Mense hou daarvan om geprys te word. Dit is deel van 'n mens se behoefte om te presteer. Ons baai in die vreugde van verering, respek en erkenning.
In Spiritualiteit word juis die teendeel beklemtoon: 'n mens het min erg aan die erkenning van mense. Dit is nie wat 'n mens aanspoor om 'n "goeie" lewe te voer nie. Trouens, daar is min begeerte by 'n geestelike pelgrim om 'n mooi vertoning voor ander mense op te sit.
Egte, volhardende geestelike soekers streef nie daarna om modelle vir ander mense te wees nie.
Hulle soek ook nie na God se "goedkeuring" nie.
Beloning is nie die dryfveer van mense se soeke na geestelike vervulling nie.
Hiervoor is daar 'n merkwaardige Nuwe-Testamentiese voorbeeld. Wanneer die "skape" in Matteus se evangelie geprys word op die dag van oordeel, is hulle stom verbaas. Hulle kan nouliks onthou dat hulle die dinge gedoen het waarvoor die Here van die oordeel hulle so hoog en laag prys nie.
Hulle het dit immers nie gedoen om erkenning te kry of beloon te word nie.
Hulle is verbaas om die komplimente te kry.
Wanneer 'n mens in God se teenwoordigheid leef, kom 'n lewe van goedheid as 'n natuurlike uitvloeisel tot stand. Iemand wat God lief het, leef in die liefde. Wie naby aan God leef, wil soos God leef.
Daar is 'n natuurlike eenheid tussen hulle verhouding met God en hulle lewe in die geloof. Wie by God is, leef goed.
Al wat saak maak, is om naby God te wees, om uit die bron van die lewe te kan drink. En wie die skoon, fris waters drink, leef rein en skoon.
Daarom doen 'n mens nie goed om te presteer nie. 'n Mens doen goed, onbewustelik, vanuit die lewe in die Gees.