Saturday, November 02, 2013

Om in die liefde te glo

Die vader van die verlore seun wag geduldig en lank vir sy verlore seun om huis toe te gaan.

In sommige meditasies word veel gemaak van die pa wat sit en verlang na sy seun en wat uiteindelik van intense vreugde vir sy seun tegemoet hardloop wanneer hy hom van ver af sien huis toe kom.

Die pa het gely onder die verlies van sy seun.

Maar dit is duidelik dat die pa ook geduldig was en met geduld gewag het. 

Die pa het vir sy seun ruimte gegee om te kies: hy kon kies om uit sy ouerhuis weg te gaan. Sy pa het hom nie probeer terughou nie. Sy seun het uit vrye wil padgegee en sy pa het sy besluit aanvaar. 

Hoe kan 'n mens so geduldig wees?

Die pa het in die liefde geglo. Die pa het geweet dat die liefde uiteindelik sal wen. Sterker as al die opwinding van die ver land, as al die plesier van die vrye lewe, is die liefde.

Juis omdat die pa so onverbiddellik geweet het dat die krag van die liefde onstuitbaar is, het hy kon bly wag.

Dit is 'n mistieke wete: dat die liefde onstuitbaar is. Niemand kan die krag daarvan weerstaan nie. Uiteindelik moet die liefde oorwin.

Juis daarom kon die pa die pyn van verlange verduur.  Die pa het in die liefde geglo. En daarom geweet dat een of ander tyd sal die seun weer huis toe kom.

Blog Archive