Gelowiges
kies dikwels om radikaal anders te leef as ander mense in hulle omgewing. Hulle
word gedryf deur totaal ander maatstawwe as wat normaalweg in hul samelewing
geld.
In
die verlede het bekende groepe soos die woestynvaders daarom hulle gemeenskappe
verlaat. Hulle het in barre omstandighede in verlate plekke soos die woestyn
gaan bly. Daar het hulle gesoek om hul geloof ten volle uit te leef. Deur die
geskiedenis heen het beroemde askete hulle voorbeeld gevolg.
Maar
daar was ook minder bekendes wie se name nooit in die geskiedenis in die groot
verhale oor geloof opgeskryf is nie.
Hulle het rykdom afgesweer. Of belangrike posisies prysgegee. Of die
nabyheid van familie en vriende opgeoffer om in afsondering te leef.
Die
houding is nie omdat mense gedink het wêreldse dinge boos was nie. Of dat
rykdom sleg was nie. Of dat geleerdheid onbelangrik was nie.
Hulle
het ook nie noodwendig gedink dat 'n mens in die stilte of in die woestyn of in
die klooster moet wees om naby aan God te wees nie.
Sulke
mense se lewe is deur iets heeltemals anders bepaal. Hulle is gedryf deur 'n
begeerte na 'n intieme verhouding met God wat belangrik bo alle ander dinge
was. Vir hulle het alles om die liefde
van God gedraai.
Hulle
het verlang daarna om hierdie liefde onbelemmerd te ervaar en om dit teenoor
ander uit te leef en na te volg.
Vir
sommige, soos Moeder Teresa, is hulle lewe van eenvoud en afsondering gedryf
deur 'n begeerte om uit te reik na mense wat verstoot is. Om so na mense in hul
lyding uit te reik, was vir hulle 'n manier om God te gehoorsaam en om God se
voorbeeld van uitreiking na die mens te volg.
Die
mistici was mense wat se lewe volgemaak is deur 'n intense bewussyn van God se
nabyheid. Dit was vir hulle genoeg. Niks anders het op enige manier naby gekom
aan hierdie spesiale ervaring nie. Dit was wat hulle wou beleef en uitleef.
Dit
is eintlik nie so ongewoon nie. 'n Mens merk dikwels op 'n ander manier soortgelyke
dinamiek in menselewens aan die werk: 'n getroude paar sal dikwels vertel dat
hulle liefde vir mekaar meer as genoeg was om vir hul lewe van eenvoud en selfs
van swaarkry te vergoed. Des te meer, dan, dat 'n liefde vir God enige ervaring
van 'n mens in sy/haar gewone konteks onbelangrik laat lyk.
Om
die wêreld af te sweer, gaan dus nie eintlik om dinge van die wêreld op te gee nie.
Dit gaan om met 'n mens se hele lewe vir
God beskikbaar te wees. 'n Mens wat verlang om God se liefde te beleef, vind
die prioriteite, die aktiwiteite, die begeertes van die gewone lewe nie net onbelangrik
of oninteressant nie. Hulle weet veral hoe dit in die pad kan staan van 'n lewe
naby aan God. Heel radikaal kies mense
dan om anders te leef, sodat hule lewe deur God se teenwoordigheid en liefde
gevul kan word.