Gister, op reis terug van my lesing in Kampen, gaan ons in Zwolle na die kerk waar Thoma a Kempis se beendere enkele jare gelede herbegrawe is.
Dit is 'n grou dag met tipiese Nederlandse mistroostige weer.
Ons kry die kerk maklik.
In Zwolle is 'n merkwaardige groot boekwinkel wat wyd bekend is. Deel van sy bekendheid is dat dit in 'n ou kerk geleë is.
Menigte van die kerke in Nederland is platgeslaan of vir handelsdoeleindes oorhandig.
Thomas se blou doodskissie met sy doodsbeendere lê in hierdie die konteks van uitsterwende en leë kerke net langs die ingang van die kerk.
So asof dit net iewers in 'n tersyde plekkie darem ingepas is.
Dit is 'n troos dat daar iewers 'n plek is om die herinnering van een van die bekendste skrywers van alle tye lewend te hou. 'n Mens moet ook nie noodwendig dink dat die ontkerkliking in Europa beteken dat mense minder godsdienstig is nie.
Ek wonder egter: hoe kan 'n mens Thomas se beroemde Navolging van Christus in ons omgewing herinterpreteeer sodat iets van die oorspronklike gewildheid daarvan weer deurgegee of beleef kan word?
Dit raak nie juis sy blou doodskissie in 'n stil, ou kerk in Zwolle nie. Maar dit het wel te doen met die vraag na die geestelike impak van 'n merkwaardige herlewingsbeweging wat by Geert Grote in Deventer begin het en na uithoeke in die wêreld versprei het.
Die gedagte is nie om terug te beweeg in die verlede in en allerhande historiese studies te doen nie - hoe nodig dit ook al mag wees. Maar hoe kan 'n mens die geestelike impak van Thomas in sy tyd in ons vaal, verdrietige en arm wêreld weer aktueel maak?
Daardie potblou kissie is 'n fraai poging van 'n magtige heerser uit die verlede om Thomas te vereer. Nou is die kissie iewers in 'n kerk weggesit.
Is die verskuiwing juis 'n teken van ons tye? En 'n oproep tot nadenke?
Nietemin. Dit was 'n spesiale oomblik: om iewers 'n ruimte te deel met die werklikheid van iemand wat na aan God geleef het.