Tuesday, November 19, 2013

Agter die masker...


Die persoon wat mens na buite uitstraal is eintlike net  'n masker.

Daardie "persoon" is nie die "eintlike" mens nie, die een wat 'n mens werklik is nie.

Die eintlike mens lyk heel anders as die een wat mense van buite raaksien.

Die persoon agter die masker leef op die vlak waar vooroordele, emosies, afkere, onverskilligheid, afguns, venyn en selfsug hoogty vier.

Mense is soms nie eers self bewus van die onbekende "ek" met al sy skerp kante, wat agter die masker verberg is of weggesteek word nie.

Somtyds kom die masker af. Ander mense ontdek agter die masker 'n ander persoon met 'n donker kant.

Hierdie donker kant maak dat 'n mens se geestelike lewe dikwels arm en honger is. 'n Mens leef uit voeling met jou werklike en innerlike ek wat op vele maniere geestelike verlangens en behoeftes het.  

Soms word 'n mens se donker kant na buite bekend. Wanneer 'n mens iets fouts doen of verkeerd optree, kan ander bewus word van 'n lewe wat hulle nooit andersins met iemand sou assosieer nie.

Dit is en bly 'n groot uitdaging wat 'n mens met hierdie donker kante van jou bestaan moet doen.

Een van die mees konstruktiewe maniere is om deur geestelike oefeninge daarmee in die reine te kom. Geestelike oefeninge soos gebed, vas, gasvryheid, afsondering, geestelike bevriending, geestelike gesprekke en vele ander, kan almal 'n bydrae lewer tot 'n mens se geestelike genesing en groei. Deur hierdie oefeninge ontdek 'n mens watter kragte in 'n mens se lewe aan die werk is. 'n Mens word gekonfronteer met verborge begeertes en gedrewenheid. Iemand kon ook in die konteks van 'n geestelike verhouding bewus raak van sake wat 'n mens se geestelike lewe en groei belemmer.

Dit is juis die doel van geestelike oefeninge: die oefeninge is meer as net om 'n mens geestelike lewe bloot aan die gang te hou nie. Dit wil dieper sny en 'n mens laat losbreek van alles wat in die pad staan van die ideaal van 'n dieperwordende verhouding met God.

Trouens, wanneer 'n mens nadink oor wat 'n geestelike oefening is, is een van die maatstawwe daarvoor juis hoe hulle 'n mens kan help om die innerlike, verborge mense in die helder lig van God se reinigende werking te plaas.

Blog Archive