Thursday, October 03, 2013

Kyk tog hoe vreeslik ly ek onder jou?


Ek onthou dat ek 'n paar jaar gelede die eerste keer te doen gekry het met die uitdrukking "guilt trip." 

Dit is nou wanneer jy op iemand wat jou uitbuit, se skuldgevoel speel om jou sin te kry.

Jy het dus 'n voordeel te vind deur te maak asof jy die minste is teenoor die een wat jou mishandel of jou sleg behandel.

Kyk, sou 'n mens kon argumenteer oor die houding van "toegee", van die "minste wees": kyk hoe gee ek toe aan jou mag, jou onredelike eise. Met die verborge ondertoon: voel jy nie skuldig daaroor nie?

Jy stuur jou uitbuiter dus op 'n reis vol skuldgevoel. Jy hoop jou houding dwing hom om op te hou met wat hy doen.

Só sou mense ook oor die volgende uitsprake van Jesus (in Matteus 5:38-41) kon redeneer:

Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle dat julle 'n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.

Jesus, redeneer sommige, sê mense moet hul laat uitbuit om sodoende hul uitbuiters skuldig te laat voel. Die uitbuiting sal op die manier dan tot 'n einde kom. 

Dit sou moeilik wees om dit te ontken - as dit nie was vir wat Jesus dan sê nie. Want dan volg een van die mees opsienbarende uitsprake van Jesus:

Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is. hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie. Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.

Jesus wil nie van sy volgelinge swakkelinge maak nie. Hy spoor eerder vir hulle aan om hul waardigheid te bevestig. Wanneer iemand jou aanval, wys vir daardie persoon dat jy nie met geweld gaan reageer nie. Jy slaan nie terug nie. As hy jou deur die gesig klap, wys vir hom of haar dat sulke gewelddadigheid nie jou menslikheid van jou kan wegneem nie. 

'n Mens tree op die manier op, jy is die een wat dapper vir jou vyand wys hoe vernietigend sy/haar optrede is, omdat jy gedryf word deur die liefde. 

Mense vind dit steeds een van die moeilikste opdragte in die Skrif. Hoe is dit moontlik om iets te doen wat skynbaar so duidelik in konflik met die menslike natuur staan? En tog - die lewe van Jesus word so beskryf dat Jesus dit nie net sê nie, maar in een van sy aangrypendste gebede vir sy moordernaars om God se vergifnis bid.

Dit maak die bergrede anders as 'n "guilt trip." Om jou wang te draai, is nie 'n gebaar waarmee jy die ander manipuleer nie. Jy "speel"  nie die rol van die mindere om iets te bereik met die persoon nie. 

Jy ontmasker deur jou inherente afwys van geweld die teenstander as 'n magtelose boelie. Dit doen 'n mens ter wille van hom- of haarself. Om die teenstander te bring om sy optrede as self-vernietigend te herken.

Dit het onvoorstelbare etiese konsekwensies: self-prysgawe, diens aan ander, word deur die diepste en edelste van alle ervaring gedryf - die ervaring van die liefde.

Hier is ook die verskil tussen moralisme en spiritualiteit: diens aan ander wor deur 'n diepsinnige, radikale geestelike ingesteldheid gestuur.  


Blog Archive