Wat doen 'n mens wanneer 'n hele
gemeenskap in opstand kom oor kritiek teen sake wat vir hulle belangrik is?
Dink maar aan die kritiek wat groepe in
Suid-Afrika het teen mense wat diere slag in hul binneplase om rituele uit te
voer. Onlangs het 'n prominente en origens bedaarde politikus erg opgewerk oor
hierdie kritiek geraak en woedend uitgeroep dat die kritiek nie rekening hou
met hoe belangrik sulke kulturele gebruike vir sekere groepe is nie.
In Nederland is daar nou oproer oor
hull Sinterklaas-fees. Op 6 Desember kom Sinterklaas geskenke vir die kinders
uitdeel. Hy het 'n assistent met die naam van Swarte Piet. Die assistent is
inderdaad swart.
Sekere groepe in Nederland, veral
eerste generasie Nederlanders wat uit ander lande na Nederland gegaan het, wys
op die rassistiese ondertone. Onlangs het sekere aktiviste in Amerika hulle
begin ondersteun.
Die media in Nederland het wyd en
uitgebreid oor die kritiek verslag gedoen.
Die kat was in die hoenderhok, met
Nederlanders wat Swarte Piet van alle kante verdedig het as 'n kulturele saak
wat op geen manier met slawerny of rassisme te doen het nie.
Die gesprek is gelaai met
verontwaardiging, verwyte en oproer. Oor en weer beskuldig voor- en
teenstanders mekaar van onbillikheid, oordrywing en onsensitiwiteit.
Die kritici argumenteer dat die
Sinterklaas-fees heel aanvaarbaar is, maar dan asseblief sonder sy rassisitiese
ondertone. Die voorstanders van die fees dink hulle beroof mense van 'n
heerlike, onskuldige gebruik.
Hoe, vra 'n skrywer in 'n Nederlandse
dagblad, kry 'n mens nou die mense bymekaar om 'n sinvolle besluit te neem in
hierdie hoogs emosionele saak?
Hier stel die skrywer voor dat 'n mens
vanuit die filosofie leer by Gadamer met sy teorie dat mense altyd 'n bepaalde
siening op 'n saak het wat anders sal lyk as ander mense s'n. Deur gesprek kan
mense se sieninge geweeg word en tot 'n gemeenskaplike oplossing kom.
'n Mens dink altyd dat wanneer mense op
'n rasionele en logiese manier met mekaar praat, sal daar wel oplossings kom.
Dit is egter makliker gesê as gedaan:
want in gesprekke moet 'n mens eers in berekening bring dat groepe elke 'n eie
siening van sake het. Hulle gaan met sekere ingesteldheid, vooroordele,
perspektiewe en houdinge 'n saak bekyk en tot hul beskouinge kom. Die vraag is
nie of een groep nou die ander groep sal kan oorreed om hulle siening te
aanvaar nie.
Die vraag is eerder hoe die
verskillende "horisonne" van verstaan, byeen gebring kan word. Hoe
kan 'n "samesmelting" van horisonne bewerk word, waar groepe se
gemeenskaplike siening uitgelig kan word en hul verskille uit die weg geruim
kan word?
Net om hierdie vrae te vra sal al 'n
stap vorentoe wees.