Bernard
van Clairveaux is die mistikus van die liefde.
Maar
hy het ook sy donker, minder liefdevolle kant: heel gewillig het hy namens die
pous deur Europa getrek om mense vir die kruistogte te werf.
Sy
toesprake het groot skares getrek. En sy wapen was formidabel: Hy het die bybel
kwistig gebruik om mense te oortuig dit is 'n heilige roeping om na Jerusalem
te gaan en die beloofde land met geweld terug te neem.
Dit
lees ek hierdie week toe ek 'n stuk moet skryf oor Efesiërs 6:11-17. Hier is
die teks:
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly
teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed
nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die
duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die
volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil
en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle
lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en
as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van
die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En
neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees - dit is die woord
van God.
In die teks word oorlogstaal vergeestelik. Al die
bekende voorwerpe wat 'n mens met 'n soldaat assosieer, wat te doen het met
doodmaak en vernietig, is hier voorwerpe wat opbou en lewe gee: 'n Borswapen
word as geregtigheid gereken. Skild is nie meer iets waarmee jy jou teen die
vyand se pyle weer nie, maar dit is nou geloof waardeur 'n mens 'n heel nuwe
kyk op ander en op die wêreld kry. Die helm is verlossing en die swaard maak
nie dood nie en vat nie lewe weg nie. Dit is die woord van God wat mense se
lewens omvorm en die weg na die paradys uitwys.
Die geweldstaal van daardie tyd word uit sy
gewelddadige konteks gehaal en word geloofstaal.
Die bybelskrywers doen wat Jesus gedoen het: geweld
word vervang met vrede. Oorlog met die paradys.
Bernard van Clairvaux, die mistikus van liefde, dink
niks daarvan om die proses weer om te keer nie: hy verander die geloofstaal van
vooraf weer in geweldstaal om mense in die naam van God tot deelname aan die
kruistogte aan te spoor. Hy skryf oor Efesiërs 6:11-17: "die ridder wat
die wapenrusting van geloof aantrek op dieselfde manier as wat hy sy borsplaat
van yster aantrek, is onaantasbaar en veilig. Dus, reis veilig, ridders, en
dryf met onbevreesde gemoed die vyande van die kruis van Christus
weg."
Dus wat bloeddorstigheid met die bybel regkry.
Daar is een teks wat egter nie so maklik omgekeer kan
word nie. Wat sou die dapper ridder wat op pad is om Jerusalem ten bloedens toe
in te neem, doen met die gebod tot vyandsliefde? In 'n militêre situasie kan 'n
ridder met die swaard in sy hand nouliks sy vyand liefhê?
Hoe hiermee gemaak?
Die oplossing is eenvoudig: jy kan jou persoonlike vyand liefhê, maar jou
land en geloof se vyand hoef jy nie lief te hê nie.
Dus:
Jesus het bedoel, in hierdie gedagtegang: jy moet sommige van jou vyande liefhê....