Saturday, June 06, 2009

Kan 'n gelowige twyfel? 'n Geloof vol verwyte - oor oratiwiteit

Kan ‘n mens in God glo en aan God twyfel? Die Bybel is baie eerlik daaroor: ‘n Mens kan in God glo en aan God twyfel. Die Psalms is partykeer dodelik eerlik hieroor. Soos byvoorbeeld die merkwaardige Psalm 44. “Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie? Waarom slaap U?” Pynlik eerlik praat die Psalm-digter oor gelowiges wat nie meer die hand van God in hulle lewens raaksien nie. Die Bybel steek nie weg dat daar maar brak kolle in die geestlike lewensreis van mense kan wees.

En dit gebeur met mense juis terwyl hulle vol eerbied teenoor God is en hulle godsdiens hoog ag. Hulle is met ontsag bewus van die groot afstand tussen God en hulle. Die teologie sou vandag praat van God as die totaal Andere of die gans Andere wat skitter in krag en sterkte. Psalm 44 vertel aan die begin van hoe die digter verwonderd sing oor God se mag oor die nasies in die verlede. Maar, vertel die Psalm-digter dan vanaf vers 10: en tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, U trek nie sam met ons leërs uit nie.

Hier word God verwyt: U het ons volk vir niks verkoop nie. U het ons verbrysel, tot skande gemaak. God, wat die Here van die leërskare is, het die volk in die steek gelaat. God se rug is op hulle gedraai (vers25!). Dan volg die beroemde vers: “Om U ontwil word ons die hele dag gedood...” en roep die Psalmdigter dringend uit: Ontwaak! Waarom slaap U Here? Word tog wakker?

En tog, in die mistieke ervaring gaan dit juis daarom dat God wat so anders as ons is, ons opneem in ‘n liefdevolle verhouding en ons dat een laat voel met God. Hoe gebeur dit dan dat ‘n mens wat verenig met God wil leef, voel dat God weggegaan het?

Laat ‘n mens dink aan die dissipels wat die slapende Here gaan wakker maak het toe die storm oor hul bootjie losgebars het.

Ons maak so dikwels asof iemand wat twyfel nie regtig gelowig is nie. Waar wat van Psalm 44? Ons dink ook dat ‘n mens nie harde vrae aan God mag vra nie. Waar kyk maar na die ongeduld en die verwyte in Psalm 44. Ons redeneer altyd dat godsdiens vertel van God se wonders, daarom is daar geen plek vir kleingelowiges onder God se volk nie. Maar die digter van Psalm 44 sien nie wonders van God in sy eie lewe raak nie en sy geloof is maar dunnerig.

Hoe dan? In ons geestelike lewe worstel ons gedurig met die Bybel as die plek waar ons ander mense se ervaring van God meemaak. In die Bybel is daar nie maklike antwoorde nie. Daar is Jesus se lang bediening van verwerping. Daar is Golgotha. Daar is die opstanding. Daar is Pinkster. Maar daar is ook Petrus se verwerping van die heiden-sending en die Korintiërs se charismatiese arrogansie. Daar is tye dat Paulus moet vlug vir sy lewe en in die tronk gegesel word.

Hoe nou gemaak? Die antwoord is ook in hierdie Psalm: In ons verhouding met God, in ons luister na God se woord, in ons lees van ander se geestelike reis, word ons altyd weer op ons knieë gebring: om te bid, om oratief op God se woord te reageer. Dit is nie altyd maklik nie en daar is nie sommer sulke kits-antwoorde nie. En soms glip die verwyte teen God maar te gewilliglik van ons tong. Dit gebeur in Psalm 44.

Maar ons hoor ook aan die kruis die Seun se gebed: Waarom het U my verlaat?

Die Bybel wys vir ons met Psalm 44 kinders van God wat se lewens versadig was van ‘n diepe teleurstelling in God. En wat nie gehuiwer het om hul verwyte na God te slinger nie.

Die boeiende is dat die Psalm-digter hierdie verwyte gebid het: dit was deel van hul gesprek met God. Dit was hulle manier om, soos Jakob, met God te worstel, te stoei, tot bloedsweet toe. Dit was wat hulle praat met God. En God het hulle gebed vir ons laat opneem in die woord: want hierdie gebede is wat God ook soms wil hê en wat God vir ons toelaat. Ons is God se gespreksgenote. Ons is nie maar net ‘n gehoor wat God altyd toespreek nie. God praat nie “af” na ons kant toe nie. En ons praat nie altyd “op” na God in die hemel nie. God se woord kom tot ons en ons kan ‘n weerwoord met God inkry. Ons mag met God in debat tree.

Waarom dan? In ons woede, in ons opstand, in ons vrae, in ons verwyte, ten minste as ons dit bid, is daar hierdie verlange na God. Smag ons dat God by ons sal wees en dat ons weer met God verenig sal word. Vra ons met passie dat die groot afstand tussen ons oorbrug sal word. Dat God sal oorkom en by ons sal kan kom woon. Woede is dalk die mees intense vorm van ons verlange vir God om by ons te wees.

Elke keer as ons die Bybel lees, kom ons op hierdie oorweldigende feit af: God raak ons aan, maar God maak van ons nie marionette nie. God wil ook hoor hoe ons na God verlang, hoe ons God lief het, hoe ons omgee, hoe ons nie sonder God kan nie. Praat met my, ek is daar vir jóú, sê God. Stort jou hart uit. Jy mag maar. Wys my jy gee om.

Ons geestelike lees van die Bybel maak ons oë oop vir gelowiges wat hul geloof biddend, woedend-biddend, verwytend-biddend, twyfelend-biddend uitgedruk het. En saam met hulle kan ons ook soms uitroep: Word wakker, Here! Draai U rug nou vir ‘n slag na my! Steur U ‘n keer aan my ellende en smaad!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive