Die kerk het nog steeds ‘n sterk puriteinse neiging gehad.
Daar was dae dat mense hulle liggame weggesteek het onder groot swaar swart
rokke as teken van hoe vroom hulle was. Grimering was uit die bose. Net los
vrouens laat hulle hare doen en kleur. Juweliersware was onder verdenking. Mans
het pakke gedra. Studente wat in die somermaande sonder baadjie en das op die
kampus verskyn het, is ernstig aangespreek. Toe bikini’s op die toneel verskyn
het, was dit maande lank sensasie in die media.
Hierteenoor beklemtoon spiritualiteit die beliggaming van
geloof: geloof is nie net ‘n geestelike
saak nie. Dit raak ‘n mens se liggaam en konkrete bestaan. Jou liggaam is nie
iets wat jy wegsteek nie, maar wat deur jou geloof gevier en bevestig word.
Die inkarnasie, of vleeswording van Christus is immers ‘n
sleutel-motief in die Bybel. God, leer die belydenisskrifte, het ‘n menslike
liggaam aangeneem. Christus word ‘n baba, tot vreugde van mense en engele. Christus
genees mense se liggame: blindes, lammes, gestremdes. Christus staan op die
derde dag op uit die dood tot ‘n verheerlikte liggaam. Vir Paulus is die
liggaam so spesiaal dat hy dit die tempel van die Gees noem. In 1 Korintiërs 15
vertel hy hoedat die nuwe bedeling sedert die opstanding die bedeling is waarin
die mense ‘n verheerlikte liggaam ontvang. Tydens die nagmaal ontvang ons die
tekens as aanduiding van Christus se liggaam. Die doop is ‘n teken wat aan die
liggaam bedien word. Wie gewas word in die water, word gereinig van die ou
bestaan vol mislukking en skande. Nou word mense nuut: hulle leef in die
bedeling van vreugde oor God wat aan ‘n mens geestelik en liggaamlik die groot
vreugde van die lewe skenk. In die huwelik word mense liggaamlik een as ‘n
teken van intieme liefde. Paulus vermaan selfs mense om nie in hul huwelikslewe
mekaar seksueel te verwaarloos nie.
Geloof is ten nouste met beliggaming verbind. Liggame is nie
iets wat weggesteek word nie, maar word deur die geloof geheilig, verheerlik en
gevier.
Die liggaam is heilig. So heilig dat die kerk die liggaam van
Christus genoem kan word. En soos alle heilige sake, gee die liggaam aan die
mense se lewe groot vreugde.
Juis daarom sal ‘n gelowige mense met uiterste sorg met sy of
haar liggaam omgaan. Met blydskap geniet ‘n mens die liggaam wat God aan ‘n
mens geskenk het. ‘n Mens pas dit op, hou dit gesond, sorg dat dit skoon is,
eet reg, span dit in, vier dit. ‘n Mens maak jou liggaam mooi, trek goed aan,
gebruik jou liggaam om ander bly te maak of te help.
Een van die oudste dwalinge in die kerk is dat die liggaam
boos is, dat ‘n mens jou liggaam as ‘n tronk ervaar, dat jou liggaam jou tot
allerhande skandalige begeertes verlei en daarom bestry moet word. Die gnostiek
het alle liggaamlike dinge as ‘n hindernis beskou.
Die kerk het nog steeds hierdie wanopvatting verwerp. Die
liggaam is ‘n kosbare geskenk van God wat ‘n mens elke dag voluit moet geniet
en versigtig moet versorg. Trouens, ‘n mens sou kon sê dat jy iemand se geloof
kan meet aan die manier waarop hy of sy na hul liggaam omsien.
Juis daarom is ‘n belangrike geestelike oefening om jou
liggaam te eer. Gelowiges kan hul geloofslewe versterk deur te soek na maniere
om liggaamlik tot God se eer te leef. Op
watter manier kan ‘n mens na jou liggaamlikheid omsien? Hoe kan ‘n mens God eer
deur die manier waarop jy met jou liggaam omgaan?
Deur saam met jou gesin jou ete te geniet, met ‘n gebed, maar
met gesonde kos, kan ‘n mens God al op ‘n hele paar maniere dien. Sommige
kerke, weer, vra hul lidmate om skadelike stowwe, soos koffie en alkohol te
vermy of in te perk. Om gereeld te gaan stap, om stil in die natuur deur te
bring, om higiënies te leef, om fyn te luister na die behoeftes van jou
liggaam, om te kniel wanneer jy bid, om selfs uitgestrek op die grond te lê wanneer
jy voor God boete doen, om met oop hande te bid, om in siekte spesiaal
versigtig na jouself te kyk, om jou nie te oorwerk nie, om ander se liggame te
eer, om jou familie te omhels – dit is alles maniere om gelowig na ‘n mens se
liggaam om te sien.
In moderne spiritualiteit is die eerbied vir ‘n mens se
liggaam ‘n belangrike geestelike oefening. Trouens, dit is een van die opvallendste kenmerke daarvan.