Wednesday, June 24, 2009

Ons wag stil, roerloos op God om ons met liefde te vul

Ek is geboeid deur die mistici se vreugde aan die afsterwe van die ou mens – om Paulus se woorde te gebruik. As ‘n mens in Christus is, is jy ‘n nuwe mens. En hierdie nuwe mense leef na die wil van die Heilige Gees. Dit is dus ‘n “geestelike” lewe wat jy lei as jy in God jou vreugde vind.

Dikwels sien ons die “nuwe” lewe as ‘n lewe van “pyn”. Dit voel vir ons morbied.

In ‘n sekere sin is dit waar. Ons nuwe lewe bring pyn, maar dit is die pyn van afsterwe aan die ou dinge. En om af te sterf aan die ou dinge is uiteindelik goed. Een of ander tyd sê jy vir jouself: ek is deur daardie pyn gesuiwer.

Dit is verskriklik hoe ons aan die ou dinge gebind is. Al die uiterlike dinge lê sommer ook ons hart, ons innerlike vol. Ons leef nie van binne uit, van die dieptes waar God wil woon nie. Ons lewens word deur ander mense, ons aktiwiteit bepaal. Ons is nie regtig vry nie. Ons is vasgeketting soos die goedkoopste van slawe deur ander, deur ander dinge, ander mense, ander bedrywighede.

Selfs wanneer ons geestelik is, kan ons nog onvry wees. Gebind deur ons godsdiens.

Nou volg die wonderlike paradoks: wanneer God innerlik in ons kom woon, kap God die uiterlike bande af. Dan doof die helder lig van God se liefdevolle inwoning in ons, die hardheid van al die uiterlike bekoring rondom ons uit. As God in helder liefde in ons woon, verdonker alles wat ons altyd so belangrik vind.

Die merkwaardige hiervan is dat ons dit moet laat gebeur. Ons is hier eintlik heeltemal passief. Ons moet net kan terugsit dat God inkom, dat die liefde ons woning betrek. Ons moet maar alleen hierdie liefde aanvaar, toelaat dat dit deel van ons word. Ons mag nie eers probeer om hierdie liefde te soek nie – nie deur gebed nie en ook nie deur aanbidding nie, laat staan nog enige ander vroom daad nie. Al hierdie vroomheid van ons is, merkwaardig, eintlik donkerte. Dit kan alleen maar die liefde verdring. Ja, ons vroomheid! En hoe vroom kan ons tog nie wees nie.

Ons kan hieroor nogal wonder: kan ek so sit en niks doen nie? As ‘n mens op ‘n boot in ‘n rivier sit, kan jy roei dat dit klap en jou self in ‘n sweet-ekstase inroei. Of jy kan doodeenvoudig net terugsit en die vreugde ervaar van die goddelike Liefdestroom wat jou meevoer.

Dit is ‘n diepe verborgenheid: dat ‘n mens moet toelaat dat God se lewe, se vrede, se verborge teenwoordigheid in jou kom woon.

Daar is ‘n groot geheimenis hierin: as ons toelaat dat God vir ons hierdie liefde gee sonder dat ons ons hand uitsteek, ons vroomheid aanbied, ons gebede uitroep, ontvang ons hierdie liefde suiwer, so suiwer en ervaar ons God se heerlike teenwoordigheid in sy volle krag.

Dit is goed om swak te wees. Paulus het sy swakheid geroem. Hoe swakker, hoe flouer, hoe sterwender ek self is, hoe meer plek is daar vir die Groot Liefde.

Dat hierdie liefde nêrens, tog nêrens deur ons uitgehou sal word nie. Dat God se liefde suiwer, volledig en orals in ons uitgestort sal word. As ons nie passief is nie, kan ons nie aan ons uiterlike en innerlike bande ontkom nie.

In ons swakheid word God se krag volbring – dit het Paulus goed verstaan. Daarom is ons bly as ons die ou mens afsterwe. Eintlik is dit nie ‘n verlies nie. Trouens, dit is ‘n groot wins – ons wen God se liefde. En as dit pynlik is, gee die pyn ons vreugde, want deur die pyn kry ons ons gesondheid, ons lewe in God terug.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive