"Wees
geduldig. Alles gebeur op sy eie tyd.
Die windpomp gaan soek nie die wind nie."
Ek
lees hierdie spreuk op 'n papiertjie van die betaalvenster van die garage waar ek vanoggend 'n
pap motorband laat regmaak. Orals op die venster is daar kennisgewings,
knipsels en spreuke geplak.
Buite
die kantoor lê hope ou binnebande. 'n Span werkers draf haastig rond om bande
om te ruil en reg te maak. 'n Baas staan en kyk en praat nou en dan uit die weer as dinge nie na sy sin loop nie.
Die wêreld, hulle hande en klere is vol swart kolle.
Die
boodskap op die papiertjie tussen al die ander kennisgewings is dus vir daardie enkele opmerksame kliënte wat geduldig genoeg is om nog papiertjies te lees terwyl hulle wag: "moenie haastig wees nie."
Ek is baie haastig.
Die
windpomp-deel vang my oog en laat my wonder.
'n
Windpomp wat wind soek?
Geduldig,
dus, moet die windpomp bly. Totdat die wind opsteek en dinge kan gebeur.... ?
Ek
loop 'n paar voorbeelde raak op die internet van ander mense wat die spreuk
hoog ag.
Dit
is dalk die deel oor die geduld wat regtig die oog vra. Enige iets oor geduld in
ons oor-haastige, rasend-vinnige tyd is oase-materiaal.
Langs
die papiertjie met die spreuk oor die windpomp is 'n ander prentjie met 'n bybelversie:
God sal alle trane van die oë afvee (Openbaring 21:40).
Dit
is Saterdagoggend, die einde van die maand, in 'n dorp propvol besig,
hardlopende mense. Ek klim in my motor met sy heel band met die betaalde
rekening van die bandeplek in my hempsak terwyl die werkers soos besige bye rondskarrel
om die laaste werkies van die dag af te handel.
En
dink na oor geduld en trane.