Tuesday, June 09, 2009

Hy het sy arms om die kindertjies gesit. 'n Mymering oor Markus 10:16


Winter het uiteindelik gekom en begin hom nou tuismaak hier op Stellenbosch. Ons het hierdie week die eerste groot 10 dae reënbuie in die Kaap gehad. Nat, snoekweer. Tyd vir pannekoek bak. Smiddae weer sop eet. Saans gestoofde hutspot.

Ons skep die warmte en die geselligheid in die huis om die koue buite te verdryf.


Ek gaan draf terwyl dit reen. Gou-gou is ek deurnat. Maar ek draf my warm, die koue kry nie houvas op my nie. Ek kom fris by die huis aan, reg vir die aand se werk voor my rekenaar. Die stort is warm en die waters stroom behaaglik oor my. Ek kom tot rus. My lyf is ontspanne. Ek voel goed.


Maar buite is dit winter.


En vir baie is dit nie in hierdie tye altyd moontlik om die winter teen te hou nie. Ek dink aan die aangrypende rubriek wat Wilhelm Jordaan in vandag se Burger geskryf het. Oor sy kleinseun van drie jaar wat met nierkanker gediagnoseer is en die wintertyd wat dit vir hulle gebring het.

En dan, in hierdie swaar skrywe oor ‘n groot tema, die egte, outentieke humor wat deurslaan: as hulle die seuntjie wil inspuit, roep hy uit: "Julle moet my nie baie seer maak nie." En toe: (by die besef van wat hy sê en ter nadenke) "Julle moet my nie 'n bietjie seermaak nie."


Wintertyd is die tyd vir humor. Vir so bietjie warmte om die koue op 'n afstand te hou. Dit maak ons fiks, dit maak ons weerbaar, dit laat ons oorleef om te kan lag oor ons seerkry.


Ek het Wilhelm se rubriek geniet soos baie ander van sy rubrieke. Maar hierdie een was baie spesiaal. Omdat die wintertyd so gou toegeslaan het op 'n klein mens se lewe. Die besef wat by jou deurbreek van hoe lyding nie ouderdom ag nie en nie die jeug reken nie. Nog skaars drie jaar oud is hier 'n lewenstryd om oorlewing aan die gang gesit. Sy hartsroep is ons hartsroep: moenie hom seermaak nie. Hy is te klein.


Hoe sleg verwerk ons tog die kleinstes se seerkry so sleg. Hulle mag nie ly nie, hulle is te fragiel, te nuut, te jonk, te onskuldig, te breekbaar. Laat ons dan maar liewers die punch vat, die prys betaal. In hulle plek


"Julle moet die plante kos gee," vermaan die kleintjie sy familie vaderlik en onderrigtend voor hy hospitaal toe gaan, skryf Wilhelm. "'n Plant moet gereeld sy water kry," preek hy, die driejarige, vir almal, onbewus van die groot drama wat in sy lewe afspeel tot groot genot van sy Oupa met die groot hart en die goue skrywerspen. En tot ons intense pyn oor die lewensdrama wat hom hier in die klein wereld afspeel en onder die goue humor weggesteek lê.


En dan vertel hy vir sy oupa, vertroostend, moedig, hoe baie hulle twee van nou af sal kan speel na sy behandeling omdat hy nie meer so moeg sal wees nie.


Wintertyd, die tyd van moeg wees vir baie van ons. Die tyd wat ons oorkom en oorwin net deur te lag, deur lief te wees, deur daar te wees - vir ander, maar veral vir die kleinstes, die geringes, die armes en die breekbaarstes onder ons.


Maar in hierdie wintertyd maak ons geleentheid om bietjie sop op die tafel te sit, gou te gaan draf, voor die rekenaar in te skuif, saam met jou kleinkind gou die plantjies te gaan water gee, lekker te gaan bal skop, vir haar of vir hom te karnuffel, te kielie, te jaag in die kombuis, 'n pannekoekie te rol, in jou arms te neem en by jou te hou. Dit gee ons in die wintertye die warmte om te kan oorleef en te leef.


Want, en dit beskryf Wilhelm nie, die leser wat sy rubriek lees, herken agter sy skrywe, 'n familie wat tuin maak, almal saam, kindertjies inkluis, wat saam met mekaar 'n hegte band vorm, wat mekaar se woorde indrink, mekaar se liefde opsoek. En dit is wat hulle - en ons - laat oorleef in ons wintertye.


En hy het sy arms om die kindertjies geslaan en vir sy dissipels gesê....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive