Die BBC het ‘n mistroostige dokumentêr oor begrafnisondernemers in Engeland. Hulle wys hoe mense se begrafnisse gereël word. Dit sluit in mense van alle gelowe, maar ook mense sonder geloof.
Die dokumentêr is so mistroostig soos die Engelse weer.
‘n Groot klomp van die begrafnisse, vertel die program, is van mense wat “humanisties,” nie-kerklik is, of mense wat nie “eintlik” kerk toe gaan nie. Hulle huur burgerlike begrafnisredenaars wat met ‘n dik lêer agter ‘n kateder inskuif en dan ‘n lang redenasie hou waarin die allerbeste prentjie van die dooie geteken word.
Van die dooies se familie vra soms vir ‘n kerklike diens. Een man, tranerig, vertel dat hy, Katoliek, wil hê dat sy vrou in die Anglikaanse kerk begrawe word. Nie soseer omdat hulle kerklik was of vreeslik godsdienstig nie. Maar hy wil in die kerk gaan sit en nadink oor hulle twee se lewe saam.
Een so ‘n “diens” is vir ‘n Blue Knight motorfietsryer. Sy
pelle sit almal in die kapel met blink gepoetste leerbaadjies, dik baarde,
spekvet-lywe, bandanna’s om die koppe, sommige met groen en geel hare, ander met
deftige leerpetjies. Sy kis lê in ‘n pikswart lykswaentjie met reuse-groot
glasvensters wat as ‘n syspan op ‘n motorfiets gemonteer is. Die kis wat op die
fiets gemonteer is laat dit lyk of hy ‘n dwerg was. Sy groot vriend van vele jare neem ook deel en hou ‘n
lyksrede van ‘n paar sinne: hy is dankbaar vir sy vriend, vir hul goeie tye,
vir sy lekker grappies, maar hy wil darem sê dat hy met die begrafnis die
laaste woord inkry. Die dooie se vrou verskyn voor die kamera: dis lekker om
almal by haar te hê met sy begrafnis, maar sy werk haar nie op nie. ‘n Mens kan
immers niks aan die storie doen nie. Jy moet maar inval by wat gebeur. En na
die diens klim sy op haar motorfiets om reg agter die kis in die eerste ereplek
te ry.
Natuurlik kyk 'n mens met 'n boeregemoed oopmond na al die bedrywighede. Nuwe tye daar in Engeland. Ieder vir sy eie.
‘n Paar keer word begrafnisse van Moslems gewys. Die vrou wat die reëlings tref, vertel herhaaldelik hoe deurmekaar die begrafnis is en hardloop heen en weer om in die chaos te sorg dat alles reg loop. Daar is nie juis ‘n liturgie, program of ‘n ritueel nie. Die mans is in die moskee en staan en bid sommer – anders as in normale dienste wanneer hulle kniel en met hul koppe op die vloer raak. Dan vat hulle die kis na die begraafplaas waar hulle die lyk in sy wit kleed uit die kis haal, in die graf inklim en die lyk dan onder planke toemaak sodat die grond nie daarop val nie. Dan is dit chaos soos ‘n ieder en ‘n elk grawe gryp om die lyk in te spit.
Daar is ‘n sterk godsdienstige kleur, nietemin, aan die Moslem-begrafnisse. Die lyk word begrawe met die gesig na Mekka gerig. Pragtig is die eenvoudige grafstene wat almal dieselfde grote is en wat as ‘n blok op die grond lê. Die stem verduidelik dat in die dood is almal gelyk. Almal het dieselfde grafsteen. En elke Moslem glo in die ewige lewe, sodat ‘n begrafnis vir Moslems nie ‘n verlate ervaring is nie.
Dit is, om van Lessing 'n woordjie te steel, ‘n garstige Grabe wat Moslem-begrafnisse van die Engelse s’n onderskei.
Ek verkyk my aan een episode waarin ‘n vrou wat nie meer lank het om te leef nie, haar eie begrafnis reël. Sy spandeer ‘n lang tyd om alles netjies te organiseer. Sy gaan kyk na die kapel waar die diens gehou sal word en vertel dan van haar ervaringe met die organisering. Vreemd, sê sy, om te dink dat sy nou soveel tyd spandeer om iets te organiseer waarby sy self nie sal wees nie.
Maar, dan die mistroostigheid: Op haar begrafnis, vertel sy, sal daar nie godsdienstige inhoude wees nie. Sy wil nie dat ‘n priester die diens doen nie. Ook sy huur ‘n burgerlike begrafnisklaer. Hy voer op kamera met haar ‘n onderhoud oor wat hy alles in die begrafnisrede oor haar kan sê. Vreemd, voeg hy by, om voor die tyd met iemand te praat vir wie hy die rede sal moet hou. Gewoonlik praat hy net met die familie. En haar rede sal vir hom anders wees, want die onderhoude met haar het hom van haar laat hou.
Hulle kom ooreen: daar sal net so ‘n stukke godsdiens by haar rede wees. Dit sal ‘n gebed wees. En daardie gebed, besluit hulle, gaan die Onse Vader wees. Maar niks meer nie.
Ek dink aan die rye, rye grafstene in die Moslem-begraafplaas wat almal na Mekka wys en wat simbolies uitdruk hoe mense uitsien na die ewige lewe – soveel so dat hulle nie somber en droefgeestig by begrafnisse is nie. Onwillekeurig tref die kontras my - die koue stukkie gebed wat iewers in ‘n burgerlike, sekulêre konteks ingesmokkel word.
En ek dink aan hoe dikwels die Bybel oor God praat as die Een wat ontfermend vir mense wil opneem in ‘n lewe vol sin. Warm. Uitreikend. Passievol. Die herder wat ‘n mens lei deur die tyd van die skadu’s, die doodskaduwee. Wanneer geen onheil ‘n mens sal tref nie.
Troos, soveel sterker, wanneer ‘n mens die mistroostigheid om jou beleef.