'n Mens hoor dikwels van
geestelike leierswat hul hele lewe op 'n onopsigtelike, maar betekenisvolle
manier aan die bediening wy. Hulle is min in die nuus. Hulle trek nie veel
aandag nie. Maar deur hulle werk, is hulle die gesig van 'n kerk wat omgee en
wat mense se lewens beter maak.
In vandag se NYT is daar
'n berig van so 'n persoon wat die grootste deel van sy bediening in 'n
gemeente in 'n groot stad gedien het. In hierdie In memoriam-berig kom sy nagedagtenis in herinnering.
Vroeër, jare terug, vertel die berig, was sy gemeente in 'n spogbuurt, maar toe
minder gegoede werkers daar gaan woon het, het die meer welvarende inwoners
weggetrek. Dit het een van die armste buurte in die stad geword.
Die predikant, wat self
in die buurt groot geword het, het ongesteurd sy gang gegaan, aandag gegee aan
die nood van sy nuwe gemeentelede, vir hulle werk geskep, huise gekry en vir
hulle skole gesorg - selfs toe sy kerkleiding die skole weens te min geld wou
sluit.
Hy het nie daarvan gehou
dat mense hom as 'n predikant op 'n spesiale manier behandel nie. Daarom het hy
niks gedra wat mense sou laat dink hy is 'n predikant nie.
Hy is iemand wat weg van homself na ander kyk en hulle in hul nood raaksien.
Hy het, het hy vertel,
geglo dat hy deur die kerk 'n verskil in mense se lewens kon maak.
Hierdie week is hy aan
kanker dood.
Die berig in een van die wêreld se bekendste koerante oor 'n geestelike se lang bediening is nie sentimenteel nie. Dit vertel van 'n man wat geroepe voel om te dien en nie gedien wil word nie. Hy wil hê die kerk moet 'n verskil maak.
Jy kan maar altyd die kwaliteit van 'n bediening meet aan die hand van mense se reaksies. Die berig vertel twee boeiende dinge oor die predikant:
Nadat hy in die hospitaal opgeneem is het meer as 'n duisend van
sy lidmate hom gaan besoek.
Dit was so 'n menigte en so 'n gedrang dat die hospitaal die besoeke
tot hoogstens vyf minute beperk het.
Een van die besoekers was
'n vrou wie se dogter deur die predikant gedoop is. Sy het aan die joernalis
vertel hoe die predikant sy gemeente-kinders na die strand geneem het en, toe tot
almal se genot, teruggekom het van die uitstappie met net een van sy skoene.
Dit is dalk die mooiste van die hele berig: die vreugde wat 'n mens aan jou kinders het. Soveel so dat 'n mens jou skoene verloor - en nie omgee om dit te doen nie...