Die konferensie in
Baltimore begin met 'n bespreking van 'n kursus in geestelike vorming ("spiritual formation") oor die
internet. Twee spesialiste wat die kursus by twee universiteite aanbied, vertel
meer van hulle ervaring om so 'n kursus as "afstandsonderrig" aan te
bied.
Sommige
tradisionaliste sal bietjie wonder: Hoe op aarde bied 'n mens 'n kursus oor
geestelike vorming oor die internet aan?
Oor jare heen het
mense sulke kursusse op 'n kampus in 'n klas-situasie gedoen.
Die twee aanbieders
is bedrewe: oor die afgelope dekade het hulle verskeie toekennings ontvang
waarmee hulle navorsing gedoen het. Hulle het baie gelees oor die onderwerp,
maar hulle het nou ook al 'n bietjie ervaring opgedoen wat nog verdere insigte
opgelewer het.
Hulle word in hierdie benadering goed deur hul kollega's ondersteun. Universiteite wil
hul vlerke wyer sprei. Nie almal het die vermoë of die geleentheid om voltyds
op 'n kampus te studeer nie. Al hoe meer mense verkies dus om deeltyds verder
te studeer. Hulle doen dus hul studies terwyl hulle 'n werk het of deur die dag
verantwoordelikhede vir hulle gesin het. Universiteite weet dit. Hulle wil aan
die behoefte van mense om in sulke omstandighede verder te studeer, voorsien.
Dit maak hulle
situasie uniek. En die vraag word dan hoe 'n mens vir hulle 'n opleiding gee
wat reg laat geskied aan vakke wat tradisioneel op kampus aangebied is.
Die internet bied
nuwe geleenthede hiervoor, maar dit roep uitdagings op. Die twee aanbieders
noem 'n paar voorbeelde op:
Omdat studente nie
in 'n klas is waar hulle vrae kan vra nie, moet die kursus 'n handleiding vir
hulle voorsien waarin hulle presies ingelig kan word waaroor die kursus gaan. Dit
vra baie werk van die dosent. Groot energie word ingesit in lang tye van 'n
volle kursus beplan en die presiese uitwerk van opdragte. Studente moet
duidelik ingelig wees oor wat van hulle verwag word.
Op kampus kan 'n
dosent gou bepaal wat die behoeftes van studente is en in die lesings daarop
inspeel. Dit is moeiliker oor 'n afstand, sou 'n mens kon redeneer.
Boonop moet die
dosent gedurig daarop ingestel wees dat daar 'n wisselwerking is tussen 'n
student se eie geestelike vorming en die kursus. Daar is immers 'n
eksistensiële verband tussen wat 'n student studeer en wat met 'n student
geestelik gebeur. In daardie situasie is 'n dosent se persoonlike verhouding
met die studente waardevol. In 'n klas-situasie is dit maklik.
In afstandsonderrig
hoef dit nie 'n probleem te wees nie. Daarom het die twee spesialiste gereelde
gesprekke met hul studente deur die internet (bv. skype). Trouens, hulle ervaar
dat die gesprekke 'n lewe van sy eie neem en hul besonder besig kan hou.
Veral belangrik,
egter, word nou 'n ander, maar belangrike werkswyse wat in die kursus gevolg
word. Die studente word in werkgroepe opgedeel waarin hulle inhoude van die
kursus met mekaar bespreek en dan werkstukke skryf.
Dit is nou in die
konteks dat die internet van kritieke belang word. Die studente kommunikeer met
mekaar deur 'n internet-verbinding op sekere tye. Dan skakel die hele groep in
en begin hulle die kursus-materiaal bespreek. Of hulle sou dit ook deur 'n
skriftelike gesprek ("messaging") kon doen.
Wat so boeiend is,
is die gevolge van die nuwe benadering. Een hiervan is dat sekere studente meer
baat by die kursus as wat dikwels in 'n kampus-situasie met kursusse gebeur.
Die twee spesialiste noem voorbeelde. In 'n klas-situasie op kampus is daar
altyd een prater wat die gesprek wil oorheers. Die stiller studente kry nie die
kans om deel te neem nie. Of hulle voel oorheers. In 'n internet-konteks is dit
makliker. Daar is die speelveld gelyk en kry alle studente, praters of nie, 'n
gelyke kans om aan die geprek deel te neem. Dit geld byvoorbeeld van vroue ook:
op 'n kampus is gesprekke dikwels deur mans oorgeneem en deur manlike kwessies
bepaal. In 'n internet-konteks en afstandsonderrig, is vroue weer eens makliker
in staat om aan gesprekke deel te neem.
In die gesprek
vertel een dosent hoe dinamies die gesprek oor die internet kan word. Studente
is nie, soos 'n mens van afstandsonderrig sou wou dink, van mekaar geïsoleer
nie. Trouens, hulle kan 'n baie intieme verhouding ontwikkel. Terwyl studente
in haar konteks byvoorbeeld oor self-identiteit gepraat het, het die gesprek
van studente oor die kursus haar geestelike vorming sterk beïnvloed. Die een
student het vertel hoe haar man 'n woede-uitbarsting gehad het toe sy na 'n
konferensie wou gaan in 'n tyd dat hulle min geld gehad het. Sy was verslae oor
sy onverwagse uitbarsting en het toe maar verdra wat hy kwetsend vir haar gesê
het. Die ander studente het 'n gesprek gevoer oor hoe 'n mens nie moet toelaat
dat jy deur so 'n ervaring geestelik geknak moet word nie. Die vrou het met die
ander studente gedeel hoedat sy deur hulle gesprek oor haar ervaring gehelp is
om geestelike heling te vind.
Een dosent vertel
hoedat die vele gesprekke met haar studente oor die internet op 'n ander manier
vir haar die geleentheid gee om naby aan haar studente te kom en hul behoeftes
raak te sien. Wesenlik is daar dus nie veel onderskeid tussen 'n
kampus-situasie en die afstandsonderrig nie.
Die gesprek het nog
veel ander sake ingesluit, maar dit is opvallend hoedat 'n koue, dooie instrument
soos die internet 'n akademiese nut het. En nog meer: die internet kan virtuele
gemeenskappe skep waarin mense veel meer as in die verlede nader aan mekaar
kom, op gelyke voet bymekaar kan wees en mekaar kan ondersteun.
Uit die
konferensie-aanbieding blyk dit dus dat die internet besig om ook die
universiteitswese om te keer, selfs in die mees onverwagte gebiede. Sekere
administrateurs aan universiteite is dus besig om by nuwe aanstellings te kyk
na persone se vermoë om die internet te gebruik en hulle gewilligheid om
kursusse deur die internet aan te bied.
Die byeenkoms in
Baltimore was vir my waardevol. Wat daar bespreek is, het sekerlik implikasies
op 'n wye gebied. Dit is nie meer 'n kwessie nie: die internet verander
universiteite. Ook die kerk kan hier opwindende moontlikhede vind om te ontgin.
Dit sal dink-, maar ook bidwerk vra om te kan werk aan nuwe maniere om mense
nader aan mekaar te bring. Dit is werk wat mense se lewens beslissend kan
omkeer.