Friday, November 22, 2013

GEEN lawaai-produserende elektroniese masjiene....

Op pad van die "Ronald Reagan" lughawe in Washington, gee die bestuurder van die trein ongevraagde advies aan sy reisigers.

Staan weg van die deure, vra hy beleef maar ferm. Die deure sal nie toegaan as daar te veel mense in die trein is nie. Daar is nog sestig treine aan die kom, oordryf hy. Niemand sal agterbly nie.

Die bedeesde treinryers breek plek-plek in groot glimlagte uit.

Hulle geniet die ligte oomblik in die harde, laat-middag spitsuur.

By die kruising van die moltrein met die voorstedelike trein, is hy weer by die mikrofoon. Die roltrap na bo, vertel hy, is baie besig. Geen gedruk of gestamp nie. Loop netjies in rye en almal sal ongeskonde bo uit kom. Die roltrap, borduur hy voort, is gevaarlik. Een stamp en iemand kan baie seerkry.

Dit word 'n lang preek, daar uit die masjinis se kamer. Hy is geselserig. En die treinryers glimlag nog 'n keer breed.

Die Amerikaners beïndruk my elke keer weer as vriendelike mense.

Ons klim op die tussenstedelike trein na Baltimore. Dit is tjok en blok. Maar jy kan 'n speld hoor val. Geen selfone, geen gepratery, geen oorfone wat tril dat jy hulle in Kaapstad kan hoor nie.

Ek kom eers veel later agter waarom dit so is: NO cell phone use. NO loud conversations en NO Noise-producing electronic devices.



Dit is 'n klein bordjie wat iewers aan die voorkant van die treinwa hang.

Maar almal gehoorsaam.

Rus en vrede na die dag se werk.

Net twee dae van te vore reis ons van Kampen met die sneltrein. Oorkant ons plak 'n jongman homself neer op die treinbank. Hy pluk sy selfoon uit en vir die volgende halfuur luister ons na Arabiese musiek.

Om oor na te dink....


Blog Archive