Thursday, November 07, 2013

Om God se genade uit 'n mens se lewe te weer


Christene doen dikwels sekere geestelike oefeninge om te werk aan hulle behoefte aan geestelike groei. Wanneer, byvoorbeeld, hul lewe te gejaagd word, sal hulle die geestelike oefeninge van sondagrus en van besliste keuses najaag.

‘n Mens kies dan om op ‘n stadium en gereeld weg te breek uit jou daaglikse besige program: dan word doelbewus tyd spandeer aan sake wat ‘n mens op ‘n ander manier verryk as wat ooit in jou gewone program kan gebeur. 

Dit kan bloot beteken dat ‘n mens ‘n erediens bywoon, of bybelstudie doen, of ‘n geestelike boek lees. Maar dit kan ook beteken dat ‘n mens tyd met jou familie of vriende spandeer. 'n Mens kyk 'n spesiale film, gaan na 'n mooi plek, kampeer uit in die stilte van die natuur.

Dit word ‘n tydjie van rus, van dinge doen waarvan ‘n mens normaalweg weerhou word.

So ‘n oefening van “rus” kan gekombineer raak met ‘n ander geestelike oefening:  een van die groot uitdagings in ons geestelike lewe is dat ‘n mens se lewe deur ander geregeer kan word. Jy laat toe dat mense jou gebruik sodat jy nie ‘n lewe van jou eie het nie. Of ‘n mens soek ander se guns ten koste van jouself. Of, uit ‘n oordrewe sin van pligsgetrouheid, wil jy graag soveel as moontlik in jou lewe doen en inpas. Of ‘n mens wil uitstallerig met jou besige lewe wees.

In die proses verwaarloos ‘n mens jou lewe. 

Dit is dan die tyd om besliste keuse's te maak. Jy kom tot 'n punt waar jy jouself dwing om afstand te neem van wat nie goed is vir jou nie. En om te doen wat jou lewe sal vul met innerlike betekenis. 

Jy kan nie nee sê wanneer ander op jou beslag wil lê nie. Of jy besef nie hoe belangrik is dit dat jy ook moet kan stil raak, ook besig moet wees met geestelike dinge, met sake wat jou sterker en ryker maak. Daarvoor kan 'n mens te besig word.

Dit word dan tyd om na te dink oor geloof, oor wat vir jou belangrik is, hoe jy oor God dink, wat vir jou op jou geestelike weg sal laat groei. Om dit te doen, moet ‘n mens kan wegbreek van jou besige dag en lewe. Jy moet kan nee sê. En ‘n mens moet kan ja sê vir dinge wat saak maak, of wat jou lewe die meeste kan verryk.

Maar ook hier kan 'n mens te maklik die fokus op die oefening self laat val. Dit is nie die rus wat saak maak, of dit is nie so belangrik om te kies nie.

Al hierdie oefeninge het eerder ‘n groot doel: hulle bring ‘n mens in die teenwoordigheid van God. Op ‘n stil Sondag, weg van die besige kantoorlewe, by jou bejaarde pa of ma, in ‘n kamertjie waar hulle hul skemertyd deurbring, kan jy in die rustigheid van hul bestaan en in die kalmte van hul woorde, maar ook in die liefde teenoor jou, sien hoe God die ouderdom mooi kan maak. Dit word ‘n tyd dat ‘n mens in jou hart die begeerte sien groei om ook mooi oud te kan word, om jou lewe in die grys tyd al hoe nader aan God te leef. Die geestelike oefening van tyd maak vir jou dierbares, word dan ‘n tyd waarin ‘n mens self dieper in jou verhouding met God groei en bewus raak van hoe goed God ‘n mens se lewe kan maak.

Op ‘n stil Sondag, voor die televisie, terwyl jy kyk na ‘n film of ‘n musiekprogram, kan jy bewus raak van hoe God mense talente gee om kuns te skep. Jy luister na musiek waarvan die woorde jou betower of die melodie jou meesleur. ‘n Mens beleef ‘n spesiale oomblik waarvoor jy dankbaar besef hoe ander mense jou nuwe dinge kan laat ervaar. En jy weet, uiteindelik, dat dit God se manier is om die lewe ryk te maak.

Of, op ‘n stil aand, laat, wanneer jy ‘n teks lees, ‘n gebed doen en al die gewerskaf van die dag uit jou lewe verdwyn, is dit spesiaal dat dit jou nie soseer vroom laat voel nie, as wat dit jou vrede gee dat jy in God se teenwoordigheid is. Terwyl jy besef hoe sterflik alle dinge is, hoe gou alles verbygaan, hoe onbelangrik al ons “belangrike” dinge is, ontdek jy dan in die stilte, in die gebed, in die teks, die Ewige, die Rustige, die Liefde en die lewe.

Geestelike oefeninge vervul in al hierdie gevalle jou behoefte aan stilte, aan vervulling, aan rykdom en aan die inwoning van God. Saam met alle gelowiges weet jy: al wat werklik saak maak, is nie wat jy doen nie, maar om deur jou oefening te kan gereed wees vir die ontvang, genadiglik, van wat onverganklik is. En dit kom net van Buite, van Bo, van God.

‘n Mens kan soms op ‘n spesiale manier en op ‘n mistieke moment in hierdie belewenis ingeneem word. Maar ‘n mens kan ook deur afhanklikheid, deur inoefening, deur jou instelling, die ruimte skep waarin God ‘n mens kan besoek. Want te dikwels is dit juis ons raserige, besige, leë lewe wat ons wegneem van daardie ruimte waarin God woon. Ons besige lewe kan inderdaad God se genade uit ons lewens weer.

Blog Archive