In 'n stoere, kerklike tradisie word 'n té smartlike reaksie op
iemand se dood met 'n taamlike wantroue bejeën.
Mense hou nie van te veel drama nie. 'n Begrafnis is gewoonlik
bedaard en die droefheid ingetoë en ingehoue.
In Bybelse tye is hierdie gevoelens uitgedruk deur op die bors
te slaan. Dit was 'n algemene en bekende teken van rou.
Trane van verdriet en woorde van diepe rou hoef nie
dramaties te wees nie. Dit is inderdaad belangrik om te kan rou, ook met
intense gevoelens van hartseer. Klinkklaar word dit uit die verhaal van Lasarus
se dood en die Evangelie van Johannes se opmerking dat Jesus daaroor sy trane
nie kon bedwing nie.
Om só te rou, veral binne die konteks van 'n diens, bring troos
by hulle wat agterbly: God hoor die verdriet, want God is 'n ontfermende God
wat veral in mense se tyd van verlies teenwoordig is. Vandaar die klem in
Bybelse tekste dat 'n mens nie iemand aan die dood verloor nie. In geloofstaal
is die bestemming van die mens by God uitgedruk in die belangrike taal van die
ewige lewe. In die tyd van verdriet en verlies, hou 'n mens vas aan die troos
dat God die mens se rou raaksien en aanhoor.
Daar is 'n intieme, innige band met God waaraan 'n mens in die tyd van rou kan vashou, ook ter wille van hulle wat gesterf het.
Om te kan rou is dus belangrik in daardie tye dat 'n mens met
die dood gekonfronteer word. Dit is 'n manier om 'n mens se verlies te verwerk.
Die dood verloor sy angel in die tye omdat 'n mens in sulke donker tye verlies,
verbystering en vrees voor God se voete kan neerlê.