Vandag,
by die merkwaardige katedraal in Amiens, bly dink ek oor die verskynsel van
mag. Die katedraal, wat oor die hele stad uittroon, is 'n toonbeeld van mag.
Dit vertel oënskynlik die verhaal van God wat die absolute maghebber is. En,
soos die beelde in die katedraal vertel, is God se finale mag veral te sien
wanneer God aan die einde van die tye God se teenstanders sal uitroei.
Deur
die eeue heen het mense hierdie verhaal van God se mag op verskeie vlakke
gedeel: in hul persoonlike lewens het
hulle gebid dat God deur 'n magtige ingryping vir hulle uit krisisse sal red. Ook
kerke, gemeenskappe en groepe het dikwels gebid dat God uitkoms sal gee deur
goddelike, magtige ingryping.
Vandag
staan katedrale leeg en mense bid nie meer nie. Die geskiedenis, sê hulle bewys
dat God nie regtig ooit ingryp soos wat in die verlede gedink is nie.
Dink
maar aan die Jodeslagting: ses miljoen Jode, God se uitverkore volk, sterf deur
die moorddadige Nazi-ideologie. Desperate gebede van hierdie gelowiges het
onverhoord gebly.
Is
dit die onvermydelike lot van die kerk? Om te moet toesien hoe mense weier om
te glo in 'n God wat sal ingryp om gelowiges en geloofsgemeenskappe te red?
Die
antwoord op die vraag sal ten nouste saamhang met hoe 'n mens God verstaan.
Die
kruis vertel 'n belangrike verhaal oor God: die kruis gaan immers om die opgee
van mag. God gryp nie in nie en Jesus sterf aan die kruis.
Maar
dan begin die verhaal eers werklik: die dissipels sal later aan hul
mede-gelowiges vertel hoe hulle na die dood van Jesus alle hoop verloor het en
uitmekaar gespat het. Nederig is hul openlik oor hul mislukkings, wanhoop en
desperaatheid na Jesus se dood.
'n
Mens lees in die Evangelies herhaaldelik hul getuienisse oor hul eie swakheid
en kleingelowigheid.
En hulle knoop hierdie eerlike self-kritiek met
'n geloof dat hulle bemagtig is tot groot dinge, ten spyte van hul mislukkings.
God
doen groot dinge, vertel Lukas in Handelinge aan sy lesers. Maar dit gebeur
juis deur die volgelinge van Jesus. In hul swakheid, maar ook hul getroue
getuienis, is God aan die werk. Hul getuienis word die getuienis van die
Heilige Gees.
Gevolglik
word hulle getuienis besonder kragtig: vele mense word in hul bediening tot 'n
nuwe verhouding met God gebring. Die
geloofsgemeenskap word 'n dienende gemeenskap wat soek om nuwe lewe te bring en
mense tot hul godgewe menslikheid terug te roep en te bekragtig.
Die
bediening van die dissipels is kragtig, lewensveranderend, maar terselfdertyd
dienend en self-opofferend. In Openbaring is hulle mense wat Christus volg en,
soos Hy, lewensgetrou aan God bly. Kragtig getuig hulle van 'n nuwe wêreld,
verset hulle hul teen die kwaad en soek hulle om 'n nuwe wêreld uit te dra.
Nog
belangriker: in die proses verset hulle hul teen die mag van die Bose. Nooit
sal jy sien dat die vroeë geloofsgemeenskap hierdie stryd gewonne gee nie.
Nederig, klein, wanhopig omdat God nie antwoord nie (Open. 6:10), bly hulle
nogtans onbevreesd in hul verset teen die kwaad.
Trouens,
so belangrik is hul verset, dat hulle in Openbaring 20:4 as mede-regeerders en
regters op die trone sit. Hulle word mede-stryders van God, wie se getuienis
die magte van die wêreld pynig en treiter (Openbaring 11). Saam met God, word
hulle regters oor die vyande van God en mens.
Op
die manier word 'n mens se verstaan van God op sy kop gekeer: dit is blykbaar
nie so bybels om te sit en wag dat God ingryp nie. Dit lyk ook nie so
indrukwekkend om te redeneer dat 'n mens nie maar kan glo omdat God mense in
die steek gelaat het nie.
Die
bybelse boodskap is dat God deur die mens se aktiewe, maar nederige,
self-kritiese getuienis die nuwe lewe en wêreld bring. Dit is nie God wat die
wêreld in die steek laat nie. Dit is gelowiges wat God en die wêreld in die
steek laat wanneer die kwaad toegelaat word om ongestoord sy gang te gaan.
Die
laaste boek in die Bybel wil op gelowige mense se hart druk dat geloof 'n mens
so naby aan God bring dat 'n mens saam met God, en, veral, in die naam van God,
vreesloos teenoor die kwaad te staan kom.
Geloof in God, anders as wat leë katedrale en wanhopige gelowiges 'n mens laat dink, beteken nie dat mag hoef te korrupteer nie. Trouens, geloof in God sal 'n mens juis inspireer en motiveer om mag gedurig te bevraagteken: wie in God glo, sal gedurig krities toets of geloof nie korrup geword het nie. Soos gelowiges in Openbaring sal gelowiges in latere tye ingestel wees daarop om mag te toets of dit van God is, of van die bose - en om korrupte mag vreesloos uit te daag.
Geloof in God, anders as wat leë katedrale en wanhopige gelowiges 'n mens laat dink, beteken nie dat mag hoef te korrupteer nie. Trouens, geloof in God sal 'n mens juis inspireer en motiveer om mag gedurig te bevraagteken: wie in God glo, sal gedurig krities toets of geloof nie korrup geword het nie. Soos gelowiges in Openbaring sal gelowiges in latere tye ingestel wees daarop om mag te toets of dit van God is, of van die bose - en om korrupte mag vreesloos uit te daag.