Die
soeke na geestelike groei is moeilik omdat dit 'n individuele reis is met sy
eie, onbekende roete wat deur onervarendheid verduister word. Dit is nie 'n
eenvoudige vraag hoe 'n mens dieper en sterker in 'n mens se geloof kan word
nie. Boonop sal elke mens se reis uniek
wees met 'n eie karakter.
Tradisioneel
is daar heelwat antwoorde op die vraag hoe groei 'n mens sterker in die geloof.
Baie sal aandring daarop dat 'n mens meer kennis moet opdoen. Ander sal weer
onderstreep dat 'n mens groter vroomheid en toewyding moet soek. Hiervoor sal
'n mens op allerhande gesonde "gewoontes," gewys word. Kerklikes sal
sê dat 'n mens gereeld kerk toe gaan, preke luister, die sakramente gebruik,
geestelike boeke lees, omsien na ander in opheffingswerk, die kerk finansiëel
moet ondersteun en vele ander. Dit, dan, is "geestelike oefeninge"
wat 'n mens saam met ander mense doen om dieper in die geloof te groei.
Dit
is egter veral in die jongste tye dat mense meer hieromtrent wil weet. Die klem
val nie net op wat 'n mens weet nie, maar ook al hoe meer op hoe 'n mens
prakties deur allerhande oefeninge in geloof kan groei. In ons tyd is daar al
hoe meer belangstelling in sulke geestelike oefeninge. Die tradisionele oefeninge
soos gebed, vas, Sabbatsviering word vandag deur baie nuwe vorme, maar ook nuwe
geestelike oefeninge aangevul. Om te vas, kan vandag beteken om by geleentheid
nie epos te lees of te skryf nie, of om 'n mens se telefoon af te sit. Om die
Sabbat te vier, beteken om weg te breek van die rekenaar en die
televisie-skerm, om dan tyd te maak vir dinge wat 'n mens se lewe ryker en
voller maak.
Of
dit kan doodeenvoudig beteken dat 'n mens 'n nuwe manier van inkopies volg. Iewers
in mens is daar 'n al sterker behoefte om aan die wurggreep van ons
koop-kultuur te kan ontslae raak.
'n
Mens het 'n behoefte, eerstens, om bevry te word van die rasende rol wat hierdie
verbruikerskultuur in ons lewens speel. Nuwe mode's, die blinkste slimfoon,
ontwerpershorlosies, die ergonomiese gholfstokke, uiteet in die restaurant met
sy eet-soveel-as-wat-jy-kan spyskaart. Ons leef onder die dwang van verbruik en
dit dwing ons om ons diep in die skuld te dompel.
Een
of ander tyd ontdek mense dat al die dinge waarmee ons ons lewe vul, bloot net
'n uiterlike dop vir 'n leë binneste is. Mense het ook die behoefte aan dieper dinge, na
geluk wat nie tot hulle kom deur alles wat hulle koop en gebruik nie.
Ons
behoefte is: wat maak ons tevrede mense? Hoe kan ons geld spandeer dat dit ons
innerlik vervuld laat voel?
Hoe
werk 'n mens dus met geld op 'n geestelike manier?
Niemand
hoef ver te gaan soek vir antwoorde nie. Minder spandeer, eenvoudiger leef,
vrygewigheid en deel met ander is waarde's wat 'n mens in die geestelike
nadenke oor 'n mens se geldsake begelei. Heel konkreet is veral dan daardie praktyke
wat ingestel is om 'n mens se geld met die geloofsgemeenskap en
opheffings-organisasies te deel (tiende). Die gee van tiendes kweek by 'n mens
die durende bewussyn dat 'n mens se geld ook 'n geskenk van God wat alles gemaak
het en besit.
Soms
egter, sê 'n kollega van my, sal die proses omgekeer word. In Nederland is
mense op die oomblik besonder suinig. Hulle spaar hulle geld en gee die minimum
daarvan uit. In hulle geval, sal 'n mens hulle moet aanmoedig om juis nie die
ekonomie tot niet te spaar nie. Dit maak sin om wyslik dan geld uit te gee
sodat besighede weer wins kan toon.
Op
die manier word dit duidelik hoe 'n geestelike praktyk radikaal verskillend kan
wees - afhangende van die behoefte van die mens/groep.
Watter
goed kan 'n mens doen met geld? Hoe kan mens geld gebruik, van dag tot dag en
van maand tot maand, om die gesin, omgewing en gemeenskappe sterker en gesonder
te maak? En op watter manier is dit 'n teken van 'n mens se groeiende
verhouding tot God?
Op
die manier kan 'n mens al biddende, vanuit die geloof, op 'n berekende manier
soek om so te leef dat 'n mens in die konteks van jou geloofsgemeenskap soek om
meer as ooit gehoorsaam aan God se wil te word.