Friday, November 01, 2013

Liefde wat heel is


In Lukas 15:8-10 word die volgende gelykenis van Jesus vertel:

8 “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê:
‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’ 10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

In Lukas 15 kry ons drie gelykenisse wat oor verlorenheid gaan: daar is eerstens die gelykenis van die mens wat een van sy honderd skape verloor. Hy kan dit nie verdra om te dink sy skaap is weg nie. Hy los die 99 skape wat hy nog het, net so in die woestyn totdat hy sy skaap met groot blydskap kan vind. Net so is daar ‘n vrou wat alles omkeer om haar een verlore silwermuntstuk te kry. Sy kan dit nie verdra dat daardie een muntstuk verlore is nie. Uiteindelik is daar die verhaal van die Verlore Seun wie se pa met verlange uitsien om sy seun terug te bring  huis toe.

Die boodskap gaan blykbaar die “verlorenes” vir wie daar hoop is.

Mense hoef nie te wanhoop nie. Niemand is te sleg vir God se genade nie. Dit is ‘n boodskap uit die hart van die Bybel wat groot troos bied.

‘n Mens kan egter te maklik dink die drie verhale gaan net oor die skaap, die muntstuk en die seun. Die gelykenis praat veral oor God wat nie sonder mense wil of kan wees nie omdat God verlang om liefde te deel met die volheid van die hele skepping.

Hoewel God alles skep, alles besit en alles kan doen en dus sekerlik genoeg het om mee tevrede te wees, dink God nie aan die baie wat God het nie. God wat soveel het, wat so ryk is, wat 99 skape en 9 munte het, kan nie verdra dat die honderdste skaap en die tiende munt weg is nie. Sonder die een skaap en die een munt wil God nie wees nie. God sal alles doen om selfs die kleinste, selfs die slegste terug te win in die liefde. 

Die gelykenis vertel van God se liefde wat nie kan uitstaan dat selfs die slegste of die geringste van God se mense sonder die liefde leef nie. Die liefde, ontdek ons hier, is nie heel as ons as daar mense is wat nog nie in God se liefde deel nie.

Baie mense dink aan God as ‘n streng, veroordelende God wat net reg staan om mense te straf. Maar hier word ‘n beeld van God geteken as ‘n God wat uitreik na mense, wat eintlik nie sonder mense kan klaar kom nie.

Hierdie gelykenis is veral vir ‘n huwelik baie spesiaal:  daar kom dae dat lewensmaats mekaar teleurstel, seer en bitter maak. ‘n Mens kan dan met verwyte en beskuldiginge reageer. Jy kan soos die oudste seun staan en raas oor die slegtheid van jou maat.

Of ‘n mens kan soos God word en in jou tyd van teleurstelling die beeld van God uitdra. Dit gebeur wanneer ‘n mens soos God in die liefde glo, ook en veral wanneer dinge verkeerd loop. Dit is ‘n groot waagstuk en sekerlik nie maklik nie.

Die liefde, weet ‘n mens, is die moeite werd. As die liefde nie gou oorwin nie, sal dit in die toekoms wel seeëvier. Soms vra dit inspanning, soms vra dit jare se wag, soos die vader met die verlore seun. Die liefde kan sonder daardie maat nie heel wees nie. Trouens, juis omdat jou maat van die liefde weggeval het, verlang die liefde na hom of haar. Liefde is alleen volmaak wanneer dit heelgemaak is.

Blog Archive