Sunday, November 03, 2013

Wanneer iemand nie wil vergewe nie...


Vergifnis is ‘n groot tema in spiritualiteit. Herhaaldelik word daaroor geskryf en nagedink. Dit is een van die moeilikste tema’s omdat dit werklik self-opoffering vra, veral wanneer jy iemand anders kwaad aangedoen het. 'n Mens moet die moeilike stap neem om jou eie gevoelens opsy te skuif en jou eie foute of gebreke te erken.

Wat doen ‘n mens wanneer jy iemand om vergifnis vra vir iets wat jy gedoen het en daardie persoon wil jou nie vergewe nie?

Soms, indien nie dikwels nie, is ander mense nie gereed vir vergifnis nie. Nog meer: Hulle kan nie vergewe nie.  Dit is vir hulle net nie moontlik om jou weer in die oë te kyk nie na wat tussen julle gebeur het nie - selfs al sê jy jy is jammer daaroor.

Dit is dan, eerstens, ‘n tyd vir self-ondersoek. Spiritualiteitskrywers vra dat ‘n mens dan jouself deeglik bekyk en afvra:

Is jy eerlik oor die probleem wat die ander persoon met jou het? Begryp jy werklik hoe gekwets daardie persoon oor jou optrede voel?  Is jy eerlik genoeg oor jou eie aandeel in die konflik wat tussen julle ontstaan het?

Is jy genoeg ingestel daarop om nie weer in sulke konflik betrokke te raak nie?

Hoe ernstig begeer jy om met die ander persoon versoen te word? Is jou pogings om met daardie persoon versoen te word, werklik deur liefde vir hom/haar gedryf? Of probeer jy net om op een of ander manier met daardie persoon saam te leef of te werk. Soek jy vergifnis alleen maar om in hemelsnaam net in vrede te kan leef? Of soek jy vergifnis omdat jy omgee vir daardie persoon en verstaan dat wat gebeur het, vir hom/haar baie sleg was?

Wanneer  ‘n mens hierdie dinge gedoen het en jou begeerte na versoening word deur die ander persoon geïgnoreer, bly daar net een ding om te doen: om geduldig jouself dieper in die liefde vir daardie mens in te oefen. Dit is dan die tyd om te besef dat wat jy gedoen het vir die ander persoon te diep seergemaak het, dat daardie persoon tyd nodig het om heel te word en dat jy des te meer liefdevol moet optree om dit vir die mens uiteindelik moontlik te maak om met jou versoen te word.

In hierdie oefening en afwagting met geduld doen ‘n mens in 'n sekere sin wat God doen as God mense nooit tot verandering dwing nie. Soos God moet ‘n mens geduldig wag totdat die persoon wat jou nie kan vergewe nie, besef dat niks beter kan wees as die liefde wat hulle by jou sal vind nie. Maar dan moet daar in jou lewe so ‘n unieke, sorgsame liefde wel teenwoordig wees…


Blog Archive