Sunday, November 10, 2013

Hoe vertel 'n mens van 'n stukkende lewe?


Kristalnag, noem hulle oor die wêreld heen, die historiese geleentheid van 9 tot 10 November 1938, toe die Jode in Duitsland se stede aangeval is. Oor twee dae is die huise, skole, hospitale en besighede van Jode vernietig.

Die staat het sy stormtroepe hiervoor ingespan. Maar op die strate was daar baie, baie gewillige mede-stormers en -haters uit die burgery.

Toe is byna honderd Jode doodgemaak, maar 30 000 mense is gevang en na konsentrasie-kampe gestuur. 

Een van die meer ikoniese uitbeelding van die nag, is die volgende foto:



Stel jou voor dat jy op 'n dag in jou plek van aanbidding in jou tuisdorp aankom en dit lyk so?  Die plek waar jy gedoop, getrou en waaruit jou ouers begrawe is? Deur jou eie mense, deur jou bure en jou voormalige vriende?

Later sou, nog erger, ses miljoen Jode in die Jodeslagting sterf. Die spiraalgang van geweld, eenmaal aan die gang, word moeilik gestuit. 

En dit in een van die mees beskaafde lande van die wêreld, met een van die belangrikste Christelike tradisies van modern tye: die land van Luther en die tuiste van die bekendste teoloë van ons tyd.

Ondraaglik, sê sommige Duitsers vandag nog, is hierdie geskiedenis. ‘n Mens kan nie daarmee saamleef nie.

Op die Nederlandse televisie is daar ‘n onderhoud met ‘n 83 jarige vrou oor die gebeurtenis. Helder, samehangend en met ‘n beheerste waardigheid vertel sy dat sy as 8-jarige dogtertjie nog goed onthou wat daardie aand gebeur het.

Sy was saam met haar ouers, wat bekommerd was oor die toenemende vyandigheid teenoor hulle.

Toe hulle tuiskom, is hulle huis in wanorde: hulle besittings is vernietig. Borde, koppies, meubels en alle inhoud is flenters geslaan. Selfs die klavier was in stukke.

Haar ouers het haar kort daarna Nederland toe gestuur. Sy het maar te goed geweet dit is nie regtig die vakansie wat hulle dit genoem het nie.

Sy sou nooit weer haar ouers sien nie.

Haar hele lewe deur het sy nooit oor daardie ervarin gepraat nie. Eers onlangs het sy vir die eerste keer begin om te vertel hoe sy dit beleef het. Sy doen dit sodat kinders kan aanvoel hoe dit mense geraak het. Anders beskou hulle dit te maklik as “geskiedenis” wat verby en afgehandel is.

Ondraaglik word dit vir my om hierdie vrou te hoor praat van wat met haar as ‘n agtjarige kind gebeur het. 

Jy besef, met 'n gevoel van yskoudheid teen jou rugraat af, dat dit nie maar net geskiedenis was nie.

Hoe gaan ‘n mens deur die lewe, beroof deur naakte rassisme, van jou ouers, jou tuiste en alles wat normaalweg vir ‘n mens sekuriteit en lewensvreugde bied?

Hulle noem daardie gebeurtenis van 75 jaar gelede “kristalnag.” Dit verwys na die stukkende glas wat oral bly lê het nadat mense se besittings verwoes is.

In vele plekke word vandag die beeld van ‘n stukkende glasstuk gebruik in ‘n poging om daardie nag simbolies te herdenk.


Maar hoe beeld ‘n mens ‘n stukkende lewe uit?  Wie kan maar selfs probeer om dit te doen?

Dit is die gevoel wat ek kry nadat ek luister na die afgetrokke, maar dodelik intense klein verhaal, die petits recit, van ‘n 83 jarige vrou. 

Net in Duitsland?  Groepshaat, rassisme, dodelike veragting van die "ander", weet ons uit ons eie geskiedenis - lank terug, maar ook onlangs - lê nie daar ver nie. Dit is naby. So naby as in ons eie hart. 

 

Blog Archive