Sunday, October 20, 2013

Wanneer 'n kerk 'n grafkelder word


Ek lees dat die meeste, grootste en belangrikste abdye in Frankryk geleë is. Van hulle het 'n indrukwekkende geskiedenis. Een van hulle, by Cluny, is in die tiende eeu begin bou. Op 'n stadium was daar meer as 'n duisende monnike wat in 'n groot kompleks met baie geboue gewoon het en deur 40 plase van voedsel voorsien is. Dit sou vir eeue die grootste  Christelike kerk in Europa word met baie mag en groot invloed. Later het die abdy toesig gehad oor vele ander kloosters. Op 'n stadium was daar 10 000 monnike wat onder sy beheer was.

Een van die bekendste monnikke uit hierdie tradisie was Bernard van Cluny. Hy was veral bekend vir sy satiriese gedig met die titel: Oor minagting vir die wêreld (De contemptu mundi). Die gedig gee 'n mens 'n insig van binne op 'n kerk wat ongebreidelde mag het. Bernard se teks, in 1557 gepubliseer, ontsien niemand nie. Hy onthul die magsmisbruik van die kerkleiers en die geestelike werkers van sy tyd. Hul dronkenskap, gierigheid, valsheid, bygelowigheid en afwyserigheid word genadeloos gekritiseer. Later sou protestante hierdie teks telkens aanhaal om ook kritiek teen die kerk van die sewentiende en agtiende eeu te lewer.

Maar Bernard was nie net krities teenoor verval in die kerk nie. Hy het dikwels in die geskrif teruggekom op die sentrale tema dat 'n mens se lewe verganklik is. Wat vandag opwindend lyk, is môre verby en leeg. Wat vir hom tel, is geestelike seëninge. Hulle bly by 'n mens en vul die lewe op 'n sinvolle manier.

Die ironie is dat hierdie magtige Benediktyse abdy in Cluny, wat oorspronklik deel was van 'n hervormingsbeweging, later feitlik van die toneel verdwyn. Dit was aanvanklik 'n diep, geestelike beweging wat vanweë die vroomheid daarvan, vele mense se lewens positief sou verander. Veral bekend was die aangrypende liturgie.

Met die vervlakking en korrupsie, het sy invloed getaan. Die Sistersers, wat 'n strenger orde was, het toe as 'n nuwe hervormingsbeweging ontstaan.

Die geskiedenis onthul die meedoënlose ondergang van 'n kerk wat sy geestelike karakter verloor. Frankryk, die tuiste van die grootste geestelike bewegings in die geskiedenis van die Christendom, spog met net die ruïnes van beroemde abdye, of, geboue wat kantore en wooneenhede geword het. Jy betaal R50 vir 'n besoek aan die paar oorblyfsels van Cluny, eens die grootste en beroemdste kerk in Europa. Die kerk is nouliks meer 'n museum. Eintlik nog maar net 'n grafkelder.



Blog Archive