Saturday, June 13, 2009

Boelies en bullebakke



Een uit elke vier kinders in Amerikaanse skole word geboelie. Dit gebeur nie net openlik wanneer bullebak-seuns vir kleiner of swakker seuns foeter of uittart nie, maar byvoorbeeld ook wanneer dogters ‘n ander een heel subtiel verstoot of uitsluit.

In die Amerikaanse koerant, die New York Times is daar ‘n artikel van ‘n pediater oor nuwe navorsing oor boelies wat tans in pediatrie aandag kry. Die pediater praat met woede oor een van sy pasiënte wie se ma hom vir ‘n ondersoek ingebring het. Die seun was gek oor wetenskap. Nadat hy ‘n prys gewen het om deel te neem aan ‘n nasionale byeenkoms, knou sy maats hom af. Destyds, skryf die dokter, het hy bloot raad aan die ma gegee, maar nou, na hierdie navorsing, sal hy dit as ‘n pediatrie-probleem hanteer omdat dit die welsyn en gesondheid van ‘n kind ingrypend bepaal en sal hy iets baie daadwerkliks omtrent die situasie doen.

Die boelie-probleem word nie sommer geïgnoreer nie. Die pediater noem dat skole in Amerika deesdae genadeloos op boelies toeslaan en hulle selfs uit die skole verwyder. Daar word ook allerhande maatreëls getref: geen plekke word geduld wat uit die oog van die onderwysers is nie. Onderwysers is ook bedag op ‘n geboelie en sorg dat hulle kinders nie sommer uit die oog verloor waar hulle kan boelie nie.

Die pediater vind dit nie genoeg nie. Dit help nie om net voorkomend op te tree nie. Boelies moet nie net gestraf of gekeer word nie, hulle moet behandel word veral omdat ‘n beduidende groep van hulle akademiese en sosiale mislukkings word. As iemand ‘n boelie is, is dit ‘n goeie teken dat hy uiteindelik sy lewe gaan opmors. Boelie-geweld, het die navorsing uitgewys, kan die slagoffer vir die res van sy of haar lewe bybly en knak. Maar, nou hoor ons, dit bring ook die boelie se ondergang. Boelie-geweld kweek geweld.

Dit val ‘n mens op dat iemand wat so venynig en afknouerig is, wat ‘n groot stuk kwaad in hom of haar omdra, uiteindelik die slagoffer van hom- of haarself word. Juis daarom vra dit kundige ingryping om so iemand van verdere disintegrasie te red.

Ek het in onlangse jare al hoe meer besef hoe vernietigend geweld op die geweldenaar self het. ‘n Moordenaar en ‘n boelie is uiteindelik 'n groter slagoffer van die geweld as hulle slagoffer.

Iewers is dit ‘n ou insig dat die kwaaddoener deur sy dade versleg en tot niet gemaak word. Openbaring 18 vertel dat die ondergang van die gewelddadige bose prostituut deur die dier waarop sy sit veroorsaak word. Geweld vernietig die geweldenaars self.

Wat doen gelowiges oor 'n afknouery, oor bullebakke? In ons "tawwe" kultuur is dit nie iets waaroor ons dikwels praat nie. Ons dink boelies is lastig. Maar ons hou daarvan dat mense hul man staan en van kinders word verwag om nie 'n boelie te verdra nie. Daarom is ons tawwe kultuur eintlik gebou op 'n onbarmhartige houding van "staan jou man en foeter hom terug."

Dit is natuurlik glad nie so eenvoudig nie. Juis omdat ons kultuur so taf is, kan kinders goed wegsteek dat hulle geboelie word. Ons begryp nie die slegte inwerking daarvan nie. En ons besef nie dat iemand 'n bullebak kan wees sonder dat sy of hy een vuishou plant.

Boelies kry ‘n mens natuurlik nie net in die skool nie. Jy kry bullebakke in jou buurt, in jou kantoor, aan die universiteit en in die kerk waar mense in gesagsposisies of wat hulself sterk ag, ander afbreek en dreig.

In die lig hiervan is die voorbeeld van Jesus steeds aangrypend: die gebed vir sy geweldenaars as hulle hom kruisig is nie net ‘n vergifnis nie, maar terselfdertyd ‘n oproep, vermaning, gebed, smeking om nie so te wees nie. En sy sterk verwerping van teen-geweld het sy uitwerking gehad: die Romeinse soldaat, die een met die wapen aan sy sy, bely Hom aan die voet van die kruis as Seun van God as Hy sterf. Moenie oor ander heers en ander dwing nie, is Jesus se antwoord aan sy dissipels wat mag soek. Hier is ‘n voorskoot, was eerder hulle voete as nederige diensknegte.

Maar Jesus stuit nie net geweld nie. Hy wys ons wat om wel te doen. Hy het na die mense wat deur die samelewing geboelie is, uitgereik. By hulle gaan sit en dapper hulle kant gekies. Daarmee het hy nie net vir hulle getroos nie, maar vir hulle rede gegee om op te staan en ‘n nuwe lewe, sonder vrees te voer. Toe die bullebakke die owerspelige vrou na Jesus gebring het, het hy nie 'n klip gaan haal en die eerste steen gegooi nie. Jesus was geen bullebak nie. In meelewing het hy hulle bullebak-agtige houding uitgewys - hulle "ons is beter as sy"-houding. En toe vir die vrou huis toe gestuur dat sy nie verder sondig nie.

Juis gelowiges moet die boelies kan aanvat – nie net oor die skade wat hulle aan jou kind doen nie, maar oor die skade wat hulle hulself aandoen. Hier is mos ‘n goeie tema vir die prediking: praat met die boelies. Maak daarvan ‘n sessie by ‘n jeugkamp. Skryf daaroor in die gemeenteblad. Praat met die kinders in ‘n jeugpreek dat hulle nie boelies word nie. Help hulle om te sien hoe hulle hulself vernietig in die proses. Help die kinders om subtiele vorme van boelie in hul eie lewe te herken – nie net in die vuishou nie, maar ook in die steekhou en die spotlag. Help die huiweriges om boelies teen te staan en te berispe, en, dat hulle opkom vir die kleintjies wat geboelie word.

Een uit elke vier kinders!

Lees die artikel by:
http://www.nytimes.com/2009/06/09/health/09klas.html?ex=1260331200&en=2da1461a1f9744f2&ei=5087&WT.mc_id=HL-D-I-NYT-MOD-MOD-M101-ROS-0609-HDR&WT.mc_ev=click
En gedink dit is net Amerika?

http://www.iol.co.za/index.php?set_id=1&click_id=105&art_id=vn20090612052745121C950930
en vir goeie wenke in Afrikaans:
http://www.mieliestronk.com/boelie.html

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive