Buurman, een van die land se voorste spesialiste met die landbou-goed, gee vir my die vyeboom-stok.
Ons het pas gestaan en gesels oor vyebome.
Hy het die takkie versigtig gekweek van sy eie boom in sy agterplaas.
Die takkie het 'n klossie wortels, so groot soos my hand.
Ek ruk die ander vyeboom wat ek twee weke voorheen geplant het, uit en plant met eerbied die nuwe vindsel. Die vorige boom het sommer wild hier opgekom. Desperaat het ek hom oorgeplant in ons eie tuintjie. Maar ek het geweet dit kan 'n wilde tak wees.
Die nuwe takkie is iets heeltemal anders. Ek vertrou die buurman. Ek sien mos elke dag hoe geil groei sy tuin. Hy het groen vingers en sy oë flikker pure groen. Jy weet: hier is 'n man wat die veld met kop en hart ken. As hy 'n takkie kweek, is jy reg. Dinge kan goed werk.
Nie dat ek my twyfel het nie. Want hy self sê vir my dat dit soms gebeur dat so 'n takkie nie werk nie. Maar daardie bossie wortels het my vertroue ingeboesem. Ek plant. Self. Spit self. Gee onder sy toesig die eerste water. En seën my vyeboom met my hele hart en gemoed en siel.
En ek glo.
Ek is eindeloos lief vir vye. Somertye is vyetyd. Deesdae kry 'n mens mos te kope. Vroeër het niemand vye gereken nie. Jy hoef dit nie te gekoop het nie. Jy pluk sommer uit die naaste tuin. Maar sulke tuine het skaars geword. Daarom koop ek en betaal 'n handvol rande per vy en proe met oorgawe elke hap.
Lekkerder daarom, om sulke vye te eet.
Weke lank, na die plantery in die middel van die winter, staan die takkie kiertsregop. Hy roer nie, bloos nie. Hy staan net daar. 'n Vaal strepie, penorent in die lug.
Die enigste teken van hoop is die sagte, murwe kleur groen wat 'n mens by nader kyk in die takke herken.
Ek weet en ek bly kyk dat dit nie weggaan nie: groen is die teken van lewe.
In sekere godsdienste is groen die simbool vir die goddelike: die teken van lewe.
En weke lank hou ek goeie moed, want die takkie bly groen as die winterkoue snerpend toeslaan en die winterreëns in massa die boompie wil verdrink.
Na 'n ruk sien ek twee knoppies aan die tak. Dit lyk soos twee molshopies in die groot einders van 'n karoovlakte. Jy sou dit nie raaksien nie as jy nie langsaan gaan staan en staar nie.
Ek kan nie definitief sê nie. Maar dit lyk vir my na botsels.
En toe, 'n week of wat gelede, toe die eerste warm nag aanbreek, gebeur dit: oornag kom daar puntjies van blare uit. Die hoop beskaam nie. Ek voel amper soos by die geboorte van die kinders: jy wil net kyk, vashou, soen en druk.
Buurman sê hierdie takkie gaan Januarie vye dra.
Ek glo hom.
Vanmiddag wys hy vir my die moederboom in sy agtertuin: stomp het hy hom gesnoei. Daar is 'n dik stam en soos rumatiek-vingers kies 'n paar takke koers die lug in.
As dit is soos sy boom lyk, weet ek, sal ook die hoop op 'n paar vye in die somermaande, nie beskaam nie.
Ek gaan daardie eerste vye met 'n ritueel eet.
Elke dag as ek die barre takkie gaan kyk het, bly dink ek: so lyk ons geestelike reis. Vir die ongeoefende oog net barheid. 'n Kale takkie wat verskrompeld eenkant staan.
Maar groen is God se verborge werking en, op 'n dag, blom die hoop uit en word alles werklik: nuwe lewe. Helder groen bot dit uit. Die beeld van God. Onmiskenbaar. Op pad na nog groter heerlikheid: die ryp vrug van die ewige lewe.