Wednesday, November 13, 2013

"Heilige" woede? "Regverdige" woede? Tyd vir 'n tweede gedagte?


Reeds 'n tyd terug het mense in 'n minder puriteinse en vroom omgewing al begin beklemtoon dat 'n mens nie jou woede moet opkrop nie. Die ou deug van self-beheersing met sy Stoïsynse wortels het nie meer so vanselfsprekend gegeld nie.

Dit is goed om van jou emosies ontslae te raak, het die nuwe sielkundige benadering geredeneer.

En dit is goed om deur jou woede aan ander te wys wat hulle jou aangedoen het, is verder bygevoeg. Dit word vir sulke mense 'n aanduiding dat hul optrede teenoor jou jou gekwets het. En dit maan hulle om vorentoe maar minder maklik jou toorn te ontlok. Op die manier kry woede 'n sosiale funksie om die onaanvaarbaarheid van (vir jou) onwenslike gedrag uit te wys.

Sommige mense ekstrapoleer hierdie "billike woede" van 'n individu teenoor individue na groter sosiale verbande. 'n Mens kan met reg, beweer hulle dan, in woede optree teenoor groepe mense wat deur hul gestruktureerde optrede ongeregtigheid bevorder en onregverdige strukture in stand hou. 

"Regverdige" woede, noem mense dit dan. Hier, veral, word woede gelug teen die staat of teen 'n struktuur waarin onreg verdra en selfs vertroetel word. Mense sien dan hierdie woede teen groepe of strukture in 'n minder negatiewe lig.

In 'n meer sensitiewe konteks word nietemin nog so bietjie gefrons as die woede darem te gewelddadig of te buitensporig getoon word.

Baie meer verdraagsaam is mense teenoor sekere vorme van woede wat hulle as geregverdig beskou. Korrupsie, misdaad, verkragting is voorbeelde van gedrag wat mense bedreigd laat voel en woedend maak. Hulle word maklik deel van 'n opset waarin gedurig en uitgesproke teen skuldiges uitgevaar word. Dit is deel van "normale" gesprekke waaraan kerklikes net so lustig meedoen.

Miskien is dit tyd om in ons uiters gespanne tye weer die saak onder loep te neem. Veral omdat die grens van woede na geweld maklik en vinnig oorgesteek kan word. Woede het dikwels nie meer 'n funksionele betekenis nie. Dit is nou lank nie meer 'n teken van negatiewe gedrag om te wys jy is woedend nie. Padwoede, kommentaar in die media, stakingswoede, woede teenoor opvoeders, teenoor 'n kerk is nie meer 'n aanduiding van skandelike optrede nie.

Is daar, gesien hierdie agtergrond, dus wel ruimte vir "regverdige" woede en indien wel, wat sou die onderskeid tussen goeie en slegte woede wees?

Sommige mense verbind die onderskeid met die voorwerp van woede: woede is regverdig wanneer dit opgeroep word deur dade wat iemand anders as jouself benadeel. Wanneer ander 'n onreg aangedoen word, is dit genoeg rede om in opstand te kom en woedend te reageer.

Vanuit 'n geloofshoek is daar genoeg materiaal wat so 'n besinning vra. Daar is immers genoeg bybelse voorbeelde wat 'n mens aanmoedig om eerder te verdra as woedend te reageer, wat geduld en verdraagsaamheid aanmoedig en wat  lankmoedigheid aanprys. Die voorbeeld van Jesus tydens sy verhoor en aan die kruis wanneer die omstanders tart en spot, bevestig dit. In hierdie situasie is daar nie 'n teken van woede by Jesus te vind nie. Dit is 'n situasie waarin hy bereid is om die woede wat hom as individu teiken, te verdra.
In die Bybelse voorstelling word Jesus se opstand teen korrupte maghebbers en skynheilige geestelikes egter skerp uitgebeeld. Hy huiwer nie om hulle sterk te veroordeel nie.

Dus, die grens word oorgesteek na "slegte" woede wanneer 'n mens woedend raak oor iets wat jouself aangedoen word.  Wanneer jy die onreg ly, is meer omsigtigheid nodig.

Maar ook hier is alles nie so maklik nie. Toenemend word nagedink oor die vorm wat woede aanneem en oor die manier waarop mense hul "goeie"  woede ervaar. 'n Mens kan 'n "heilige" woede op 'n baie onheilige manier laat wys. Die retoriek van Jesus in Matteus 23, Paulus se beskrywing van sy teenstanders in Galasiërs 3 en Openbaring se oënskynlike verlustiging in die verskriklike strawwe wat die bose in 'n ewige oordeel sal tref, roep baie vrae op.

Ook hier is 'n sekere maatstaf te vind:  wanneer 'n mens se woede deur 'n passie vir ander gedryf word, kan dit 'n helende funksie hê. Kwaai, selfs woedende woorde wat nie kwets nie, maar bestraf, kan ander tot nadenke dwing. Die maatstaf is dus: hoe gaan my woorde die skuldige persoon bewus maak van sy of haar slegte gedrag?

Die ironie is dus dat heilige woede heilig is omdat dit deur vyandsliefde gedryf of gemotiveer word. Wanneer woede wil verdelg, verwerp of uitwis, is dit lank nie meer heilig nie. En dan is dit doodgewoon verkeerd.

Maar, sou 'n mens dan per slot van sake kan vra: is dit vanpas om van heilige "woede" te praat Hoe sterk en onlosmaaklik is daar 'n afbrekende, destruktiewe element aan woede verbonde? Kom 'n mens nie nader aan wat op die spel is nie deur eerder van heilige verontwaardiging te praat? Moet ons nie juis deur ons taal wys hoe versigtig ons is teenoor woede wat handuit kan ruk?

Blog Archive