Wednesday, June 10, 2009

Waarvoor bid ons? Oor die ontmoeting met God.

Die mense wat deur die eeue heen in afsondering gaan bly het om naby aan God te leef het almal een ding in gemeen. Hulle lewe in totale eenvoud. Geen luukses. Hulle lewensstyl is sober, hulle prioriteit is reg. Wat saak maak, is nie waar hulle is of wat hulle besit nie, solank as wat hulle in stilte by God kan wees.

Hierdie ingesteldheid op God bepaal natuurlik ons gebede. As ‘n mens soek na die dieper dinge, bid jy nie eintlik vir belonings, prestasies, besittings, roem, sosiale aansien, geleerdheid, grade, bevordering of ander konkrete dinge nie. Jy weet maar te goed: ‘n Mens kan al daardie dinge hê en jou lewe kan dolleeg en hol wees. Of, soos ‘n sekretaresse van een van ons land se bekendste akademici stilweg eendag harde, harde woorde van hom as haar baas opgemerk het: Hy kan geleerd wees, maar dit verander niks aan sy varkerigheid nie.

Dit is die ironie. Ons bid so naarstiglik vir dinge wat ons hart nie vol maak nie. Want ons gebede eindig nie by ons nie. Ons gebede neem ons juis weg van onsself en bring ons by die ontmoeting met God, by eenwording met die Here uit.

Nie dat al hierdie goed onbelangrik is nie. ‘n Mens kan baie goed doen en wonderlike barmhartigheid bewys deur konkrete, materiële dinge.

Ons weet net diep in ons dat innerlike vervulling nie deur uiterlikhede bewerk word nie.

Hieroor dink ek terwyl ek kontemplasie oordink.

Ek het ‘n goeie vriend met wie ek gereeld muurbal speel. Hy neem sy godsdiens baie ernstig op. Sy verhouding met God maak ‘n verskil aan sy lewe. Hy het al swaar besluite geneem omdat hy God se wil vir sy lewe wil gehoorsaam. As ek terugkyk na baie gesprekke wat ek met hom gehad het, was ons gesprekke oor God vir my van die mees vervullende oomblikke in my lewe. Hy is geen teoloog nie en hy is nie ‘n diepsinnige Bybelwetenskaplike nie. Maar dit is asof in ons gesprekke oor God, dikwels heel ontspanne en sonder groot debatte oor ‘n glasie drinkgoed op die stoep van ‘n restaurant, God langs ons kom sit het as een van ons gespreksgenote. Dit is asof ek soms gevoel het, as hy met my oor God praat, of die Here eintlik met my praat – so een is hy met God en so duidelik sien ek in sy lewe ‘n eenvoudige, stil, maar toegewyde, ernstige liefde vir God.

Ek dink nie hy is volmaak nie. Soms sien ek sy kleivoete raak en partykeer dink ek sy teologie is bietjie vlak... En tog, as ek met hom praat en na sy lewe kyk, inspireer dit my, dit verander iets aan my . Die God wat hy lief het, is die God wat ek ook wil liefhê.

Merkwaardig, besef ek wanneer ek daaroor dink. Dat dít nou, hierdie ontmoeting “in” die Here, vir my bo-aan my lys van vervullende oomblikke staan. Dis so eenvoudig, hierdie spesiale ervaring. Ek het einlik niks anders in my lewe nodig nie. Eintlik nie eers die biertjie op die stoep van die restaurant nie.

Om in die geselskap van God te wees saam met al die heiliges, is onvergeetlik. Waar twee of drie.... En dit is genoeg.

As ek dan van die Here heel eerste iets moet vra vir myself in my gebede, sou dit wees om meer sulke ontmoetings te mag beleef. Ontmoetings met God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive