Monday, June 01, 2009

Oor die geestelike lees van die Bybel: ons houding (voorverstaan)

Die gee van name vir kinders is vir baie mense ‘n reuse-affêre. Vir die minder tradisioneles wat nie hul baba ‘n pa of ma, oupa of ouma wil vernoem nie, word dit ‘n hele speurtog. Dan soek hulle “mooi” name wat goed klink. Meestal kyk hulle ook wat ‘n naam “beteken”. Dis asof die baba se toekoms tot niet sal gaan as hy of sy nie ‘n “mooi” naam het nie.

Dit is nie heeltemal so vreemd nie. In Bybelse tye het jou naam jou identiteit bepaal. Jabes se oorspronklike naam was Jaseb wat “pyn” beteken en deur Jabes se ma aan hom gegee is ter herinnering aan sy geboorte. Maar mense het hom nie Jaseb genoem nie, omdat geglo is dat ‘n naam jou lot bepaal.

Terwyl sulke denke oor mense se name vir ons vandag darem ‘n bietjie vergesog klink, is dit origens waar dat ons met ons taal wonderlike dinge of groot skade kan aanrig. Professionele vroue word dikwels vies as hulle deur mans as “dametjie” of “ounooi” aangespreek word. “Dametjie” skep ‘n hele werklikheid waarin ‘n man, die patriarg, vir hulle, neerbuigend as ‘n “vrou” en nie as ‘n mens aanspreek nie. Dit laat hulle verneder voel. Net so sal ‘n groot rugbyspeler dik die hoenders inraak as ‘n ander man na hom roep: “Hei, jy, outjie!” Al die k-woorde vir mense van kleur is verdere voorbeelde van hoe ons taal by ander mense negatiewe gevoelens oproep.

Hoe ons met en oor ander praat, bepaal of reflekteer dus eintlik hoe ons oor hulle voel. Net so is dit met die Bybel. Die meeste gelowiges praat met respek van die Bybel as “woord van God”. Daarmee gee hulle te kenne dat hulle eerbied voel teenoor die Bybel deur wie God praat. En mense wat met eerbied na die Bybel gaan, voel dikwels hoedat hulle lees van die Bybel hulle nader aan God bring.

Vir ‘n lang tyd en in baie gevalle word nou dikwels in sekere Bybelwetenskaplike groepe vertel dat die Bybel eintlik maar soos enige ander boek is. In 'n sekere sin is dit ook waar, want die Bybel is in gewone, verstaanbare taal oor gewone mense en dinge geskryf.

Maar dit gebeur al hoe meer dat gelowige mense die Bybel eintlik meer en meer net lees as ‘n boek wat allerhande historiese feite bevat. Het die opstanding “regtig” gebeur? Het Jesus regtig wonders gedoen? Is kersfees op 25 Desember gevier?

Daarmee kom daar ‘n skuif in ons verhouding tot die Bybel. Ons lees dit om feite vas te stel en sekere harde, konkrete "sekerhede" uit te vis.

Eintlik kweek hierdie manier van lees 'n slegte houding. Dit verskil ook van hoe die Bybelskrywers in die Nuwe Testament die Ou Testament gelees het en hoe latere lesers die Christelike bybel beskou het. Die Bybel, sê die gewone gelowige van alle eeue, is die “kanonieke” boeke. Dit wil sê, hulle het vir ons gesag as geestelike boeke vir ons geloof (nie om vir ons allerhande historiese intessanthede oor te vertel nie). As geloofsboek voed dit ons geloofslewe. Dit is ‘n boek wat ons wil vertel hoe God gedurigdeur vir ons dieper intrek in ‘n liefdevolle verhouding. Dis ‘n liefdesboek, niet ‘n strorieboek nie. Dit is ‘n goddelike liefdesboek, nie ‘n inligtingstuk oor die verlede nie.

Ons praat daarom saam met hulle van die "Bybel." Onder al die boeke van die wêreld is dit nie maar nog net "‘n boek" nie. Dit is “die” boek wat vir ons rigting gee in ons geloof.

As ons só na die Bybel gaan en dit met hierdie houding en geestelike instelling lees, wil ons weet waarin die krag van die Bybel vir ons geloof lê. Wat is dit wat hierdie boek so dinamies maak dat ek nie daarsonder kan klaarkom nie? Wat lees ek in die Bybel wat my hart aanraak, omkeer en my lewe in ‘n nuwe rigting stuur? Waarom gaan ek na die Psalms, byvoorbeeld, en ontdek juis daar antwoorde wanneer my hart stukkend is, my lewe in skerwe lê, ek voel ek het misluk?

Ons kan die Bybel op baie maniere lees. Maar daar is net een manier waarop ons die krag van die Bybel sal begryp – en dit is as ons houding teenoor die Bybel reg is. En die regte houding is om die Bybel oop te maak met eerbied. Dit is ‘n boek wat ek oopslaan om na geloofsgeluk te soek, om my stukkende hart te help bid, om my swakheid te oorkom. Eintlik tel ek die Bybel op om by God te wees, om God met my te hoor praat, om oop te wees vir God se wil vir my lewe.

Mense het oor die eeue haan van die Bybel, die Woord van God, die lewende Woord, boeke wat deur die Gees geïnspireer is, gepraat. Die name vertel dus vir ons iets van die houding van eerbied, afwagting, liefde en vertroue wat mense oor eeue heen, oor geslagte heen, teenoor die Bybel gekoester het. As ‘n mens daardie 66 boeke in afwagting, eerbied, liefde en vertroue lees, sal dit die beste in ‘n mens uithaal. God sal ons nie teleurstel nie – soos mense oor eeue heen kan getuig.


Maar hieroor is nog baie meer te vertelle. Die gesprek het vele ander kante. Daarom nog verdere opmerkings hieroor later.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive