Sunday, November 17, 2013

Elke dag 'n geleentheid. Om tyd te koester.

Vanmiddag saai die BBC die wedstryd tussen Suid-Afrika en Skotland uit. Hulle bied dit aan as een van die belangrikste sport-uitsendings van die dag.

Voor die tyd is daar 'n onderhoud met Joost van der Westhuizen. Hy praat samehangend, maar sy spraak wys duidelik hy is 'n siek man. Sy goeie Engels word daarom met onderskrifte op die skerm uitgebeeld.

Die uitsending begin met 'n toneel van Joost waar hy in die pawiljoen sit om na die wedstryd te kyk. Tydens die pouse vertel die kommentator dat daar enorme reaksie was op hul onderhoud met Joost en word die gegewens weer op die skerm gewys waar mense die fonds vir sy stigting vir motorneuron-siekte kan ondersteun. 

Voor die wedstryd begin vertel 'n paar van die rugbyhelde uit die verlede hoe hulle Joost onthou. Een van hulle noem hom die beste skrumskakel teen wie hy ooit gespeel het. Maar, voeg hy by, in sy tyd was hy ook die beste rugbyspeler in die wêreld.

Die respek vir Joost is indrukwekkend.

Maar die onderhoud bly my by: Joost vertel manmoedig hoe hy ontdek het, 'n skrale jaar of twee gelede, dat hy die siekte gehad het. Dit het hom dankbaar gemaak omdat dit hom geleer het om dinge te waardeer wat hy voorheen nie geag het nie. 

Hy wys pertinent op sy familie en sy twee kinders ter wille van wie hy nou nog steeds teen sy siekte stry.

Boeiend vertel hy dat hy geleer het dat daar twee dinge is wat 'n mens gewoonlik nie waardeer nie. Die een is gesondheid en die ander een is tyd.

Hy het op een slag gehoor dat hy albei verloor het.

'n Mens moet die dinge nie as vanselfsprekend aanvaar nie. 

Ek besef: gewoonlik waardeer 'n mens eers jou gesondheid as jy dit verloor het. Maar te min het ek nog gedink aan die waarde van tyd. 

Elke dag is pure goud werd. Onthou ek wat 'n mens te min hoor: jy kry 'n dag nooit weer oor nie. Maak voluit daarvan gebruik. 


Nou kom daar by: jy kry ook net soveel dae. Moenie daarmee mors nie. 

Tog, selfs met min tyd oor, kan 'n mens nog voluit lewe - selfs in die moeilikste omstandighede. Miskien geld dan juis dat 'n mens tyd meer as ooit waardeer. Kosbaar is elke dag wat 'n mens nog kan lewe, veral naby aan hulle vir wie jy lief is en wie vir jou lief is. 

Juis daarom is daar soveel sin in Gereformeerde spiritualiteit se klem op stiltetyd in die oggend en in die aand. Soggens om jou in te stel op die dag wat aan die kom is, uit dankbaarheid vir nog 'n geleentheid om te kan leef. Saans, om na te dink oor die dag van vandag en dankbaar teenoor God te kan wees vir die goue geleentheid om nog te kon lewe.

Dit word dan 'n geestelike oefening waarin 'n mens konsekwent die waarde van tyd leer koester.

Vandag, voor die BBS uitsending en uit die mond van Joost, is 'n kosbare wysheid ook so bietjie dieper in my hart geplant.

Blog Archive