Dit
is ongelooflike energie wat uit die rugbytoets tussen die Springbokke en die
All Blacks uitgestraal het.
Dit
is hoë spanning wat 'n mens ervaar uit sport op hierdie vlak.
Die
drie van Jean de Villiers was vir my die hoogtepunt. Hy het die vierde drie van
die Springbokke gaan druk, met 'n indrukwekkende systap van beide Barrett en
Ma'a Nonu.
Teen
daardie tyd het die manne al na hul asems gehyg. Die druk was moordend. Die
passie dodelik.
Jy
kon sien hoeveel was op die spel.
Hoe
hoog die energievlakke was, het 'n mens gesien die oomblik nadat Jean de
Villiers sy drie gedruk het.
Dit
was nie die einde van daardie drie nie. Hy het nog 'n ent gehardloop en die bal
met een geweldige hou op die grond gegooi.
Asof
die druk van die drie nie genoeg was nie en hy nog 'n paar punte sommer net
daar wou aanteken.
Die
wedstryd is bloot net 'n spel. Dit is
sport uit die boonste rakke. Baie mense put die hoogste genot daaruit. Lank nog
sal 'n klomp persone grepe daaruit onthou en daaroor praat.
'n
Mens is betowerd hoe mense geïnspireer kan word om uit te blink en eenvoudig
hulself totaal te verloor om "die kroon" van oorwinning te smaak.
Soms
is daar mense wat hul geestelike reis ook so aflê. Hierdie uitblinkers onder hulle word soms in die volksmond as "heiliges" benoem.
Die bybelse tekste maak die "speelveld" gelyk: heilig is ieder en 'n elk. Wie in die Gees leef, is vurig en met oorgawe op soek na daardie oorwinningskroon.
Dit is nie 'n moralistiese spanpraatjie wat Paulus kwytraak nie. Hy vertel daarmee van die aantreklikheid, die skoonheid van die teenwoordigheid van God. Wie dit ervaar het, het alles feil daarvoor - vanuit die hart, die innerlikste deel van die mens se innerlike.