Thursday, October 10, 2013

Die treitering van die verlange.

Totius se (onsterflike) beryming van Psalm 42 is deesdae dikwels in my gedagtes.

Hy begin die Psalm met die beeld van die dier wat in 'n woestynagtige plek van dors vergaan. Net so, verwoord hy dit, skreeu die bidder in sy siel na God. 

Intens is die mens se verlange na God.

Soos ’n hert in dorre streke
skreeuend dors na die genot
van die helder waterbeke
skreeu my siel na U, O God!
 

 In die volgende vers word die verlange nog dieper uitgewerk:  die dorstige siel is bewus van sy bestaan as swerwer wat in benoudheid leef, maar weet daar kom 'n tyd waarin hy in God se teenwoodigheid sal wees. Die vraag is net wanneer:

 Ja, my siel dors na die Heer,
na die Lewensbron; wanneer
sal ‘k, ná swerftog en benouing,
God weer sien in klare aanskouing?


Die frase van : "klare aanskouing" boei my oor en oor. Helder, direk, onmiddelik sal die mens weet dat hy of sy in God se teenwoordigheid is. 

Daaroor is daar nie twyfel nie.

Juis omdat die aanskouing so spesiaal is, die les van die dors so volmaak, is die verlange so intens: wanneer sal dit gebeur - hierdie oomblik wanneer 'n mens by die water sal neerkniel en God sal uitskink van die koel, lewegewende lewensdrank? 

Vir daardie oomblik wanneer die groot bevryding sal aanbreek en die volmaakte vervulling sal kom!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive