Enige predikant weet hoe dikwels en, veral,
hoe moeilik, gesprekke kan wees met mense wat by hulle kom ondersteuning soek.
Die kenners noem dit “pastorale” begeleiding.
Lang tye, soms selfs oor maande, oor jare,
diep in die nag, in die besige tye van die vinnige werksdag, ook ten koste van ander werk in die gemeente, word bestee aan
mense wat gebroke lewens het en nie op hul eie daardeur kan werk of
daarmee kan volhou nie.
Min mense buite die bediening besef hoe veeleisend
hierdie gesprekke vir die predikant is en hoe maklik dit die predikant negatief
beïnvloed, desperaat maak, ontstel, laat kwaad word en in sommige gevalle tot
totale uitbranding lei.
Die lyding van mense wat in die lewe van die predikant
ingedra word, is onvoorstelbaar.
Soms gaan sulke gesprekke oor teologiese
kwessies. Wat sê die Bybel oor dit of dat. Maar verreweg die meeste van hierdie
ontmoetings het min te doen met die inhoud van die geloof. Die predikant sit
nie heeldag en tob oor die interpretasie van die klassieke geloofsimbole van
die kerk soos die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse kategismus en
die teologiese werke van groot skrywers en kontemporêre denkers nie.
Die
ontmoetings gaan meestal oor die rou hardheid van mense se lewens in nood en
onsekerheid.
In hierdie situasie dink die predikant soms
“pastoraal.” Hy of sy is die pastor wat vir die “skape” in die gemeente in ‘n
rigting moet lei. En dit is seker ook waar.
Maar in die lewe van ‘n predikant word daar
nie na “onder”, na die “skape”, gewerk nie. Die besef dring maar te gou deur tot
die “pastor.” Die beste wat ‘n predikant kan doen in die lewenservaringe van
mense wat by sy voordeur aanklop, is om ‘n “vriend” te wees. "Raad" word maar te dikwels in die wind geslaan. "Oplossings" werk dikwels glad nie of net vir 'n tydjie.
Die ontmoeting met
mense wat so radeloos is dat hulle vir ondersteuning opdaag, is ‘n
luistergeleentheid. Dit word ‘n tyd waarin die luisterende pastor wil verstaan
wat in iemand se lewe aan die gebeur is. Vinnige raad werk nie.
Maar terselfdertyd weet ‘n mens te
goed dat netjiese antwoorde uit die Bybel en die kerklike leerstukke by die een
oor ingaan en fluitend van hoë spoed by die ander oor uitgaan. Dit slaan die
hart van die soekende in een vinnige slag oor.
Die tyd van gesels word ook ‘n tyd van
gebed. Behalwe die herhaalde skietgebedjies om genade sodat die regte houding
en die ondersteunende woorde gevind sal word, is daar die tye wanneer die
predikant en die soeker stil word en selfs saam bid. Doelbewus, veral, moet
daar die tye wees dat die gesprekke opgeskort word, sodat gespreksgenote kan
weet veel groter as hulle soeke, hulle gesprek, is dat God se wil vir iemand se lewe ontdek moet word.
Dit is die groot
geheimenis van elke gesprek wat plaasvind: dat soeker en sy/haar ondersteunende
vriend (die pastor), by die diepste verborgenheid sal uitkom - by dit wat werklik saak maak en wat die situasie kan omkeer.
Die gesprek is
nie bloot net om iemand te “help” nie. Of om vir iemand gou te vertel wat om te glo of the doen nie.
Die gesprek is veel eerder oor iets wat in
mense se lewens gebeur en waarin hulle nie sin ontdek nie. Saam sal die soeker
en sy/haar vriend soek om in alles wat gebeur, God se teenwoordigheid te
herken. Waar is God aan die werk in die tyd van lyding en onsekerheid? Wat sê
God vir die soekers en hoe is God besig om in hul allerharte te werk?
In Spiritualiteit praat ons van mistagogie:
die pad (agogie) na die Verborge werking van God (die misterie). Onbegryplik en die oorsaak van groot lyding, is ‘n mens se lewe dikwels.
Onvoorstelbaar is dat die innooi van die soeker in die spreekkamer van sy/haar
vriend, die pastor, lei tot daardie oomblik wanneer die soeker ontdek al die
ellende verduister nie die werking van God in ‘n mens se lewens nie. Dit is waarna die pastor verlang. Dat mense ontdek hulle kan iewers wel te midde van al die lewenservaring, aanvoel dat God ook daar
is.
Iets wat die vriend sê, ‘n gebed, ‘n enkele gebaar, ‘n stil oomblik, kan
die desperate soeker binnelei in ‘n plek waar God teenwoordig is.
Dit is mistagogie. Die reis na die verborgene.
Dit is God se manier om deur mense en deur hul onderlinge verbintenis en ondersteuning,
soekers nader te trek – huis toe, waar die Vader die vodde van die slegte
verlede omklee in goedheid en berusting.
Daarom is die soektog so ‘n groot uitdaging:
dit word nie sommer net iewers in kantoorure gedoen nie, of as ‘n lastige
oomblik in die betaalde loopbaan van ‘n geestelike werker "gehanteer" nie. Dit is ‘n geestelike
ervaring waarin die mistagoog, onvoorstelbaar, uitgedaag word om die soeker te
ondersteun om die verborge werking van God in ‘n oënskynlik stukkende situasie
te herken.