. En eers 140 jaar later was die massiewe struktuur klaar.

Toe Calvyn in 1509 gebore was, was die katedraal dus al 219 jaar oud.

Ek verwonder my by die gedagte dat ek die gebou kan besoek waar Calvyn soveel kere kerk toe gegaan het.

Die kerk van Noyon was een van die mees invloedryke instellings in Frankryk - selfs belangriker as die Notre Dame in Parys.  En Calvyn se pa was blykbaar 'n bekende figuur in die kerk. Die gebou is 'n voorbeeld van die Gotiese styl. Die struktuur, nou grootliks gestroop van sy versierings, het met ons besoek, wonderbare ligroos kleure bo die wydse pilare wat sierlik boë vorm.

Ons besoek die kerk nadat ons by die Calvyn-museum inloer. Die gebou self is klein en die uitstalling vaal. Die huidige struktuur is vier eeue na Calvyn se geboorte opgerig. Al wat seker is, is dat Calvyn op die plek gebore is.

Vir my word die oggend boeiend: ons loop die paadjie van sy geboortehuis na sy kerk, net om die draai. Ek besef, terwyl ons dit doen, hoe sy lewe deur die massiewe gebou beïnvloed moes gewees het en wat dit aan hom gedoen het om van die kerk afskeid te neem.

Die vonds van die dag kry ek egter in die Engelse inligtingstuk wat die museum in 'n lêer vir Engelse besoekers aanhou. Calvyn kom uit 'n moeilike familie. Sy pa het as prokureur  na die kerk se finansies omgesien. Hy het hom vererg omdat hy van oneerlikheid beskuldig is en het net daar sy opponent bygekom. Hy is uit die kerk geban. Later sou Calvyn se broer,  Charles, ook 'n priester geklap het. Ook hy is uit die kerk geban. 

Moeilike manne, besef ek. En kry nuwe insig in my Hugenote voorouers wat Kaap toe getrek het.... 

Hier is Calvyn se geboorteplek:







Blog Archive